Hulp wat nie waardeer word nie – dan moet ANC maar voortploeter

dr-pieter-mulder

Dr. Pieter Mulder. (Argieffoto: DoC)

Het jy ’n idee hoeveel is R187 miljard? Dit is die hoeveelheid geld wat die staat sedert 2001 aan staatsondernemings gegee het om te help om hul omdraaiplanne in werking te stel volgens Ravesh Rajlal van die tesourie. Omdraaiplanne wat hierdie ondernemings weer winsgewend sal maak.

Het enige van hierdie omdraaiplanne gewerk? Duidelik nie.

Denel vra hierdie week nog R3,8 miljard van die staat om lenings af te betaal. Die Suid-Afrikaanse Poskantoor vra hulp van R4,9 miljard van die staat, anders mag al sy dienste in duie stort.

Wat het Jacques Faul, Mark Barnes, Danie du Toit en Nico Bezuidenhout in gemeen? Hulle het almal skielik bedank as uitvoerende hoof van hul ondernemings. Hul kontrakte het nie verstryk nie, maar hulle het besluit genoeg is genoeg.

Hoekom is dit nuuswaardig? Omdat al vier wit mans is. Wit mans is sedert 1994 die ANC se nommer een-teiken waarvan ontslae geraak moet word. Die vier wit mans hierbo genoem is egter deur die kabinet gevra – of het vrywillig aangebied – om ondernemings wat finansieel in duie stort, met hul bestuurskundigheid te help red.

President Ramaphosa het by verskeie geleenthede gepraat van ’n sosiale kontrak wat ons almal met mekaar moet sluit. ’n Kontrak tussen die regering, die privaat sektor, vakbonde en individue om saam die land te red.

Die vier wit mans hierbo was al vier suksesvol op ander gebiede. Hulle het nie die betrokke poste nodig gehad nie. Hulle was wel bereid om die uitdagings te aanvaar as hul bydrae om van Suid-Afrika ’n suksesland te maak.

Jacques Faul, wat ’n doktorsgraad in sportadministrasie het, was ’n uiters suksesvolle uitvoerende beampte by die Titans-krieketfranchise en SuperSport Park. Onder sy leiding het die Titans se borgskapinkomste verdriedubbel en is die unie vier jaar ná mekaar aangewys as die krieketunie met die beste administrasie in Suid-Afrika.

Toe Krieket Suid-Afrika (KSA) diep in die moeilikheid was, is Faul gevra om te kom help. Agt maande gelede het hy die leisels by die geskorste Thabang Moroe oorgeneem. KSA het ’n verlies van R654 miljoen vir die volgende vier jaar voorspel. Faul het die voorspelde verlies vir vanjaar nou reeds in ’n wins omskep. Hy het skielik bedank omdat hy gevoel het ander magte neem die beheer oor by hom.

Krieket Suid-Afrika het hierdie week aangekondig dat hulle voortaan net swart konsultante gaan aanstel om transformasie aan te moedig. (Net so terloops: Artikel 2.4(D) van die Internasionale Krieketraad se Grondwet verplig lidlande om sonder enige inmenging van hul regerings krieket te bedryf. ’n Lidland kan, volgens artikel 2.10, geskors word as hierdie vereistes nie nagekom word nie.)

Mark Barnes, ’n sakeman met 30 suksesvolle jare in die sakesektor, het uit sy eie aangebied om die Poskantoor te help red. Binne ’n kort tydjie bring hy stabiliteit by die Poskantoor en begin hy die finansiële situasie omdraai. Die laaste deel van sy besigheidsplan is om die Poskantoor en Posspaarbank te kombineer. Dit sal die Poskantoor winsgewend maak.

Sy voorstel word van bo geveto. Die gevolg? Hy bedank en verduidelik: “Dalk sien hulle die Poskantoor as ’n noodsaaklike diens wat hulle vir ewig gaan subsidieer. Ek sien nie die logika in nie.”

Danie du Toit word Desember 2018 deur die kabinet by Denel aangestel toe dit duidelik word dat die organisasie op bankrotskap afstuur. Met 2 200 hoogs geskoolde ingenieurs glo hy Denel kan gered word en dat die kundigheid vir Suid-Afrika behoue moet bly. Daar is ook R14 miljard se bestellings wat die maatskappy kan red. Die regering het belowe om R567 miljoen vir die redding van Denel oor te betaal. Du Toit bedank Julie vanjaar omdat die beloofde geld, ná talle versoeke, nie aan Denel oorbetaal word nie.

Toe Mango lugdiens in die moeilikheid raak, is Nico Bezuidenhout gevra om terug te kom. Hy het Mango voorheen vir 10 jaar suksesvol bedryf. Onmiddellik was daar beswaar van die “Black Management Forum” en die EFF dat sy aanstelling teen transformasie is. Hy het so pas bedank.

Hoekom het hulle bedank?

Omdat inmenging van buite dit vir hulle onmoontlik gemaak het om te slaag. Alles ANC-kortsigtigheid en arrogansie.

Met die aankondiging van die inperkingstyd het meeste Suid-Afrikaners, soos die vier mans hierbo, ’n bydrae gemaak om te help. Hulle het hulself benadeel, besighede gesluit en net 20% salaris geneem. Baie gou het geblyk dat die ANC-regering self nie die ooreenkoms nakom nie. Die minister van kommunikasie breek die reëls in die eerste maand. Die ANC-veterane by begrafnisse breek alle reëls.

Nou blyk dit dat terwyl gewone Suid-Afrikaners die finansiële opofferings gemaak het, het senior ANC-lede na bewering die geleentheid benut om met tenders en korrupsie hulself te verryk.

Die boodskap wat ek by gewone mense kry, is dat alle goedgesindheid weg is en hulle nie meer belangstel in enige hulp aan die regering nie. Inteendeel, as hulle sou kon ophou belasting betaal, het hulle dit môre gedoen. Tans maak hulle planne om binne die Wet so min as moontlik belasting te betaal.

Hul standpunt? Ons kan op ons eie aangaan. Die ANC moet maar aanploeter en dan agterkom dat hy sonder hulp en met minder belasting binnekort – teen die ANC se sin – weer by die Internasionale Monetêre Fonds ’n draai sal moet maak om finansieel te kan oorleef.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kokerboom ·

U laaste opmerkings slaan die spyker op die kop Dr Mulder. Meeste redelike mense in die land het nou die punt van versadiging bereik. Jy kan net soveel verduur. Die toets sal wees of almal nou kan saamtrek en ontslae raak van die ANC boewery. Ons het ons kantelpunt bereik!!!

Schalk ·

En die volgende gaan seker De Ruyter wees van Eskom want raai? Die staat meng daar ook in en kom nie beloftes na nie!

Hendrik ·

Die probleem is dat miljoene mense se pensioene word bedreig agv die ANC se rondgeploeter. Prof Koos Malan stel voor dat gemeenskappe hulself moet bestuur en Ted Blom stel voor dat huise/besighede en nywerhede van die Eskom netwerk moet klim want Eskom verskaf nie meer stabiele basis krag nie. Nou spring top mense van die wa af en laat ANC voortploeter. Is daar nog bestaansreg vir die demokrasie? Wat moet die hardwerkende burger dan nog doen?

david ·

Ek het dit al voorheen geskryf ..:

Dit lyk of die ANC aan die Henry Ford sindroom ly—

Ou Henry het een instruksie aan sy fabriek gegee oor die kleur van hulle motors…

“you can paint it any colour you like…as long as it is black..”

Die ANC meen.. jy kan enigiemand aanstel solank hy/sy SWART is.

Mens moet dalk bietjie begin krap by SAL in die begin van sy tranformasie periode..
Daar is ‘n paar grillerige rassistiese verhale te vertel……Rakende ‘n sekere Indier bestuurderes….
meer wil ek nie se nie…….!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.