Ideologie moet werklikheid verhelder, nie voorskryf

amerikaanse-ekonomie

Foto: Geralt/Pixabay.com

Die opkoms van regs-populistiese leiers soos Donald Trump in Amerika, Marine le Pen in Frankryk en Geert Wilders in Nederland jaag die politieke en ekonomiese establishments in sulke lande die skrik op die lyf. Die senuweeagtigheid is nie veel minder as dié waarmee die vordering van die kommunistiese revolusionêre ’n eeu gelede beskou is nie.

Trump se “oorwinning” (onthou dat hy eintlik met meer as ’n miljoen stemme verloor het), volg onder meer omdat die vinnige tegnologiese – en die gepaardgaande ekonomiese – ontwikkelinge op kort termyn minstens ewe veel, dalk meer, mense benadeel as bevoordeel het. Veral in die “roesgordel” van die Midde-Weste, deelstate soos Ohio en Pennsilvanië, is tientalle ouderwetse swaarnywerhede gesluit, en tienduisende werkers is genadeloos soos dryfhout op die strand agtergelaat.

Dis dikwels dié mense wat nou wraak geneem en vir Trump gestem het. Dis twyfelagtig of hy die proses sal kan omkeer, veral omdat hy as sakeman groot voordeel uit die veranderings trek. Maar goed, kom ons kyk of wat hy dóén, gaan ooreenstem met wat hy belóóf het.

Wat tans in die kapitalistiese ekonomie gebeur, is in wese niks nuuts nie. In 1942 het die Oostenryks-Amerikaanse ekonoom prof. Joseph Schumpeter dit in sy boek Capitalism, Socialism and Democracy beskryf met ’n begrip wat deur die dekades sedertdien weerklink het, “creative destruction”. Die begrip is afgelei uit Karl Marx se idees, maar in ’n volledig ander konteks geplaas:

“The opening up of new markets, foreign or domestic, and the organizational development from the craft shop and factory to such concerns as U.S. Steel illustrate the process of industrial mutation that incessantly revolutionizes the economic structure from within, incessantly destroying the old one, incessantly creating a new one. This process of Creative Destruction is the essential fact about capitalism. It is what capitalism consists in and what every capitalist concern has got to live in.”

Dus, het Schumpeter voortgegaan, vereis die kapitalisme “the perennial gale of Creative Destruction”.

Die waarheid hiervan kon reeds aan die begin van die 19de eeu gesien word, toe die vroegste stadium van die industriële revolusie Brittanje getref het. Die tuisnywerhede, veral handwewerye, is met stoomaangedrewe masjiene vervang wat veel vinniger en goedkoper kon werk. En dus het groot getalle werkers opeens sonder werk en inkomste gesit.

Dit was die tyd dat woedende werkloses, bekend as die Luddiete (so genoem na ene Ned Ludd) die masjiene gewelddadig stukkend geslaan het in ʼn poging om die outomatiseringsproses om te keer. Dit het natuurlik nie gewerk nie; dit kón nie werk nie.

Wat in die afgelope 20-30 jaar in die Amerikaanse “roesgordel” en soortgelyke plekke elders in die wêreld gebeur het, is in beginsel iets soortgelyks. (Let wel, soortgelyk, nie identies nie; natuurlik is daar groot verskille.)

By elke dergelike moderniseringsgolf was daar op kort termyn wenners en verloorders. Schumpeter se “vernietiging” het elke keer honderdduisende mense, wie se beroepe oorbodig geword het, in die ellende gedompel. Maar elke keer het die tegnologiese ontwikkeling alternatiewe geskep.

Om maar ʼn voorbeeld te noem: In die plek van al die werkgeleenthede in swaarnywerhede wat deur outomatisering oorbodig geword en verdwyn het, is nuwe werkgeleenthede in die dienstesektor geskep.

Die huidige “vernietigingsproses” word hoofsaaklik deur twee faktore gedryf: Die digitalisering van die tegnologie (wat weer eens talle werkgeleenthede oorbodig maak), en globalisering. Laasgenoemde is die gevolg van verdwynende grense, waardeur relatiewe duur werkgeleenthede uit lande soos Amerika na goedkoper wêrelddele soos Latyns-Amerika en Asië verskuif word.

Toe presidente Barack Obama van Amerika en François Hollande van Frankryk verlede week saam met bondskanselier Angela Merkel van Duitsland en premier Matteo Renzi van Italië saam middagete in Berlyn geniet het, het Merkel ʼn interessante opmerking gemaak.

Globalisering, het sy gesê, is iets wat nie omgekeer kan word nie. Wat wel gedoen moet word, is om die ergste negatiewe gevolge daarvan te versag.

As die geskiedenis ʼn maatstaf kan wees, het sy reg. Regdeur die geskiedenis was dit ʼn feit: In die breë volg ekonomiese welvaart op handel. Hoe meer handel, hoe meer welvaart meestal.

Hieruit volg logies dat die verwydering van faktore wat handel beperk (soos invoertariewe en proteksionisme) welvaart moet bevorder.

Natuurlik moet ʼn mens die toenemende poreusheid van grense nie slegs deur ʼn kille ekonomiese bril bekyk nie. Dit gaan uiteindelik oor ménse, en in ʼn moderne demokrasie soos Amerika kan dit jou in jou agterstewe byt as jy nie die negatiewe gevolge van die Schumpeter-vernietiging sigbaar probeer beperk nie. Bowendien word die welvaart wat met handel saamhang, nie gelyk verdeel nie.

Dit word vererger deurdat dié kille ekonomiese bril sedert die tyd van pres. Ronald Reagan en veral premier Margaret Thatcher – albei kapitalistiese ideoloë – die negatiewe sosiale gevolge grotendeels geïgnoreer het.

Dit het onder meer aanleiding gegee tot die ideologie van maksimum winste teen elke prys. En dít was die regstreekse aanleiding vir die wanbeleid by soveel banke wat tot die krisis van 2008 gelei het.

Daardie krisis het ʼn beduidende rol gespeel om die menslike ellende in die “roesgordel” en ander soortgelyke streke te vererger. Al was dit nie die enigste faktor in Trump se “oorwinning” nie, is dit tog moontlik om ʼn versigtige gevolgtrekking te maak: Sonder die krisis van 2008 sou Trump se steun moontlik minder gewees en hom van ʼn “oorwinning” beroof het.

Moet asseblief geen fout maak nie: Ek is geen sosialis nie. Die ideologiese en praktiese bankrotskap van die sosialisme is baie duidelik voor 1989 agter die destydse Ystergordyn bewys.

Maar ’n ideologie is ʼn gevaarlike ding. As ʼn mens dit verabsoluteer, kom jy by ʼn situasie waar dit aan jou voorskryf hoe die werklikheid moet wees, pleks van dat dit die werklikheid help verhelder.

Dit geld vir die sosialisme, vir die kapitalisme, vir globalisering, vir apartheid, vir die ANC se benadering dat die bevolkingsamestelling op alle vlakke van die ekonomie weerspieël moet word, noem maar op.

Gebruik maar eenvoudig jou gesonde verstand.

En bowenal: Kyk met mededoë na die gevolge wat jou benadering op jou medemense het, veral op die swakkeres in die samelewing. Dis immers wat die Christelike benadering ook van jou vereis.

Uiteindelik is dít wat die kapitalisme en die sosialisme met mekaar gemeen het: Geeneen van hulle plaas die méns – hetsy die individu of die gemeenkap – sentraal nie.

Daarom dié gevolgtrekking: Die grootste vyand van die kapitalisme is die groot kapitalis.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Baie insiggewend, soos gewoonlik.
Hopelik kan die negatiewe gevolge van globalisering so spoedig moontlik aandag geniet; anders gaan die verskynsel van ‘n dun lagie superrykes, wat die einde van hul virtuele skatte nie ken nie, en massas kreperende sukkelaars onomkeerbaar vererger.

Iets anders … die feit dat ‘n wyd gerespekteerde historikus en politieke kommentator dit so moeilik vind om die uitslag van die Amerikaanse verkiesing onomwonde te aanvaar, verklaar dan waarom duisende minder intelligente opstotelinge die strate invaar toe hul kandidaat nie die pyp rook nie.

Die kieskollege-stelsel verseker dat geen streek ‘n ander oorheers/domineer nie. Trump (290) het die nodige 270 onomstootlik oortref. Clinton (232) se groter aantal individuele stemme word meer duidelik wanneer die digbevolkte New York en Kalifornië (Demokratiese Party) in gedagte gehou word.

Verkiesingsveldtogte sal anders gevoer word as gewildheidstemme die deurslag moes gee. Hopelik verstaan/aanvaar Hillary Clinton, die Demokraat, die stelsel effe beter as haar ontevrede ondersteuners.

Gemsbok ·

Die laaste keer wat die Demokratiese Party se ondersteuners so ongelukkig en oproerig was, was in 1865 toe die Republikeinse Party die slawe bevry het.

Zirk ·

Ingewikkeld maar baie waar. Gelukkig het Mbeki se slaafse navolg van sy sosialistiese, transformasie idiologie vervaag tydens Zoeima se kriminele termyn.

Ebert Terblanche ·

Leopoldt, een faktor wat jy uitlaat en wat moontlik verdere oorweging benodig is dat die VSA se reaksie op die 2008 Bankkrisis hoofsaaklik ‘n monetere verslapping behels het met min of geen fiskale stimulus van die ekonomie nie.

Australie daarteenoor het hoofsaaklik fiskale stimulus gebruik en redelik skotvry uit die krisis gekom deur glad nie ‘n resessie te ervaar nie.

Die monetere stimulasie het talle bateklasse se waardes kunsmatig verhoog terwyl vraag na goedere verlangsaam het in samehang met die verlangsaming van inkomste van gewone salarisverdieners.

In wese het Trump nou ‘n fiskale stimulus beloof in die vorm van reuse infrastruktuurprojekte en dit is waarskynlik dat hierdie vorm van stimulus salaristrekkers sal bevoordeel bo bate-eienaars wat die afgelope 8 jaar deur die monetere stimulus op die hande gedra is.

Die mense in die roesgordel is dus nie bloot stomme Luddiete wat nie by die verandering in tegnologie kon aanpas nie, maar is ook aktief benadeel deur die Obama regering se beleidskeuses waarmee daar op die 2008 krisis gereageer is.

Leopold Scholtz ·

Beste Ebert, ek hoor wat jy se. Ekonome verskil daaroor, en my kennis van die ekonomiese wetenskap is te beperk om ‘n gesaghebbende oordeel te waag. Maar ek neem kennis.

Ebert Terblanche ·

Dankie Leopold

As die brandstofbedryf in die vorige eeu mediese dokters kon kry wat onder eed gesweer het dat die lood in petrol nie skadelik vir mense was nie, is ek seker dat die bate-spekulante ekonome kan kry wat meen dat die monetêre beleid nie bygedra het tot groeiende ongelykheid nie.

Janet Yellen, voorsitter van die Federale Reserwe, is op rekord dat sy voor die verkiesing die politici aangemoedig het om meer na fiskale beleid te kyk vir verdere steun van die ekonomie as na monetêre beleid wat die einde van sy spierkrag bereik het.

Rupert Ashford ·

Ebert jy gee Australie baie onverdiende krediet. Donald Horne het in die 60’s ‘n boek geskryf en na Australie as “the lucky country” verwys. Dit het sedertdien ‘n algemene uitdrukking geword en is al bie misbruik deur baie mense, maar in 2008 was Australie inderdaad “lucky”. Hulle het gesit met amper 100miljard AUD begrotingsurplus, was die grootste verskaffer van steenkool en ystererts aan ‘n baie honger China wat hom nie gesteur het aan die GFC nie, en was besig om nog ‘n menigte myne te bou so die konstruksiebedryf was op volspoed. Hulle het daardie 100miljard in die ekonomie ingepomp en dit kunsmatig uit resessie gehou. Sedertdien het dinge verander en is hulle indieselfde bootjie as die VSA, Europa en andere, en gebruik hulle maar dieselfde resepte om die dag van afrekening te probeer vermy as die res.

Pietman ·

Ek verskil van Leopold oor die oorsaak van die 2008 finansiële krises. Volgens Leopold het die krises sy oorsprong onder leiers soos Reagan and Thatcher wat negatiewe sosiale gevolge geïgnoreer het en aanleiding sou gee tot ideologië van maksimum winste teen enige prys. n Lomp stelling sonder enige feite. Die waarheid is egter dat die oorsaak was agv roekelose huislenings aan arm mense ( mense wat nie lenings kon bekostig nie) wat moontlik gemaak is deur ‘n wet ( Community Reinvestment Act), ‘n wet wat deur die demokraat ( jammer Leopold) Jimmy Carter in 1977 in werking gestel is. Die oorsaak was dus juis dat die staat ingemeng het in gesonde besigheidsbesluite deur die uitbreiding van banktakke/ en samesmeltimgs af te keur mits daar dan lenings toegestaan is aan arm huishoudings. SO besighede het wegbeweeg van ‘n risiko opbrengs benadering ( belangrik vir volhoubare winste) na ‘n meer sosiale benadering maar ook meer spekulatief ( kort termyn winste soos wat sekuriteite saamgestel en verkoop is) en die resultaat was roekelose lenings en dus die finansiële krises. Die banke het natuurlik geweet van die werklike risiko’s maar kon dit weer as sekuriteite verpak en verkoop aan regeringsinstansies (soos Freddie Mac and Fannie Mae) wat veroosaak het dat swak lenings vir so lank toegestaan kon word sonder enige gevolge. Toe huispryse uiteindelik ‘n versadingspunt bereik het, het die oordeelsdag aangebreek. In kort kan mens noem dat sosialisme en staatsinmenging vir die krises verantwoordelik was. Waar sal Reagan en Thatcher in die prentjie kom?

Gemsbok ·

Inderdaad Pietman.

Verder was dit Bill Clinton se herroeping van die Glass-Steagull Wet in 1999 wat dit vir die eerste keer sedert 1933 (kort na die Groot Depressie) vir banke moontlik gemaak het om die toksiese lenings in sekuriteite te verpak en te verkoop. Bill Clinton het ook die Gramm-Leach-Bliley Wet in 1999 onderteken wat baie groter druk op banke geplaas het om lenings onder die Community Reinvestment Wet toe te staan.

Die Demokratiese Party, maar spesifiek Jimmy Carter en Bill Clinton, het dus baie meer as Thatcher en Reagan bygedra tot die 2008 krisis. Soos Ebert hier bo noem, het die Demokraat Barack Obama se reaksie op die 2008 krisis ook bate-besitters bo salaristrekkers bevoordeel.

Dit is jammer dat iemand soos Leopold Scholtz toelaat dat sy ideologiese voorkeure hom sodanig lei om die werklikheid verkeerd te interpreteer. Ironies dat sy blindekol juis met hierdie artikel (en die gepaste titel daarvan) blootgele is.

Gemsbok ·

Inderdaad Pietman.

Bill Clinton het in 1999 die Gramm-Leach-Billey Act onderteken wat banke onder baie groter druk geplaas het om meer lenings onder die Community Reinvestment Act toe te staan.

Verder het Bill Clinton ook in 1999 die Glass-Steagall Act herroep en daarmee dit vir die eerste keer sedert 1933 vir banke moontlik gemaak om toksiese lenings in sekuriteite te verpak en te verkoop.

Leopold Scholtz ·

Beste Pietman, ek dink jy verstaan my bietjie verkeerd. Ek het nie bedoel om die krisis van 2008 net op Reagan en Thatcher se brood te smeer nie. Natuurlik het hul opvolgers, van Bill Clinton en George Bush tot John Major en Tony Blair ook baie daarmee te doen. Ek het eenvoudig geprobeer om aan te dui waar dit begin het. Van daar af het dinge net al hoe erger geword. En ja, moenie dink dat ek in beginsel iets teen die Republikeine het nie. Ek het wel iets teen magsmisbruik en oordrewe ideologiese benaderings – maak nie saak watter ideologie dit is nie. Geniet die res van die week.

Pietman ·

Gemsbok ja, ons is besig met ‘n marksistiese kulturele oorlog. let op dat al die sogenaamde “librale” koerante verbied kommentaar op hul webblaaie sodat hul ongehinderd hul leuens and propaganda kan verpsrei. Kommuniste het die koue oorlog verloor maar het die kultuur van die weste geïnfiltreer deur die hoofstroom media. Naspers publiseer ook Leopold se artikels en dit sê baie oor Leopold self. Merkel ( toevallig ‘n oud kommunis) bedoel by globalisering nie net vrye handel nie maar ook lande sonder grense. Kultuur ( jou kennis, IK, wat jy as mooi beskou, taal en geskiedenis, waardes) is natuurlik die grootste bepalende faktor of ‘n land vooruitstrewend is of nie. Europa wil graag ‘n bepaalde kultuur invoer wat hul eie lande as gemors agter gelaat het. Identeitspolitiek soos hier in Suid-Afrika is Europa se voorland waar etniese groepe in blokke gaan stem ( soos hier en die VSA) en op die ou end politieke mag gaan bekom. En wanneer die dag aanbreek dat Duitsland onder Moslem bevind is ( so 20 na 30 jaar van nou) gaan die Duitsers ook wonder hoekom die Moslems nie hul goedgunstigheid wil terugbetaal nie. Dan is dit soos hier in SA te laat vir lang trane.

Leopold Scholtz ·

Pietman, ek neem kennis van jou beskuldigings aan my adres. Laat ek maar net se dat ek myself glad nie daarin herken nie. Maar ek het ‘n idee jy het klaar jou maaind oor my opgemaak, en niks wat ek se, sal enige verandering daarin bring nie. Groetnis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.