In memoriam: Stephen Ellis

Dr-Stephen-Ellis

Dr. Stephen Ellis. Foto: Cis.vu.nl

Dr. Heinrich Matthee

Stephen Ellis is op 29 Julie 2015 in Amsterdam, Nederland, oorlede. In Suid-Afrika het hy veral opspraak gewek met sy studie, External Mission: The ANC in exile 1960-1990, in 2012.

In hierdie boek bring hy bewyse dat Nelson Mandela, ondanks Mandela se ontkennings, inderdaad ’n lid van die SA Kommunistiese Party was. Hy beskryf ook hoe Mandela en ander deel was van ’n politieke staatsgreep teen Albert Luthuli binne die ANC in die 1960’s, waarna die ANC en SAKP die geweldsopsie gevolg het. Die boek is met die Recht Malan-prys bekroon.

Stephen was meer as net ’n Suid-Afrika-kenner. Hy was ’n gesaghebbende Britse Afrika-kenner. Trouens, saam met sy Franse vriend, Jean-Francois Bayart, en Portugese kollega, Patrick Chabal, was hy volgens my onder die drie voorstes in daardie veld.

Al drie was nie politieke aktiviste nie. Al drie het die redes vir wantoestande in Afrika so openlik moontlik ontleed. Maar al drie het ook die goeie potensiaal in Afrikalande raakgesien.

Stephen is op 13 Junie 1953 in Nottingham, Engeland, gebore. Ná sy studie by Oxford-universiteit was Stephen tydens die 1980’s en 1990’s onder meer hoof van die Afrika-afdeling van Amnestie Internasionaal, redakteur van Africa Confidential en direkteur van Nederland se grootste sentrum vir Afrikastudies in Leiden. By sy afsterwe het hy die Desmond Tutu-leerstoel by die Vrije Universiteit van Amsterdam beklee.

Stephen se voorkeurtemas was politiek, misdaad, godsdiens en wapenstryde, veral in lande soos Suid-Afrika, Madagaskar, Liberië en Nigerië.  Sy boeke, dikwels saam met medeskrywers, sluit in: Comrades against Apartheid, Masks of Anarchy, Worlds of Power, The Criminalization of the State in Africa, en die hoopvolle Seasons of Rain.

Ek het Stephen die eerste keer in Kaapstad ontmoet toe ek ’n doktorsgraad-promotor gesoek het. Die lang man met die sterk gesig en helder oë se energie was opsigtelik. So ook sy entoesiasme oor temas rondom Afrikagodsdiens en -politiek. Hy had egter destyds nog nie die professorposisie om as promotor te kon optree nie.

Later sou ons paaie weer kruis en kon ek deel vorm van sy besprekingsgroep om Afrika se geskiedskrywing te hersien. Stephen was veral ’n navorser. Hy was toegewyd aan feitegerigte geskiedskrywing en het oor die hele Afrika en Europa argiewe nagespeur en binnekringmense opgespoor vir onderhoude.

Hy het ook nie teruggedeins daarvoor om gevestigde sienings en taboes aan te pak as hy nuwe feite raakloop nie. Hy het rolspelers uit Afrika se eie handelingsvermoë erken. Die  goeie en die minder goeie van hul optrede het hy gebalanseerd en begrond probeer verstaan.

In besprekings oor Westerse kolonialisme was Stephen nie juis apologeties of verontskuldigend nie. Soos dit ’n goeie historikus betaam, het hy die ideologiese rasers geïgnoreer en die komplekse impak van kolonialisme probeer vasstel.

’n Maand voor sy dood noem Stephen op die Afrikastudiesentrum se webwerf dat baie kommentators en historici steeds nie wil aanvaar dat Mandela ’n lid van die SA Kommunistiese Party se sentrale komitee was nie. Dit was die geval selfs nadat die ANC en SAKP daardie lidmaatskap bevestig het: The fact of Mandela’s membership is important for understanding the history of the ANC and of South Africa up to the present day. All four of South Africa’s post-apartheid presidents have held senior membership positions in the SACP. It has now become easier to appreciate the extent to which the Marxism-Leninism of the last century has continued to influence their policies.

In External Mission beskryf hy ook die SAKP en ANC se tweefaserewolusie as “an apology for plunder”. Uit opmerkings kon mens aflei hy sou in ’n stadium dalk Nelson Mandela se presiese kennis en rol rakende die wapenskandale tydens sy bewind ondersoek. Hy was ook bekommerd oor die mitologie wat hy soms teëkom onder jong swart mense oor waarom SA in sy huidige toestand is.

Nietemin het hy nooit hoop vir Suid-Afrika of dele van die ANC verloor nie. Hy het ook die redes vir hoop in Afrika in Seasons of Rain ondersoek. Ek glo nie ek doen Stephen ’n onreg aan as ek sê dat hy nie ’n vriend van Afrikaner-identiteitspolitiek was nie. Hy was daarby kritiesoor Suid-Afrikaners in alle groepe se benadering van isolasie teenoor die buitewêreld. Stephen en sy lewensmaat, ’n bekende antropoloog, het dwarsdeur Afrika gereis en graag in Afrikalande vakansie gehou.

In 2012 is Stephen gediagnoseer met leukemie, waarvoor hy tot kort voor sy dood behandel is. Hy het ná die diagnose egter moedig voortgegaan met sy navorsing. Soos altyd, had hy ’n slag om sy bevindings en boeke pakkend te skryf.

Dit is hoe ek hom sal onthou: die lang man met die helder oë, die forse en kritiese blik van ’n historikus, die energieke deelname aan besprekings. Daar was soms ligte blyke van trots oor sy Engelse agtergrond, maar tog die oopheid van ’n Westerse kosmopoliet. Hy het onverpoos gesoek na die historiese feite, maar selde sonder ’n kwinkslag iewers daarby.

Westerse Afrikastudies vind plaas by die samevloei van komplekse geskiedenis, politieke stryde en sakebelange en bly ’n gelade domein. In Stephen se lewe en sy boeke sien mens egter by al die ander eienskappe ook dryfkrag en deursettingsvermoë: om self sy waarheid in die stede en velde van Afrika te soek. Ons groet ’n besondere denker.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae