Huidige regstellendeaksie-model moet begrawe word

In Indonesië word die storie vertel van twee boere wat ‘n put gegrawe het om hulle waternood te verlig. Nadat die put gegrawe is, staan hulle selfvoldaan terug, maar wonder onmiddellik wat hulle nou met die hoop sand gaan doen. Hulle kan dit nie los nie, want dit word dalk ‘n broeiplek vir slange. Een boer kom met ‘n blink plan vorendag – grawe nog ‘n gat en gooi die hoop sand daarin. Só gesê, só gedaan.

Na ‘n paar uur se grawe is die gat diep genoeg en met groot genoegdoening gooi die twee die hoop sand binne in die gat. Nou is die probleem opgelos en kan hulle ingaan dorp toe om die fees by te woon en ‘n blaaskans te vat. Toe hulle egter omdraai staar die sand uit die gat wat hulle nou net gegrawe het, hulle in die gesig! Moedeloos wonder hulle wat nou gemaak? Die ander boer kry ‘n blink gedagte – kom ons gooi die hoop sand in die put! Sonder om te huiwer gooi die twee die hoop sand in die put en siedaar – geen hoop grond meer nie. Maar ook geen put nie! Trots dat hulle die probleem opgelos het, spring die twee op hulle fietse en ry in dorp toe om te gaan feesvier.

Hierdie staaltjie het my nogal laat dink aan die ANC en sy regstellendeaksie-beleid. Die ANC se oplossing vir die werkloosheidskrisis en die ongelykhede in die samelewing is die steeds strenger toepassing van sy regstellendeaksie-beleid, wat geskoei is op die bereiking van demografiese verteenwoordiging. Want, só redeneer die ANC, ware gelykheid sal eers bereik word wanneer die totale werksmag die demografie van die land weerspieël.

Die “hoop sand” waarmee die ANC sit (om die analogie van die staaltjie te gebruik) is die onwerkbaarheid van sy model en die werkloosheidsprobleem wat net nie kleiner word nie. Maar, soos ons twee boere, dink die ANC gou-gou ‘n plan uit om van hierdie hoop ontslae te raak. Die oplossing waarmee hulle dan vorendag kom, is eenvoudig om die regstellendeaksie-skroewe verder aan te draai. Op hierdie manier, só redeneer die ANC, sal die sandhoop van werkloosheid en ongelykheid gedwing word om te verdwyn. Die bekendstelling van die wysigingswet op die Wet op Gelyke Indiensneming gedurende 2011 (dit word tans weer hersien en sal eersdaags weer verskyn) word die bedoeling van die regering steeds meer duidelik. Deur die verskerping van regstellendeaksie-maatreëls deur strenger wetgewing en buitensporige strawwe vir werkgewers wat nie inval by regstellende aksie nie, wil die ANC teen wil en dank demografiese verteenwoordiging bewerkstellig.

Maar nou ja, soos in ons storie, sal die ANC ook terugstaan en selfvoldaan dink die probleem is nou opgelos – net om om te draai en die hoop sand maar net weer daar te sien. En hulle kan maar aanhou om die skroewe aan te draai, maar die probleem gaan nie weggaan nie. Die huidige regstellendeaksie-model, geskoei op demografiese verteenwoordiging is ongrondwetlik en onwerkbaar. Die oplossing vir die werklikhede van werkloosheid, armoede en ongelykheid is eerder te vind in die regruk van die onderwysstelsel, die behoorlike opleiding van die jeug, die kweek van vaardighede en die hersiening van die huidige welsynbeleid. Die najaag van kunsmatige doelwitte soos demografiese verteenwoordiging wat niks anders as kwotas is nie, is uitgedien en boonop gevaarlik. Baie van ons kan sien dat hierdie plan nie werk nie en dat die sandhoop van werkloosheid steeds meer word. Maar so ook die ongeduld van die massas.

‘n Mens wonder hoeveel “gate” die ANC nog sal grawe voor dit bereid is om te erken dat die huidige regstellendeaksie-model begrawe moet word en daar erns gemaak moet word met onderwys en opleiding. Daarsonder sal die massas werkloses nie die arbeidsmark volhoubaar kan betree nie, en maar net op die sandhoop van werkloosheid en armoede bly sit.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Johan Kruger

Meer oor die skrywer: Johan Kruger

Johan Kruger is 'n praktiserende prokureur en hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut en Kommunikasieafdeling.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae