Huffington-debakel: Verifieer eers die feite

HuffPost SA

Huffington Post SA (Foto: Facebook/HuffPost SA)

Joernalistieke eerlikheid en integriteit is die rotsbodem waarop geloofwaardige joernalistiek – en daardeur ook sy kommersiële lewensvatbaarheid – berus. Wanneer joernaliste ongeloofwaardig word, hou lesers op om hul produkte te koop en kelder die sirkulasie- en winssyfers.

Selde was daar egter nog ’n duideliker handboekvoorbeeld van joernalistieke slordigheid as dié van Verashni Pillay, redakteur van die Huffington Post SA, die Suid-Afrikaanse weergawe van die Amerikaanse aanlyn webwerf Huffington Post, wat deur Media24 bedryf word.

’n Week of tien dae gelede het dié webwerf ’n blog geplaas deur ene Shelley Garland onder die titel Could it be Time to Deny White Men the Franchise? Kortliks het die blog daarop neergekom dat wit mans verreweg die meeste ellende in sowel Suid-Afrika as die wêreld veroorsaak. Spesifiek die verkiesing van Donald Trump as Amerikaanse president, die uitslag van die Brexit-referendum in Brittanje, asook die munisipale verkiesingsoorwinnings van die DA in vier groot Suid-Afrikaanse stede is as voorbeelde van dié ellende genoem.

Om die “diefstal en geweld” van die moderne kapitalisme en die rykdom wat deur wit mans besit word te herverdeel, het die blogger voorgestel dat dié groep se stemreg 20 tot 30 jaar van hulle weggeneem word.

Die blogger het haarself beskryf as ’n MA-student in filosofie en feminis wat tans in Nieu-Seeland woon en as “’n trotse student aan die van Johannesburg”. By latere navrae het haar storie verander en het sy beweer sy het aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer.

Die blog is eerste aan die aanlyn nuusdiens Daily Maverick aangebied, maar dié se redakteur, Branko Brkic, het net één kyk na die stuk gegee en dit in sy virtuele snippermandjie gegooi. Afgesien van die fundamenteel seksistiese inhoud en die feit dat dit regstreeks teen die hele Grondwet plus die filosofie daaragter indruis, het die stuk gewemel van feitefoute en verkeerde statistieke.

Garland het dit daarop na Huffington Post SA se redakteur gestuur, wat dit onmiddellik geplaas het.

Die gevolg was voorspelbaar. Dis duisendvoudig op sosiale media gedupliseer en het ’n storm van verontwaardiging uitgelok.

Pillay het haar besluit om dit te plaas egter aggressief verdedig met die stelling dat die inhoud “taamlik tipies vir feministiese teorie” is. Bowendien, het sy voortgegaan: “Om die patriargale stelsels af te breek wat ons gebring het waar ons vandag is, ’n wêreld waar die mag vir gevaarlike en destruktiewe doeleindes uitgeoefen word deur mans, en veral wit mans, beteken noodwendig ’n verlies van mag vir dié wat dit het. ’n Verlies van verdrukkende mag.”

’n Kaapse skrywer, Laura Twiggs, het egter iets geruik wat stink. Ná ondersoek het sy vasgestel “Shelley Garland” bestaan nie. “Garland” is ontmasker as die 37-jarige Marius Roodt (Engelssprekend, ondanks sy Afrikaanse naam), ’n navorser aan die Sentrum vir Ontwikkeling en Inisiatief, ’n Johannesburgse dinkskrum.

Anne Bernstein, direkteur van die instelling, het haar onmiddellik van die blog se inhoud gedistansieer en aangekondig dat sy Roodt se “bedanking” aanvaar. Ook Pillay se toekoms is in gevaar.

Roodt het nederig ekskuus gevra, maar homself verdedig met die argument dat hy bloot die gebrek aan verifikasie by nuusmedia aan die kaak wou stel. Dis met opset gedoen om te wys dat sommige joernaliste nie hul werk behoorlik doen nie.

Tot sover die baar feite. Wat kan ’n mens hieruit leer?

Eintlik niks nuuts nie; altans, niks wat die joernalistieke beroep nie al lankal weet nie. Die belangrikste is: verifieer, verifieer, verifieer.

As jy as redakteur van ’n publikasie opeens ’n stuk kry met ’n bedenklike inhoud, en dit bowendien van iemand wat jy van geen kant af ken nie, maak soos Branko Brkic van die Daily Maverick: Gooi dit weg. Of alternatiewelik, stel eers ondersoek in na die skrywer. Wat is sy of haar agtergrond? Is die feite wat in die stuk genoem word, korrek?

Enige redakteur wat sy of haar sout werd is, sal graag ’n verskeidenheid stukke met uiteenlopende menings plaas. Soveel hoofde, soveel sinne, sê die spreekwoord, en daar is niks mee verkeerd om menings te plaas wat nie met jou eie ooreenstem nie.

Maar dan moet die feite nie uit die lug gepluk word nie. Die argumente moet logies wees. En dit moet “parlementêr” wees – met ander woorde, laster en haatspraak moet geweer word; deur dit te plaas stel jy jouself aan vervolging bloot.

Hieruit vloei ’n plig vir die uitgewer voort: Moenie jong, onervare mense as redakteur aanstel nie. Pillay is maar 33 jaar oud. Media24 het ’n gewoonte om jong, onervare mense in dié belangrike pos aan te stel.

Soms, soos in die geval van Waldimar Pelser van Rapport, werk dit goed. (Piet Cillié was 34 toe hy redakteur van Die Burger geword het. Maar daar was net een Piet Cillié.)

Ander kere loop dit op rampspoed uit, soos in die geval van Adriaan Basson, wat die dag nadat hy as redakteur van Beeld ingeval het, oorlog teen sy eie lesers verklaar en sy koerant onmeetlike skade berokken het. Daar is ander voorbeelde ook.

Pillay se onverstandigheid is te wyte aan onervarenheid. Jy doen mense meestal ’n onreg aan as jy hulle só onvoorbereid in só ’n belangrike pos aanstel. Laat hulle by wyse van spreke eers die wysheid van die grysheid leer.

Ten derde, sorg dat die redaksies deurdring word van die etiese kode wat die Redakteursforum aanvaar het. Om dit te raadpleeg moet min of meer die eerste refleks wees as ’n moeilike besluit geneem word.

Daar is nog ’n – verwante – fout wat gemaak word. Webwerwe (ook Maroela Media) laat elke Jan Rap en sy maat toe om growwe en beledigende kommentaar onderaan artikels en berigte te plaas. Dikwels kruip daardie mense ewe dapper agter skuilname weg.

In die algemeen het mense daardie soort dinge vroeër oor ’n glas bier in die kroeg of by die braaivleisvuur kwytgeraak. Nou word dit op die internet gegooi.

In die proses word lasterlikhede en platvloershede toegelaat wat vroeër, toe lesersbriewe nog streng gekeur is, geweer is. Die nuwe neiging is soortgelyk aan die plaas van Roodt se blog onder ’n vals naam (al weet ek die kommentaarskrywers se egte name is – meestal – aan die redaksie bekend).

Let wel, ’n ordentlike debat, waar standpunt teen standpunt gestel word, is uitstekend. Maar te veel mense dink jy kan jou punt slegs behoorlik maak as jy beledigend word.

Hoe ook al, die Garland-Roodt-kwessie is vir die joernalistieke beroep ’n uitstekende voorbeeld van wat om nié te doen nie. Dit kan met groot vrug onder sowel praktiserende joernaliste as joernalistiek-studente bestudeer word.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

henk ·

Dis ‘n baie goed-geskryfde opinie. Ek hoop media24 lees hierdie artikel. En nog meer hoop ek dat Verashni Pillay ‘n duur les geleer het. Dit was onverskoonbaar om die gewraakte artikel te probeer verdedig.

Pietman ·

Sy het nie ‘n les geleer nie, Sy verdedig dan die plasing daarvan.

Therese van Schalkwyk ·

Pillay se onverstandigheid mag móóntlik aan onervarenheid te wyte wees, maar gegewe die inhoud van die gewraakte blog kon sy en haar redaksie die plasing heel waarskynlik nie gou genóég goedkeur nie.

Wat die beledigende kommentaar onderaan artikels en berigte betref, slaan die skrywer die spyker op die kop. Voorbeelde is legio; onlangs het dié onder “Miljoen stemme vir Steve … ” veral ‘n slegte smaak gelaat.

Die gebruik van regte name en vanne deur lesers kan aanbeveel word, want dit dien (hopelik altyd, maar soms dikwels!) as natuurlike ‘handrem’.

Leendert ·

Ek stem volmondig saam Henk, Leopold het als gesê wat gesê kan word en dit baie goed uiteengesit. Media24 moet nou hand in eie boesem steek, want eers Adriaan, nou dié, en binne so ‘n kort tyd? Iets is daarbo, ook met die evalueering van sodanige persoon in daardie pos nie reg nie.

Leendert ·

Kom ek voeg by, die persone by Media24 wat die aantelling van die twee berhartig het, het darem regtig ook ‘n verantwoordelikheid, en was dalk ook nie bevoeg nie. ‘n Verkeerde persoon in ‘n verkeerde pos, of as daardie persoon nog nie gereed vir daardie pos is nie, kan hulle vir die res van hul lewens by hulle spook. Daardie etiket sal altyd om hul nekke hang.

Pietman ·

Pillay het so opgewonde geraak met die wit-haat artikel, Sy het nie omgegee oor feite nie. Wit haat is maar ‘n kenmerk van beide Huff Post en Pillay. Daar sal nog vele sulke artikels geplaas word.

MH ·

Die Huffington Post het nie geloofwaardigheid verloor nie. ‘n Mens kan nie iets verloor wat jy nie het nie.

Arrie ·

Huffing and Puffington Post. … So geloofwaardig soos die wolf se geblasery teen die varkies se huisie. Die kinderstorie het meer diepte as hulle joernalistiek. Soos algemeen in die res van die wereld ook gese word: “The Huffington Post is bad for journalism….”

Darius Els ·

S A beskik net oor 1 joernalis wat 100% joernalis is tw Me Erica Gibson

Ronnie ·

Alan Sokal (Fisikus &wiskundige van New-York Universiteit) het in 1996 presies dieselfde gedoen met ‘n bollie artikel oor “Transgressing the Bounderies Toward Transformative Hermeneutics of Quantum Gravity” in een van die mees toonaangewende Sosiologie tydskrifte gebubliseer gekry waarna hy onthul het dat hy dit gedoen het om hulle sinnelose “Pseudo-Profound BS” aan die kaak te stel.
Dis wat Roodt gedoen het. Hoekom hy nou afgedank is weet nugter. Anne Bernstein se onderrok steek ook maar sleg uit!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.