In mekaar se hare!

pretoria-girls-high-school

Die hek van die Pretoria Girls High School. Foto: Twitter

Deur dr. Jaco Deacon

ʼn Perspektief op die Pretoria High School for Girls-sage.

’n Obsessie met reëls en ’n onderskatting van leerders stemme. Dít is waaroor dit eintlik gaan, skryf dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), oor vandeesweek se protesoptrede wat by die Pretoria High School for Girls begin en nou ook na ander skole uitgebrei het.

Nadat die hare vandeesweek letterlik in ’n protes by die Pretoria High School for Girls gewaai het oor haarstyle, beweerde diskriminasie en rassisme, blyk dit dat die groot kopseer skoolreëls is.

Baie van ons sal nog die lang rye met saalopening by die skool onthou – haarinspeksie! Behoede jou as daardie kuif net te regop, die middelpaadjie net te skeef of die nekhare net-net aan die kraag geraak het. Dan was daar duidelike omskrywings oor die lengte van kuiwe, boksterte, die kleur van hare en linte en hoe dit gevleg moes word. Daar is behoorlik hare gekloof oor die fyner interpretasie van die skoolreëls en gewoonlik het die leerders aan die kortste end getrek. Dit lyk nou of daar oor die jare bitter min verandering aan die gewraakte reëls was.

Voor wie se deur moet hierdie fiasko gelê word? Die skoolhoof? Onderwysers? Ouers? Leerders? Die eerste Skolewet in ons nuwe politieke bedeling is vanjaar 20 jaar oud en die verantwoordelikheid vir die opstel van ʼn gedragskode (die nuwe term vir die ou skoolreëls) vir elke skool word aan die skool se eie beheerliggaam opgedra.

Artikel 8 is baie duidelik dat die opstel van die kode in oorleg met die leerders, ouers en opvoeders van die skool moet wees. In kort beteken dit dat daar met al die partye gepraat moet word, menings verkry moet word en dat die beheerliggaam daarna in beste belang van die skool ʼn gedragskode opstel. Opvoeders gee bloot uitvoering aan die kode (en ek het begrip daarvoor dat hulle soms maar hare op die tande moet hê!).

Wat vandeesweek week gebeur het, het twee belangrike leemtes blootgelê, naamlik ’n obsessie met reëls en ʼn onderskatting van ons leerders se stemme. Die probleem is dat die meeste skole gefokus is op reëls en straf as die algemene norm om dissipline te handhaaf. Leerders word die hele tyd vertel wat hulle nie moet doen nie (die negatiewe), terwyl daar heeltemal te min tyd bestee word om hulle te leer wat hulle wel moet doen (die positiewe). Die groot uitdaging is om van ʼn reëlgedrewe skool na ʼn waardegedrewe skool te beweeg.

Beteken ’n waardegedrewe benadering dat daar nie meer reëls is nie? Nee, glad nie! Die ideaal is goeie optrede omdat etiek uit die hart of innerlike oortuiging kom waar hierdie waardegedrewe gedrag geslyp word deur ouers, opvoeders en vriende. Dit is egter die minderheid kinders (en volwassenes) wat in hierdie kategorie val. As etiek uit die hart nie die gewenste optrede tot gevolg het nie, val ons terug na etiek uit vrees waar kinders reg optree (by die “reëls” hou) uit vrees vir sanksies en straf.

Waardes gee juis betekenis aan reëls, maar die klem verskuif eenvoudig na hoekom ons dinge doen. Omdat ons respek vir mekaar het, gaan ons mekaar se eiendom oppas of omdat ons respek vir mekaar het, raak ons nie handgemeen nie. Die fokus val eerder op ’n leefwyse. Reëls speel steeds ’n rol, maar bou op die grondslag van waardes. As die beheerliggaam dus oor hare moet besin, sou die vertrekpunt die skool se waardes wees.

Dieselfde Skolewet maak ook voorsiening dat leerders lede van die beheerliggaam van hoërskole is. Hulle het volwaardige stemme en moet as volwaardige lede van die beheerliggaam hanteer word. Volwassenes (dalk eerder “grootmense”) onderskat dikwels die vermoë van leerders en vergeet dat ons met ʼn nuwe generasie jongmense werk wat nie bang is om hul mening te lug en hulself te laat geld nie. As skole en beheerliggame nie kanale skep waar kinders gehoor word en kans kry om hul bekommernisse, idees en ideale op die tafel te sit nie, sal hierdie leerders dit eenvoudig self skep! Sosiale media word vinnig ʼn nagmerrie vir ʼn skoolhoof en ʼn protes voor die skoolhek word ʼn werklikheid vir ʼn beheerliggaam. Moet ook nie vergeet van die LUR wat dan die kop gaan was nie!

Hierdie week se gebeure behoort elke beheerliggaamlid se hare penorent te laat staan – gaan hersien jou skool se gedragskode. Maak seker dat jou skool se gedragskode op sterk waardes gegrond is, dat elke reël geregverdig kan word en dat die hele skoolgemeenskap aan boord is deur die oorlegplegingsproses wat gevolg is.

Ek is nie oortuig dat hierdie protes net oor hare-reëls gegaan het nie. Daar is veel meer agter die haredos en die hele manier waarop ons skole bestuur word, word bevraagteken. Staan ons op reëls of staan ons op waardes? As daar nou iemand is wat aan die kort hare beetgekry moet word, is dit juis die leierskap in skole.

Hier moet ek myself nou kortknip – oor hierdie onderwerp moet ons nie in mekaar se hare wees nie, maar na mekaar se harte luister.

  • Dr. Jaco Deacon is die adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, outeur van Skoolbeheer: Antwoorde op alledaagse uitdagings, Case Law Handbook on Education en redakteur van die Juta Education Law and Policy Handbook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
ora

Baie goed gestel. Ek was jare lank in die onderwys (adjunk en selfs hoof). Net een reël het vir my gegeld: jy mag doen wat ek doen. As ek en jy nie saamstem nie, praat ons en gaan selfs ‘n kontrak aan waarin jy (leerder) die voorwaardes stel waaronder jy bereid is om te werk. Onderhandeling waar by die leerder insette het. Dit verg geweldig tyd maar dit werk. Nie altyd so prakties met groepe nie. Toe ek (donkiejare gelede) in matriek was het ek as hoofmeisie saam met die leerders daarin geslaag om selfs die skooluniform te verander. Sonder… Lees meer »

Theresa

Die hare wat ter sprake was, is regtig tog onnet vir ‘n skoolkind in skooldrag. Dan wonder ek of dit nie meer ‘n geboelie was, soos wat BAIE gebeur in hoërskole veral! Die mensdom gaan nie leer dat mens nie mekaar se gevoelens moet seermaak nie. Ek hoop van harte dis nie die begin van leerders se voorskryf aan die owerhede nie. Alla wêreld, dis volwassenes wat die reëls moet bepaal en daarby hou – nie die nuwerwetse jeug wat als wat voorkom sal afbreek as hul nie hul sin kry nie! Skoolkinders se hare moet vas wees. Dit wat… Lees meer »

NICKEY VAN NIEKERK

Kyk na fotos in koerante en hoop almal het gister aand gesien toe die TV kameras rol, hoe netjies was al die “leerders” se hare/ Selfs Rastalokke was NETJIES vasgebind.. Geen ordentlike onderwyser sou iets verkeerd kon vind nie.!! Hoekom dan nie altyd so skoo toe gaan nie? Die Meisies wou weereens ‘n rassistiese konotasie aan die hele affere gee. Hulle het,, dit reg gekry, almal het hulle “WOORD” daarvoor geneem. Moet skoolkinders nooit onderskat nie veral, noudat hulle skierlik “leerders” en nie meer leerlinge is nie. Geen trots nie,wil dinge he soos hulle wil,,, want die wereld en sy… Lees meer »

Ellie

Ék was 7 jr ondervoorsitter op ‘n beheerliggaam en op die dissiplinêre komitee ék stem saam oor verouderde reëls Maar baie van die moeilikheid makers is onder presteerders wat baklei teen dissipline en opvoeding. Baie ouers te lui om dissipline tuis te gee en neem onderwysers kwalik as die kind geen dissipline het nie. Onderwys is ‘n meer vir sussies nie en glad nie meer ‘n plesier nie ék haal my hoed af vir onnies ék sou lankal in die tronk gesit ad ék 1 was.

Hennie

Die samelewing is besig om n generasie n van narciste te kweek wat net altyd hulle sin wil he. Kyk maar mooi waar gaan hierdie eindig in die volgende geslag