Ideologie bedreig ons grondwetlike legitimiteit

martin-van-staden

Martin van Staden is regsnavorser by die Vryemarkstigting en werk aan ʼn meestersgraad in regsgeleerdheid aan die Universiteit van Pretoria. Foto: Verskaf.

Deur Martin van Staden

Daar is diegene in ons samelewing wat die Grondwet kritiseer as fundamenteel gebrekkig, van beide die regter- en linkerkant van die politieke spektrum. Veral wit konserwatiewe Suid-Afrikaners, maar ook klassieke liberale, hou voor dat die Grondwet in die finale analise ’n sosialistiese regsinstrument is wat tot die ondermyning van die regte van veral Afrikaners lei, of wat nie private belange soos eiendomsreg behoorlik beskerm nie. Sosialiste, aan die ander kant, meen dat die Grondwet ’n neoliberale regsinstrument is wat wit bevoorregting beskerm teen die magte van “herverdelende geregtigheid”. Albei is verkeerd, maar in dié debat is die sosialistiese narratief wel die gevaarlikste.

As ’n klassieke liberaal wat wel die krag van die Grondwet bevraagteken wanneer dit by eiendomsreg, individuele vryheid, en beperkte regeringsmag kom, moet selfs ek terugstaan en die Grondwet waardeer, ten spyte van sy gebreke.

Die Grondwet is ’n produk van kompromie. Almal wat ’n hand daarin gehad het om ons hoogste wet te formuleer wou iets anders gehad het as wat ons op die ou einde gekry het. Daar is wél beskerming vir minderheidsregte en daar is wél beskerming vir eiendomsreg. Maar die Grondwet maak óók voorsiening vir die verskaffing van welsynsvoordele en grondhervorming. Dit is nie ’n totaal klassiek liberale grondwet óf ’n totaal sosiaal-demokratiese grondwet nie.

Maar die Grondwet moet binne die konteks van ’n tradisie gesien word, aangesien die Grondwet nie van nuuts af deur sy opstellers opgemaak was nie. Die opstellers het staatgemaak op ’n historiese tradisie, ingelig deur perspektiewe van oor die wêreld heen. Dié tradisie is “konstitusionalisme”, en al die idees en konsepte wat daarmee saamgaan.

Konstitusionalisme kan opgesom word as die idee dat die regering in alle dinge beperk en sy magte streng omskryf moet wees. In hierdie opsig is daar twee sleutelpilare van konstitusionalisme: Die Grondwet en die oppergesag van die reg. Die teks en waardes van die Grondwet sit uiteen wat die regering moet en nie mag doen nie. Die oppergesag van die reg, wat ook as ’n grondwetlike waarde in artikel 1(c) van die Grondwet verskyn, sit uiteen hoe die regering moet optree wanneer hy sy mandate uitvoer. Die oppergesag van die reg, asook die groter konsep van konstitusionalisme, is gebaseer op die liberale idee dat die regering nie absolute mag het (of mag hê) oor die regsubjekte onder sy jurisdiksie nie.

Grondwetlik gesien mag die regering nie inbraak maak op die regte van Suid-Afrikaners nie. Dié regte word beskerm in die Handves van Regte. Maar die regering mag ook nie buite die raamwerk wat deur die Grondwet gestel word optree nie. Byvoorbeeld, ’n provinsiale wetgewer kan nie wette maak wat op nasionale vlak van toepassing is nie, en die parlement kan nie wette maak wat binne die eksklusiewe bevoegdheid van provinsiale wetgewers is nie. Dus kan die parlement ook nie wette maak vir regsubjekte wat nie deur die Grondwet gesanksioneer is nie.

Die oppergesag van die reg, aan die anderkant, skryf nie vir die regering voor watse tipes wette dit mag maak nie, maar sê slegs hoe dit gemaak en geïmplementeer mag word. Die juris, Lon L. Fuller, se agt beginsels van wettigheid is insiggewend in hierdie konteks.

Fuller skryf dat wanneer besluite deur die regering gemaak word, dit nie ad hoc mag wees nie, maar moet ingevolge die bestaande wette of gemenereg geneem word. Professor Koos Malan van die Universiteit van Pretoria beskryf dit in ’n soortgelyke manier wanneer hy skryf dat ’n besluit op die corpus van die reg gebaseer moet wees: Die gesag van die verlede word toegepas op ’n situasie van die hede of toekoms. Daar moet ’n temporale skeiding wees tussen die besluit, en die norm waarop die besluit gebaseer is, anders maak regeringsamptenare nes hulle wil, en voor ons ons oë uitvee, vind ons onself in ’n tirannie van willekeur.

Fuller sê ook dat die wet bekend gemaak moet word aan die regsubjekte op wie dit toegepas gaan word. Die wet moet ook verstaanbaar wees. As die wet nie gepubliseer is of verstaanbaar is nie, kan die regering nie verwag dat persone hul gedrag in ooreenstemming met die wet gaan bring nie. Dus moet bepalings in wette en regulasies duidelik en nie dubbelsinning wees nie.

Dit is hier waar diegene in ons politiek, regbank en regsakademie wat geneig is tot sosialisme, die legitimiteit van ons grondwetlike orde ondermyn.

In 1998 het die Amerikaanse juris, Karl Klare, ’n artikel in die South African Journal on Human Rights geplaas wat die saak gemaak het vir wat hy “transformatiewe konstitusionalisme” genoem het.

Transformatiewe konstitusionalisme – of transformatisme – kortliks, begryp die inwerkingtreding, interpretasie en handhawing van wette, veral die Grondwet, in ’n manier wat die “magsverhoudinge” in Suid-Afrika se politieke en sosiale gemeenskappe in ’n “demokratiese, deelnemende en egalitariese (gelykmakende)” rigting ontwikkel. Die eindpunt van transformatisme is “grootskaalse, egalitariese sosiale transformasie”. Myns insiens is die belangrikste en gevaarlikste implikasie van transformatisme die “uitbreiding van demokratiese ideale tot in die privaat sfeer”.

Hierdie sosialistiese ideologie is vandag die regsevangelie van die Grondwetlike Hof, en stem nie ooreen met konstitusionalisme of die oppergesag van die reg nie. Transformatisme begryp nie die regering as ’n beperkte instelling nie. Dus sal ’n konstitusionalis regtens aanvoer dat die Grondwet géén bepaling maak vir demografiese verteenwoordiging (demographic representivity), of toelating maak vir beleide wat dit in die privaat sektor afdwing nie. Maar ’n transformatis sal aanvoer dat artikel 9(2) van die Grondwet in so ’n absurde manier geïnterpreteer moet word, dat dit wel sulke beleide toelaat.

Transformatisme maak ook ’n gek van die oppergesag van die reg. Dus kan instellings soos die Menseregtekommissie en die Gelykheidshof, sonder blik of bloos, in een geval vind dat die skadelose slagspreuk “grond óf dood” (soos in Amerika, “vryheid óf dood”) haatspraak is, en in ’n ander geval waar ’n politikus aanvoer dat hy “nóg nie” vir volksmoord roep nie, nie haatspraak is nie. In die latere geval was die politikus oënskynlik onskuldig omdat hy met mense gepraat het wat nie grond het nie. Dit is totaal arbitrêr, en lei tot onduidelikhede en verwarring onder regsubjekte: Wát mag ons en wát mag ons nie sê nie?

Die konstitusionalis interpreteer die Grondwet in ooreenstemming met die grondeienskappe van konstitusionalisme, en ’n transformatis interpreteer die Grondwet in ooreenstemming met sy politieke oortuigings.

In Amerika is daar ’n groot mate grondwetlike legitimiteit, want nié die Demokrate nóg die Republikeine slaag daarin om hul eie ideologie met die grondwetlike orde self te meng nie. Maak nie saak watter party in beheer is nie, Amerikaners weet dat hul regte merendeels gerespekteer sal word, en politieke veranderings geleidelik sal plaasvind. Onder transformatisme in Suid-Afrika is dieselfde nie waar nie, want een dag het iemand die reg om in hul huistaal te studeer en die volgende dag is dit weg.

Die legitimiteit van die Suid-Afrikaanse grondwetlike orde hang af, soos in enige ander grondwetlike orde, van die trou wat daardie orde toon aan die grondwaardes van konstitusionalisme en die oppergesag van die reg. Die stand van sake kan slegs reggestel word wanneer die publiek daarop aandring dat konstitusionalisme gerespekteer word.

  • Martin van Staden is regsnavorser by die Vryemarkstigting en studeer tans aan ’n meestersgraad in regte aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die outeur van The Constitution and the Rule of Law (2019).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Renier ·

Lysander Spooner se kommentaar oor die Amerikaanse grondwet is waarskynlik ewe van pas op die Suid-Afrikaanse grondwet.

Of dit het die regering wat ons het gemagtig, of dit was magteloos om dit te verhoed. In ieder geval is die bestaan daarvan nie gepas nie.

Dirk ·

Martin jy is reg, omrede dit is hoe regdenkende westerlinge dink en voel. Die regeerders, ingesluit die howe ens intepreteer soos jy ook tereg se ideologies dit anders, presies die teenoorgestelde na soos wat dit hulle saak die beste pas. Zuma se twee termyne het vir ons gewys dat die ANC se ideologie die westerse denke en manier van dinge doen baie vinnig verander het en slegs die ANC kon dit stop en het dit gestop as n waarskuwing aan diegene wie weerstand wil bied teen veranderinge wat geimplementeer gaan word, dat die ANC, Grondwet en Grondwet hof ten spyt maklik weer kan terugkeer na die Zuma manier van dinge doen! Die publiek wat moet aandring dat konstitusionalisme gerespekteer word is inderwaarheid uitgelewer aan, en magteloos teen die wil van die twee derde meerderheid en die se sosialistiese regsevangelie, nie net in die Grondwetlike hof, maar ook in die parlement. Ons weet nou wat die uitdaging is en ons weet dat die publiek gyselaar gehou word, ons weet ook dat ons op ons eie is in SA en dat diegene wat ons gyselaar hou dit weet. Daarom moet ons alles wat ons kan na die buiteland skuif ten einde vandaar van SA te vat wat die regeerders ons en ons nageslagte tans ontse en nog graag wil ontse. In SA sal jy geen besigheid kan doen tot jou voordeel nie, maar wel vanuit die buiteland!

Hans Richardt ·

As Departement van Kuns en kultuur liberale van Brittanje invoer om “swart rewolusie te begin” met toesprake by Sol Plaatjies universiteit, het regering reeds amptelike beleid van geforseerde etniese almalgamasie wat stelselmatig gewelddadig afgedwing word.
As selfbeskikking as “apartheid” beskou word, wat wil hul hê, beheer oor persoon?

Arak ·

Die grondwet is net ‘n stukkie papier, en is maar van weinig waarde. Met die grondwethof wat die grondwet kan herinterpreteer net soos hulle wil, sonder enige aanspreeklikheid of gevolge vir hulle teenstrydige uitsprake, is ons ongelukkig uitgelewer sonder enige regte of beskerming. Enige persoon wat hulle hoop in ons grondwet of regstelsel plaas is naïef.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.