Ideale antwoorde oor universiteit van toekoms

Marthinus-Visser-akademia-featured

Marthinus Visser, uitvoerende hoof van Akademia. Foto: Verskaf.

Deur Marthinus Visser

In ʼn vorige artikel is die kragte, wat groot verandering in die globale universiteitsektor gaan versoorsaak, in oënskou geneem. Afgesien van huidige politieke onstabiliteit in Suid-Afrika, moet universiteite boonop hierdie kragte van verandering verdiskonteer en omsit in strategieë wat hul voortbestaan verseker. Tyd sal leer of dit moontlik en doenbaar gaan wees vir ons openbare universiteite.

Hoe sou ideale antwoorde op hierdie uitdagings lyk om sodoende ʼn effektiewe en volhoubare universiteit vir die toekoms te wees? Vervolgens ʼn paar idees aan die hand van die kragte, soos genoem:

  1. Demokratisering van kennis en toegang.

Toegang tot kennis raak baie makliker en universiteite is nie meer die enigste skeppers en bewaarders van kennis nie. Die rol van die toekomstige universiteit sal toenemend gaan oor hoe kennis verpak en geïntegreer word om sekere uitkomte te bereik. Een van die groot uitdagings van die inligtingsontploffing wat ons beleef, is dat kennis en inligting onsamehangend en versplinterd beskikbaar is. Sulke inligting kan baie moeilik sinvol aangewend word, omdat dit nie samehangend en binne die geheel verpak en aangebied word nie. Die universiteit sal in die ontwerp van programme vrae, soos wat bereik wil word, watter inligting gebruik behoort te word daarvoor en hoe die inligting saamgevoeg word, voordurend moet oorweeg. Universiteite is per definisie veronderstel om studente te leer hoe dinge (kennis en inligting) inmekaarsteek in die groter geheel (universum). Wanneer ons daarin slaag, ontwikkel ons jongmense met wysheid – met die vermoë om probleme te analiseer en op te los vanuit ʼn baie dieper en breër kennis- en ideeraamwerk. Ons ontwikkel dan ook studente met baie meer selfvertroue met betrekking tot hul eie herkoms en roeping.

  1. Die wedywering van markaandeel en befondsing.

Die wêreld het kleiner geword. Baie universiteite regoor die wêreld ding nie net mee om plaaslike markaandeel nie, maar om globale markaandeel. Dit spruit natuurlik voort uit die onderliggende vertrekpunt wat sê groter is beter. Die universiteit is ʼn onderneming en moet daarom wins maak, sê hulle. Wins is ʼn faktor van getalle, prys en uitgawes.

Ek glo een van die vernaamste dryfvere van hierdie denke is die inherente koste-ontwerp van hierdie universiteite. Tye het verander – nuwe tegnologie bring nuwe verwagtinge en idees, maar die ontwerpdinamika van die universiteit laat nie veel ruimte waarbinne wesenlike effektiwiteite ingebou kan word nie. Dit werk amper soos die bekende Land Rover Defender-storie. Hoewel die Defender baie populêr was, moes Land Rover produksie vanjaar opskort. Die rede was dit het bloot te duur geword om te voldoen aan die uitlaatgasvereistes van die EU op ʼn ontwerp wat hom nie daartoe leen nie.

Maar uiversiteite kan nie, soos Land Rover sy ou model, bloot net “opskort” nie. Die enigste oplossing vir hierdie universiteite om te oorleef met ʼn ou ontwerp, is om die koste van oorlewing deur te gee in prys. Vandaar die wêreldwye tendens dat universiteite geweldig duur geword het.

Die oplossing lê daarin om ʼn model slim te ontwerp waarbinne groot effektiwiteite ingebou kan word deur middel van moderne tegnologie. Sodoende kan kwalifikasies aangebied teen hoogs mededingende pryse.

  1. Digitale tegnologie

Digitale tegnologie het reeds bedrywe soos die media, vermaaklikheid en kleinhandel op sy kop gekeer. Anders as laasgenoemde bedrywe, is die aard van universiteite, ontwikkelings- en opvoedkundig gerig. As ons vanuit die veronderstelling dink dat die rol van die universiteit beide opleiding en opvoeding is, moet ons baie mooi dink oor die aanwending van tegnologie. Dis redelik maklik om tegnologie aan te wend in die rol van opleiding (sien opleiding as die oordrag van akademiese kennis en vaardighede), maar dit raak baie moeilik om tegnologie opsigself in te span om opvoeding te pleeg. Opvoeding vra menslike interaksie, empatie, demonstrasie van waardes en baie meer. Universiteite wat dit gaan regkry om modelle te ontwikkel wat effektief (en teen die regte prys) beide opleiding en opvoeding kan fasiliteer, se toekoms is rooskleurig.

  1. Globale beweeglikheid

Studente en dosente beweeg fisies en virtueel baie makliker oor die wêreld as ooit tevore. Dis nie meer vreemd vir ʼn student om in Suid-Afrika te begin studeer en in Nieu Zeeland klaar te maak nie. Soos reeds genoem, neem meeste universiteite met oorgawe deel aan die spel om wêreldwye markaandeel te bekom. Die brandstof van hierdie vuurpyl is natuurlik die sogenaamde “world rankings”, wat universiteite regoor die wêreld gradeer. Hoe hoër die gradering, hoe aantrekliker die universiteit vir die wêreldmark. “Studietoerisme” het nou al ʼn algemene term in ons woordeskat geword.

ʼn Hele aantal kritiese vraagstukke onstaan as gevolg van hierdie praktyk.

  • Is groter noodwendig beter?
  • Kan hoë gehalte verseker word wanneer studente uit uiteenlopende kultuur- en taalgemeenskappe voor ʼn dosent sit?
  • Wat is die prys om wêreldwyd te kompeteer?

Universiteite was uit oorsprong nog altyd gemeenskapinstellings gewees. Of dit nou ʼn kerkgemeenskap of taal- en kultuurgemeenskap is, die rol van die universiteit was gefokus daarop om ʼn bepaalde gemeenskap te dien vanuit laasgenoemde se kollektiewe lewens- en wêreldbeskouing. Die soeke om relevant in die wêreld te wees, mag nooit die koppeling met ʼn plaaslike gemeenskap versaak nie. Die twee motiewe behoort nooit in spanning te staan nie, maar behoort ondersteunend tot mekaar te wees. Maar die gemeenskap bly die primêre belanghebbende. Ware gemeenskapsuniversiteite is nie noodwendig groot instellings met tienduisende studente nie. Van die bestes in die wêreld is kleiner, wat hulle die vermoë gee om werklik in te bou in die lewens van hul studente.

  1. Intergrasie met nywerhede

Nywerheid is ʼn segment van die gemeenskap. Universiteite berei studente uit sy gemeenskap voor vir ʼn loopbaan in sy gemeenskap. Die bron van inhoude en kennis behoort  ʼn kombinasie van akademiese teorie en nywerheidservaring te wees. Die universiteit en nywerhede is dus aangewese op mekaar vir kennis, vaardighede en ontwikkeling.

Sinvolle samewerking tussen nywerhede en universiteite is nie net beperk tot die oplossing van nywerheidsprobleme deur navorsing nie, maar ook om studente tydens hul studies te begin blootstel aan die nywerheid.

Loopbane word langer. Aftree op sestig is nie noodwendig meer die norm nie. Nywerhede verander vinniger as wat ʼn loopbaan lank is. Universiteite sal die vermoë moet ontwikkel om studente  so te ontwikkel dat dit binne hul vermoë sal wees om rigtingveranderings te maak en sodoende relevant in in aanvraag te bly.

Dit sou dalk ʼn sinvolle slotopmerking wees om te sê een van die belangrikste suksesfaktore vir universiteite in die toekoms sal wees om studente nie net te ontwikkel op akademiese vlak nie, maar baie breër as dit. Hierdie siening impliseer dat kleiner universiteite, met hoë vlakke van ingeboude effektiwiteite en gefokus op spesifieke gemeenskappe, waarde-vir-geld onderrig en opvoeding vir sy gemeenskap sal kan bied.

  • Marthinus Visser is die uitvoerende hoof van Akademia.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

John ·

Akademia klink na ‘n oplossing vir Afrikaanse studente wat nie tuis voel op ander kampusse nie, maar dan moet die voornemende student of ‘n zama-zama wees, ryk ouers he of reeds ‘n goed betalende werk he. Die kostes verbonde aan Akademia is hoog. Die instansie sal gevolglik ouers en werkgewers moet bearbei en oortuig dat hul waarde vir geld gaan kry as hulle ‘n student borg. Om vrees by Afrikaners te misbruik om ‘n ‘besigheid’ op te bou sal op die langeduur nie water hou nie en studente sal maar ingee en in Engels gaan studeer omdat hulle die luukse van eietaalonderrig net nie kan bekostig nie…

Jean ·

Die vrees by die Afrikaner word tans veroorsaak deur protesgangers en vandale wat eers Afrikaans uit die universiteite geveg het, toe fooie wat moes val, toe universiteite en geboue en skildery en standbeelde wat afgebrand is, asook busse en ander voertuie. Die VREES is deur die optoggangers in die Afrikaner ingeboender. Gedekoloniseerde onderrig is alles behalwe wat ‘n Afrikaner kind wil he, hulle almal gaan uiteindelik landuit, so dit gaan soveel as Graad 5 beteken as wiskunde en wetenskap en alles uitgehaal word sodat dit maklik genoeg vir sekere mense kan wees.

JC ·

Dankie Marthinus, soos John hierbo noem; die pryse van modules sal maar mooi dopgehou moet word deur onder andere Afrikaners te mobiliseer vir skenkings en donasies (ek is self ‘n donateur) sodat die pryse mededingend gehou kan word. Daar sal ook moeite gedoen moet word om ‘n bree spektrum van Afrikaanses te akkommodeer veral van die Afrikaanse bruin kinders v/d Kaap wat hoogs verdienstelik is, en op die wyse eendrag, assimilasie en kulturele samesmelting (indien dit nie reeds ‘n voldonge feite is nie) tussen Blanke Afrikaanses en Bruin Afrikaanses te fasiliteer, Ons is immers in my opinie een volk met net klein verskille, met ‘n gemeenskaplike taal en gedeelde geskiedenis-so bou mens ‘n nasie!! -maar net ‘n gedagte of twee. Dankie vir alles wat julle doen vir Afrikaans op tersiere vlak!!!

Jean ·

Wel ten minste doen Akademia iets, wie anders wend ‘n poging aan? Die basis is Afrikaans en Christelik, so as jy nie in daardie kategorie val nie, val liewer by Unisa in wat ook nie alle kursusse aanbied nie. Ja dit is tans duur, maar besef ENIGIEMAND hoe kort hierdie mense nog aan die gang is en hoe DUUR is dit om kursusse aan te koop en te akkrediteer? Ander Universiteite is al seker 100 jaar oud, Rhodes, Wits, UJ ens .. Dis nie maklik om al die kursusse net aan te koop nie, daar word bv vir maande vir die Mediese raad gewag om verpleegsters en para-mediese rigtings aan te bied. Om hierdie instelling geloofwaardig te maak en te verseker dat sy kwalifikasies internasionaal erken word, kan hulle nie net sommer no-name kursussies aanbied nie. Alles word by die boek gedoen, en dit kos geld, maak gerus jou bydrae aan hulle BOUFONDS sodat hulle vinniger kan uitbrei.

JC ·

Goeie idee Jean, ek stem saam, maak ‘n bydrae tot die BOUFONDS asseblief!!

barend ·

ek sal graaf wil weet wat is die slag suifer van ons land se in niversiteite..

Theresa ·

Hoort opvoeding nie tuis nie? Dis nie iets waarmee ‘n universiteit besig moet wees nie? Mens sal baie, baie versigtig moet wees om nie net nog ‘n platform te skep waar als afgewater word na ‘n minderwaardige klomp kennis met min vaardigheid vir topklas uitvoerbaarheid nie. Dis een ding om soos ‘n papegaai als te leer, dit in ‘n eksamen te weergee omdat als google moontlik is, maar dan absolute chaos in die werkswêreld te saai omdat die praktika flop! Moeilik. Net omdat ek graag maan toe wil vlieg, beteken dit nie dat alles gaan verander om hierdie gewone mens daardie voorreg te bied nie…

Fanie ·

Beste John, Akademia is baie goedkoper as vergelykbare universiteite- en dit sonder die miljarde staatsubsidie wat die ander kry. Daarby kry talle studente studiehulp by die Helpende Hand Studiefonds.

André Badenhorst ·

Dis ‘n uitstekende artikel en met sulke vertrekpunte het ek nie net vertroue in Akademia se sukses nie, maar dit maak my ongelooflik opgewonde dat Afrikaans met sulke denke binnekort een van die leiers gaan wees op die gebied van tersiêre opvoeding.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.