Huldeblyk aan dr. Leopold Scholtz (gebore 30 Junie 1948, oorlede 19 Oktober 2022)

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Daar is twee soorte joernaliste. Die goeies skryf om hulle lesers in te lig, teenoor die swakkes wat skryf om hulle kollegas te beïndruk.

Dr. Willem Leopold von Ranke Scholtz was ʼn besonder goeie joernalis, wat sy lesers met sy wye kennis en deeglike navorsing ingelig het. Hy het die joernalistieke kode uitgeleef om nie die nuus te probeer wees nie, maar om daaroor te skryf.

Leopold, soos sy vriende hom genoem het, het jare lank vir Maroela Media en verskeie ander publikasies geskryf. Hy was ʼn onafhanklike denker wat hom nie laat lei het deur die wispelturige korttermyn-swaaie van die openbare mening nie, maar deur vaste beginsels en diepgaande historiese kennis.

Leopold het sy loopbaan as joernalis begin nadat hy sy doktorsgraad in geskiedenis aan die universiteit van Leiden oor Generaal de Wet gedoen het. Hy het ʼn lewendige belangstelling in die Anglo-Boereoorlog gehad, en verskeie boeke en publikasies daaroor geskryf.

Hy het sy kennis van wêreldgeskiedenis nie net gebruik om die verlede beter te verstaan nie, maar om die toekoms te begryp. Hy was een van die min joernaliste wat besef het dat daar baie te leer is uit die saamgestelde ervaring van die sowat 93 biljoen mense wat voor die huidige geslaggeleef het.

Hy het die afgelope paar jaar in Nederland gebly sodat hy en sy vrou Ingrid vir haar bejaarde ma kon sorg. Die egpaar het ʼn besondere noue band met mekaar gehad nadat hulle as jong studente ontmoet het. Sy was ʼn ware sielsgenoot wat sy liefde vir Afrikaans, sy belangstelling in geskiedenis en joernalistiek gedeel het.

Leopold en sy vrou Ingrid. (Foto: Verskaf)

Leopold het ʼn sterk afkeur in die ANC se linkse beleidsrigtings gehad, gegrond op sy uitgebreide kennis van die tragiese uitkomste van soortgelyke beleid in ander wêrelddele. Sy laaste boek was juis ʼn deurtastende onthulling van die dekadelange kommunistiese invloed op die ANC. (Terreur en Bevryding: die ANC/SAKP, die Kommunisme en Geweld (1961-1990).

Sy groot teleurstelling in die verengelsing van sy alma mater, die unversiteit van Stellenbosch, was so groot dat hy as buitengewone hoogleraar sy bande met hulle verbreek het. Hy het goed besef dat die verandering van die taalbeleid en transformasie uiteindelik die wese van die universiteit sal aantas, soos soveel ander eens top instellings in die land.

Ek sal Leopold onthou vir sy onkreukbare karakter, ywerige werk, enskiklopediese kennis, onafhanklike denke en sy gehalte joernalistiek. Hy het altyd hoflik gebly, selfs al was daar hewige verskille oor standpunte wat hy ingeneem het.

Sy heengaan aan leukemie is ʼn groot verlies vir die Afrikaanse joernalistiek, maar die standaard wat hy gestel het sal ʼn nuwe geslag jong joernaliste besiel om daarop voort te bou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

Dit is ‘n groot verlies; daar is seker verskeie boeke in Afrikaans wat nog uit sy pen sou verskyn het. Sterkte aan die familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.