‘Immorele moroon’ laat die land lag, huil en steier

President Zuma during a press briefing

President Jacob Zuma (Foto: GCIS)

As jy gemengde emosies – lag, kopskud, huil – wil ervaar, is min dinge beter as om na Jacob Zuma te luister. Of dalk liewer daaroor te lees, want dis makliker.

Hoekom verloor  Zuma al sy hofsake? Omdat hy nie duur advokate gebruik nie. Hoekom is dit snaaks? Omdat hy al by talle geleenthede gebruik gemaak het van die duurste regslui, soos Kemp J. Kemp SC, wie se bankrekening dan met R60 000 per dag styg.

Selfs die beste prokureurs kan regters nie met ‘n swak verweer en powere argumente om die bos lei nie.

Zuma is baie meer suksesvol as dit kom by die afweer van interne krisisse, wanneer hy hom beroep op die steun van kaders wat diep in die skuld is by hom, of vlerksleep vir ‘n posisie van groter mag.

Hoe lank word daar nou al gesukkel om hom oor die 783 aanklagtes van onder meer korrupsie, rampokkery en bedrog voor die hof te daag en wat is die koste van Zuma se suksesvolle pogings om ‘n verhoor met sy vertragingstaktiek te vermy?

In sy jongste poging het hy gesê hy wil die aanbevelings van adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, se verslag oor staatskaping deur ’n hof laat hersien. Hierdie soort glibberige paling-taktiek kos die belastingbetaler reeds R49 miljoen en die rekening is op pad na R60 miljoen, aldus die DA-leier, Mmusi Maimane.

En so van lag gepraat: Dis een van Zuma se maniere om deur sy selfgemaakte krisisse te kom – hy lag he-he-he.

Die gerespekteerde politieke kommentator, Leopold Scholtz, het die sterkste taal nog gebruik toe hy geskryf het Zuma is ‘n “immorele moroon”. Dis nou die mens wat die toppunt van moraliteit en onkreukbare etiek behoort te wees. Pleks daarvan het ons ‘n veragte en verleentheidswekkende leier, wat die land in rommelstatus in regeer.

Zuma self is die swakste skakel in die demokratiese Grondwet en laat mens dink aan wat pres.Abraham Lincoln (1809-’65) eens gesê het: “Die demokrasie is die moeilikste vorm van regering.” Veral as dit in die verkeerde hande is.

“Jy dink dalk jy is in beheer, maar jou politieke mag is niks werd nie.”

Daar is ook tye wanneer ‘n mens net die kop kan skud oor die president se oënskynlike gebrek aan insig, soos toe hy onlangs sy regering se mislukkings verduidelik het deur te sê hy het geen ekonomiese mag nie. “Jy dink dalk jy is in beheer, maar jou politieke mag is niks werd nie.”

Dink hy regtig vir een oomblik sy dade en die manier waarop hy sy kaders toelaat om te regeer het niks te doen met die dreigende afgraderings wat die land kan tref nie? Dat die ouditeur-generaal in sy verslag meld die provinsies kan nie verslag doen van net duskant R40 miljard se uitgawes nie?

Kan die man, wat lankal ‘n internasionale verleentheid vir die land en die teelaarde vir spotprenttekenaars geword het, nie insien dat dit juis hy is wat veroorsaak dat ons in die knyp is nie? Hy is mos immers die hoofrede dat beleggers draaie om ons loop, stygende armoede en werkloosheid, ‘n dalende bruto binnelandse produk en die aanstelling van lojale kaders in posisies waarvoor hulle geen verdienste het nie. Hy is die man wat die afgelope sewe jaar sy kabinet reeds agt keer herskommel het sodat hy hom met lojale ministers kan omring?

Huil van magteloosheid

Daar is ook baie redes om oor Zuma se uitsprake te huil, al is dit net uit magteloosheid. Soos wanneer hy sê:

♦”Die ANC is belangriker as die Grondwet. Die Grondwet is net daar om sake te reguleer.”

♦ Op ‘n vraag of hy ‘n dief is: ”Ek? Wel, ek weet nie. Ek moet in die woordeboek gaan kyk wat ‘n skelm is. Ek was nog nooit een nie.”

Dan het hy ook gesê die mense wat hom as ‘n dief beskryf, is juis dié wat hulself deur middel van diefstal verryk. Hy weet ook wie hulle is. (Aangesien hy so kop in een mus met mense soos die Guptas is, is dit seker nie moeilik nie.)

Hy sal glo eendag hul name en geheime glo in sy memoirs publiseer.

“Ek weet waar dinge skeefgeloop het, wie die hekse aan die werk is. Wanneer hulle jou vriende is, is dit moeilik omdat hulle jou swakhede ken.”

Dit het mense laat wonder of die boek in die styl van ‘n tronkdagboek geskryf gaan word, met ‘n titel soos Accused Number One.

Voor sy verkiesing in 2007, is hoog opgegee dat Zuma vir die armes en werkers is. Dit het nie so uitgewerk nie. Werkverliese duur voort, die armoedevlakke het verdiep en 18 mijoen mense oorleef met welsynstoelaes wat uit die staatskas moet kom.

Die land het pas weer Fitch en Moody’s se afgraderings na rommelstatus oorleef, waarskynlik danksy Pravin Gordhan, die man van wie Zuma juis dringend ontslae wil raak.

Huidige binnegevegte, wat deur die vakverbond Cosatu en gerespekteerde ANC-lede, soos minister Derek Hanekom gelei word, gee hoop. Maar dieselfde hoop het telkens op niks uitgeloop nie. Sal die land dalk hierdie keer ‘n wonderlike Kersgeskenk kry?

Waarskynlik nie: Die wind waai nog wes.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Wanneer Jacob Zuma sê, “die ANC is belangriker as die Grondwet”, is ek geneig om met hom saam te stem. Die Grondwet, wat gereeld as een van die beste in die wêreld geprys word, kon nie verhoed dat ‘n persoon met kort duskant 800 aanklagte teen hom die president van die land word nie.

Sedert sy bewindsaanvaarding is die oppergesag van ‘n SA President oor en oor bevestig. President Zuma geniet die grootste deel van die ANC se ondersteuning. Anders sou hulle hom tog uit die kussings lig, of hoe? Die liederlikste beledigings in die wêreld sal niks aan die saak verander nie. Inteendeel.

Ben Esterhuizen ·

Alhoewel “immorele moroon” die president vrek beskrywend raakvat, sal talle Suid Afrikaners (en nie net Afrikaners nie) egter die onbevoegde staatshoof veel skerper en afkeurend beskryf.

AL ·

Die Regering se logo: Together we move South Africa forward moet verander word na Together we move South Africa backwards. Ons huil vir die land waarvan almal hulpelose slagoffers is.

Adolf Daniël Malan ·

Ek dink uitsprake soos dat hy geen skelm is nie, wys duidelik dat sy verwysingsraamwerk lankal nie meer die Bybel is nie: dit is diè van ‘n monarg, en sy mag beskou hy as absoluut. Wat hy dus dink hom toekom as monarg, sien hy as sy reg. Daarom steel hy nie! Baie jammer!

Pietsepan ·

Sy verwysingsraamwerk was nog nooit die bybel nie, maar Ubuntu. Ons grootste stryd is om hierdie transformasie van ons land na Ubuntu te keer.

John ·

As ons in Zimbabwe gebly het, sou hierdie selfde kritiek netso op Mogabe van toepassing kon wees, ook elders in Afrika of ook in baie ander lande. Ons gaan nie gou van president Zuma ontslae raak nie en ook nie van sy kaders en van hul ideologie nie. Indien Zuma die lewe behou, gaan sy bestuurstyl eerder versleg en die kans is goed dat hy die grondwet op vele gebiede meer ingrypend gaan begin minag. Die ANC-bestuur weet hul beursies en luukse is afhanklik van hul posisies en Zuma hou dit in stand.

Waghond ·

Zuma het tot die redding van SA gekom. Hy gaan man alleen die val van die ANC bewerkstellig.

Sarel Strydom ·

Die man gaan maak dat ek nog begin suip. Sy harlopery weg van die Hof het alreds begin me die Wapenskandaal, voor hy President geword het. Nou wil die nuwe OB?? op aandrang van die Presidensie?? vir Thuli Madonsela hof toe vat i.p.v. om toe te sien dat Zuma vervolg word.

not in wonderland ·

Sareltjie, jy sal baie drank moet koop. Goeie rooi wyn om mee te begin.

Francie ·

Ek wil my verstout om te sê dat die moraal van witmense van Suid-Afrika nog nooit so laag was as nou nie. Om negatief te wees is maklik. Ek dink ons is dit aan onsself en ons land verskuldig, so moeilik as wat dit kan wees, nie nou moed op te gee nie. Ons was al daar en het opgestaan. Die tyd om ons identiteit met trots te behou is nou, ons kan dit doen vir ons nageslag. Dit gaan niks help om hande in die lug te gooi en ons standaarde te verlaag nie. Ons loop met lang gesigte en praat mekaar die ellende in. Dit hoort nie so nie.

Simon ·

Almal in hierdie wereld van ons is verantwoordelik teenoor n hogere mag van een of ander aard.
Dit geld vir ALLE staatshoofde, monarge, kerkleiers en noem maar op van nog meer leiers.
Onse President ag homself almagtig verhewe en allesoorheersend in SA.
Tog het hy by ampsaanvaarding plegtig voor die hele bevolking gesweer om hom te onderwerp aan die bepalings van die Grondwet. Hy behoort dus verantwoordelikheid gehou te word teenoor die bepaling van die Grondwet en as sodanig teenoor die hele bevolking van SA.

Boertjie ·

Trump gaan hom last les opse!!Hy is nou bang vir Amerika!

Louwrens ·

Bring my ook eers in die prentjie. Hoe gaan Trump vir Zuma laat les opse? Trump het nie n saak met SA nie en sal doodeenvoudig enige hulp aan SA staak as dit moet. Al wat Zuma en Kie dan doen is om na China en ander kommunistiese regerings te hardloop vir ondersteuning. Hulle doen dit al reeds…!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.