Identiteitspolitiek en kritiek op liberale demokrasie in Tsjeggiese verkiesing

Andrej-Babis-twitter

Andrej Babis is die tweede rykste persoon in Tsjeggië en het daarin geslaag om 30% van die stemme in sy land te verenig. Foto: Twitter.com

Die afgelope naweek se verkiesingsuitslag in die Tsjeggiese Republiek is die kersie op ’n koek wat reeds die afgelope paar jaar in Europa gebak word. Kiesers in dié Sentraal-Europese land het ’n harde boodskap na die ou sentrumlinkse en sentrumregse partye wat oor die afgelope paar dekades regeer het, gestuur.

Die groot nuus uit Tsjeggië is dat Andrej Babis, ’n Trump-agtige populis wat ook die tweede rykste persoon in Tsjeggië is, daarin kon slaag om 30% van die stemme op sy onlangs gestigte politieke party te verenig. In ’n verkiesing waar nege partye, die meeste ooit, tot die parlement verkies is en waar die tweede party slegs 11% van die stemme op hom kon verenig, is ’n stemtotaal van 30% besonder goed.

Die Sosiaal-Demokrate wat nog in 2013 met 21% van die stemme die verkiesing gewen het, kon in die naweek se verkiesing slegs 7% kry. Die sentrumregse Burgerlike Demokratiese Party kon slegs 11% van die stemme op hom verenig.

Daarteenoor het kiesers benewens Babis se ANO-party, in Afrikaans vertaal as JA!, ook heelwat stemme vir ander populistiese partye uitgebring. Die Pirate Party, wat ’n direkte demokrasie voorstel, waar alle politieke besluite deur die volk in internetgebaseerde referendums gemaak word, het met 10% van die stemme derde geëindig. ’n Nuwe anti-immigrasieparty kon ook 11% van die stemme op hom verenig.

Die uitslag van die verkiesing in Tsjeggië stuur reeds skokgolwe deur Europa. In Pole, Hongarye en Slowakye is daar reeds Euroskeptiese regerings aan bewind. Die kanse dat ’n heelwat meer Eurokritiese regering binnekort in Oostenryk gevorm gaan word, is ook baie goed. Die verdelingslyn tussen Wes-Europa en Sentraal-Europa word hierdeur sterker beklemtoon. Babis was tydens die afgelope Tsjeggiese verkiesingsveldtog sterk uitgesproke teen die burokrasie in Brussel en die wyse waarop besluite op EU-lidlande afgedwing word. Hy het onderneem om, sou sy party die verkiesing wen, ’n verbod op Moslem-immigrasie in te stel en om nouer bande met Rusland te smee.

Hierdie aardskuddende gebeure in Tsjeggië is deel van ’n sterk stuk kritiek op die liberale demokrasie wat oor die afgelope paar dekades die Europese politieke landskap oorheers het. Babis se verkiesingsveldtog was uitgesproke teen die liberale demokrasie. Sy voorstelle sluit in die afskaffing van die senaat, die herskryf van Tsjeggië se verkiesingswette en die uiteindelike daarstelling van ’n kleiner, eenvoudiger, meer direkte, hoewel minder demokratiese regering. Gebeure die afgelope tyd in Pole en Hongarye dui op dieselfde kritiek teen die liberale demokrasie.

Die belangrikste uitkoms van die verkiesing in Tsjeggië, soos in verkiesings vanjaar in onder meer Nederland, Duitsland en Oostenryk, is die herontdekking van identiteitspolitiek. Die Nederlandse verkiesingsveldtog in Februarie en Maart vanjaar het, anders as wat verwag is en wat gewoonlik die geval in Nederland is, uiteindelik sterk op Nederlandse identiteit gefokus. Selfs in die Duitse verkiesing was Duitse identiteit vir die eerste keer in meer as 70 jaar ’n algemene deel van die verkiesingsgesprek.

Babis het tydens die veldtog in Tsjeggië sover gegaan om te sê dat dit noodsaaklik is om te veg vir die behoud van die kultuurgoedere wat deur vorige geslagte daargestel is. “Die belangrikste toegevoegde waarde van die Europese Unie is die nasionale identiteit van elke land. As daar meer Moslems as Belge in Brussel gaan wees, is dit België se probleem. Ek wil dit nie hier hê nie. Hulle sal ons nie vertel wie hier moet woon nie,” aldus Babis.

Hoe Europa en die Europese Unie hierop gaan antwoord, is onduidelik. Tot nou toe is partye soos die PVV in Nederland en Front National in Frankryk en selfs regerende partye in lande soos Pole en Hongarye deur die Eurokrate in Brussel as ekstremiste, randfigure en tydelike verskynsels afgemaak. Hierdie soort reaksie is egter onvolhoubaar. Europa is besig om veral vanuit Sentraal- en Oos-Europese lande vir altyd te verander. Indien politieke leiers in Brussel dit aanhou ontken, sal die Europese Unie uiteindelik tot ’n val kom of selfs skeur.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JC ·

Wonderlik, en hier staar ons etniese suiwering in die gesig, -miskien is dit ons verdiende loon- na ons lafhartige en walglike optrede deur alles WAT AAN ONS TOEGEKOM NET SO WEG TE GEE?

JC ·

Wonderlik, en hier staar ons etniese suiwering in die gesig, -miskien is dit ons verdiende loon- na ons lafhartige en walglike optrede deur alles WAT AAN ONS TOEGEKOM HET NET SO WEG TE GEE?

Hendrik ·

Hier in S.A is daar tans geen plek vir identiteitspolitiek nie. Net die VF+ probeer hard om die Afrikaners nader te trek met Afrikaner politiek. Dit is die algemene Afrikaner wat die probleem is wat nie wil saamspeel nie en liewer sal stem vir die linksgerigte DA met al hulle gerasmitazz. Met goeie ondersteuning, vanaf die Afrikaners, kan die VF+ orals in al die rade hulself vestig as ‘n goeie betroubare alliansievernoot . Dit is die VF+ wat as alliansievernoot wat die DA in die Wes-Kaap oorspronklik in die bewind laat kom het. Identiteitspolitiek sal die Afrikaners beslis help. Net jammer die meerderheid verstaan dit nie, soos ek want ek stem nie….

Adriaan ·

Europa is besig om in veral vanuit Noord en Wes Europese lande vir altyd te verander. Ftfy.

Denise ·

Ons het lankal geval van die land van melk en heuning tot n Rommelland en soos JC se dit is wat jy kry as jy dit weggee!!!!!!

Nico K ·

Ek is maar baie skepties teenoor ‘n miljoenêr wat skielik die mense se belange in ag neem. En die sin “minder demokratiese regering” sou my baie bang gemaak het as ek daar gewoon het. (Ons het so regering hier.)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.