Hou vas, die 2019-mallemeulerit is rof!

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Met die volgende algemene verkiesing wat binne enkele weke plaasvind, neem die debat in Suid-Afrika oor grondbesit en onteiening van grond sonder vergoeding in heftigheid toe. Die Afrikanistiese vleuel van die ANC en die EFF sien daarin ’n towerstaf om die historiese ongelykheid tussen wit en swart te laat verdwyn; ander sien ’n swart gat van magsmisbruik en korrupsie ontstaan wat slegs die dun bolaag van die swart mense – dié wat polities “gekonnekteer” is – sal bevoordeel.

Dis relevant om na die ander voorbeeld van grootskaalse grondonteiening sonder vergoeding te kyk, vlak noord van die Limpopo, in Zimbabwe. Ook daar het die regime van oudpres. Robert Mugabe duisende “oorlogsveterane” op wit boere afgestuur, en dié eenvoudig hardhandig van hul plase afgejaag. Nou was die grond weer in besit van die regmatige eienaars, is gesê.

Daar was egter ’n hele aantal probleme met dié narratief.

Ten eerste was baie van die “oorlogsveterane” duidelik jonk, selfs tieners – in elk geval te jonk om in die Chimurenga (soos die swart Zimbabwiërs hul stryd teen die Ian Smith-regime noem) te geveg het. Bowendien is dit oorwegend nie húlle wat bevoordeel is nie, want binne enkele maande was dit Mugabe se vriende wat besit van die grond geneem het; die swart kleinboere, namens wie die veldtog in die eerste plek van stapel laat loop is, het droëbek eenkant gestaan en toekyk.

In die tweede plek lyk dit na ’n kenmerk van die Afrika-kultuur dat instandhouding nie hoog op die agenda is nie. En dus het die plase wat in beslag geneem is, vinniger of stadiger verval. Die grond (soos trouens die hele staat) is nie gesien as produksiemiddel waarin voortdurend geld, kundigheid en harde werk belê moet word nie, maar as middel om genadeloos leeg te plunder.

Zimbabwe se landboustatistiek vertel die storie.

As jy na die produksie van mielies en koring deur die jare kyk, sien jy ’n voortdurende wisseling wat oorwegend aan weer en klimaat (goeie en slegte reënjare) toegeskryf kan word. Maar ná 2001, toe die grondonteiening in omvang toegeneem het, duik die grafieklyne neerwaarts soos ’n duikbomwerper.

Zimbabwe was voor 2000 meestal in staat om sy eie bevolking gerieflik te voed en nog uit te voer ook. Van die 1,8 miljoen ton mielies wat die bevolking jaarliks nodig het om te oorleef, produseer die land tans sowat 0,8 miljoen ton. Die res moet ingevoer word.

In 2001 het die koringproduksie met 32% afgeneem en in 2002 met 66%. Nadat Mugabe verlede jaar uitgeskop is en sy opvolger, pres. Emmerson Mnangagwa, wit boere uitgenooi het om hulle weer in sy land te vestig, het die produksiesyfers beter gelyk, maar die land het nog ’n lang pad voor hom voordat hy ten volle sal herstel het.

Dit is, onder meer, teen dié agtergrond dat die oplaaiende debat oor grondhervorming in Suid-Afrika gesien moet word. Toe ek dus in die naweek die hoofberig in Rapport en Maandag die opvolgberigte in die oggendkoerante sien, was dit ’n kwessie van soos die Franse dit noem déjà vu – dit het ’n mens al tevore beleef.

Luidens die berigte is die program waarvolgens grond reeds in Suid-Afrika onteien en “herverdeel” is, nie alleen in ’n chaos nie, maar ’n reusagtige bedrogspul. Duisende begunstigdes van grond weet nie eens hulle “besit” die betrokke plase nie; ander is dood. In baie gevalle het amptenare wat met die program werk, die grond self gevat of aan familielede uitgedeel.

’n Mens hoor ook gereeld van dergelike onteiende plase wat binne enkele jare heeltemal verwilder het en wat skaars nog iets produseer.

Dalk die treffendste kommentaar hierop was afkomstig van die ekonoom dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die finansiële groep Optimum, wat reguit gesê het die chaos is ’n bewys dat die regering nie die vermoë het om grondhervorming, selfs op ’n baie klein skaal, suksesvol deur te voer nie.

Ek weet nie of dit ’n mens moet laat lag of huil nie. Enersyds kan jy leedvermaak hê oor die verregaande onbevoegdheid van ’n party wat in 1994 ’n paradys op aarde beloof het; andersyds weet jy dat daardie onbevoegdheid die land stelselmatig in dryfsand laat wegsink.

Botha is, op sigself, korrek in sy oordeel dat die ANC onbevoeg is. Dit was al in die struggle-tyd so. Ek het as historikus baie navorsing oor die ANC se opstand gedoen (en dit sal mettertyd in ’n boek uitkristalliseer), en die een ding wat ’n mens deurgaans opval, is hoe onbekwaamheid en luiheid onder honderdduisende hoogdrawende woorde begrawe word.

Hoe lyk die toekoms? Dis waar dat pres. Cyril Ramaphosa aansienlik beter (of miskien is minder sleg akkurater) is as sy voorganger, Jacob Zuma.

Dit sê egter nie veel nie, want Zuma was sonder ’n sweem van twyfel die onbekwaamste en mees korrupte politikus wat ooit die posisie van Suid-Afrikaanse staatshoof beklee het.

Soos ek Ramaphosa lees, besef hy tussen sy ore dat dinge in ons land in ’n verkeerde rigting beweeg. Hy besef verstandelik dat die onteiening van grond sonder vergoeding, soos in Zimbabwe gebeur het, ’n ramp is wat ’n plek soek om te gebeur.

Ramaphosa se probleem is dat sy magsposisie in die ANC nog baie wankelrig is. Die openlike minagting waarmee adj.pres. David Mabuza, vir Ramaphosa en Tito Mboweni, minister van finansies, in die openbaar oor die nasionalisering van die Reserwebank gerepudieer het, wys dit.

Daar is ’n kragtige Afrikanistiese vleuel in die ANC wat sy vorm van Afrika-nasionalisme met die sosialisme versoen. As jy bietjie moedswillig is, kan jy dit ’n vorm van nasionaal-sosialisme noem, veral omdat rassisme ook deel van die mengsel vorm.

Die punt is dat Ramaphosa se politieke beweegruimte in die ANC taamlik beperk is. Baie gaan afhang van hoe die ANC onder sy leiding in die algemene verkiesing van Mei vaar. ’n Goeie uitslag kan Ramaphosa se hand sterk; ’n swak uitslag kan ’n paleisrevolusie van die Afrikanistiese vleuel ontketen.

Gelukkig is daar darem teenkragte ook. Ek weet dit laat sommige mense lekker kry om teen die media te kere te gaan, maar daardie selfde vermaledyde media speel ’n groot rol om die ANC-skandes aan die groot klok te hang en die agteruitgang van die land minstens te vertraag.

Die politieke geveg is ver van verby. Hou vas, die rit gaan nóg rowwer raak.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Landbounuus, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

JAN ·

Ja die Media se narratief nê?
Die jaar het sommer afgeskop met die grootste traditionele vyand van Naspers naamlik die NGKerk met dominees Tienie se kaskenades op die silwerdoek.. jig.
Leopold se lykskouing van die selfgemaakte staatkundige status quo sluit af met een helse gelaaide sinnetjie . Die rol van die Afrikaanse Media… Geweldig.
Wat kan ons doen aan ons eie lot? is die riller.
Wat ons nodig het – wat steeds skitter in afwesigheid – is ‘n sepie op TV en Dokumentêre reeks oor die grootste geestelike kulturele leiers van die volk in die redaksionele kantore van Naspers en Perskor. oa van 50 jaar. Die volle drama met al die Bo-sassas en Onder-sassas. Van een ranp na die volgende sodat daar niks oorgebly het nie.
Gelukkig het ons MM oa om die regte toorwoorde te skryf. hmm?
Spesifiek hul Christelike reddingsboodskap is onontbeerlik eksoties.
Moet erken dat Naspers se koop van al die Russiese advertensieregte saam met Ds Tienie Kaskenades , ‘n slim skuif is. – koud klinies sinies doelgerig , operasioneel strategies,
hmmmm

Annie Webb ·

Nie seker of ek jou reg verstaan nie, Jan, maar ek sal maar liewer nie vir ds Tienie kyk nie. Die narratief van al ons nuus, menings en vermaak uit dieselfde magtige stal is nou al 25 jaar presies dieselfde: alles wat (steeds) verkeerd is, is weens die vorige geslag se onvermoë en onwilligheid om enigiemand te aanvaar wat nie wit, (eng, Bybels) Christelik en heteroseksueel is nie. Die jonger geslag verwerp dus die ouer geslag en is inklusief tot die uiterste. Terwyl hulle koffers gepak staan en paspoorte in orde is “vir ingeval dinge hier nie uitwerk nie”. En ás dinge hier dan nie “uitwerk” nie, sal dit volkome die skuld wees van die ouer geslag wat nie “genoeg jammer gesê het nie”. Dankie tog vir die wonderlike kinders wat die waarheid in hul ouerhuise geleer word, nie bodder met koffers en paspoorte nie, en daagliks terugveg op wettige maniere in ons puik burgerlike organisasies. Maar hou ons hoofstroom-“nuus”, menings en vermaak net ver van my af. Die lewe is te kort om my só vir dié naïwiteit te vererg.

nico k ·

Paul ek dink nie jou artikel is relevant tot die berig nie, en ek glo nie sommer enige iets wat Bolhuis sê nie. Sover ek weet is die Kamfersdam van reen afhanklik en daar is groot droogte in die Noord Kaap. Dit is deel van die natuur.

Paul ·

Nico, die boodskap wat ek hierdeur wil uitdra, is dat daar maar niks in die land is wat die mense reg kan doen nie, vergeet nog van die regte dinge doen, dit is dieselde pad wat grondhervorming gaan loop. En die oorsaak van die opdroog van die dam wat jy beweer deel van die natuur is, word nog ondersoek, al is daar tans ‘n droogte. Daar blyk ook ander invloede te wees wat ‘n rol gespeel het.

Terwyl ek aan die gesels is, ek verneem dat hulle beoog om op ‘n piekniekplek in die Kruger Wildtuin (Afsaalpiekniekplak) ‘n speelpark met klimrame vir kinders op te rig. Geen wonder die mense praat van die suide van die wildtuin as die Krugerpretpark nie. Nou wat laat jou dink die huidige regering kan die land bestuur? Hulle het dan tot dusver misluk. Kyk na die ekonomie, veiligheid en, en , en ….

Pietsepan ·

Soos altyd weereens ‘n uitstekende artikel en samevatting van die waarheid. Dankie Dr Leopold.

Stephan de S ·

Dankie vir n eerlike en reguit ontleding van die politieke tafel vir 2019 – ook gegrond in die feite vd verlede. Sien uit na die boek wat moet verskyn. Afrikaanse kommentators het die voordeel om die wysheid uit minstens twee bronne te benut nl. uit die hoek van Afrikaans(en dikwels ook nog Hollands – en Duits) en uit die hoek vd Engels. Soveel tale jy kan soveel male is jy man. Daarom heg ek altyd groot waarde aan skrywers wat deur die bril van verskillende tale na die wêreld om hulle kyk. Prof. Herman Gillomee het reeds daarop gewys dat vele Engelssprekende historici doodgewoon nie moeite doen om Afrikaanse bronne te raadpleeg nie ,en dat dit hul interpretasie kortwiek.

Ou Vlakvark ·

“Wisdom: Looking ahead, ignoring the past, we see not the future.” – Chen Ziang, 661- 702 n.C.

Erwee ·

As ek so oor die saak dink, dan word ek nogal bemoedig deur die gedagte dat daar ‘n klomp mense is wat hulle hulp en leiding soek by hulle voorvader-geeste. Dis reg, hulle mag. Hulle mag selfs deur hulle voorvader-geeste aangese word om seker rituele op strande uit te voer. Hulle mag selfs aangese word om ander mense die see in te dryf (op sosiale media) of te vermoor. Ek glo nie ons kan se dat dit alles gesied onder die leiding van die voorvader-geeste nie. Ek verstaan dat die voorvader-geeste wel ‘n belangrike rol speel in besluitneming in Afrika. Dit behoort dan seker ook nie ‘n verrassing te wees wat dan in Afrika gebeur nie. Ons vorige president het selfs ‘n bul/koei geslag vir die voorvader-geeste namens die hele SA. Wat is die resultaat? Die wat hulle beroep op YHVH, die GOD van Abraham, Isak en Jakob, sal nie beskaam staan nie. Kyk wat het GOD deur Gideon met 300 man vermag. Die tyd sal leer waar ons onsself gaan bevind. Dit gaan nie oor wit of swart nie, dit gaan oor wie ons Rots is. Sela

Neels ·

Dr Leopold, wie dink jy watter persoon kan die land suksesvol regeer?

Paul ·

Dr Leopold, ek bly my lewe lank in hierdie land, vir by die 70 jaar, ek koester my taal en die grond waarop ek trap.

Ek gaan nie my sentiment teenoor bruin of swart mense hier verwoord nie, dit pas nie hier nie, die nostalgie en omgee pas in die verlede se plaas en waar ek later in die stad saam met hulle kaart gespeel het.

Taal en natuur, is my passie, maar ek het nêrens om heen te gaan met my karige belegging nie. Elke asemteug word aan die rand gemeet. Cyril is ‘n eenoog wat geen hoop bied nie, wat net vir die derde wêreld sorg, verder het hy geen begrip en visie vir die Westerse mens nie, ook nie vir dié se denke en vaardighede in sy land om dit die toekoms in te neem nie.

Ek besef die Blessing Tempest Fugit kan nie terug gedraai word nie, maar getrou trek ek die gewigte elke Sondagoggend om 8 uur aan die koperkettings op in afwagting op die Sondag wat my ‘n beklemming laataand vir die volgende week gee, vir jare.

En die ergste is dat ek moet vaskyk in ‘n leë hoop vir die toekoms wat te laat vir my en seker ‘n hele geslag gaan arriveer.

At Dippenaar ·

Narratief. Wat ‘n gedrog van ‘n vieslike woord. Mense dink seker hulle klink vreeslik beangrik as hulle dit gebruik. Toe ek by die woord kom, het ek die artikel nie eens verder gelees nie.

Cornelia ·

Dankie vir u in diepte studie-feite wat u op so ‘n paslike wyse en met u unieke skryfkuns met ons deel Dr. Leopold. Dit is altyd interessante en insiggewende inligting en gevolgtrekkings wat u altoos beleefd op die forum met die lesers deel. Dankie daarvoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.