In grys se duisende skakerings…

Winnie Nomzamo Madikizela-Mandela by die ANC se 54ste nasionale konferensie in Desember 2017. Foto: Ayanda Ndamane/ANA

Ons Suid-Afrikaners is dikwels geneig om die wêreld as ’n swart-wit-plek te sien, ’n plek waar jy voortdurend absolute goedheid teenoor absolute boosheid kry. Uiteraard moet jy die kant van absolute goedheid (wat meestal jou eie kant is) kies teen die kant van absolute kwaad, oftewel die ander kant.

Dit gebeur nie net by ons nie; dis dikwels maar ’n algemene menslike neiging.

Ek moes aan dié waarheid dink toe ek verlede week ’n lang onderhoud met die Britse ondersoekende joernalis Fred Bridgland in die Media24-koerante lees na aanleiding van sy jongste boek, Truth, Lies and Alibis – a Winnie Mandela Story. Ek het nog nie kans gekry om die boek self aan te skaf nie, maar ek het verskeie resensies en onderhoude gelees, en ook ’n televisie-onderhoud op YouTube gesien.

In die boek, sê Bridgland, kom hy met 99,9% sekerheid tot die gevolgtrekking dat Winnie Mandela in 1989 vir Stompie Seipei self die genadeslag gegee het nadat haar “sokkerklub” dié tiener halfdood geslaan het. Vervolgens was daar ’n ooreenkoms tussen die destydse NP-regering van pres. FW de Klerk en die ANC (met inbegrip van Nelson Mandela) dat Winnie nié tronk toe moet gaan nie.

Die moord was té bekend dat die saak totaal buite die openbaarheid gehou kon word. Maar Nelson Mandela het die belangrikste getuie, Katiza Cebekhulu, met die toestemming van pres. Kenneth Kaunda van Zambië, in Lusaka laat aanhou sodat hy nie teen Winnie kon getuig nie.

Daar is verskeie dinge aan die egpaar Mandela waaruit blyk dat die geykte swart-wit-siening foutief is, dat die werklikheid veel meer ongemaklike grys gebiede bevat.

Toe sy in April vanjaar oorlede is, is Winnie Mandela gevier as “Mama Winnie”, die vrou wat vreesloos vir haar mense se demokratiese regte geveg het. Die ANC se heldhaftige struggle teen apartheid, ’n beweerde misdaad teen die mensdom, is terselfdertyd weer opgerakel.

’n Hele aantal belangrike nuanses moet egter aan dié weergawe gebring word.

Ten eerste, die destydse NP-regering was mede-aandadig aan die gedeeltelike toesmeer van die ware feite rondom Stompie se dood. Begryplikerwys, want baie was op die spel: Suid-Afrika het destyds op die rand van ’n afgrond, ’n burgeroorlog, gesteier. Om Winnie se saak soos ’n “normale” misdaad te behandel, sou maklik op ’n katastrofe en die dood van tienduisende onskuldige mense kon uitgeloop het.

Dit maak die toesmeer nie rég nie; wel begrýplik.

In die tweede plek was Nelson Mandela ook nie die onbevlekte, moreel suiwer held wat baie mense in hom sien nie. Hy was die dryfkrag agter die toesmeer van sy vrou se moorddadigheid. Vir hom geld egter dieselfde oorwegings as wat vir De Klerk en die regering gegeld het.

Wat baie mense nie besef nie, is dat sterk kommunistiese oortuigings agter Mandela se onbetwiste sterk karakter en persoonlike integriteit skuil gegaan het. Altans, die Mandela van voor die jare tagtig.

Ek en my vrou het paar jaar gelede ’n akademiese artikel, gegrond op Mandela se vroeëre geskrifte, geskryf waarin ons sy kommunistiese oortuigings uiteengesit het. Een akademiese joernaal het dit verwerp op grond van die beswaar van ’n keurder wat – sterk vereenvoudig – nie daarvan gehou het dat iets oor Mandela gesê word wat nié 100% lowend is nie. ’n Ander joernaal was nie só bang nie en het dit wel aanvaar.

Dit sê wel iets van die klimaat onder sommige akademici, wat angsvallig aan die mitevorming rondom apartheid, die ANC en Nelson Mandela vasklou en geen ander weergawe wil toelaat nie.

Tydens sy presidentskap, moet bygesê word, het Mandela wel bo homself uitgestyg.

In sy onderhoud het Bridgland ook nog iets anders gesê wat my nogal getref het. “In sy lang joernalistieke loopbaan het hy agtergekom bevrydingspolitiek is meedoënloos,” skryf die onderhoudvoerder, en haal hom vervolgens aan:

“Enigiets is aanvaarbaar. Die enigste etiese riglyn is om die stryd te wen en tydens die stryd gebeur daar allerhande dinge.”

Die gebeure rondom Stompie is een só ’n voorbeeld. Daar is talle ander, wat wissel van die ordinêre terrorisme (soortgelyk aan enigiets wat deur die Islamitiese Staat, Al-Kaïda of die Taliban gepleeg word) tot die buitengewoon wrede onderdrukking van afwykende denke in die ANC self.

Ná die wettiging van die ANC in 1990 kon dié nie voorkom dat sy strafkampe – waarvan Quatro die ergste was – bekend word nie. Maar toe was die ekskuus dat dit eintlik alles die apartheidsregering se skuld was, wat spioene in die ANC ingestuur het om die bevrydingstryd te saboteer.

En sedertdien word hieroor geswyg.

Nóg ’n kwessie waaroor nie gepraat word nie, is die oorheersing van die ANC-leiding deur lede van die SA Kommunistiese Party (SAKP). Verreweg die meeste van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) se lede was ook lid van die SAKP – een van die mees Kremlin-getroue kommunistiese partye ter wêreld.

Enkele onbevreesde historici, soos wyle dr. Stephen Ellis en prof. Irina Filatova, het dié waarheid in hul akademiese geskrifte oopgevlek. Ander, soos Hugh Macmillan, Sheridan Johns en Thomas Karis, hou oor die algemeen vas aan die ANC/SAKP se eie (valse) propaganda dat die ANC die leiding geneem en die SAKP gevolg het.

My vrou en ek is self besig met navorsing met die oog op ’n latere boek; vandaar dat ek vertroue het in Ellis en Filatova se gevolgtrekkings. Ek ken Bridgland ook goed, en ek weet dat hy uiters presies en metodies is. Hy sal nie iets skryf wat nie dubbel en dwars bevestig is nie.

Terug by die egpaar Mandela en Stompie: Beteken dit alles dat De Klerk-hulle verkeerd opgetree het?

As ’n mens streng na die letter van die wet kyk, ja. Hulle het ’n misdaad help toesmeer en toegelaat dat ’n moordenares haar geregverdigde straf vryspring.

Die probleem is dat die politiek ’n nare omgewing is wat jou morele beweegruimte soms erg beperk. In dié geval moes De Klerk ’n keuse doen tussen wat moreel reg is en die gevaar dat ’n volskaalse burgeroorlog uitbreek. Sou eersgenoemde moreel korrekter as laasgenoemde gewees het?

As historikus hoef ek – gelukkig – geen antwoord te gee nie. My taak is om te vertel wát gebeur het, hóékom dit gebeur het, en wat dit betéken het.

Wat gebeur het, het gebeur. Reg of verkeerd. Swart-wit was dit nie. Die vraag is net: Was dit uiteindelik liggrys of donkergrys?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Heinrich

Ramaphosa se taktiek sou handig hier tepas gekom het; laat haar stadig kook met stukkies inligting aan die lig bring totdat sy uiteindelik nie anders as skuldig moes staan nie terwyl die ANC al vir ‘n rukkie geheers het en die druk al bietjie gedaal het. Om haal heeltemal skotvry daarmee te laat wegkom het ongelukkig die ANC die idee gegee dat hulle bo die wet verhewe is, en ons almal pluk nou die vrugte daarvan. Bloed toe vs bloed nou; toe met ‘n georganiseerde weermag teen die kommies of nou ontwapende burgerlikes teen guerrilla aanvalle op plase en in… Lees meer »

ZAR

Baie goed gesê Leopoldt. Daar is soveel goed wat geskryf kan word van mandela se geskiedenis sowel as van sy “goeie” dae. Sy boek, wat al deur miljoene mense gelees is, het ‘n hele paar goed uitgelaat van die oorspronklike manuskrip, want dis as te radikaal gevind en het nie gepas by sy reënboog nasie voorkoms nie. Verder in die boek is daar soveel verdraaide feite, soos dat hy sê witmense vier die moord op duisende swartmense deur hul voorouers op 16 desember. Sy jong dae was hy presies soos malema, of hy werklik van siening verander het sal net… Lees meer »

Herman G

Baie waar Leopold, dinge is grys, in beide bevrydings oorlog, en konvensionele oorlog. Maar as Winnie, nie vervolg was nie, moes Eugene de Kock vervolg word? Wat van Clive Darby-Lewis? Ek sal graag jou opinie wil hoor.

Jerry

Baie goeie ontleding, alhoewel tot Genl v d Merwe het gese dat daar geen bewyse gevind kon word wat Winnie aan die moord op Stompie kon verbind nie, maar dit eers daar gelaat. Die enigste waarheid mbt goed of boos staan geskryf in die bybel. Doen goed en goedheid volg jou en beskerm jou tot aan die einde van jou dae! Doen boos en boosheid volg jou, straf jou en vernietig jou! Dit geld ook vir n volk! Dit verg n besonderse mens, n mens met n sagte hart, om onderskeid te kan tref tussen goed en kwaad van die… Lees meer »

hannah

Nog altyd gedink Mandela word hopeloos te veel vereer. Tragies en baie sondig wat in hierdie land aangaan. Ek raak menige dae baie moedeloos…. en moet myself daaraan herinner dat dit ook sal verbygaan. Dankie vir hierdie skrywe Leopold. Groete uit SA.