Hou VSA-verkiesingsuitslae só dop

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Oor die wêreld heen sal mense môreoggend dophou hoe die stemme in die VSA se vyftig deelstate getel word om te bepaal of president Donald Trump tot nog ’n termyn verkies sal word of, indien, die Demokratiese Party se presidentskandidaat, Joe Biden, van 20 Januarie 2021 af Amerika se nuwe president sal wees.

Met byna 100 miljoen Amerikaners wat vanjaar vroeg gestem het deur by hul distrikskantore te gaan stem of om van ’n posstem gebruik te maak, heers daar wel onsekerheid oor hoe vinnig die stemme vanjaar getel sal word. Elke deelstaat bepaal sy eie reëls oor hoe stemme getel word en hoewel ons kan verwag dat die stemme in sommige deelstate soos altyd binne ’n uur of twee nadat stembusse gesluit het, beskikbaar sal wees, kan dit in ander deelstate dae neem voordat die finale uitslag bekend is.

Anders as wat ’n paar maande gelede nog verwag is, gaan die finale stempersentasie waarskynlik besonder hoog wees. In 2016 het 136 miljoen Amerikaners gaan stem. Dit was sowat 55,5% van die 250 miljoen stemgeregtigdes. Vanjaar kan die stempersentasie tot meer as 60% styg met soveel as 150 miljoen kiesers wat moontlik gaan stem. Dit sal verdere druk op die beamptes wat stemme moet tel, plaas.

Daar is vanjaar sowat 120 000 stempunte en meer as 900 000 tydelike werkers sal die stempunte beman en ná die tyd die stemme tel. Die stemproses verskil tussen deelstate met sommige deelstate waar kiesers op ’n skerm elektronies stem terwyl ander deelstate regte stembriewe gebruik waar ’n kieser ’n gaatjie by die naam van ’n kandidaat moet pons. Stembriewe verskil ook van distrik tot distrik omdat kiesers vir kandidate op plaaslike-, deelstaat- en federale vlak moet stem.

Foto: Xinhua/Zhang Chaoqun

Die 48 deelstate wat op die vasteland geleë is, het vier tydsones met Hawaii en Alaska wat hul eie tydsones het. Daar is ʼn verskil van omtrent vyf uur tussen die tyd wanneer die eerste stembusse sal sluit tot die tyd wanneer die laaste stembusse sluit.

Wanneer ’n mens die oostelike tydsone, wat tans sewe uur agter ons tyd is, as maatstaf gebruik, sluit die eerste stembusse in dele van Indiana en Kentucky om 18:00 oftewel 01:00 in Suid-Afrika. Om 19:00 sluit die stembusse in ’n hele paar belangrike deelstate soos Florida, Georgia, Virginia, Suid-Carolina en die orige distrikte van Indiana en Kentucky. Om 19:30 sluit die stembusse in Noord-Carolina, Wes-Virginië en Ohio.

Deelstate soos Florida en Ohio tel gewoonlik hul stemme baie vinnig. Florida het ook besluit om reeds voor die verkiesing posstemme te begin tel. Nog 45 ander deelstate laat toe dat posstemme reeds voor die verkiesing, soos wat dit ontvang word, getel word. Dit kan die bekendmaking van die uitslae daar vergemaklik. Teen 04:00 môreoggend behoort ’n mens ’n idee te kry wie voorloop in belangrike deelstate soos Ohio, Georgia, Florida en Noord-Carolina.

Die stembusse sluit om 20:00 in ’n groot hoeveelheid deelstate waarvan die belangrikste Pennsilvanië, Michigan en Texas is. Ander deelstate waar die stembusse ook om 20:00 sluit, is Maine, New Hampshire, Massachusetts, Rhode Island, Connecticut, New Jersey, Delaware, Maryland, Alabama, Mississippi, Tennessee, Illinois, Oklahoma, Missouri, Kansas, Suid-Dakota en Noord-Dakota.

Teen 06:00 môreoggend behoort ons te weet wie in Florida, Georgia, Noord-Carolina, Ohio, Michigan en Texas te gewen het. Dit alles hang egter af van die tel van posstemme. Indien die beamptes sukkel om al die posstemme te tel en indien die verskil tussen die twee kandidate se stemtotale in ’n deelstaat baie klein is, sal dit moeilik wees om, soos gewoonlik, so vinnig te voorspel wie die deelstaat gewen het. Die tel van posstemme kan in baie deelstate ’n uitgerekte proses wees omdat die kieser se handtekening op die stembrief met die kieser se handtekening op die kiesersrol vergelyk moet word.

Daar sal egter ʼn groter probleem in deelstate wees waar posstemme laat kan inkom. ’n Deelstaat soos Pennsilvanië laat toe dat stembriewe nog vir drie dae ná die verkiesing kan arriveer op voorwaarde dat dit teen vandag deur die posdiens gestempel moet wees. Ander deelstate soos Kalifornië laat selfs toe dat die posstemme tot soveel as twaalf dae ná die verkiesing ontvang kan word. In die meeste deelstate sal dit nie ’n probleem wees nie omdat die een kandidaat maklik sal wen en die uitstaande posstemme nie ’n verskil sal maak nie.

Die grootste kommer oor die tel van posstemme is in Pennsilvanië en Wisconsin, twee state wat van groot belang gaan wees in wie die verkiesing kan wen. Beide deelstate het Demokrate as goewerneurs en het bepaal dat posstemme eers vandag getel mag word. Dit kan die bekendmaking van resultate in beide deelstate verlangsaam en kan tot ’n regstryd aanleiding gee, veral indien daar kommer oor die korrekte ontvangs en tel van posstemme ontstaan. Moontlike bewerings van bedrog deur politici in hierdie state met die werf van posstemme, die onbehoorlike hantering van stembriewe en die weiering van verkiesingswaarnemers, kan tot hofsake aanleiding gee wat die finale uitslag in beide deelstate kan verlangsaam.

Pres. Donald Trump. (Foto: AP Photo/Alex Brandon)

Daar is nege deelstate wat, soos die uitslae bekend word, dopgehou moet word. President Trump moet die meeste van dié deelstate wen. Indien hy daarin slaag om Georgia, Florida, Arizona, Iowa, Noord-Carolina en Ohio te wen, hoef hy net een van Pennsilvanië, Wisconsin en Michigan te wen. Verloor hy egter vroeg in die aand Florida, Ohio of Noord-Carolina sal hy meer of almal van die noordelike state van die ou vervaardigings hartland van die VSA moet wen. Wen Trump Florida, Ohio, Georgia, Noord-Carolina en Iowa sal alle oë op Michigan en Wisconsin wees omdat hul finale uitslag waarskynlik voor dié in Pennsilvanië bekend gemaak sal word.

Terwyl die bekendmaking van verkiesingsuitslae op nuuskanale dopgehou kan word, is daar verskillende goeie webbladsye waar die uitslae selfs vinniger gepubliseer word. ’n Goeie manier om die uitslae te volg, is om jou eie kaart van die VSA uit te druk en soos wat die uitslae bekend gemaak word, die aantal stemme in die kieskollege in te vul. Vir ’n kandidaat om die verkiesing te wen, benodig hy 270 van die stemme in die kieskollege. Indien die twee kandidate elke op 269 eindig sal die huis van verteenwoordigers die president kies, in welke geval dit waarskynlik Biden sal wees.

Terwyl alle oë op die stryd tussen Trump en Biden sal wees, is daar ook ’n hewige stryd om die beheer van die Amerikaanse senaat. Die Republikeine beheer tans die senaat, maar moet vanjaar baie meer setels as die Demokrate verdedig. Hou veral die senaatsverkiesings in Georgia, Noord-Carolina, Maine, Iowa en Arizona dop. Republikeine is in al hierdie state op die agtervoet, maar staan wel ’n kans om te wen. Die party kan hoogstens drie setels verloor, sou hy, soos verwag, ’n setel in Alabama by die Demokrate afneem. In so ’n geval sal die Republikeine steeds 51 van die 100 setels in die senaat behou.

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Min goewerneurs van deelstate word vanjaar verkies. Daar is wel ’n hewige stryd in Montana en die uitslag daar kan gerus dopgehou word. Demokrate het ná ’n groot oorwinning in 2018 se middeltermynverkiesing ’n groot voorsprong in die huis van verteenwoordigers. Hulle wil vanjaar probeer om dit met nog so tien setels uit te brei. Die Republikeine het egter in heelwat distrikte uitstekende kandidate en mag vir ’n verrassing of twee sorg.

Vanjaar se verkiesingsveldtog was sekerlik die mees bisarre, maar ook die duurste, in die geskiedenis van die VSA. Meer as $14 miljard is reeds deur die veldtogte en eksterne organisasies op steunwerwing gespandeer. Die VSA is die voorste federasie in die wêreld en om die werking van die politieke strukture daar goed te verstaan, is dit nodig om te begryp hoe die verskillende vlakke van regering werk. Elke deelstaat het sy eie kongres met (in meeste) gevalle twee huise wat ook meestal ’n senaat en huis van verteenwoordigers genoem word. Die Republikeine beheer tans ’n meerderheid van die deelstate se regerings. Dit is dus ook goed om soos wat die verkiesingsuitslae môreoggend bekend gemaak word, dop te hou wie waar in die verskillende deelstate wen.

Daar word elke tien jaar ’n sensus in die VSA gehou en die sensus is onlangs voltooi. Dit beteken dat die distrikte binnekort hersaamgestel moet word. Sommige deelstate sal ekstra setels bykry en ander sal setels verloor. Die hele proses om distrikte uit te lê word deur die regerings van deelstate onderneem. Die party wat die regering in ’n deelstaat beheer, probeer natuurlik om distrikte só te ontwerp dat sy kandidate ’n beter kans staan om te wen.

Hopelik sal ons teen môreoggend weet wie vir die volgende vier jaar Amerika se president gaan wees. Dit is sekerlik ook moontlik dat die uitslag vertraag kan word, dat ’n regstryd kan ontstaan en dat die tel van stemme selfs deur geweld ontwrig kan word. Ten spyte hiervan bly die VSA een van die beste voorbeelde van ’n werkende demokrasie in die wêreld en sal die land vir nog lank die voorste ekonomiese, militêre en politieke mag wees.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dup

Ek het nog nie sulke volledige en kwaliteit beriggewing teëgekom nie.10/10.

Ja Wat

Trump 2020

Phillip

Sou Ons ook kon stem sou ek my gewig ook by Mr.Trump gesit het