Identiteitspolitiek – Oplossing of probleem?

Deur Botha Laubscher

Botha Laubscher

ʼn Vry vertaalde definisie van identiteitspolitiek lui soos volg: Identiteitspolitiek is ʼn politieke benadering waar mense van ʼn spesifieke ras, etnisiteit, geloof, geslag, seksuele oriëntasie, sosiale agtergrond, sosiale klas of ander identifiseerbare faktore, politieke agendas ontwikkel wat op daardie identiteit gebaseer is.

Vir doeleindes van dié artikel is die fokus op etnisiteit of, anders gestel, op die verskeidenheid van volke in Suid-Afrika.

In ʼn redelik lang en volledige artikel analiseer Bernard Lategan1) die probleme en onvoorsiene gevolge van identiteitspolitiek. Die belangrikste probleme wat hy uitwys, is sosiale verbrokkeling omdat die groep vereng en geïsoleerd raak, wat op sy beurt lei tot toenemende polarisasie en konfrontasie deur sodanige groep of politieke party binne die wyer gemeenskap. Uiteindelik lei dit tot die soeke na alternatiewe staatsvorme en selfs terreur of oorlog.

Die paradoks lê daarin dat die groep/ politieke party die erkenning en empatie van die meerderheid, waarmee hulle in konfrontasie is, benodig om hulle doelwitte te bereik. Lategan wys ook daarop dat daar wel gevalle in die wêreld is waar sulke groepe/ politieke partye (in sy woorde) vêr bo hulle gewigsklas boks, menend dat hulle desnieteenstaande klein getalle wel suksesvol met die meerderheidsregering onderhandel het om minderheidsregte erken te kry.

Dit kan logies afgelei word dat as die sentrale regering oor bykans al die mag beskik en dit word beheer deur ʼn enkele politieke party soos in Suid-Afrika en daardie party/ regering weier om na die behoeftes van die minderheid te luister en daaraan te voldoen, dan sal die proses soos hierbo beskryf begin en groei onder die benadeelde minderheid.

In Suid-Afrika het ons die situasie waar die ANC as die regerende party ʼn ideologie en beleid volg wat geen erkenning aan minderheidsregte gee nie. Hulle probeer aktief om Afrikaners en blankes binne elke sektor van die samelewing te vervang met swart mense en in besonder met hulle lede (kaders).

Daar kan dus met reg gesê word dat die ANC rasgebaseerde identiteitspolitiek bedryf omdat dit in wese net ʼn party vir swart mense is. Alhoewel dié identiteit die ANC in die verlede goed gepas het, is daar ʼn vermoede dat hulle swakpunt daarin geleë is dat hulle etnisiteit onder die swart mense ontken. Die feit dat daar tans geen Zoeloe onder die top sewe is nie skep reeds vir Ramaphosa ʼn probleem en is daar seker ʼn moontlikheid dat die IVP (ʼn tradisioneel Zoeloe-party) ten koste van die ANC in Natal kan groei in 2024.

Maar die ANC, wat ʼn sogenaamde breë kerk is, sluit ook ander identiteitspolitieke groepe in, groepe soos die sogenaamde RET-groep wat in wese net ʼn ander vorm van identiteitspolitiek is. Die ANC het dus heelwat krake wat net deur die rasgebaseerde identiteitspolitiek aanmekaar gehou word en uiteindelik sal die ANC verbrokkel en uitmekaarspat. Die vraag is eerder wanneer en nie of dit gaan gebeur nie. Die probleme wat Lategan uitwys in identiteitspolitiek is stadig maar seker besig om intern in die ANC vorm aan te neem.

In ʼn land soos Suid-Afrika met sy diverse bevolking van verskillende etniese groepe, elk met sy eie kultuur en siening van wat reg en verkeerd, goed en sleg is, taalverskille en standverskille is identiteitspolitiek eenvoudig ʼn gegewe. Kombineer dit met ʼn enkele sentrale regering waarin al die mag gesetel is en konflik en spanning is ʼn gegewe. Dit gaan ook dieselfde wees met ʼn veelpartykoalisie.

Dié tipe konflik was eie aan Suid-Afrika vir baie dekades en was daar sedert 1910, deur die rebellie, die NP-jare en nou onder die ANC. Die heersers en die politieke partye het verander, maar die stryd het gebly.

Moet ons dus tot die gevolgtrekking kom dat identiteitspolitiek ʼn probleem is wat beveg moet word? Die antwoord is nee! Om dit uit te wis, vereis ʼn sosiale ingenieursprojek van groot omvang. Die NP het dit met apartheid probeer – in daardie geval is die verskillende identiteite erken, maar is mense teen ekonomiese kragte in verskuif, werksreservering toegepas, is vryheid van beweging ingeperk, stemreg weerhou ensovoorts.

Nou is ons besig met die teenoorgestelde sosiale projek en dit is om integrasie af te forseer teen ekonomiese kragte in (deur gebruik te maak van ras, eerder as bevoegdheid), word werk gereserveer vir kaders, normale onderonsies aan die groot klok van rassisme gehang, minderheidsregte ontken, skole en universiteite verengels.

Die oplossing lê heel waarskynlik in die verandering vanaf ʼn sterk sentrale regering, wat slegs een stel wette en reëls op almal kan en wil toepas, na ʼn federale bedeling. Dan nie in simplistiese groot geografiese deelstate nie, maar eerder in ʼn gemeenskap gebaseerde federale model waar elke gemeenskap die vryheid het om te besluit by watter deelstaat hulle wil inskakel.

Hopelik sal so ʼn stelsel daartoe lei dat almal veilig en tevrede sal voel en sodoende ook bereid sal wees om verskille in die samelewing, waar kontak gemaak word met ander kulture, met respek en begrip te hanteer.

Miskien is dit tog moontlik om eenheid in diversiteit te bereik en almal te kry om meer gelukkig en tevrede te wees en terselfdertyd die ekonomie te ontwikkel en ons huidige probleme op te los.

  1. Identiteitspolitiek: Sukses, paradoks en onvoorsiene gevolge – Bernard Lategan https://www.litnet.co.za/identiteitspolitiek-sukses-paradoks-en-onvoorsiene-gevolge/
  • Botha Laubscher is uitgetrede uitvoerende direkteur van Clover.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Groen Ghoen ·

Wat ookal die argument(e) mag wees: Demokrasie is ‘n spel van en met getalle. In S.A. is dit dus ‘n gegewe dat die ANC met die kaarte in die hand sit, en nie uit eie vrye wil hul magsposisie by die vreetkrip sal afstaan nie.

Johannes_64 ·

Ons noem identiteitspolitiek sommer net dom. Niks is nog daaruit geskep wat waarde toevoeg tot enige iets of iemand nie. Behoort ‘n stil dood te sterf as die propaganda vir dit stop.

Republikein in die Wes Kaap ·

Wanneer Afrikaners eendag wakker word en ernstig besin oor die toekoms behoort hierdie voorstelle ook op ‘n flip chart te verskyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.