Hou ’n oog op die IVP se nuwe leierskap

Deur Paul Maritz

Velenkosini Hlabisa is op Sondag 25 Augustus as die nuwe leier van die Inkatha Vryheidsparty (IVP) aangewys.  Dit kom ná die uittrede van Mangosuthu Buthelezi, wat sedert die party se stigting in 1975 die leier was.

Vir Suid-Afrika is die rigting wat die nuwe IVP-leierskap inneem, belangriker as wat dalk aanvanklik besef word, of wat op die oppervlak geglo word.  Die rede hiervoor is dat die IVP homself tradisioneel sterk uitgespreek het ten gunste van groter gemeenskapsregte, en meer vryhede vir plaaslike gemeenskappe om besluite te maak.

Suid-Afrika is tans in die vreemde posisie waar ʼn uiters heterogene groep mense van ʼn sentrale punt af bestuur word deur ʼn regering wat toenemend mag op homself sentreer. Nie eens lande wat etnies homogeen is, soos Pole, kon growwe sosialisme laat werk nie en daarom moet die vraag gestel word waarom die ANC en die huidige regering hoopvol is dat dit in Suid-Afrika sal werk.

Met hul klem daarop dat verskillende kultuurgroepe basiese kulturele vryhede moet hê met hul erkenning dat Suid-Afrika inderwaarheid uit ʼn klomp groepe bestaan wat natuurlik verskeie ooreenkomste het, maar inherent van mekaar verskil, kan die IVP ʼn klomp vryheid losmaak vir hulle wat glo dat gemeenskappe moet besluit oor dinge soos watter taal as onderrigmedium gebruik moet word, om maar net een voorbeeld te noem.

Sou die IVP so ʼn standpunt van meer kulturele vryheid inneem en nastreef, sal dit druk op die Suid-Afrikaanse regering plaas juis omdat die druk uit een van hul vestingsprovinsies, KwaZulu-Natal kom. Sodanige druk op die Suid-Afrikaanse regering, tesame met die druk wat reeds uit Afrikaanse geledere geopper word, kan nie anders nie as om erkenning van Suid-Afrika se realiteit op voetsoolvlak te gee.

Om die blote rede van hierdie moontlike fokuspunte en ideologiese posisies, behoort die leierskap van die IVP noukeurig dopgehou te word, veral in die opbou tot die 2021 munisipale verkiesings.  ʼn Addisionele rede sou ook die druk op die regerende party wees.

Statistiek sal aantoon dat ʼn groot hoeveelheid ANC-steun (hoofsaaklik aan die EFF) onder die leiding van president Zuma verloor is in die Noordwesprovinsie, Limpopo, en Gauteng. Die ANC het hierdie skuiwe nie so erg gevoel nie, omdat ANC-steun onder Zulu-stemmers drasties in die Zuma-era toegeneem het.

Met die IVP wat leierskap en steun konsolideer, kan KwaZulu-Natal as groot en sterk ANC-vesting kwyn, wat die pad na veelpartyregering en die moontlikhede wat so ʼn stelsel bied, sal open.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
humor

Baie goeie nuus. Die vraag bly of almal sal kan verstaan dat daar samewerking moet wees, al verskil die velkleur. Dr Verwoerd het dieselfde benadering gekoeste. Eenheid in behoud, handhawing van verskeidenheid.

Nico K

Ek twyfel of die IVP ooit weer sy steun sal terug kry. By my werk het ons baie verskillende taalgroepe, van Vendas tot Xhosas, en my ondervinding is dat daar nie werklik groot negatiewiteit teenoor mekaar is nie. Inteendeel ek is verbaas hoe maklik hulle almal mekaar se taal praat.