Ideologiese oorlog op Tuks

Deur Charné Mostert

EFF-lede het wit studente glo toegang tot die Universiteit van Pretoria se Hatfield-kampus geweier. (Foto: Skermskoot/Twitter-video)

Ideologiese kaping

In die lesingsale en klaskamers van die Universiteit van Pretoria (UP), getooi met jakarandablomme in die lente, sou ʼn mens dink sinvolle diversiteit word omhels en gevier, maar op dié kampus dreig daar ʼn ontstellende ideologiese slagveld wat deur dubbele standaarde gekenmerk word.

In die huidige konteks van rassespanning en verskanste polariteite op die kampus skets twee sterk kontrasterende voorvalle ʼn duidelike prentjie van die universiteit se bevooroordeelde toegeeflikheid teenoor sosiale en politieke ideologiese verskille, wat tot vrugtelose kampuskonflik lei.

In 2023 het ʼn wit UP-huiskomitee-lid dit gewaag om tydens ʼn #BlackLivesMatter-byeenkoms haar mening te gee en “AllLivesMatter” op haar WhatsApp-status te plaas. Haar wêreldbeskouing het die konsep van ware gelykheid vir almal behels, insluitend gelykheid vir alle mense, ongeag ras, geslag of geloof. Die komiteelid is toe egter op sosiale media deur ʼn swart mede-UP-student as ʼn rassis gebrandmerk, wat haar geteister het deur haar te dwing om haar mening te verander, aangesien haar siening as “haatspraak” beskou is.

Die universiteit het op hierdie voorval gereageer deur ʼn waarskuwing uit te reik en die student te verbied om as huiskomitee-lid herkies te word. Let daarop dat sy werklike inklusiwiteit en nierassigheid voorgestaan het. Dit het egter gelei tot haar gedwonge bedanking uit ʼn leiersposisie in die universiteit.

ʼn Voorbeeld van die dubbele standaarde wat deur UP gebruik word, is ʼn kontrasterende voorval waarby ʼn geregistreerde studentevereniging, bekend as die Economic Freedom Fighters Student Command of the Universiteit van Pretoria (EFFSC UP), betrokke was.

Die EFFSC UP volg ʼn Marxisties-Leninistiese ideologie en verkondig ekstremistiese sienings. Die term “revolusie” wat hulle dikwels gebruik, word gesien as ʼn metode om die samelewing te weeg te bring wat hulle in hul radikale ideologie nastreef. EFFSC UP gebruik intimidasie en dwang as instrumente om sy agenda in studentekoshuise te bevorder.

Dit het duidelik geblyk uit ʼn voorval waar die bestuur van studenteverblyf regulasies ingestel het om te verseker dat mans en vroue privaatheid kan geniet wanneer hul badkamergeriewe gebruik. Hierdie gebeurtenis is in ʼn rassekwessie verander deur “rassistiese wit meisies” te blameer vir “die kriminalisering van swart mans” wat in dieselfde gebou woon, omdat hierdie meisies daarteen beswaar gemaak het om badkamergeriewe saam met mans te gebruik.

Ná hierdie voorval het die universiteit besluit om met stilswye te reageer. In 2023 is daar weereens ʼn toename in gevalle van EFF-intimidasie en die aanblaas van ʼn klimaat van vrees op die UP-kampus.

ʼn Klimaat van huiwering

Die dubbele standaarde tussen hierdie twee voorvalle kan eenvoudig nie geïgnoreer word nie. Die ideologiese oorlogvoering op die kampus toon die teenstrydighede tussen twee verskillende scenario’s van rassespanning op die kampus. ʼn Student wat haar vir eenheid en nierassigheid beywer het, is blitsig gestraf, en ʼn studentevereniging wat haat bevorder en studente intimideer, word ʼn gevaarlike carte blanche gegun.

Die teenstrydigheid tussen die universiteit se verklaarde verbintenis tot die bevordering van ʼn uiteenlopende verskeidenheid oortuigings en die mate waarin die instelling sy verklaarde beginsels in die praktyk handhaaf, is kommerwekkend. Terwyl die universiteit vrye uitdrukking en ʼn arena bevorder waar studente aan vrugbare debatte kan deelneem, is dit sorgwekkend dat die aanhitsing van geweld en intimidasie oor die hoof gesien word.

Die onderdrukking van stemme, soos blyk uit die #AllLivesMatter-voorval, is ʼn skerp weerspreking van die essensiële wese van hoër onderwys. In plaas daarvan om ʼn omgewing te kweek waar idees gedeel en verfyn kan word, kweek ons ʼn klimaat van vrees waarin studente huiwer om hulle oortuigings uit te druk, uit vrees vir uitsetting, intimidasie of geweld.

ʼn Kultuur van huiwering, vrees en stilte word onder studente op die kampus gevestig. Die gebrek aan dissiplinêre stappe teen die EFFSC UP se onaanvaarbare gedrag skep ʼn gevaarlike presedent. Dit impliseer dat sekere groepe of ideologiese neigings vrygestel is van die streng gedragsnorme waaraan ander gebonde is. Dit ondermyn die universiteit se geloofwaardigheid en moedig ʼn atmosfeer van roekelose onaantasbaarheid aan, waarin studente kan voel dat hulle aangemoedig word om haatspraak en intimidasietaktieke doelbewus voort te sit.

UP moet deeglik herbesin oor sy standpunt rakende ideologiese diversiteit en die mate waarin dit op vryheid van uitdrukking inwerk.

Gelyke verspreide gelykheid

Die huidige ideologiese oorlogvoering op die kampus, gekenmerk deur afgryslike dubbele standaarde, is ʼn kwessie wat ons indringende aandag verdien. Elke student se menings moet gelykwaardige oorweging, hantering en reaksie ontvang. Dit beteken dat elke student se ideologie en menings geldig is, maar dat hierdie oortuigings nie geweld of intimidasie moet aanblaas ter ondersteuning van die geldigheid daarvan nie.

Suid-Afrikaanse universiteite behoort as vrugbare aarde te dien waar idees floreer eerder as verstikkende ingehokte plekke waar hulle wegkwyn. Opbouende gesprekvoering wat ʼn wesenlike uitwerking op mense se denke het, sluit in die debattering en bespreking van ʼn verskeidenheid idees, insluitende idees wat party van ons ongemaklik kan laat voel.

Eerder as om andersdenkendes te muilband, moet universiteite openhartige diskoers met groot ywer bevorder en vir studente die ruimte bied om hulle oortuigings uit te druk en aan konstruktiewe gesprekvoering deel te neem. Wat universiteite egter nie mag doen nie, is om vryheid van uitdrukking te verwar met die aanhitsing van geweld of die gebruik van intimidasie.

  • Charné Mostert is ʼn veldtogbeampte by AfriForum. Sy het ʼn honneursgraad (cum laude) in internasionale politiek en is tans besig met haar meestersgraad in sekuriteitstudies by die Universiteit van Pretoria. Charné publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen Twitter), LinkedIn en TikTok.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Die speletjies wat die EFF klomp meer besig is raak baie gevaarlik.
Enige iemand het ‘n toleransie om maar net al die gemors op te vreet. Hulle wil aanhou aanhits sodat ons ons toleransie punt moet bereik en opstand neem, maar gaan dan soos gewoontlik vir die wêreld probeer verkondig dat hulle die slagoffers is, en wil wys wat is aan hulle gedoen, maar sal nooit die stories van die begin af vertel nie.
Die beste van alles is, hulle raak paniekerig en bang as niemand kwaad raak en hulle probeer aanvat nie, want hulle kry nie hulle sin nie

Republikein in die Wes Kaap ·

Nee wat, ons is al sedert 1994 op die planke. Daar sal nie ‘n opstand wees nie. Ons is ontmagtig.

Piet ·

Die Amerikaners sukkel met hierdie minderwaardigheid, nogsteeds, al van 1865 af.

Fran ·

Tuks is lankal besig om linkse ideologieë te verwelkom. Alles word toegelaat, net nie konserwatiewe denke nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Absoluut. En nóu wil ons kla. Ek wag vir die dag dat daar kwotas op die aantal wit studente geplaas gaan word. Berei maar voor vir daai dag.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.