Iets oor Frans se rewolusie…

Ernst Roets. Foto: Facebook

Nadat ek op sosiale media my teleurstelling uitgespreek het met die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) se besluit om godslasterlike meningstukke op hul platforms te versprei, het die uitvoerende hoof van die IRV, Frans Cronje, gereageer dat AfriForum ’n veldtog dryf om die IRV en Ivo Vegter (die outeur van die meningstukke) se reg op spraakvryheid te ondermyn. Hy sê die IRV staan by die besluit om godslasterlike artikels te publiseer omdat dit vir hulle ’n saak van beginsel is.

Noudat daar ’n teenreaksie op Ivo se artikel is, tree hy (Ivo) skielik op asof hy ’n onskuldige slagoffer is wat deur ’n komplot geteiken word. Hy beweer sommer dat AfriForum hom “persecute”.

In Frans se meningstuk (bemark met hutstekens soos #AttemptToSinkTheIRR en #WeWillStickToOurPrinciples) maak hy egter ’n paar eenvoudig bedrieglike stellings.

Daar is geen veldtog teen die IRV nie (tensy kommentaar op Facebook en Twitter aan die IRV se definisie van ’n veldtog voldoen). Belangriker as dit, daar is klaarblyklik steeds ’n onderliggende kwessie wat die IRV nie verstaan nie: Om ’n redakteur te kritiseer oor sy keuse om ’n artikel te publiseer is nie ’n veldtog teen die outeur van die artikel se spraakvryheid nie. Die bewering dat die IRV nou vir Ivo teen een of ander aanval op spraakvryheid moet beskerm, is sommer onsin.

Dieselfde Frans wat beweer dat AfriForum ’n veldtog teen die IRV dryf, is al op rekord waar hy organisasies aanmoedig om in die openbaar teen AfriForum standpunt in te neem.

Die punt is die volgende: ’n Organisasie bepaal sy identiteit deur te kies wat hy publiseer (lees hierdie sin asseblief weer). Die IRV is nie ’n nuusplatform nie, maar ’n organisasie wat bepaalde doelwitte bevorder.

Wat hierdie storie nog meer ironies maak, is dat dieselfde IRV vir David Bullard afgedank het nadat hy ’n grappie oor die “k-woord” op Twitter gemaak het (hy het gepraat van die “k-woord”, maar eintlik verwys na die woord “kleptokraat”). Die IRV het gesê dat die grappie nie met die IRV se waardes belyn kan word nie en vir Bullard afgedank. Frans sê hy kon nie sy swart kollegas in die oë kyk nadat Bullard daai grappie gemaak het nie, maar hy kan sy Christen-kollegas in die oë kyk as hulle godslasterlike artikels publiseer.

Ivo, wat hom nou slagoffer voorhou, het ’n pertinente rol in Bullard se afdanking gespeel. Ná Bullard se afdanking het Ivo selfs ’n meningstuk op die IRV se platform gepubliseer waarin hy sê dat hy Bullard se afdanking ondersteun en dat hy trots is op die rol wat hy gespeel het om dit te laat gebeur.

Agge-nee, man! As jy liberaal, verlig en ’n aktivis vir spraakvryheid wil wees, probeer ten minste ’n poging aanwend om konsekwent te wees.

Verder beweer Frans dat AfriForum ’n ras-nasionalistiese agenda dryf. Frans ken AfriForum goed genoeg om te weet dat hy sy lesers hier bedrieg. AfriForum se standpunte is g’n geheim nie. Frans is goed bewus van die publieke standpunte wat AfriForum al teen ras-nasionalisme ingeneem het. AfriForum se agenda is vir die bevordering van kultuur, nie rassebelange nie. In ’n poging om skadebeheer vir die IRV te doen, skryf Frans dit waarteen AfriForum veldtogte dryf, aan AfriForum self toe.

Die probleem is eenvoudig dat daar klaarblyklik nie ideologiese leiding in die IRV is nie. As jy redaksionele bestuur en ideologiese leiding as ’n skending van spraakvryheid beskou, hoe op aarde hou jy dan ’n organisasie op koers? Toe Gareth van Onselen destyds in sy hoedanigheid as IRV-woordvoerder op die radio ’n aanval op God en Christene gevoer het, het Frans nie standpunt ingeneem nie. Kort daarna het hy vir Gareth as “arguably South Africa’s top liberal thinker” beskryf.

Nou skryf van die IRV se ander woordvoerders skielik meningstukke waarin hulle die Bybel aanhaal om liberalisme en die publisering van godslasterlike artikels te regverdig. Verbeel jou dit! Ons moet eerstens baie versigtig wees om die Bybel aan te haal om politieke of ideologiese argumente te voer. Tweedens, as jy dit wel doen, maak net seker dat jy nie dalk die Bybel verdraai om jou agenda te bevorder nie.

Laastens, twee punte van komiese ironie… Toe die IRV my vra om in ’n meningstuk op hul godslasterlike artikel te reageer, het hulle nogal gesê dat hulle enige iets wat ek skryf, sal publiseer, solank dit nie lasterlik is nie (met ander woorde, solank dit nie MENSE belaster nie). Dan ook, in my kritiek op die IRV se besluit om godslastering te publiseer, het ek die presiese woorde wat Frans Cronje self vroeër gebruik het om aan te voer dat AfriForum sy dokumentêr oor grondhervorming moet onttrek (omdat die IRV nie met die inhoud saamgestem het nie), woord vir woord ook gebruik om dieselfde mening oor Ivo se artikel uit te spreek. In my e-pos oor Ivo se artikel het ek selfs die nodige dele in aanhalingstekens gesit, met die aanname dat Frans die boodskap sou kry, maar die hoop het beskaam. In Frans se meningstuk oor AfriForum het hy dus sy eie presiese woorde uitgebeeld as onverdraagsaam en ’n poging om spraakvryheid te onderdruk.

Liberale ateïste is per slot van rekening net verdraagsaam as dit hul spesifiek-gedefinieerde agenda pas.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JJB ·

Puik gestel Ernst. Per slot van sake is dit die Heilige drie-enige God wat ons heil en toekoms bepaal. Nie die tastende verdwaalde ateïste nie.

Adriaan ·

Ek dink Frans smag na die publisiteit wat die godslasterlike meningstuk die IRV bring. Dit laat hom belangrik voel. Hy kan dit egter nie hardop sê nie, daarom gee hy voor dit gaan oor “vryheid van spraak”.

Suzette ·

Uitstekend Ernst!!! Dis hoekom ek tyd het vir Afriforum want hulle is regverdig en nie skaam om te sê waarvoor hulle staan nie: Christenskap, teen korrupsie, teen moord, teen onregverdigheid, teen rassisme en so kan jy aangaan. Doen so voort!

Hendrik ·

My persoonlike mening is dat liberalisme nooit ooit in Afrika ‘n rol gaan speel nie. Die uiteinde sal maar wees soos altyd waar elke gemeenskap homself sal bestuur en in goeie buurmanskap, met ‘n goeie heining, met ander gemeenskappe sal bly.

Jack ·

Eintlik is jy verkeerd. Liberalisme het wel ‘n groot rol gespeel, ‘n baie NEGATIEWE rol. Liberalisme kom vanuit Brittanje en het hulle aanvanklik teen outokratiese en onregverdige optredes uitgespreek. Maar die liberaliste het per definisie die nie-blankes as outomatiese onderdruktes aan vaar. Onderdruk deur wie? Blankes natuurlik , die Boere spesifiek. Dis vandag nog so. Frans Cronje se SAIRR huldig die standpunt dat die NP, die Boere swartes verdruk het. Enige iets wat na ‘n terugkeer van Afrikaner selfgeldendheid lyk is outomaties sleg, verdrukkend, boos, moet verguis word. Die edele stellings van liberalisme is sy tien gebooie.

Dries ·

Uitstekende antwoord waarvoor ons gewag het. Jy loop baie mooi voor ons volg jou. Daarom het ek jou geskets

Adam Adriaan ·

Ernst dankie dat jy vir die waarheid staan. Dit wat Frans omarm is tiepies van die Linkse Liberale Sosialistiese gepeupel wat ontken dat daar ‘n God is wat ons mense gemaak het en instand hou. Los die knaap. Dit is vreeslik om te val in die Hand van die Lewende God. Al hulle tipes sal nog hulle drag slae kry. Wat hule egter nie nou verstaan nie, is dit aanhoudend gaan wees sonder ophou tot in der ewigheid toe.

Vrijburger ·

Se hom my Ernst, se hom.

Mmmm wonder ek by myselwers, wat is die kans dat die IRV hierdie stuk van Ernst sal plaas?

En my uitdaging aan die IRV en ‘Vegter’ staan steeds – Plaas ‘n artikel wat net so beledegend en lasterlik is oor Islam. Kom ons toets jul #WeWillStickToOurPrinciples.

gehasie ·

Welgedaan! Goeie antwoord en goed verwoord. Die kloof tussen liberale menings en diè van behoudendes raak wêreldwyd al grooter.

Andries ·

Geen ENKELE swart taal sou vandag ‘n geskrewe taal gewees het, was dit nie vir sendelinge wat ywerig was om die boodskap van verlossing in die NAAM van YESHUA die Messias aan verlore onbekeerdes te bring nie. Die Evangelie gee elke mens het die vrye keuse om te aanvaar of te verwerp.

Die IRV lewer puik navorsingstukke, maar om spottery of verloëning op hulle platvorm toe te laat doen afbreuk aan ‘n andersins uitstekende bydrae tot nasionale debat.

MOENIE teen die Bybelse Geloof toelaat wat julle nie teen die islam sal waag nie.

(Bg kommentaar op M24 gesensor)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.