As jy dr. Ferdi Hartzenberg persoonlik ontmoet het, sal jy verstaan waarom hy so geliefd onder sy mense was. Baie nederig, plat op die aarde, maar ’n Christen met ’n groot Afrikanerhart.
Hy het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer waar hy sy DSc in landbou verwerf het. Met sy landboukwalifikasies boer hy suksesvol naby Lichtenburg. Op versoek van die kiesers van Lichtenburg verruil hy ’n belowende landbouloopbaan vir die politiek. In 1964 word hy lid van die Transvaalse Provinsiale Raad en in 1970 die Nasionale Party-parlementslid vir Lichtenburg. Onder sy bekwame leiding sou Lichtenburg baie pryse wen as een van die bes georganiseerde kiesafdelings in die provinsie.
In 1979 word hy as minister van onderwys en opleiding aangestel. Hy pak die moeilike taak van swart onderwys met groot entoesiasme aan. Ondanks die rassistiese beeld wat sekere media verkeerdelik aan hom wou toedig, was daar groot waardering in die swart onderwyswêreld vir sy bydrae om hierdie onderwys steeds te verbeter. Swart skoolhoofde en -onderwysers getuig vandag nog van sy toeganklikheid en gemaklike omgang met alle mense.
Omdat hy en dr. Andries Treurnicht in 1982 van eerste minister PW Botha oor sekere beleidsrigtings verskil, bedank hy uit die kabinet. Hy verruil die ministershuis en -motor vir ’n klein asbeshuisie in die parlementêre dorpie Akasiapark. Daar is in ons geskiedenis nie baie politici wat sulke besluite geneem het ter wille van dit waarin hulle geglo het reg is nie.
Met die stigting van die Konserwatiewe Party (KP) word hy as voorsitter van die party verkies met dr. Treurnicht as leier. Die twee vorm saam ’n baie goeie kombinasie wat die party binne sewe jaar uitbou tot die amptelike opposisie in die parlement. Waar dr. Treurnicht die meer filosofiese denker was, was dr. Hartzenberg die praktiese politikus. Hy kon die kiesers met vurige toesprake oortuig om reg te stem terwyl hy terselfdertyd die persoon in die party was wat gesorg het dat die party se takke georganiseerd is en dat daar genoeg geld vir verkiesings was.
Met dr. Treurnicht se dood het dr. Hartzenberg in 1993 die leier van die KP geword. Dit was ’n baie moeilike oorgangstyd in Suid-Afrika se geskiedenis met die Kodesa-onderhandelinge aan die een kant aan die gang en die 1994-verkiesings wat plaasgevind het. Hoewel ek en dr. Hartzenberg op hierdie tydstip oor die beste strategie vorentoe verskil het, het ons nooit verskil oor die eindpunt van vryheid en selfbeskikking vir die Afrikaner nie. Ná die stigting van die Vryheidsfront was ons vir ’n kort tydjie in verskillende politieke partye. Dit het egter nie ons persoonlike verhouding as kollegas en vriende geraak nie en het ons nog saam in sekere trusts gedien. Dit is nie alle politici wat verskille so volwasse kan hanteer nie.
In 2003 het die Vryheidsfront, die Konserwatiewe Party en die Afrikaner Eenheidsbeweging (AEB) en later dr. Louis Luyt se Federale Alliansie saamgesmelt om die Vryheidsfront Plus te vorm. Dr. Hartzenberg het hierdie geleentheid gebruik om uit die aktiewe politiek te tree en weer voltyds te gaan boer.
Ek onthou sy gereelde telefoongesprekke waar hy joviaal op sy tipiese Ferdi Hartzenberg-manier my as “Ou Piet” aanspreek en aan my advies gee uit sy meerdere ervaring oor sekere politieke sake.
Die Bybelse boodskap word gewoonlik gepreek, maar is baie sterker as dit deur iemand se lewe gedemonstreer word. Johannes 13:35 stel dat as julle so en so optree “sal almal weet dat julle dissipels van My is.” Dr. Ferdi se lewenslus, entoesiasme, liefdevolle omgang met mense asook sy hele lewe, illustreer hierdie teks vir my – ’n dissipel van God. Waar die politiek dikwels ’n baie wrede en ondankbare wêreld is, gun ek hom die rus ná ’n vol lewe.
My opregte simpatie ook aan sy vrou, Judy, en sy familie.
Dit was presies hoe ek ook vir dr. Harzenberg ervaar het. Nederig, godvresend en pragmaties. Altyd vriendelik maar statig
Stil broers, daar gaan ‘n man verby…
Dankie vir hierdie.
Kyknet nuus het dr. Harzenberg se dood absoluut geignoreer. Maar die Zulukoning tot vervelens toe in ons kele afgedruk. Siek siek siek
… die geleentheid gebruik om… Is dit nou die volle edele waarheid? Miskien kan ‘n paar ander ewige gesigte ok maar gaan boer en die jongeres los om jong Afrikaners moed en leiding te gee.