Ideologie en verengelsing word bo enige beginsels gestel

blade-nzimande

Blade Nzimande. Foto: Flickr/GovernmentZA

Lees gerus die volgende ideale:

Dit word ingelei met die opskrif: “Alle Nasionale Groepe Sal Gelyke Regte hê!” En dan die volgende subtemas of ideale wat hieruit voortspruit:

  • Daar sal gelyke status wees in die staatsliggame, in die howe en in die skole vir alle nasionale groepe en rasse;
  • Alle mense sal gelyke regte hê om hul eie tale te gebruik, en om hul eie volkskulture en –gewoontes te ontwikkel; en
  • Alle nasionale groepe sal beskerm word teen beledigings teen hul ras en nasionale trots.

Dit klink te goed om waar te wees en die onmiddellike reaksie van enige een wat dit hoor, sal wees dat dit net maar nóg ʼn verduideliking van die grondwetlike waardes is. Dit is in elk geval nie ideale waaraan dr. Blade Nzimande – in sy jongste tirade dat Afrikaans ’n middel is om ’n bekrompe en rassistiese Afrikaner-nasionalistiese agenda te bevorder – hom sal steur nie. Ook nie Lesufi nie, met sy onverbloemde haat vir enige iets Afrikaans of die EFF-juigkommando onder leiding van Julius Malema wat al te gereeld mond uitspoel oor Afrikaans.

Die ideale is toe nou nie weer ʼn grondwetlike mooiklinkende ideaal nie, maar die beginsels in die ANC en andere se Vryheidsmanifes, wat op 26 Junie 1955, amper 64 jaar gelede, in Kliptown aanvaar is. Hierdie manifes vorm die grondslag van vele van die ANC se beleidsdokumente.

grondwethof2

Die Konstitusionele Hof. (Foto: Reint Dykema)

In die lig van die konstitusionele hof se uitspraak en die daaropvolgende uitsprake van senior politieke leiers, is dit duidelik dat die gedeelte van die Vryheidsmanifes hulle ontgaan het.

Dalk moet die ANC se Nzimandes en Lesufis en lede van ander politieke partye net weer hul Vryheidsmanifes gaan lees. Dit word ook allerweë aanvaar dat die Vryheidsmanifes een van die grondslae is wat gebruik is vir die 1996-Grondwet wat toevallig direkte aansluiting vind by internasionale gebruike en toepassings.

Die kern van minderheidsbelange en minderheidsregte, soos deur die Vryheidsmanifes verwoord, is minderhede se behoefte en reg tot die handhawing van hul taal, kultuur, godsdiens en tradisies. Maar die Vryheidsmanifes se interpretasie en toepassing is net soos die grondwetlike waardes en regte se interpretasie. Dit is in stryd met hul ideologie. Amper soos die Amerikaanse komediant Groucho Marx wat gesê het: “Dit is my beginsels. As jy nie van hulle hou nie, het ek ander ook.”

Dit word ook gerieflikheidshalwe vergeet dat die Grondwet se basis ook gevorm is deur die 34 grondwetlike beginsels waaroor ooreengekom is en in die bepalings van die 1993-Grondwet weergegee is. Hierdie 34 grondwetlike beginsels het die regs- en morele ruggraat vir die opstel en geregtelike hersiening van die konsep van die 1996-Grondwet verleen.

Die grondwetlike beginsels is, volgens prof. Francois Venter van NWU, wêreldwyd deur staatsregspraktisyns en politieke wetenskaplikes as ʼn kompakte weergawe van die grondreëls van konstitusionalisme geloof, soos dit teen die einde van die twintigste eeu in bestendige en beskaafde grondwetlike jurisdiksies verstaan is, gesien. Dit was as’t ware ʼn sosiale en politieke akkoord tussen die verskillende partye wat in daardie tyd met mekaar aangegaan is. Dit het die gees en bedoeling geskep vir ons Grondwet en vir die Suid-Afrika wat ons graag sou wou sien.

Veral van belang is die Grondwetlike Bepaling XI: “Die verskeidenheid van taal en kultuur moet erken en beskerm word, en omstandighede vir die bevordering daarvan moet aangemoedig word.”

grondwet-argieffoto-03

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Wat is dan die belang van hierdie Grondwetlike Bepaling? Ingevolge die 1993-Grondwet is ʼn regering van nasionale eenheid ingestel. Onder hierdie regering is ʼn aantal grondwetlike instellings op die been gebring wat begin het om die noodsaaklike funksies van die jong regstaat te vervul. Hieronder was die regterlike dienskommissie, die konstitusionele hof, die Menseregtekommissie en die Openbare Beskermer. Die pasverkose parlement het boonop as die Grondwetlike Vergadering begin optree en het die teks van die “finale” Grondwet gelewer; dit is aan die konstitusionele hof voorgelê om te sertifiseer dat dit aan die bepalings van die Plegtige Ooreenkoms (Die 34 grondwetlike bepalings) voldoen.

Vanweë enkele tekortkominge is die teks terugverwys en ʼn verbeterde weergawe is oplaas gesertifiseer en deur president Mandela op 10 Desember 1996 by Sharpeville onderteken. Dit het op 4 Februarie 1997 in werking getree.

Nadat die konstitusionele hof sy taksering van die nuwe teks teen die grondwetlike beginsels voltooi het, het die beginsels nie verder onafhanklike toepassing in die reg gehad nie aangesien die hof die insluiting daarvan in die nuwe grondwetlike teks gesertifiseer het. Prof. Francois Venter heg egter ʼn morele betekenis daaraan “as ʼn uitdrukking van die historiese rekord van die modus vivendi wat in die vier jaar ná 2 Februarie 1990 uitgebeitel is. Anders gestel, enige toepassing of vertolking van die Grondwet wat van die grondwetlike beginsels afwyk, kom neer op ʼn skending van die Plegtige Ooreenkoms wat meer as vyf en twintig jaar gelede deur die Suid-Afrikaanse nasie gesluit is.”

As die Lesufis en Nzimandes van die wêreld hulle dan nie steur aan die SA Grondwet nie – wat in elk geval deur die vorige president as ʼn lastigheid gesien is – en hulle ook nie hou by die basis van hul eie Vryheidsmanifes nie, wat sou dan hulle denke bepaal? Die antwoord moet gesoek word in die ideologie wat die ruggraat vorm vir vernietigende beleidsraamwerke wat gevorm word deur die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR). Binne die Vryheidsmanifes en die NDR word die volgende grondliggende waardes geregverdig en bevorder: transformasie; historiese regstelling; sosiale geregtigheid; ekonomiese herverdeling; staatsintervensie; swartbemagtiging.

Dit staan in skerp kontras met die SA Grondwet se grondliggende waardes, naamlik, politieke demokrasie, konstitusionalisme, sosiale verantwoordelikheid, sterk burgerlike instellings, en die oppergesag van die reg. Die krampagtige vasklou en onverantwoordelike gedobbel met uitgediende ideologieë het ʼn agterlike en ondergemiddelde Suid-Afrikaanse samelewing tot gevolg waarin presies die teendeel bereik is: groter armoede, werkverliese, sosiale afhanklikheid, landelike- en grondverval, outokratiese en eensydige manipulasie, immoraliteit en vertrapping van kulture en minderhede en al hoe meer die vertrapping van tale en die bevordering van koloniale Engels.

dr-theuns-eloff

Dr. Theuns Eloff is die uitvoerende direkteur van die FW de Klerk stigting. Foto: Theuns Eloff/Facebook.

Die enigste taal wat vanuit die NDR perspektief bevorder word, is die taal van blinde en slaafse navolging van ideologie en dit word deur Engels gedoen. Dr. Theuns Eloff skryf in 2016 in ʼn artikel (Die universiteitswese in Suid-Afrika: ’n Bestekopname van huidige tendense en die vooruitsig vir Afrikaans) “dat as gevolg van die relatiewe onderprestasie van die regering, word daar opnuut na sondebokke gesoek te midde van toenemende ontevredenheid. Gevolglik, soos die voorheen benadeelde meerderheid die ANC-regering begin verwyt, so verwyt die regering en die ANC-intellektuele weer op hul beurt die vorige maghebbers (dikwels wit en/of Afrikaanse mense) omdat hulle nie genoegsaam getransformeer het nie.”

Hy haal dan vir dr. Blade Nzimande as minister van hoër onderwys aan wie se agenda soos volg bepaal word: “We live with the reality that our institutions still carry the scars of the past – that of having been black, Zulu or Sotho, white or Afrikaner institutions. We have to confront this past as part of Africanising our universities …”

Dr. Eloff antwoord hierop: “Indien ver genoeg ontplooi, sal ideologiese transformasie noodwendig dus ook behels dat universiteite verlengstukke van die staat word. Institusionele outonomie en akademiese vryheid sal dus die slagoffers word van transformasie. Watter ruimte los hierdie uitkoms vir kwessies soos diversiteit en meertaligheid? Die rol en status van minderheidsgroepe onder ʼn getransformeerde bewind van “African hegemony” is onduidelik, maar dit is ʼn voldonge (en tog ironiese) feit dat die verstektaal van “Africanisation” Engels sal wees – die werklike koloniale taal in Afrika.”

Wat jammer is, is dat Engels die enigste wenner is van die taalgesprek in Suid-Afrika. As die geskiedenis eendag ‘n oordeel moet fel, sal dit met ernstige spyt wees dat die maklike uitweg in 2019 gevolg is. Van taalbevordering of -beskerming is daar geen sprake nie, ten spyte van mooiklinkende ideale in die Grondwet en die ANC se eie Vryheidsmanifes. Dit vereis skeppende denke en dit staan in die pad van die toepassing van ideologie. Die nuwe taal-kolonialisering vind plaas deur ideologie wat in die howe en deur politici bevorder word.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

B ·

Ek sien Lesufi praat op Twitter van (sy) mense moet kans gee, die “revolusie” is oppad. (Dit was nav die WW sak debakel)

Hendrik ·

My tipiese antwoord op ‘n Vrydag na ‘n week se tandekners by die werksplek : Ons steur on regtig te veel aan die regeerders. Met selfbestuur van ons eie sake (soos belowe deur die NP in ’94) , beplanning deur die Beweging.co.za (DieSolidariteis Beweging) en uitgevoer word deur veskeie organisasies kan dit net beter gaan. Soos die knyptang kleiner en meer mense agterkom wat aangaan en inkoop in selfbestuur/en konsentrasie in kerndorpe, so sal dit net beter en beter gaan.

Jimmy ·

Jong Afrikaners moet emigreer. Die ouer mense kan die lewe dalk draagliker maak met selfbestuur.

aj ·

Afrikaanse donateurs en alumni moet voortaan liewer ondersteuning gee aan private Afrikaanse instansies.

Elizabeth ·

Vic, ek ondersteun jou 100%. Laat die staat dan betaal vir die tipe universiteite wat hulle wil hê. Afrikanergeld behoort nie net van universiteite weerhou te word nie, maar ook van SARS. Ons kry absoluut niks vir ons belastinggeld nie.

Jerry ·

Dit is nou n deeglike nagevorsde skrywe. Die kern van die skrywe, die kruks van die saak behoort daarin te le dat die grondwet, die vryheidsmanifes beginsels geld wel vir alle multi-kulturele groepe, uitgesluit die voorheen bevoordeelde afrikaner en voorheen bevoordeelde witmense omrede die ideologiese ideale/jaloesie van die regeerders op rasgebaseerde wraak ingestel is om die onreg van apartheid/verlede met kwaad te vergeld en uit te wis. Die ideologiese ideale van die regeerders is alles of niks, bedoelende alle mag en beheer aan die rewolusionere regerende party, niks vir die res, die anti-rewolusioneres en minder as niks vir die afrikaner. Dit is die harde realiteit van die ideologiese ideale, daar is geen ander werklikheid nie, behalwe vergelding en wraak. Soos Steve altyd se, dis hoe dit is. Hoe sy braaivleis lekker braai tjommie, ou Zuma altyd se, he, he, he. Soos Sonja gese het, julle moes eerder brue gebou het terwyl julle geprotesteer het. Laat julle versuim om brue te bou nou vir ieder en n elk van julle n les wees!

John ·

Brue het niks met die prys van eiers uit te waai nie… of dalk het dit tog in die geval waar die prys reeds te hoog geword het toe die Boere die binneland wou in om daar nedersetttings te begin maar al wat hulle teègekom het was woestaards en wildernis. Afrika het meer spreektale as die geskrewe woord. Die Engelse en Franse sendelinge het van die swart tale te boek gestel, die NT vertaal en die inwoners in die verre ooste en weste probeer kersten en leer lees, maar bygelowe het hoogty gevier. Geen dankie is ooit gehoor nie en boeregesinne uitgemoor… Hoekom het Afrika nooit brue gebou nie. Almal is mos gelyk bedeel en gelyk-sondig?

DMC de Koker ·

Die Vryheidsmanifes is inelkgeval ook niks anders as ‘n onpraktiese, on-Bybelse en ekonomies verdoem tot mislukking- Kommunistiese dokument.
Geen punt om hulle daaraan te probeer hou nie. Kommuniste verander die reëls soos dit hulle pas. (Die vryheidsmanifes ondersteun ook onteiening sonder vergoeding).
Ons moet ophou om ons te wend tot praktiese onwerkbare kommunisties inspireerde dokumente.

De Villiers Hauptfleisch ·

Om op die ANC-regering of die Grondwet te steun vir die behoud van Afrikaans is tyd mors. Ek het al lankal my rug hierop gedraai daarom ondersteun ek instansies soos Afriforum en Solidariteit wat bewys het dat hulle Afrikaans bevorder en ondersteun ongeag of die spreker van diè taal wit, bruin of swart is. Dit is in die hande van die van die Afrikaansprekende alleen of die taal gaan voort leef al dan nie. Niemand anders stel belang nie, allermins die regering of universiteite.

aj ·

Gelukkig is die “GANGSTER STATE ANC regime” onbevoeg om vindingryke gemeenskappe te keer om hulle EIE DING te doen!

Wim Kotze ·

Nee wat Jan, jy klop aan dooiemans deur as jy die Dr Eloff van die De Klerk Stigting aanhaal. Die span het lank reeds boedel oorgegee. Hulle leef CP Hoogenhout se rympie “Engels! Engels! Alles Engels!” uit

Frans C ·

Enige wet dus ook die grondwet is kragteloos as die toepasser daarvan nie wil of versuim om dit toe te pas en as hul dit wel doen ‘n enkel bepaling meer belangrik as al die ander beskou.
Op die oomblik is die uitwissing van werklike en denkbeeldige agterstande van die agtergeblewenes meer belangrik as die welvaart van enkele minderheidsgroepe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.