Hou vas, die 2019-mallemeulerit is rof!

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Met die volgende algemene verkiesing wat binne enkele weke plaasvind, neem die debat in Suid-Afrika oor grondbesit en onteiening van grond sonder vergoeding in heftigheid toe. Die Afrikanistiese vleuel van die ANC en die EFF sien daarin ’n towerstaf om die historiese ongelykheid tussen wit en swart te laat verdwyn; ander sien ’n swart gat van magsmisbruik en korrupsie ontstaan wat slegs die dun bolaag van die swart mense – dié wat polities “gekonnekteer” is – sal bevoordeel.

Dis relevant om na die ander voorbeeld van grootskaalse grondonteiening sonder vergoeding te kyk, vlak noord van die Limpopo, in Zimbabwe. Ook daar het die regime van oudpres. Robert Mugabe duisende “oorlogsveterane” op wit boere afgestuur, en dié eenvoudig hardhandig van hul plase afgejaag. Nou was die grond weer in besit van die regmatige eienaars, is gesê.

Daar was egter ’n hele aantal probleme met dié narratief.

Ten eerste was baie van die “oorlogsveterane” duidelik jonk, selfs tieners – in elk geval te jonk om in die Chimurenga (soos die swart Zimbabwiërs hul stryd teen die Ian Smith-regime noem) te geveg het. Bowendien is dit oorwegend nie húlle wat bevoordeel is nie, want binne enkele maande was dit Mugabe se vriende wat besit van die grond geneem het; die swart kleinboere, namens wie die veldtog in die eerste plek van stapel laat loop is, het droëbek eenkant gestaan en toekyk.

In die tweede plek lyk dit na ’n kenmerk van die Afrika-kultuur dat instandhouding nie hoog op die agenda is nie. En dus het die plase wat in beslag geneem is, vinniger of stadiger verval. Die grond (soos trouens die hele staat) is nie gesien as produksiemiddel waarin voortdurend geld, kundigheid en harde werk belê moet word nie, maar as middel om genadeloos leeg te plunder.

Zimbabwe se landboustatistiek vertel die storie.

As jy na die produksie van mielies en koring deur die jare kyk, sien jy ’n voortdurende wisseling wat oorwegend aan weer en klimaat (goeie en slegte reënjare) toegeskryf kan word. Maar ná 2001, toe die grondonteiening in omvang toegeneem het, duik die grafieklyne neerwaarts soos ’n duikbomwerper.

Zimbabwe was voor 2000 meestal in staat om sy eie bevolking gerieflik te voed en nog uit te voer ook. Van die 1,8 miljoen ton mielies wat die bevolking jaarliks nodig het om te oorleef, produseer die land tans sowat 0,8 miljoen ton. Die res moet ingevoer word.

In 2001 het die koringproduksie met 32% afgeneem en in 2002 met 66%. Nadat Mugabe verlede jaar uitgeskop is en sy opvolger, pres. Emmerson Mnangagwa, wit boere uitgenooi het om hulle weer in sy land te vestig, het die produksiesyfers beter gelyk, maar die land het nog ’n lang pad voor hom voordat hy ten volle sal herstel het.

Dit is, onder meer, teen dié agtergrond dat die oplaaiende debat oor grondhervorming in Suid-Afrika gesien moet word. Toe ek dus in die naweek die hoofberig in Rapport en Maandag die opvolgberigte in die oggendkoerante sien, was dit ’n kwessie van soos die Franse dit noem déjà vu – dit het ’n mens al tevore beleef.

Luidens die berigte is die program waarvolgens grond reeds in Suid-Afrika onteien en “herverdeel” is, nie alleen in ’n chaos nie, maar ’n reusagtige bedrogspul. Duisende begunstigdes van grond weet nie eens hulle “besit” die betrokke plase nie; ander is dood. In baie gevalle het amptenare wat met die program werk, die grond self gevat of aan familielede uitgedeel.

’n Mens hoor ook gereeld van dergelike onteiende plase wat binne enkele jare heeltemal verwilder het en wat skaars nog iets produseer.

Dalk die treffendste kommentaar hierop was afkomstig van die ekonoom dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die finansiële groep Optimum, wat reguit gesê het die chaos is ’n bewys dat die regering nie die vermoë het om grondhervorming, selfs op ’n baie klein skaal, suksesvol deur te voer nie.

Ek weet nie of dit ’n mens moet laat lag of huil nie. Enersyds kan jy leedvermaak hê oor die verregaande onbevoegdheid van ’n party wat in 1994 ’n paradys op aarde beloof het; andersyds weet jy dat daardie onbevoegdheid die land stelselmatig in dryfsand laat wegsink.

Botha is, op sigself, korrek in sy oordeel dat die ANC onbevoeg is. Dit was al in die struggle-tyd so. Ek het as historikus baie navorsing oor die ANC se opstand gedoen (en dit sal mettertyd in ’n boek uitkristalliseer), en die een ding wat ’n mens deurgaans opval, is hoe onbekwaamheid en luiheid onder honderdduisende hoogdrawende woorde begrawe word.

Hoe lyk die toekoms? Dis waar dat pres. Cyril Ramaphosa aansienlik beter (of miskien is minder sleg akkurater) is as sy voorganger, Jacob Zuma.

Dit sê egter nie veel nie, want Zuma was sonder ’n sweem van twyfel die onbekwaamste en mees korrupte politikus wat ooit die posisie van Suid-Afrikaanse staatshoof beklee het.

Soos ek Ramaphosa lees, besef hy tussen sy ore dat dinge in ons land in ’n verkeerde rigting beweeg. Hy besef verstandelik dat die onteiening van grond sonder vergoeding, soos in Zimbabwe gebeur het, ’n ramp is wat ’n plek soek om te gebeur.

Ramaphosa se probleem is dat sy magsposisie in die ANC nog baie wankelrig is. Die openlike minagting waarmee adj.pres. David Mabuza, vir Ramaphosa en Tito Mboweni, minister van finansies, in die openbaar oor die nasionalisering van die Reserwebank gerepudieer het, wys dit.

Daar is ’n kragtige Afrikanistiese vleuel in die ANC wat sy vorm van Afrika-nasionalisme met die sosialisme versoen. As jy bietjie moedswillig is, kan jy dit ’n vorm van nasionaal-sosialisme noem, veral omdat rassisme ook deel van die mengsel vorm.

Die punt is dat Ramaphosa se politieke beweegruimte in die ANC taamlik beperk is. Baie gaan afhang van hoe die ANC onder sy leiding in die algemene verkiesing van Mei vaar. ’n Goeie uitslag kan Ramaphosa se hand sterk; ’n swak uitslag kan ’n paleisrevolusie van die Afrikanistiese vleuel ontketen.

Gelukkig is daar darem teenkragte ook. Ek weet dit laat sommige mense lekker kry om teen die media te kere te gaan, maar daardie selfde vermaledyde media speel ’n groot rol om die ANC-skandes aan die groot klok te hang en die agteruitgang van die land minstens te vertraag.

Die politieke geveg is ver van verby. Hou vas, die rit gaan nóg rowwer raak.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Paul

Goeiemore Dr Leopold, om aan te sluit by jou artikel, lees aub gerus hierdie berig van gister op Maroela, ook die kommentare onderaan:
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/sa-maak-harte-vir-flaminkkuikens-oop/

JAN

Ja die Media se narratief nê? Die jaar het sommer afgeskop met die grootste traditionele vyand van Naspers naamlik die NGKerk met dominees Tienie se kaskenades op die silwerdoek.. jig. Leopold se lykskouing van die selfgemaakte staatkundige status quo sluit af met een helse gelaaide sinnetjie . Die rol van die Afrikaanse Media… Geweldig. Wat kan ons doen aan ons eie lot? is die riller. Wat ons nodig het – wat steeds skitter in afwesigheid – is ‘n sepie op TV en Dokumentêre reeks oor die grootste geestelike kulturele leiers van die volk in die redaksionele kantore van Naspers en… Lees meer »

nico k

Paul ek dink nie jou artikel is relevant tot die berig nie, en ek glo nie sommer enige iets wat Bolhuis sê nie. Sover ek weet is die Kamfersdam van reen afhanklik en daar is groot droogte in die Noord Kaap. Dit is deel van die natuur.

Andre

Dankie vir n artikel vol reguit feite.

Pietsepan

Soos altyd weereens ‘n uitstekende artikel en samevatting van die waarheid. Dankie Dr Leopold.