Hou op om my te be’ras’

Hier sit ek in nou met my hande in my hare, want Sensus 2011 dwing my om my te be‘ras’ Laat ek dit net hier in die begin duidelik sê ek is positief oor die sensus en almal moet positief deelneem. My kritiek hieronder is eerder ‘n oproep tot deelname as ʼn oproep tot apatie teenoor Sensus 2011. Enige groep wat hom onttrek aan die proses sal dit tot nadeel van hom en die land doen.

Ek het met ʼn enkele vraag ʼn probleem en dit is die feit dat ek my bevolkingsgroep ingevolge ras moet kies. Is ek ʼn (swart) Afrikaan, ʼn kleurling (coloured), ʼn Indiër/Asiaat of wit? Die keuse ontafrika my aan die een kant en be‘ras’ my aan die ander kant.

Slegs swart mense word ook aan die hand van Afrika beskryf. Die feit dat ek nie swart is nie, diskwalifiseer my om ‘Afrikaan’ te kies, want die sensusvorm meen jy is outomaties ʼn Afrikaan as jy swart is. Dit maak van my ʼn kolonialis, nie werklik van Afrika nie.

ʼn Sensus moet tel en data insamel en nie ʼn spesifieke ideologiese benadering tot identiteit volg nie.  Onderliggend aan die formulering van die sensusvraag is die ou siening binne die ANC-alliansie dat hulle veg vir swart in die algemeen en Afrikaan  in die besonder. Swart in die algemeen sluit bruin en Indiër in en ‘Afrikaan in besonder’ beteken eintlik dan tradisioneel swart. Hulle onderliggende idee is dat die klassifikasie ‘Afrikaan’ aan swart mense behoort. Die res is kolonialiste van ʼn spesifieke soort. Hierdie soort ideologies gelaaide siening van identiteit hoort nie in ʼn sensusvorm nie.

Wat my die meeste grief, is dat ek my bevolkingsidentiteit aan die hand van ras moet kies. My primêre identiteit is beslis nie ʼn rasse-identiteit nie, maar ʼn kulturele identiteit, en ek beskryf dit as ‘Afrikaner’, wat ook Afrika impliseer. My identiteit is oor die afgelope 350 jaar in Afrika gevorm en het ʼn voorgeskiedenis in Europa. Europa het ʼn groot invloed op die ontwikkeling van my identiteit gehad en mense uit Europa was meestal wit. Dit beteken egter nie my identiteit is wit nie, maar daar is ʼn historiese verklaring waarom my identiteit meestal deur wit mense gedeel word. Ander identiteite word weer meestal deur swart mense gedeel.

In die ontwikkeling van my mense se kulturele identiteit was die mees dramatiese ingrype oorloë met ander wit mense om die Afrikaner se kulturele identiteit te beskerm. Die opbou na die Groot Trek het ʼn sterk kulturele komponent gehad: Afrikaners het hulle rug op Europa gekeer en hulle gesig na Afrika. Die keuse van die naam ‘Afrikaner’ was ʼn kulturele keuse gegrond in Afrika. My mense het ook hulle taal aan die hand van Afrika vernoem. Dit was ʼn kulturele keuse vir ʼn kontinent wat beslis nie uit ʼn rasoogpunt as ‘wit’ beskou sou word nie. As ons ons volgens ons rasidentiteit moes vernoem, sou dit aan die hand van Europa gewees het.

In die Eerste Vryheidsoorlog het my mense ʼn koloniale mag suksesvol in Afrika verslaan. In die Tweede Vryheidsoorlog was dit ʼn oorlog teen wit Engelse en ʼn duur prys is daarvoor betaal. My mense het oorloë gevoer teen mense, wit en swart, maar dit was nie ter beskerming van ʼn rasidentiteit nie, maar ‘n kulturele identiteit.

Die grootste historiese fout wat Afrikaners kon gemaak het, was om in die apartheidstyd die Afrikaner se historiese kulturele ontwikkeling met ʼn rasidentiteit te vermeng. Dit het ʼn mooi historiese kulturele tradisie vertroebel.

Ek en baie ander Afrikaners het egter ons historiese kulturele tradisie herontdek en ek beskryf my aan die hand daarvan. Sensus 2011 wil egter hê ek moet weer be‘ras‘ word. Ek is nie lus daarvoor nie. Ek is nie wit nie, ek is ʼn Afrikaner met ʼn ontwikkelingsgeskiedenis baie ouer as apartheid.

Dit is op hierdie punt wat ek met my hande in my sensushare sit. Hulle dwing my om my ras te kies. Ek kan tegnies die ‘ander’ opsie kies, maar die regering gaan hierdie selfklassifikasie gebruik om hulle maatskaplike manipulasieproses van rassetransformasie voor te sit. Indien ek nie my ras kies nie, is daar een wit mens minder in die land en as rasteikens vir maatskappye gestel word, is dit aan die hand van die land se demografie. Minder wit mense in die land beteken meer swart mense moet in die maatskappy aangestel word.

Ek moet dus be‘ras’ word ter wille van die regering se rasseprogram en dan noem hulle dit nie nie-rassig.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

18 Kommentare

Louis du Plessis ·

Dirk ~
 
IDENTITEIT EN KOALISIE
 
1  Jou opstel moedig inderdaad debat aan!  Dit wek veral vrae oor die wyse waarop Afrikaners hulle identiteit afbaken en met ander saamwerk. 
 
2  Gegee die feit dat ons as Afrikaners een kultuur deel, verwys ek graag na die Afrikaners nie net as ‘n “groep” nie maar as ‘n “volk”.
 
3  Omdat Afrikaners (blanke Afrikaanssprekendes) skaars 6% van die Suid-Afrikaanse bevolking uitmaak, is dit tot hulle voordeel om koalisies te vorm om hulleself te laat geld.  Die probleem met ‘n koalisie – selfs met ‘n huwelik! – is dat al die partye iets moet prysgee om die voordele van die koalisie te verkry.  Koalisievorming impliseer ‘n graad van kompromie. 
 
4  As ‘n eenvoudige reël sou ek neerlê:  Vermy in Suid-Afrika ‘n koalisie van enige aard met die regerende ANC of die SA Kommunistiese Party.  Hoekom?  Jou stem word glad nie gehoor nie.  Jou identiteit verdwyn.  En kort voor lank verdwyn ook jou aanhangers. 
 
5  Daar is verskeie voordeliger moontlikhede:  in kleiner en groter kringe. 
 
5.1  Een opsie.  Koalisievorming met ander wit mense, maak die Afrikaners tans deel van 9% van die bevolking.  Na die huidige sensus, is die syfer dalk nog kleiner.  In jou opstel Dirk bespreek jy sinvol die dilemma van die rassekategorie, waarmee jy (en ons) met ons hande in die hare sit.  
 
5.2  ‘n Tweede opsie.  Koalisievorming met ander Afrikaanssprekendes, veral bruin mense, maak Afrikaners deel van die Afrikaanssprekendes groep, wat tans net meer as 13% van die bevolking vorm. 
 
5.3  Nog ‘n opsie.  Koalisievorming met partypolitieke geesgenote wat verskillende tale, kulture, rasse en gelowe behels maar wat minderheidsregte ten alle koste steun en nooit langs dieselfde vuur as die ANC-regering sit nie, maak Afrikaners deel van die Demokratiese Alliansie wat in die verkiesing op 18 Mei ongeveer 24% van die stemme verower het.  Daar is ook ander interessante koalisiemoontlikhede.   
 
6  Die keuses is nie maklik nie.  Hoekom?  Want ‘n omgekeerde verhouding bestaan tussen die engheid van jou doelwitte en die sukses van jou doelwitte.  Hoe enger die doelwitte is, hoe meer selftevrede is jy dikwels, maar deste kleiner is die invloed wat jy uitoefen.  Hoe meer akkommoderend jou doelwitte daarenteen is, deste meer moet jy ongelukkig ook ander doelwitte verduur, maar deste groter is die koalisie en die konkrete gesag wat jy uitoefen. 
 
7  My waarneming in 2011 is:  Afrikaners is tans intelligent genoeg om hulle, vir verskillende aktiwiteite, aan verskillende kategorieë te verbind.  Sodoende vorm ‘n indiwiduele Afrikaner in Suid-Afrika byvoorbeeld soms ‘n lid van slegs die Afrikanervolk (6%), soms van die blanke gemeenskap (9%), soms van die Afrikaanssprekendes (13%) en soms van die DA (24%).    
 
8  Dankie vir ‘n openhartige, verblydende en stimulerende klem op die waarde van ‘n kulturele identiteit.

Propatria ·

Louis, Afrikaners is nie een volk nie, daardie stelling is feitlik verkeerd.

Daar is wel verskilende Afrikaner volke;
Die Cape Dutch kolonianers
Die Boervolk
Die ‘Bruinmense’

Ons Boere gee nie om as die Cape Dutch hulself die benaming Afrikaner toeein nie, dit is gepas, want die groep van Jonker Afrikaner het die benaming Afrikaner internationale erkening gegee, (Die die geskiedenis van Suid Wes Afrika) en daar is tog bewese getuienis dat die Cape Dutch die vaders van hierdie Bruinmense is. (Mens is sekerlik geregtig om die identiteit van jou vader op te eis?)

Deel van die trekredes was dan tog ook die 500 gemengde huwelike wat deur die Kaapse kerk bevestig was?

Twede moet jy altyd onthou dat die ABO die Boere was (Internationaal bekend as die ANGLO BOER WAR) teen die Kolonie. Die kolonie was n amptelike party teen die twee Boererepublieke en het dus die skeiding verseel, aangesien dit nie n burgeroorlog was nie.
Dit is ook hoekom die Rebelle skuldig was aan hoogsveraad, omdat hulle gerebeleer het teen hulle eie regeering

Dirk Herman se eie Groot Oupa Grootjie verklaar juis in sy optekeninge oor die ABO dat hy slegter behandel was deur die Kaapse Afrikaners as deur die Britte (Terloops, dit is my oor oupa grootjie ook)

In teendeel het Engeland nie kans gesien vir die oorlog indien die Kaapse Afrikaners nie ingestem het om as party teen die Boere te veg nie. Dus was die Kaapse Afrikaners (Ook bekend as Cape Dutch) die belangrikste skakel in die opperse onreg teenoor die Boer, en sal aangeklaagde NO 1 wees vir die verkragtings en kindermoorde in die konsentrasie kampe.

Louis, uit jou skrywes blyk dit dat jy n intelegente man is, moet nou asseblief nie feite verdraai vir politiese gewin nie. Boer eenkant en Cape Dutch Afrikaner anderkant?

Groete
 

paulsolidariteit ·

So ‘n Afrikaanse, wit persoon wat in die Kaap woon en wie se familie ook nog altyd in die Kaap woon, is ‘n “Cape Dutch” persoon wat verfoei moet word? Waarom? Omdat die persoon se voorouers dalk (miskien ook nie) honderd jaar gelede of selfs nog langer terug iets teen die Voortrekkers of die Boererepublieke gedoen het. Dit maak nie saak of mens dit kan vasstel of nie, en dit maak ook nie saak dat dit die persoon se voorouers is wat “verkeerd” opgetree het nie.

Goed dan, as ons dan vasgestel het dat skuld oorgedra kan word oor generasies en sonder enige konkrete bewyse, wat van die volgende scenario?

‘n Afstammeling van die Voortrekkers besit, bewoon en bewerk ‘n plaas iewers langs die Limpopo. Die grond is moontlik/waarskynlik met geweld of dwang of misleidende optrede van die vorige bewoners, ‘n stam Ndebeles, bekom deur ‘n groep Voortrekkers. Dis wel nie heeltemal duidelik presies wat die geskiedenis van die plaas is nie, en die huidige eienaar het dit “fair and square” gekoop van die vorige (wit) eienaar.

As mens dieselfde beginsel sou toepas wat vir die argument oor die “Cape Dutch” gebruik word, sal mens moet sê dat die boer in Limpopo veroordeel moet word as ‘n dief en ‘n onderdrukker.

Komaan, openbaar bietjie konsekwente denke!

Debbie Pretorius ·

Die nuutste BBBEE teikens is in elk geval meer so om dit op die Sensus te blameer is maar soos om als wat verkeerd gaan op Apartheid te blameer.

Your B-BBEE Scorecard compliance targets will be changing in 2012 for the following elements:
Employment Equity (Generic):Black Disabled Employees as a percentage of all employees Adjusted for Gender; target changes from 2% to 3%.

Black Employees in Senior Management as a percentage of all such employees Adjusted for Gender; target changes from 43% to 60%.

Black Employees in Middle Management as a percentage of all such employees Adjusted for Gender; target changes from 63% to 75%.

Black Employees in Junior Management as a percentage of all such employees Adjusted for Gender; target changes from 68% to 80%.

Preferential Procurement (Generic):B-BBEE Procurement spend from all Suppliers; target changes from 50% to 70%.

B-BBEE Procurement spend from QSE’s and EME’s; target changes from 10% to 15%.
B-BBEE Procurement spend from Suppliers that are 50% Black owned or Suppliers that are 30% Black Woman owned; target changes from 15% to 20%.

Employment Equity (QSE):Black Employees who are Management as a percentage of all Management adjusted for gender; target changes from 40% to 60%.
Black Employees as a percentage of all employees adjusted for gender; target changes from 60% to 70%

Propatria ·

Dirk

Jy het reg, ek is n volbloed Afrikaan want ek is n Boer, die woord Afrikaner beteken dan “Boorling van Afrika”
 
Zuma het self erken dat die Boere die enigste wit stam in Afrika is, maar nou wil hulle ons Afrikanerskap ontneem om ons te klas as kolonialiste.

Ek dink in elk geval dat ons almal die sensus forms moet invul as Afrikane, dit sal immers n hele klomp statestieke in ons guns verander.
Dink as hulle amptelike sensus uitslag bepaal dat die hele Bosveld bewoon word deur Afrikane? Waar laat dit hulle met die syfers?

Het Afriform enige kapsie gemaak teen hierdie sensus klasifikasie?

Dit moet die Boervolk apart aangedui het.

Anoniem ·

As die hele Bosveld bewoon word deur “Afrikane”, besluit die ANC dat daar slegs “Afrika-diens” benodig word in die hele streek.

Wat AfriForum betref, weet ek nie oor die ras-vraag nie, maar ek weet AfriForum het wel teweeggebring dat die sensusvraelyste in al 11 landstale beskikbaar is. Die plan was om dit slegs in Engels te doen, maar Alana Bailey van AfriForum het beswaar gemaak, en op die ou end het StatsSA besluit om dit in al 11 tale te doen.

Die naaste wat jy aan “Boervolk” gaan kom met die sensusvorm is om “Wit” by die vraag oor “ras” in te vul, en “Afrikaans” by die vraag oor huistaal.

Louis du Plessis ·

Propatria ~
 
1  Die Kaapse Afrikaner het ‘n lang tradisie van die ontwikkeling van Afrikaans sowel as van ‘n stryd vir allerlei verwante fasette van Afrikanerskap, insluitende Afrikananernasionalisme.  In die negentiende eeu is Afrikaanse politieke partye soos die Afrikanerbond doeltreffend georganiseer lank voordat daar enige iets soortgelyks op enige ander plek bestaan het. 
 
2  Die sogenaamde “Cape Dutch” wat jy herhaaldelik noem, was ‘n klein groepie Engelssprekende Hollanders wat geen noemenswaardige rol gespeel het nie; in sy meesterwerk oor die Afrikaner verwys Giliomee net een keer terloops na hulle. 
 
3  Ná die Engelse Jamesoninval in die Zuid-Afrikaanse Republiek het Jan Hofmeyr en die Afrikanerbond in Kaapland in ‘n geen onduidelike stap nie bande gebreek met die Britse imperialis Cecil Rhodes. 
 
4  En ná Uniewording in 1910 het Kaaplandse Afrikaners die stryd vir Afrikanerskap voortgesit.  In die periode 1910 tot 1948 het Kaapse Afrikanernasionaliste van die mees invloedryke leiers voorsien wat ‘n rol gespeel het in die opkoms van die Afrikaner, in die intellektuele afbakening van die Afrikaner se koers vorentoe, in die opheffing van arm Afrikaners, en in die vestiging van ‘n Afrikanerbeheerde staat.  Die Kaapse invloed spreek uit ‘n netwerk van feite, soos dat elke Afrikaner en Nasionale Party-eerste minister wat vanaf 1948 aan bewind was totdat PW Botha oorgeneem het, op Stellenbosch studeer het:  Dr DF Malan, adv Hans Strijdom, dr Hendrik Verwoerd en adv John Vorster.  Die Afrikanernasionalistiese pers genoem Nasionale Pers het die stryd vir Afrikanerskap gelei vandat Die Burger ‘n paar jaar na Uniewording in Kaapstad gevestig is en sy stalmaats soos Die Volksblad, Die Oosterlig en Beeld daarna landwyd kon uitbrei.  
 
4  Samevatting.  Dis nie nodig om volksgenote teen mekaar af te speel nie.  Opgevoede Afrikaners het oor meer as 150 jaar reeds landwyd – “van die Kaap tot in Transvaal”, lui die lied – ‘n rol gespeel om hulle leefwyse te ontwikkel en Afrikanerskap te bevorder.  Landwyd:  dus, uit elke hoek van die land. 
 
5  Nut.  Dis my beskeie mening dat dit vir jou van groot nut sal wees om historici te raadpleeg of om ‘n paar gesaghebbende boeke en videos oor die geskiedenis van Suid-Afrika onder oë te neem.  Ek beveel aan jy begin met:  Giliomee, Hermann, “Die Afrikaners – ‘n biografie”, Tafelberg, Kaapstad, 2004, ISBN 0 624 04181 6, 656 bladsye.  Daar is ook ‘n bygewerkte uitgawe oor die laaste paar jaar.
 
6  Slotsom.  Propatria, ek maak die volgende afleiding:  jy en prof Hermann Giliomee woon nie in dieselfde land nie.
 
Met agting

Propatria ·

Louis, dankie vir die reaksie en die uitlig van n paar belangrike feite;

Ten eerste wil ek jou meedeel dat ek nie onkundig is met hordes publikasies uit die Stellenbosch kamp nie, Sedert van der Stel sy voete hier gesit het was hierdie n teenoorgestelde pool tot die Boer. baie publikasies vanuit hierdie stal het dan ook verder opgebou op die Cape Dutch Afrikaner aanval op die Boer en selfs die kaping van die Boere geskiedenis.
Die een pool is finansiele vooruitgang gebaseer, en die ander pool is vryheidsgesindes met n sterk geloofs uitkyk.

Louis, as jy die Cape Dutch baseer op Giliomee se uitsprake het jy nog heelwat leeswerk, om jou net lekker aan die gang te kry stel ek die volgende voor, dit is heeltemal onpartydige publikasies; Ek het egter nie die boek op hande nie, maar jy is welkom o die spesifieke uitreksel te plaas ter bespreking?

Lees gerus hierdie;
1. Russia and the Anglo Boer War – Elisaveta Kandyba-Foxcroft
2. The British pro-Boers – AM Davey
3. Published letters of the Emperor Nicholaas II to his sister the Grand Duchess Xenia Aleksandrovna.
4. Ot Petersburga do Pretorii – V Rubanov
5. Viona Anglii s Uzhno-Afrikansimi Respublikami – Romeiko-Gurko

Hierdie is n paar Russe se weergawes wat primer uit eerstehandse inligting saamgestel was, jy sal veral uit die eersgenoemde publikasie waarneem wat die amptelike rapporte gelees het van die Militere Ataches wat onderskeidelik aan Boere kant en Britse/Kaap kolonie kant was.

Geen kind gee tog sy eie naam nie? Dus word die meeste name gegee deur ander partye? Jy sal sien dat die Kaapse Kolinianers deur verskeie buitelandse geskiedskrywers na verwys word as die Cape Dutch. Dit pas hulle ook want dit was Afrikaners wat met trots die Union Jack as hul eie aangeneem het.

Die Kaapkolonie was n amptelike party tot n oorlog teen die Boer, jy sal merk dat oral is die westerling se geskiedenis n oorlog teen die afstigters eintlik die afstigting verseel.

Daar is by my geen debat oor identiteit nie, jy kan die benamings mee rondspeel van die Cape Dutch Afrikaners nes dit jou pas, want ek gun elke volk sy eie identiteit, op daardie noot wil ek jou die volgende meedeel;
Een van die fassette van volksmoord behels die ontkenning van daardie volk se identiteit. Om dus die Boer se aparte identiteit te ontken maak die ontkenner medepligtig aan volksmoord, Gaan ons nou volksmoord pleeg of gaan ons respekvol optree teen die wie  hulself identifiseer as Boere?

Ons kan nie van geregtigheid praat en self skuldig wees aan volksmoord nie.

Jou punt 3
Louis, ek weet nie wat jou agenda is met hierdie stelling nie, dit is tog van alle waarheid ontbloot.
DIE KAAPKOLONIE HET TOG KORT NA DIE JAMESON INVAL TOT AMPTELIKE PARTY TOEGETREE TEEN DIE BOERVOLK!!!!
Dit beteken nie distansieering van CJ Rhodes nie, hulle het bloot afkeur getoon dat hy ontmasker was.
Louis, is my feitlike stelling verkeerd dat Jameson die 10de eerste minister van die Kolonie was? Dus was die Kaapse Afrikaner of Cape Dutch dus nie so anti Jameson nie?

punt 4
Hierdie hele paragraaf kan vir jou dien as bewys dat die Afrikaner en die Boer twee verskillende pole is. Dankie daarvaar om ons almal opnuut bewus te maak dat die Boer vertrap was deur die Sellenboschers vir so lank.

Punt 5
Louis, wat beskou jy as verdeeling? As ons nie verdeeling toepas nie, dan is ons almal mos net deel van die Nuwe SA? Suid Afrikaners? daar is natuurlik baie wat wil praat van wit Suid Afrikaners? DIt rym nie lekker nie, want die Boer het meer probleme met die Cape Dutch en die Brittte en die uitlanders as met al die swart volke saam? Hoekom wil mense my nou saam tel met my gewetenlose vyhande? (Omdat hulle ras georienteerd dink? – Soos wat die Stellenboschers hulle geleer het?)
Ek verdeel nie my eie volk nie Louis, en verenig dit wat saam hoort, Boer by Boer
 
 Punt 6
Ek sal nou nie eers kan antwoord of ek dink ek en jy hoort in die selfde land nie, jy pleeg egter volksmoord, maar beskuldig my van verdeling?

Nee wat Louis die tyd het gekom dat ons eerstens bietjie nadink voordat ons die ou ‘Skelmbossers’ najaag, ons Boere is klaar met hulle

Andrealkema ·

My witmanskap is die mees sigbare van my Afrikanerskap. Nog voordat ek my mond oopmaak om Afrikaans te praat of te sing of my geskiedenis te vertel, kan mense sien ek is ‘n witman. Dis onlosmaaklik deel van my. Ek is so geskape…

Met erkenning aan ds SJ du Toit, stigter van die Genootskap van Regte Afrikaners: AFRIKA vir die AFRIKANER.

Laat jou witmanskap tel.

alleman ·

Andrealkema die rede hoekom baie Afrikaners soos jy so onnatuurlik baie waarde heg aan ‘n wit vel, is omdat kolonialiste soos die Britte in hul kolonies wit mense aangestel het om die koloniale belang te dien. In ruil hiervoor kon hierdie wit groepe lekker ryk word en baas speel bo die ander koloniale onderdane wat gruwelik uitgebuit is.
Dit het nie net in Suid-Afrika gebeur nie, maar in die meeste kolonies. En nie al hierdie baasspeel groepe was wit nie, die Belge het byvoorbeeld die Tutsis op dieselfde manier gebruik in Rwanda.
Natuurlik het hierdie lekker lewe, en baasspelery gelei tot ‘n diep sin van meerderwaardgheid bo die ander rasse.

Laat jou ‘witmanskap’ eerder vaar. Dis niks meer werd vandag nie, en is bloot op onreg gebasseer.

andre100 ·

In die onlangse tyd is daar ‘n paar eienaardige opmerkings oor Afrikaans en Afrikanerskap gemaak.
Breyten Breytenbach, die sestigerskrywer, het uit Nederland soos ’n orakel verklaar dat Afrikaans ’n “bastertaal” sou wees. Daarna het ons hier te lande uit min of meer konserwatiewe kringe gehoor dat die term Afrikaner nie noodwendig na Blanke mense verwys nie. Ook is daar uitdruklik geskryf dat Afrikaans nie ‘n “Witmanstaal” is nie.
Hierdie soort uitsprake skep uiteraard verwarring by mense oor hulle taal en hulle identiteit. In Suid-Afrika is identiteitsvraagstukke volledig deel van die kulturele en politieke debat. Daarvan kom ons eenvoudig nie weg nie, in weerwil daarvan dat baie verligte woordvoerders ons wil wysmaak dat identiteitspolitiek na 1994 nie meer ter sake is nie.
Waarom moet hierdie verwarring geskep of bevorder word? Ek vermoed daar sit baie meer daaragter as wat dit op die oog af lyk.
Met hierdie soort uitsprake (dat Afrikaans ‘n bastertaal sou wees en Afrikaners nie noodwendig Blankes is nie) word daar veral gepoog om Afrikaners se beeld van hulself te verskuif ter wille van politieke korrektheid. In wese word gepoog om die rasfaktor daarmee uit te skakel. Wanneer dit in volle konsekwensies deurdink word, is dit ‘n poging om Afrikaners te beweeg tot die aanvaarding van hulle eie kultuur as ‘n veelrassige kultuur.

alleman ·

Andre, jy maak ‘n groot fout as jy dink die poging om die rasfaktor uit te skakel gaan oor politieke korrektheid. Die Amerikaner, Brit en Fransman aanvaar almal wat Engels of Frans wil wees. Dis juis hierdie oopheid wat maak dat Engels tans die stryd om Suid-Afrika lag-lag wen, terwyl mense soos jy verkies dat ons eerder met onsself sit en speel, en ons besig hou met redenasies oor die presiese aard van ons identiteit en oorsprong.

andre100 ·

Verder Alleman,

Laat ons dit maar reguit se: as die Afrikaners hulself nie meer as Blanke volk sien nie, sal dit ook die einde wees van hulle Afrikanerskap.
Dit is immers die strekking van vele uitsprake van volksleiers, waaronder dr. H.F. Verwoerd se Loskopdam-toespraak van Oktober 1965.
Mense wat Afrikaans voorstel as ‘n “bastertaal”, of wat beweer Afrikaans is “nie ‘n witmanstaal nie”, stel hulself reeds buite die Afrikanervolk se stryd om voortbestaan.
Hulle aanvaar die uitgangspunte van diegene wat die karakter van die Afrikanervolk wil verander. As Afrikaans ‘n bastertaal genoem moet word omdat dit soms woorde oorneem uit ander tale of daardeur beinvloed word, dan is alle tale bastertale. Maar waarom word Afrikaans in die besonder so gebrandmerk? Alle tale het leenwoorde en word deur ander tale beinvloed. Dit is niks vreemds aan die aard van taal as sulks nie.
Die hoofbron van Afrikaans is natuurlik sewentiende eeuse Nederlands, en dit bly steeds die penwortel van ons taal. ‘n Sterk Nederlandse invloed op Afrikaans het voortgeduur via die skryftaal, die kerklike lewe en die opvoeding tot diep in die eerste helfte van die Twintigste Eeu. Daarnaas was daar in die vormingsjare van Afrikaans nog meer invloede vanuit die Franse en Duitse tale. In vergelyking daarmee was die invloed van die inheemse Koitaal en verskillende slawetale soos Maleis minimaal.
Niemand minder nie as C.J. Langenhoven het na Afrikaans verwys as ‘n Witmanstaal, met ander woorde as ‘n Europese taal wat op wonderbaarlike wyse buite Europa ontstaan het. Alle wetenskaplike taalondersoeke bevestig hierdie siening van Langenhoven.

andre100 ·

Vir die afgelope sewe jaar publiseer die GHA ‘n keur van die gedigte wat ingeskryf word vir sy gedigtekompetisie.

Hier volg ‘n gedig uit Stemme uit die Suiderland I:

Credo van ‘n Afrikaner/Boer

Jy vra my, Broer, kom stryk die vlag
voor Mammon en sy kneg?
Jy wat vrede hoër ag
as vryheid en my reg!

Jou vrede is ‘n troebel stond,
jou roem – ‘n donker wolk…
oor puinhoop en verskroeide grond,
oor grafstil swye van my volk.

Verstaan maar net my eie trou
dat ék jou vrede haat,
dat Boere-adel nimmer swig
nóg swymel voor verraad.

My pad kom deur ‘n offerland,
ek dra ‘n suiwer saad –
die erfgeen van ‘n voorgeslag
wat roem en silwer smaad.

Geborge in ‘n Hoër Hand
sal ek my erfdeel dra:
my taal, my eer, my hoogste goed –
die kruis wat vryheid vra.

Ek sien daar voor ‘n vlamwit gloed –
dit skroei tot teen my aan;
ek hoor van vér my hartland roep
en wéét waarheen ek gaan!

Daan van Zyl

Louis du Plessis ·

André Alkema ~

DRIE MAKLIKE VRAE

1  Jy skryf hieronder: “My witmanskap is die mees sigbare van my Afrikanerskap. Nog voordat ek my mond oopmaak om Afrikaans te praat of te sing of my geskiedenis te vertel, kan mense sien ek is ‘n witman. Dis onlosmaaklik deel van my. Ek is so geskape…  Met erkenning aan ds SJ du Toit, stigter van die Genootskap van Regte Afrikaners: AFRIKA vir die AFRIKANER.  Laat jou witmanskap tel.”     

2  André, ek hoor ook, die ANC-kabinetwoordvoerder Jimmy Manyi argumenteer, volgens sy persepsie namens 79.5% van die Suid-Afrikaanse bevolking:  My swart vel is my mees sigbare kenmerk.  Nog voordat ek my mond oopmaak om Zoeloe of Pedi te praat of te sing of my geskiedenis te vertel, kan mense sien ek is ‘n swartman.  Dis onlosmaaklik deel van my.  Ek is so geskape…  Met erkenning aan Steve Biko, leier van die Swartbewussynbeweging: AFRIKA vir die AFRIKANE!  Laat jou swart vel tel! 

3  Hier’s drie maklike vrae.  En terwyl jy antwoord, hou die etiese universaliseringsbeginsel in gedagte:  Behandel ander soos jy wil hê hulle moet jou behandel.   

3.1  ‘n Vraag deur Piet Retief:  “Besef jy as jy ‘n geveg wil wen moet jy jou taktiek reg kies – anders oorweldig die vyand jou?”  

3.2  ‘n Vraag deur die Afrikaanse Taalmonument:  “Hoe gaan jy ons wonderlike moedertaal bevorder as jy die groot meerderheid van Afrikaanssprekendes uitsluit?”  

3.3  ‘n Vraag deur Rooikappie:  “Hoekom het Ouma sulke Jimmy-tande?  Hoekom speel Ouma die rassekaart?” 

Propatria ·

Ek kan nie ander as om saam te stem nie, ons Boere se grootste vyhande was nog altyd ander blanke volke.

Ons Boere moet ons afskei van die ander blankes, ander gaan ons saam met hulle sink.

andre100 ·

Beste Louis,

In die onlangse tyd is daar ‘n paar eienaardige opmerkings oor Afrikaans en Afrikanerskap gemaak.
Breyten Breytenbach, die sestigerskrywer, het uit Nederland soos ’n orakel verklaar dat Afrikaans ’n “bastertaal” sou wees. Daarna het ons hier te lande uit min of meer konserwatiewe kringe gehoor dat die term Afrikaner nie noodwendig na Blanke mense verwys nie. Ook is daar uitdruklik geskryf dat Afrikaans nie ‘n “Witmanstaal” is nie.
Hierdie soort uitsprake skep uiteraard verwarring by mense oor hulle taal en hulle identiteit. In Suid-Afrika is identiteitsvraagstukke volledig deel van die kulturele en politieke debat. Daarvan kom ons eenvoudig nie weg nie, in weerwil daarvan dat baie verligte woordvoerders ons wil wysmaak dat identiteitspolitiek na 1994 nie meer ter sake is nie.
Waarom moet hierdie verwarring geskep of bevorder word? Ek vermoed daar sit baie meer daaragter as wat dit op die oog af lyk.
Met hierdie soort uitsprake (dat Afrikaans ‘n bastertaal sou wees en Afrikaners nie noodwendig Blankes is nie) word daar veral gepoog om Afrikaners se beeld van hulself te verskuif ter wille van politieke korrektheid. In wese word gepoog om die rasfaktor daarmee uit te skakel. Wanneer dit in volle konsekwensies deurdink word, is dit ‘n poging om Afrikaners te beweeg tot die aanvaarding van hulle eie kultuur as ‘n veelrassige kultuur.

boerseun ·

Ek dink mens moenie die Sensus-telling kompliseer nie. Dit is bloot ‘n opname van wat in ons land is. As hulle wil weet of ek ‘n “wit-mens” is, dan ja, ek is, tel my asseblief. Kom ons kry die Sensus agter die rug.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.