Hou eerder brandstofpryse in staat se hande

  • Fanie Brink is ‘n onafhanklike landbou-ekonoom. (Foto: Facebook)

    Deur Fanie Brink, onafhanklike landbou-ekonoom

Met die internasionale ruolieprys wat die hoogte ingeskiet het nadat Rusland oorlog teen Oekraïne verklaar het, het die bepaling van brandstofpryse in Suid-Afrika hewig onder skoot gekom.

Omdat die regering met ʼn proses begin het om die brandstofbedryf te dereguleer, wat ook deur verskeie ander politieke partye ondersteun word, is die volhoubare voorsiening van brandstof in Suid-Afrika aan groot risiko onderwerp, wat tot groot brandstoftekorte kan lei.

Die jongste aankondigings en uitlatings oor die bepaling van brandstofpryse deur politici is weereens ʼn duidelike poging om politieke punte te probeer wen oor ʼn strategies belangrike ekonomiese aangeleentheid. Duidelik het hulle geen benul waaroor hulle praat nie.

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het tydens meer as een geleentheid hieroor uitsprake gelewer en gesê: “Suid-Afrika sal mettertyd oorgaan na ‘volle deregulering’ van die brandstofpryse, met groot- en kleinhandelaars wat sal meeding om 93- en 95-oktaan-petrol benede die kleinhandelprys te verkoop.”

Die grootste probleme wat met die huidige brandstofpryse ondervind word, is die spesifieke prysformule waarvolgens die basiese brandstofpryse bereken word. Dit word aan ernstige wisselvallige internasionale politieke en ekonomiese gebeure blootgestel, wat die ruolieprys bepaal. Plaaslike wisselkoersveranderinge skep ook ʼn uitdaging om ʼn bestendige prys te verseker.

ʼn Ander probleem wat hiermee verband hou, is dat die regering deurlopend sy inkomste aanvul met ʼn heffing op brandstof, wat elke jaar opwaarts aangepas word en deur brandstofverbruikers betaal moet word.

Die brandstofprysformule, asook die klein- en groothandelaars se winste, waaroor die oliemaatskappye uit die aard van die saak om verstaanbare redes baie sensitief is, is in werklikheid reeds deur die regering in die 1950’s met die brandstofbedryf onderhandel. Daar is toe ook oor spesifieke gereguleerde waarborge, soos die basiese prysformule en die winsmarges van die bedryf, ooreengekom.

Hierdie waarborge het die strategiese voorsiening van brandstof aan Suid-Afrika oor ʼn baie lang tydperk aansienlik gebaat. Dit kan nie sommer net so deur ekonomies ongeletterde en onbevoegde politici afgeskaf word nie. Die bestaande prysformule sal ook baie moeilik deur ʼn ‘beter prysformule’ deur die regering, enige ander politieke party of instansie vervang kan word. Indien wel, sal die voorsiening van brandstof feitlik onmoontlik wees, omdat die bestaande een steeds die mees praktiese en beste formule is om te gebruik.

Die regering het wel vir twee maande die brandstofheffing met R1,50/ℓ verlaag, wat hy in werklikheid nie kon bekostig nie. Dit sal dus deur die verkope van ruoliereserwes goedgemaak moet word, waarna ʼn ‘beter prysformule’ bepaal sal word.

Die basiese prysformule, oftewel die gelande koste of invoerpariteitsprys van brandstof aan die kus by Durban, word nie op grond van die internasionale ruolieprys bepaal nie, maar op die pryse van brandstof by drie internasionale olieraffinaderye aan die Mediterreense kus. Uit die aard van die saak is dit afgeleide pryse van die internasionale Brent-olieprys, wat uit die Noordsee langs die Verenigde Koninkryk en Noorweë ontgin word.

Die ooreenkoms met die brandstofbedryf het bepaal dat die pryse van brandstof wat uit ruolie in Suid-Afrika geraffineer word, net so kostedoeltreffend en prysmededingend moet wees as die brandstofpryse van die beste tegnologies gevorderde olieraffinaderye in die wêreld. Daarom word die plaaslike brandstofpryse op die werklike koste van ingevoerde brandstof bepaal en nie regstreeks op die internasionale ruolieprys nie.

Die voorstel van die Vryheidsfront Plus, dat die heffing vir die Padongelukkefonds afgeskaf en weer teruggekeer moet word na derdepartyversekering, sal geensins werk nie. Die metode hoe die heffing ingevorder word, is nie die probleem nie, maar wel die aanwending van die heffing deur ʼn totaal korrupte instansie wat dit bestuur. Geen ander invorderingsmetode sal dit kan regruk nie.

Die volhoubare voorsiening van brandstof in Suid-Afrika is nou deur die regering se planne om die bedryf verder te dereguleer op risikovlak geplaas. Dít weens die regering se plan om weg te stap van die gewaarborgde ooreenkomste oor die formule waarvolgens die basiese brandstofprys bepaal en die winsmarges van die oliemaatskappye vasgestel en aangepas word.

ʼn Eensydige deregulering van die brandstofbedryf sal nie vir die internasionale oliemaatskappye aanvaarbaar wees nie en hulle kan baie maklik besluit om hul tasse te pak en die land te verlaat.

Die oorlog wat Rusland tans in Oekraïne voer, is na verwagting tydelik van aard en dit behoort in geen omstandighede toe te laat dat die volhoubare brandstofvoorsiening in Suid-Afrika vernietig word, net omdat die regering nie verstaan waarmee hy besig is nie.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Produksie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Fluisterwind ·

Die staat behoort net geregtig te wees op ‘n vaste koers heffing in die brandstof prys wat na elke verkiesing hersien behoort te word (Een keer elke vyf jaar) na gelang van die heersende party se prestasies opwaards of afwaarts vir mislukkings.

Manie ·

Daar is geen ander rede behalwe gierigheid, waarom petrol/diesel teen meer as R8.00 p/l verkoop moet word nie en dit sluit alle kostes en billike winste in.

Pieter9 ·

Verskoning, ek is maar van nature bietjie stadig… miskien mis- gelees… Nou wat se die skrywer is die beste/aanbevole strategie mbt ons brandstof pryse? Wat is die oplossing?

JohanEtz ·

Die skrywer laat na om te vermeld dat ons buurlande brandstof van SA af invoer en herverkoop teen gemiddeld R10 per liter minder as wat verbruikers in SA betaal!!

Chef ·

Koop olie en gas by Rusland aan. Moet die hele wereld daaronder ly omdat Amerika en andere besluit om sanksies teen Rusland in te stel?

annie ·

Sasol se bydrae word nie vermeld nie. Hoekom? Die probleme wat spruit uit die Oekraïene-situasie gaan nie eensklaps verdwyn nie. Daai probleem is soos ‘n slegte egskeiding waar een party martelaar speel. Chaos hou vir ewig aan en dit kos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.