In mekaar se hare!

pretoria-girls-high-school

Die hek van die Pretoria Girls High School. Foto: Twitter

Deur dr. Jaco Deacon

ʼn Perspektief op die Pretoria High School for Girls-sage.

’n Obsessie met reëls en ’n onderskatting van leerders stemme. Dít is waaroor dit eintlik gaan, skryf dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), oor vandeesweek se protesoptrede wat by die Pretoria High School for Girls begin en nou ook na ander skole uitgebrei het.

Nadat die hare vandeesweek letterlik in ’n protes by die Pretoria High School for Girls gewaai het oor haarstyle, beweerde diskriminasie en rassisme, blyk dit dat die groot kopseer skoolreëls is.

Baie van ons sal nog die lang rye met saalopening by die skool onthou – haarinspeksie! Behoede jou as daardie kuif net te regop, die middelpaadjie net te skeef of die nekhare net-net aan die kraag geraak het. Dan was daar duidelike omskrywings oor die lengte van kuiwe, boksterte, die kleur van hare en linte en hoe dit gevleg moes word. Daar is behoorlik hare gekloof oor die fyner interpretasie van die skoolreëls en gewoonlik het die leerders aan die kortste end getrek. Dit lyk nou of daar oor die jare bitter min verandering aan die gewraakte reëls was.

Voor wie se deur moet hierdie fiasko gelê word? Die skoolhoof? Onderwysers? Ouers? Leerders? Die eerste Skolewet in ons nuwe politieke bedeling is vanjaar 20 jaar oud en die verantwoordelikheid vir die opstel van ʼn gedragskode (die nuwe term vir die ou skoolreëls) vir elke skool word aan die skool se eie beheerliggaam opgedra.

Artikel 8 is baie duidelik dat die opstel van die kode in oorleg met die leerders, ouers en opvoeders van die skool moet wees. In kort beteken dit dat daar met al die partye gepraat moet word, menings verkry moet word en dat die beheerliggaam daarna in beste belang van die skool ʼn gedragskode opstel. Opvoeders gee bloot uitvoering aan die kode (en ek het begrip daarvoor dat hulle soms maar hare op die tande moet hê!).

Wat vandeesweek week gebeur het, het twee belangrike leemtes blootgelê, naamlik ’n obsessie met reëls en ʼn onderskatting van ons leerders se stemme. Die probleem is dat die meeste skole gefokus is op reëls en straf as die algemene norm om dissipline te handhaaf. Leerders word die hele tyd vertel wat hulle nie moet doen nie (die negatiewe), terwyl daar heeltemal te min tyd bestee word om hulle te leer wat hulle wel moet doen (die positiewe). Die groot uitdaging is om van ʼn reëlgedrewe skool na ʼn waardegedrewe skool te beweeg.

Beteken ’n waardegedrewe benadering dat daar nie meer reëls is nie? Nee, glad nie! Die ideaal is goeie optrede omdat etiek uit die hart of innerlike oortuiging kom waar hierdie waardegedrewe gedrag geslyp word deur ouers, opvoeders en vriende. Dit is egter die minderheid kinders (en volwassenes) wat in hierdie kategorie val. As etiek uit die hart nie die gewenste optrede tot gevolg het nie, val ons terug na etiek uit vrees waar kinders reg optree (by die “reëls” hou) uit vrees vir sanksies en straf.

Waardes gee juis betekenis aan reëls, maar die klem verskuif eenvoudig na hoekom ons dinge doen. Omdat ons respek vir mekaar het, gaan ons mekaar se eiendom oppas of omdat ons respek vir mekaar het, raak ons nie handgemeen nie. Die fokus val eerder op ’n leefwyse. Reëls speel steeds ’n rol, maar bou op die grondslag van waardes. As die beheerliggaam dus oor hare moet besin, sou die vertrekpunt die skool se waardes wees.

Dieselfde Skolewet maak ook voorsiening dat leerders lede van die beheerliggaam van hoërskole is. Hulle het volwaardige stemme en moet as volwaardige lede van die beheerliggaam hanteer word. Volwassenes (dalk eerder “grootmense”) onderskat dikwels die vermoë van leerders en vergeet dat ons met ʼn nuwe generasie jongmense werk wat nie bang is om hul mening te lug en hulself te laat geld nie. As skole en beheerliggame nie kanale skep waar kinders gehoor word en kans kry om hul bekommernisse, idees en ideale op die tafel te sit nie, sal hierdie leerders dit eenvoudig self skep! Sosiale media word vinnig ʼn nagmerrie vir ʼn skoolhoof en ʼn protes voor die skoolhek word ʼn werklikheid vir ʼn beheerliggaam. Moet ook nie vergeet van die LUR wat dan die kop gaan was nie!

Hierdie week se gebeure behoort elke beheerliggaamlid se hare penorent te laat staan – gaan hersien jou skool se gedragskode. Maak seker dat jou skool se gedragskode op sterk waardes gegrond is, dat elke reël geregverdig kan word en dat die hele skoolgemeenskap aan boord is deur die oorlegplegingsproses wat gevolg is.

Ek is nie oortuig dat hierdie protes net oor hare-reëls gegaan het nie. Daar is veel meer agter die haredos en die hele manier waarop ons skole bestuur word, word bevraagteken. Staan ons op reëls of staan ons op waardes? As daar nou iemand is wat aan die kort hare beetgekry moet word, is dit juis die leierskap in skole.

Hier moet ek myself nou kortknip – oor hierdie onderwerp moet ons nie in mekaar se hare wees nie, maar na mekaar se harte luister.

  • Dr. Jaco Deacon is die adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, outeur van Skoolbeheer: Antwoorde op alledaagse uitdagings, Case Law Handbook on Education en redakteur van die Juta Education Law and Policy Handbook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

19 Kommentare

ora ·

Baie goed gestel. Ek was jare lank in die onderwys (adjunk en selfs hoof). Net een reël het vir my gegeld: jy mag doen wat ek doen. As ek en jy nie saamstem nie, praat ons en gaan selfs ‘n kontrak aan waarin jy (leerder) die voorwaardes stel waaronder jy bereid is om te werk. Onderhandeling waar by die leerder insette het. Dit verg geweldig tyd maar dit werk. Nie altyd so prakties met groepe nie.
Toe ek (donkiejare gelede) in matriek was het ek as hoofmeisie saam met die leerders daarin geslaag om selfs die skooluniform te verander. Sonder opstand, net met onderhandeling en samewerking.

Theresa ·

Die hare wat ter sprake was, is regtig tog onnet vir ‘n skoolkind in skooldrag.
Dan wonder ek of dit nie meer ‘n geboelie was, soos wat BAIE gebeur in hoërskole veral! Die mensdom gaan nie leer dat mens nie mekaar se gevoelens moet seermaak nie.
Ek hoop van harte dis nie die begin van leerders se voorskryf aan die owerhede nie. Alla wêreld, dis volwassenes wat die reëls moet bepaal en daarby hou – nie die nuwerwetse jeug wat als wat voorkom sal afbreek as hul nie hul sin kry nie! Skoolkinders se hare moet vas wees. Dit wat rondhang of swaai, moet maar vasgemaak word met knippies of wat ookal. Eienaardige haarstyle is die voorreg van skoolverlaters. Was nog altyd so waar netheid ‘n rol gespeel het. Bloot my mening. Ons sal maar sien wat hopelik ten goede gaan gebeur. (arme onnies)…

NICKEY VAN NIEKERK ·

Kyk na fotos in koerante en hoop almal het gister aand gesien toe die TV kameras rol, hoe netjies was al die “leerders” se hare/ Selfs Rastalokke was NETJIES vasgebind.. Geen ordentlike onderwyser sou iets verkeerd kon vind nie.!! Hoekom dan nie altyd so skoo toe gaan nie? Die Meisies wou weereens ‘n rassistiese konotasie aan die hele affere gee. Hulle het,, dit reg gekry, almal het hulle “WOORD” daarvoor geneem. Moet skoolkinders nooit onderskat nie veral, noudat hulle skierlik “leerders” en nie meer leerlinge is nie. Geen trots nie,wil dinge he soos hulle wil,,, want die wereld en sy vrou skuld hulle.
NICKEY/ GATVOL

Ellie ·

Ék was 7 jr ondervoorsitter op ‘n beheerliggaam en op die dissiplinêre komitee ék stem saam oor verouderde reëls Maar baie van die moeilikheid makers is onder presteerders wat baklei teen dissipline en opvoeding. Baie ouers te lui om dissipline tuis te gee en neem onderwysers kwalik as die kind geen dissipline het nie. Onderwys is ‘n meer vir sussies nie en glad nie meer ‘n plesier nie ék haal my hoed af vir onnies ék sou lankal in die tronk gesit ad ék 1 was.

Hennie ·

Die samelewing is besig om n generasie n van narciste te kweek wat net altyd hulle sin wil he. Kyk maar mooi waar gaan hierdie eindig in die volgende geslag

Amanda ·

My ergste pyn is dat mens op n yskoue dag in die somer nie wintersklere mag aantrek nie terwyl die onnies met langbroeke en truie rondloop. Of jou nat sweet in n langmou hemp op n warm winterdrag terwyl onnies kortmoue dra. Sinlose reels!

Flippie ·

Ek hoop nou net dat die onderwys owerhede ook toeskietlik gaan wees en toelaat dat die wit leerders ook nou toegelaat sal word om hulle hare in enige styl te kan dra. Kort, lank, pienk, getease, gekrul, punk ens.. Moenie van die maskara en lipstiffie en parfuum vetgeet nie.

Veritas ·

Jaco Deacon, jy lewe in die kamma-kamma wêreld van die oorgrote meerderheid van onderwysers. Ek weet nie of jy kinders het nie maar sal nogtans graag wou weet of jy met ‘n agt- of negejarige in debat tree wanneer hy/sy alleen oor ‘n besige pad wil hardloop. Wat ek probeer sê is dat kinders, kinders bly totdat lewenswysheid eendag die oorhand oor impulsiwiteit kry. In uitsonderlike gevalle gebeur tydens die laat skooljare maar meesal eers heelwat later. Skoolreëls moet nie drakonies wees nie maar riglyne daarstel wat ten doel het om kinders te leer wat dit neem om ordentlike lede van die gemeenskap te wees. As jy na snuiters wil luister, staan dit jou vry, maar moet asb nie onderwysers se opvoedingsgereedskap vernietig nie.

Moegviraldiebeloftes ·

Ek verstaan nie waaroor die hare bohaai is nie daar is genoeg voorsiening gemaak in die skole se gedragskode vir alle tipe hare haarsyle ens. Ek kry die onderwysers en beheerliggame baie jammer oor dit wat deesdae in die skole gebeur. Ek hoor elke dag riller verhale van wat in die klaskamers gebeur. Die insidente glo ek vas het als met dissipline te doen wat zero by die huise toegepas word ouers glo mos dit is amal behalwe hulle verantwoordelikheid is. Kom by ouers en doen wat julle veronderstel is om te doen dan sal ander mense nie met jou kinders ‘n probleem hê nie EN hulle sal groot word en goeie landsburgers word. As ek die huidige nageslag se kinders kyk sien ek net GROOT PROBLEME vir die toekoms want hulle word geleer maak lawaai breek af ignoreer reëls en verwoes als en eis als op VERNIET en julle kry NET wat julle wil hê. Utopia hier kom ons!!!

KLEIN ·

Vlieg mekaar in die hare oor hare, maar niks word gedoen met grootter problem soos water tekorte, elektisiteit problem, brandstof problem, getoi toi oor sallarisse, lug besoedeling en so kan die lys aangaan.

Kobus ·

Wat hierdie natuurlik nogmaals uitwys is dat ons almal nie dieselfde is en dink nie. In ‘n multikulturele samestelling, soos veral by ons, waar daar by die twintig rasse in die land is, tale, dis omtrent amper soveel lande daar in Wes Europa is, is dit maar moelik om almal in een land ter wille te wees, met waardes, norms, standaarde. Gesprek en kommunikasie is die antwoord, nie die een groep laat voel dat hy gemarginaliseer word nie. En as die kinders daarop sou aandring om in hul kulturele kleredrag skool te gaan, wat dan? Hulle voel egter gemaklik met die westerse kleredrag, maar as dit by die haredos kom, dan verpolitiseer hulle dit.

Is hierdie nie maar ‘n vingerwysing na die regering wat nie die multikulturele land kan bestuur nie, kyk maar na die universiteite, ook ander brandpunte. Sodra een gat toegestop word, spring daar ‘n ander skeet uit wat mens sou dink outomaties soos in ‘n goeie besigheid bestuur sou word en deurlopend aandag sal kry. Die land word reaktief bestuur, reageer eers na die skoot geklap het omdat ons nie met mekaar gesels en kommunikeer nie, nie hoor wat die ander een sê nie.

Annamagriet de Wet ·

Mooi gesê oor gesprekvoering. Daarby saam moet mens bereid wees om tydens gesprekvoering net so bietjie uit jou eie gemaksone en “vaste beginsels” te loop om die ander persoon te ontmoet, te hoor, te sien en te verstaan. Na beide kante toe.
Ek dink egter nie mens moet ontken dat politiek ‘n rol speel nie. In die groter prentjie van eeue lange sistemiese diskriminasie teen alles wat nie westers, christelik, wit, midedelklas, heteroseksueel, ‘able-bodied’ ens is nie, moet mens ook sensitief wees vir hoe mense maklik tydens gespreksvoering gemarginaliseer en tradisioneel gemarginaliseerdes se stemme kan ignoreer, of kan misken, of kan afmaak as onvanpas. Dit is waar die politieke sensitiwiteit inkom om die “push back” of “struggle” van gemarginaliseerde groepe en individue te verstaan. Wat vir die onderdrukker dalk onverstaanbaar of onbenullig is, is vir die onderdrukte simbolies, polities en persoonlik belangrik as deel van hulle eie self-bemagtigingsproses. Wie is ons om dan te sê dit onnodig verpolitiseer? Of dit hare, klere, juwele, taal, godsdiens of buitemuurse aktiwiteite is, ons moet na mekaar se stemme luister, simbole en tekens van onderdrukking raaksien, en streef na groter gelykheid en inklusiwiteit.

Steunpilaar ·

Jaco Deacon se opmerking, “As daar nou iemand is wat aan die kort hare beetgekry moet word, is dit juis die leierskap in skole., is werklik problematies. Suggereer hy daarmee dat alle leiers in skole ‘n spul morone is? Ek vind sy opmerking aanstootlik en neerhalend teenoor onderwysleierskap in skole. Mense wat dag in en dag uit met tieners werk sal weet dat hul emosioneel gedrewe wesens is wat sonder moeite ‘n tsunami in ‘n teekoppie kan veroorsaak. Waar daar werklike rassisme is – roei dit uit! Wat verwag die samelewing van skole? Is dit dan nie om verantwoordelike, wetsgehoorsame landsburgers voor te berei nie. Ek stem saam dat voorskrifte waardegedrewe moet wees en nie menswaardigheid moet aantas nie. Ek wonder watter respons ons sou kry indien alle instansies wat voorskriftelik is i.v.m. voorkoms besluit om weg te doen daarmee? Polisiesdiens, weermag, verpleegdienste, verkeersdienste, banke(!), supermarkte, petroljoggies ensomeer. Feit van die saak is, as jy ‘n hou wil inkry, sal jy beslis ‘n stok vind om mee te slaan! En dan dien die man nogal as kampvegter vir onderwyssake! Soos die Engelse dit uitdruk : “Cold comfort!”

lettie ·

sodra uniforms gedra word, word daar reels en dissipline neergele. Die swart meisies moet dit net eenvoudig aanvaar en ophou om rassisme belaglikhede te skree. Waarom het dieSA Polisiediens,Weermag, Korrektiewe Dienste nie so n bohaai nie?! Hul dra uniform en hul sogenaamde ‘African’ hare is getem! Trap dai skoolmeisies se tjank af asb!

Zettie ·

Dit is nie duidelik uit verslaggewing of die leerder op vorige geleenthede haar verskil oor die toepassing van die afro-reël aan die beheerliggaam bekend gemaak het nie. Dit sou jammer wees as sy nie probeer het om ‘n ware demokratiese kanaal te volg nie en maak een ding wel duidelik; Suid Afrika het gevaal in die opvoeding van mense om die demokratiese proses te verstaan en vertrou.

Aanvanklik kon ek nie die kloutjie by die oor kry wat rasisme met die hele ding te doen het nie maar nabetragting het my tot die slotsom gebring dat wat vir een persoon natuurlik is, nie noodwendig deur ‘n ander persoon so geinterpreteer sal word nie en die meisie het duidelik deskrimenasie ervaar. Alhoewel ek met die leerder simpatiseer wat haar hare aanbetref, want glo my daai hare word MOEILIK getem indie wel, kan ek nie anders om te verskil met die metodes wat gebruik is om haar stem te laat hoor nie (dit is, as sy nie op ‘n vorige geleentheid die saak probeer beding het nie). Maar dit is maar net ‘n weerspieëlling van die metode hoe politiek in Suid Afrika bedryf word, ek noem dit Boelie-Politiek.

Ongelukkig word die voorval, deur die hulp van die media, deur politiekuste gebruik om rasisme aan te huts en een ras te “demonise” deur hom te stigmatiseer en marginaliseer.

Frans C ·

Waarom die goed altyd hul kop uitsteek teen eksamentyd sal net die ‘learners’ weet. Wat is nou belangriker ,jou haarstyl, of jou eksamen uitslag. Afro-hare is nie ‘n kwalifikasie nie,so wat is nou eintlik die probleem?

Ek wonder ·

Ek het 3 kinders wat onlangs nog op skool was en nr 4 matrkuleer tans. Elkeen van hulle het op een of ander stadium geïrriteerd gevoel met een of ander reel- my seun veral met die harereels. Ons het die skoolreels bly ondersteun aangesien dit ons kinders geleer het om wetsgehoorsaam op te tree en ek glo dat ons nooit spyt hieroor sal wees nie. Intussen is ons ouer kinders al professionele mense met selfdissipline en werk in velde wat op vaste reels geskoei is. Gaan dit hulle baat om hieroor in opstand te kom-reels te tart of om hard te werk, ʼn salaris huis toe te neem en vir hulself en familie te kan sorg. My punt is as jou fokus reg is en jy wil vooruit gaan hoekom oor onbenullighede kibbel wat more nie eens sal saak maak nie. As goeie landsburger is daar elke dag ʼn stel reels wat ek moet nakom al dink ek nie al daardie reels is realisties, gemaklik of hoe ek dit sou verkies nie. Ek leef ook onder ʼn regering met dikwels snaakse reels wat my nie pas nie. Pas aan en kry jou prioriteite reg. Leef met voema binne die reels sover moontlik en maak positiewe bydraes waar jy kan. Met geduld, onderhandeling en respek vir ander se opinies en vir samelewingreels kan ons n ver pad stap.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.