Ek sal nooit die besoek van die mense uit die stad op die plaas vergeet nie. Ek was nog maar klein en kon nie verstaan waarom die oom dan vir Oupa “Dok Wally” noem nie. Almal in die omgewing het immers vir Oupa, soos al die ander ou ooms in die distrik, “Oom” genoem.
Oupa is in 1922 gebore op Muiskraal, ’n klein hoewegemeenskap op die Rysmierbultpad naby Potchefstroom. Oumagrootjie was die dogter van twee Nederlandse immigrante en oupagrootjie (wat ook in die Eerste Wêreldoorlog geveg het) die seun van ’n Britse soldaat wat besluit het om in Potchefstroom agter te bly nadat sy pa se regiment ná hul diens in die Transvaal Kolonie die land teen 1910 verlaat het.
Die gesin was brandarm. Oupagrootjie het met sy stamperboor in die destydse Suidwes-Afrika werk gekry en met dié rondtrekkery is Oupa eers op agtjarige ouderdom skool toe. Hy het vertel van die speel tussen die duine saam met die Boesmans en hoe hy sy eie kruisboog geprakseer het.
Die krisis van die Tweede Wêreldoorlog het egter vir Oupa ’n geleentheid geskep wat hy aangegryp het. Hy het skool teen die einde van gr. 10 verlaat en ambagsopleiding deur die weermag aangepak. (Oupagrootjie het op oom Toon se weermagaansoek oor dié se ouderdom gejok sodat boetie nommer twee óók die geleentheid van geleerdheid kon kry.) Oupa het bedags sy ambagswerk gedoen en deeltyds gr. 11 en 12 in een jaar voltooi. Hy het uiteindelik tydens die oorlog as vliegwerktuigkundige in Engeland gewerk en die ingenieursgraad wat hy deeltyds begin het, voltyds afgehandel.
Uiteindelik het Oupa sy doktorsgraad behaal, hy was direkteur-generaal van die Raad op Atoomkrag en ook besturende direkteur van die Atoomenergiekorporasie. Hy ontvang verskeie toekennings, waaronder die Suiderkruismedalje. Baie van dié dinge het ek eers ná Oupa se dood uitgevind. Want sien, Oupa het nooit oor homself gepraat nie en ook nie juis oor die verlede nie. Gesprekke met hom het altyd oor die toekoms gegaan; oor ons toekoms hier aan die suidpunt van Afrika.
Vandag beleef ons weer ’n krisis. Kenners is dit eens dat die reaksie van wêreldleiers op die Covid-19-pandemie en die impak van die siekte self ’n omwenteling in die wêreld gaan veroorsaak soortgelyk aan dít wat die Tweede Wêreldoorlog destyds veroorsaak het.
Elke geslag kry nie só ’n geleentheid nie – of anders gestel, so ’n verantwoordelikheid nie. Elke geslag kry wel ’n verantwoordelikheid, ’n taak wat nie aan die volgende geslag oorgedra kan word nie. Dit kan vreemd klink om opgewonde te wees oor die geleenthede wat dié krisis (wat soveel smart bring) bied. Maar dit bring waarde; dit bring die geleentheid om nou, in hierdie uur van nood, werklik ’n verskil te kan maak. Dit laat mens nadink oor wat jy doen: Wat gaan jy antwoord as jou kleinkinders jou eendag vra wat jy in hierdie tyd gedoen het?
Mens voorsien dat die tyd wat voorlê, ’n mens tot die uiterste gaan beproef. Mens staan soms stil voor die oorweldigende werklikheid van die ekonomiese vernietiging en duisende sterftes, en wonder waarheen. Hoe gaan mens voort wanneer mens op moedverlore se vlakte is?
Oupa, wat die Groot Depressie, die Tweede Wêreldoorlog én die Koue Oorlog deurleef het, se raad was: Hou moed, hou kop; boweal: behou jou geloof.
Hou moed
Put moed uit ons verlede. Ons voorouers is deur so véél en het telkens anderkant uitgekom. Mens kan net dink aan die vervolging van die Hugenote, die Tagtigjarige Oorlog van ons Nederlandse voorouers, die Groot Trek en die Tweede Vryheidsoorlog. Onthou, ons voorouers was ook maar net gewone mense soos ek en jy. Hulle kon, en ons kan ook.
Raak betrokke by aksies in jou gemeenskap, dit sal jou laat besef dat jy en jou gemeenskap nie magteloos óf van ander afhanklik is nie.
Hou kop
Mens kan so maklik oorweldig word deur die vloedgolf van sowel nuttige as onsinnige inligting waarmee mens daagliks gebombardeer word, veral op sosiale media. Bestuur jou blootstelling; kies waarvoor jy jou tyd gebruik. Onthou dat dit jý is wat besluit waaraan jy dink en wat jy doen. Moenie meegesleur word nie; neem beheer en doen dit wat jy kan, wat nou nodig is en wat ’n impak het.
Behou jou geloof
Uit ’n ewigheidsperspektief beskou, was die slegste gevolge van die Tweede Wêreldoorlog dat soveel mense daarna ongelowig geword het. Daar was soveel smart en verwoesting dat mense gevra het: “Hoe kon Hy dit toelaat?”
Elke gelowige dra daarom in hierdie tyd van nood ’n besondere verantwoordelikheid om in woord en daad die sout van die aarde te wees. As dit vir ons te veel word – en dit gaan gebeur – laat ons onthou dat ons ’n onbeweeglike Rots het om aan vas te hou en ’n geloofsgemeenskap waarop ons kan steun.
Oupa het in 2008 rustig heengegaan. Hy rus langs Ouma op die familieplaas Aantree.
Sy woorde sal egter ewig, en daarom ook in dié tyd, waar wees: “Doen jou bes, Hý doen die res.”
Dankie vir die meedeel van jou Oupa, Barend. Ware woorde. Ja, ons kan alles verloor, maar ons geloof in the Hemelse Vader moet ons nooit verloor nie.
Dankie Barend
Barend, baie goeie skrywe. Wat jy skrywe is helder en waar. Een punt egter, as die grendeltyd langer aanhou sal ons kleinkinders ons moet vertel “what happened next”.
Het uitgevnd dat die waardevolste erflating van my ouers eerlikheid en vermoeë om rowwe tye te hanteer. Moeilike waters om te navigeer want waarde stelsels is m…toe.
Moes ‘n ernstge kopskuif maak – laat die Oordeel aan Die Meester oor. Moeilik maar moontlik.
Groete en Sterkte.
Dankie Barend It’s.
Daar bly niks anders oor, ek voel soos n vreemdeling in my land, om eerlik te wees, as immigrant voel ek n vreemdeling vir alle ander lande, die dag as Jesus ons kom haal, sal ek weer tuis voel.