Implikasies van die middeltermynverkiesing in die VSA

Donald Trump, die Amerikaanse president, praat met verslaggewers buite die Withuis in Washington DC. Foto: Ting Shen/Xinhua.

Die onlangse Amerikaanse middeltermynverkiesing op 6 November was die eerste verkiesing ná president Donald Trump se oorwinning in 2016 en is daarom telkens vertolk as ʼn soort referendum oor Trump, te regte of te onregte. Vir die Demokrate was dit baie belangrik om die persepsie van ʼn massiewe verwerping van Trump te vestig en hulle het enorme bedrae geld aan die verkiesingsveldtog gespandeer. Aan die ander kant het Trump, wat nie eens verkiesbaar was nie, in talle state reusebyeenkomste gehou om sy ondersteuners vir die Republikeinse kandidate te mobiliseer.

Die uitslag het gemengde resultate opgelewer en beide die Republikeine en die Demokrate het dit as oorwinning vir hulle opgeëis. In die huis van verteenwoordigers, waar die afgevaardigdes van die kiesafdelings sit, het die Demokrate wel die meerderheid herower en 39 setels ekstra gewen. In die senaat, waar die afgevaardigdes van elke staat sit, het die Republikeine 2 setels bygevoeg en hul meerderheid uitgebou. Die Republikeine is slegter af as voor die verkiesing, waar hulle die presidentskap, die senaat en die huis van verteenwoordigers beheer het, maar dit was nie ʼn slagting nie en dit is eintlik staande praktyk dat die president se party in die eerste middeltermynverkiesing steun verloor.

In hierdie verkiesing was die deelname besonder hoog. Trump is ʼn polariserende figuur en mense haat hom of is mal oor hom, dus het sowel sy aanhangers asook sy teenstaanders in groot getalle opgedaag om te stem. Trump het gehoop dat die besonder goeie ekonomie, wat veel te make het met sy belastingverlagings, mense vir die Republikeine sal laat stem. Dit het egter minder van ʼn uitwerking gehad, terwyl verskeie aanslae, soos ʼn skietaanval in ʼn sinagoge en amateuragtige bomme wat aan prominente Demokrate gestuur is, deur die vyandige media as komende van verregse Trump-ondersteuners vertolk is. Trump het ook maar sy aandeel gehad met ondeurdagte uitsprake en sy ewige twiets, wat nie almal waardeer van ʼn president nie.

Terwyl die kernondersteuners van die Republikeine, plattelandse wit mense, veral mans, steeds agter hulle staan, was daar ʼn redelike swaai van gematigde, voorstedelike wit mense, veral vroue, weg van die Republikeine af. Die sogenaamde minderhede (Spaanssprekendes, swart Amerikaners) het oudergewoonte vir die Demokrate gestem. Die tema wat Trump sterk gedryf het, naamlik immigrasie, was minder belangrik vir die meeste kiesers as, byvoorbeeld, die onopgeloste vraagstuk van ʼn mediese versekering. Die demografiese verandering speel ook op die verkiesing in, veral in state in die Suide, soos Texas, Arizona en Nevada, waar Spaanssprekendes en swart Amerikaners meer word.

Met die huis van verteenwoordigers nou in die hande van die Demokrate, is President Trump nou in die posisie dat hy nie meer dieselfde hoeveelheid mag het as voor die tyd nie, en dat die huis van verteenwoordigers hom aan bande kan lê. Die Republikeinse beheer oor die senaat was egter belangrik en nog steeds sal Amerika voortgaan met die politiek van Trump, alhoewel met meer padversperrings as in die verlede. Beide parlementshuise moet konsensus oor wetgewing bereik en die proses is ingewikkeld en uitgerek. Trump sal nou meer as in die verlede kompromieë moet vind en alliansies bou, iets wat so ver nie sy sterk punt was nie. Met ʼn sterker Republikeinse senaat hoef Trump egter nie meer weerstand teen omstrede aanstellings, soos ministers en hoofregters, te vrees nie.

In ʼn sekere sin het die uitslag wat die Republikeine en Trump se mag besnoei het, waarskynlik sy kanse op herkiesing in 2020 verhoog. Amerikaners hou van balans en is weens hul sterk demokratiese geskiedenis skepties teenoor ʼn konsentrasie van mag. As daar nou 2 jaar van stilstand kom weens toutrekkery tussen die senaat en huis van verteenwoordigers, kan dit wees dat kiesers in 2020 weer alle mag aan die Republikeine gee.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Kryger ·

Niks het eintlik verander nie – voorheen was die “Republikeinse meerderheid” in die huis van verteenwoordigers opgemaak met Trumpeteers en Rino’s. Nou is meeste Rino’s vervang met Demokrate. Selfde vyand, ander naam.
Pres Trump kan alles “Executive order” as hy wil en die huis kan niks daaraan doen nie. Die meerderheid regters in die konstitusionele hof is nou Republikeine. Voorheen was dit Demokrate, dus was dit maar ‘n gesukkel om die “Executive orders” deur te kry.

Ronnie ·

Kryger, regters swig selde of ooit onder politieke druk. Hulle interpreteer die wet en pas dit toe na die beste van hulle vermoe. Soos hoofregter John Roberts Trump daarop gewys het, daar is nie party politiek betrokke wanneer regters uitsprake lewer nie. Daar is nie Obama regters en Trump regters nie. Dit is grotendeels eerbare mense wat dien en hulle plaas ‘n hoe premie op die eerbaarheid van die amp wat hulle beklee.

Kryger ·

Linkse regters wat politieke aanstellings is, maak politieke hof beslissings, konserwatiewe regters wat deur hul ewekniee aangestel word maak konstitionele hof beslissings. Dis maar hoe dit daar werk en hoe dit hier werk.

Twakkie ·

Stem heelhartig saam. Pres. Trump sal werk met wat hy het; hy weet hoe. Aanstellings deurstoot om die regbank “skoon te maak” van linkse ideologie en alle ander besluite waar die Senaat finale sê het. Hopelik ook die staatsdiens verklein en eweneens skoonmaak van die linkse ideologie wat nou reeds dekades lank oorheers en die Trump-agenda blokkeer.

Ronnie ·

Dit is so dat beide partye voluit gegaan het om hulle ondersteuners te mobiliseer. Dit wil vir my voorkom asof die Dems meer suksesvol was. Hulle het hulle voetwerk gedoen en baie kandidate het korporatiewe bydraes van die hand gewys en hulle veldtogte was deur gewone burgers gefinansier. Hulle het nou ‘n welverdiende meerderheid in die HVV. Die senaat het tot dusver buite hulle bereik gebly agv die verdeling van kiesafdelings, (oftewel gerrymandering), wat die GOP bevoordeel.
Of Trump wel sy 4 jaar termyn gaan voltooi hang in die weegskaal. Daar sal binnekort uitsluitsel wees of ‘n president wel krimineel vervolg kan word. Indien wel, sal die eerste saak waarskynlik handel oor die feit dat hy en drie van sy kinders betrokke was by die misbruik van welsyn fondse vir eie gewin. In ‘n siviele geding wil die regter die organisasie tot niet maak en wil $2.8miljoen vergoeding van die Trumps eis. Hulle sal ook vir ‘n tydperk belet word om op enige welsynsorganisasie se bestuur te dien.
Daar is ook die (sover ek weet), die onafgehandelde openbaring van wat van die oorblywende fondse vir Trump se inhuldiging geword het. Ek weet van ‘n bewering dat $25miljoen onreëlmatig na ‘n vriendin van Melania gegaan het.
Nou die wreedheid teenoor vroue en kinders wat wettiglik asiel soek op die grens. Die (in effek) goedkeuring vir die moord op Khashoggi en sy onvermoë om Putin se ongeregtighede teen te staan gaan hom suur bekom.
Sy politieke doppie klap dalk voor 2020.

Charles ·

Ronnie- jou liberale wensdenkery, duidelike vooroordeel teen “die beste president wat die VSA AL OOIT gehad het” en oenskynlike poging tot die verspreiding van fopnuus laat my skaterlag!

Cheers!

Elmarie Smit ·

Trump is die beste President ooit! Wens ons kon so ‘n persoon kry in SA

Charles ·

Ronnie- jou liberale wensdenkery, duidelike vooroordeel teen “die beste president wat die VSA AL OOIT gehad het” en oenskynlike poging tot die verspreiding van fopnuus laat my skaterlag!

Cheers!

Ronnie ·

Charles, die skrywer van die meningstuk glo dit is moontlik dat die pendulum in 2020 in die guns van die Republiekeine kan swaai want dit is tipies Amerikaans. Hy kan reg wees.
Ek meen daar is ‘n sterk moontlikheid dat Trump nie beskikbaar sal wees vir herverkiesing nie. My rede daarvoor is die talle dreigende hofsake teen Trump en die moontlikheid dat daar skandes ontbloot kan word en dat hy nie staande sal kan bly nie. Dit benewens die moontlikheid dat ‘n negatiewe verslag van Mueller vrygestel kan word en dat dit Trump ook kan knou. Verder het Trump se gewildheid baie afgeneem. Hy is nou in onguns by 60% Amerikaners.
Dit is vir my nog hier nog daar of die president ná Trump ‘n Republiekein of ‘n Demokraat is. Tewens ‘n Republiekeinse president met ‘n onbesproke karakter en sterk leier eienskappe kan dalk die GOP red van hulleself. Ek verkies ‘n president wat versoenend kan optree en weer die partye kan kry om saam te werk waar dit in landsbelang en in belang van die handhawing van wêreld vrede is.
Ek is jammer dat Sebastiaan na die media verwys as “vyandig”. Die media is nie die vyand nie en so ook nie die Demokrate nie. Oppossisie partye en die media is belangrike komponente van ‘n demokrasie en moet respekteer word. Die person wat die bomme na sekere Demokrate gestuur het, het homself adverteer as verregs met sy aksies tydens Trump byeenkomste en met die plakkate op sy voertuig.

Therese van Schalkwyk ·

Dankie, Sebastiaan!
Regtig lekker om in moedertaal ‘n opiniestuk oor Donald Trump te lees waarin hy nie as Hitler se eie kleinneef uitgebeeld word nie.
Mag jou laaste sin tog bewaarheid word. Al is dit ook net om die ‘Ronnie Pelosi’s’ van hierdie ou lewe se bloeddruk bietjie op te jaag.

alwyn burger ·

Dit is te verstane dat die Demokrate alles indie stryd gaan werp. Ek dink hulle besef hulle veg om oorlewing. Ek dink die gewone stoere Amerikaner is ñ Trump ondersteuner

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.