In reaksie op Amanda Gouws se ‘Menings moet op feite berus’

Rhoda Kadalie reageer op Amanda Gouws se rubriek, “Menings moet op feite berus”.

rhoda-kadalie-2019-01-28

Rhoda Kadalie. Foto: Verskaf.

Ver weg aan die weskus van die VSA hou ek nie meer tred met media in Suid-Afrika nie. Dit was dus bemoedigend toe talle Suid-Afrikaners Amanda Gouws se rubriek, “Menings moet op feite berus”, gepubliseer in Die Burger (25 Januarie 2021) vir my aangestuur het, omdat hulle moeg is vir die gereelde leuens van Suid-Afrika se kundiges en vooraanstaande koerante.

Gouws het dekades lank in die gewyde gange van Universiteit Stellenbosch rondgestap as ʼn gesiene politieke wetenskaplike, en tog negeer sy herhaaldelik die wese van haar dissipline, politieke wetenskap, in haar strewe na politieke mag. Haar aanvangsparagraaf, deurvleg met vooroordeel, beskryf Joe Biden se inhuldiging as “die einde van die destruktiewe regering van Donald Trump” en as ʼn “kollektiewe sug van verligting”. As die professor enige benul gehad het, sou sy geweet het dat Biden tydens sy eerste dag op kantoor onthul het wat ʼn uitstekende president Trump was toe hy Trump se beste prestasies met penhale nietig verklaar het – sy verwoestende uitvoerende bevele wat die Keystone XI-pypleiding gesluit het en wat effektief die einde beteken van tienduisende poste. Die pypleiding het Amerika energie-onafhanklik gemaak en sy afhanklikheid van die Midde-Ooste vir olie en energiebehoeftes uit die weg geruim. Biden het ook meisie- en vrouesport weggeteken toe hy toegelaat het dat transgender ‘vroue’ aan vrouesport mag deelneem en dit mag domineer; hy het konstruksie van die grensmuur opgeskort, burgerskap aan 11 miljoen onwettige immigrante belowe en die deportasie van misdadigers beëindig; hy het die reisverbod opgehef van lande waar daar verhoogde kommer oor terreur is; en, o ja, Biden het ook Suid-Afrikaners verbied om na die VSA te reis as deel van sy Covid-19-beskermingsprogram.

Die einste vakbonde en werknemers wat Biden se verkiesing ondersteun het, is geskok oor die sluiting van die pypleiding, net soos goewerneurs van verskeie state asook Kanada se eerste minister Justin Trudeau – geen Trump-aanhanger nie. Werksverliese sal astronomies oor state heen en in Kanada wees. Sou ʼn ernstige politieke wetenskaplike nie minstens ondersoek ingestel het hoe dié aksies diegene sal raak wat tans in diens staan van Keystone nie?

Ek daag Gouws om haar aansienlike politieke wetenskaplike vaardighede aan te wend om my te wys hoe “verwoestend” Trump se bewind was terwyl Amerika, voor die Covid-19-aanslag, die laagste nasionale werkloosheidskoers van 3,5% gehad het, asook die laagste vir veral vroue, swart mense en Spaans-Amerikaners. Werkloosheid staan vandag op 6,7%, die ekonomie het 40 maande van meer vakatures as indiensnemings agter die rug; nagenoeg sewe miljoen mense het nie meer van die voedselhulpskema (“food stamps”) gebruik gemaak nie; ‘n Covid-entstofprogram is van stapel gestuur; die behuisingsmark is die sterkste ooit; rentekoerse staan op 2,25% vir ʼn 30 jaar-huisverband; BBP-groei vir die derde kwartaal was 33,1%; op die laaste dag van Trump se bewind het die aandelemark op 30829.40 gesluit; die VSA het geen oorloë onder Trump beleef nie; Noord-Korea is onder beheer; en in meer as drie jaar was daar nie ʼn woord van ISIS nie.

Die wonderlike ding is – Trump het soveel meer bereik, maar Gouws herhaal die gesprekspunte van CNN in plaas daarvan om navorsing te doen om haar anti-Kadalie-tirade te staaf. Selfs ʼn ongeërgde politieke wetenskap-analis sou minstens nuuskierig wees om uit te vind hoe ʼn president wat die hele establishment (tegnoreuse, ondernemingsreuse, Hollywoodreuse, mediareuse, akademici en Wall Street) teen hom gehad het, 74 miljoen stemme gewerf het, die meeste vir enige sittende en Republikeinse president, en 12 miljoen meer stemme as in 2016. En hoe ʼn president wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn rassis, ʼn Nazi, ʼn kweselaar en ʼn vrouehater is, sy minderheidstemme met dubbelsyfers verhoog het in die 2020-verkiesing.

Maar nee, in die oë van die naïewe Trump-haters kan Biden niks verkeerd doen nie, ondanks sy geskiedenis van tamheid, rassisme, plagiaat en korrupsie wat hoogty vier.

In haar tweede paragraaf gaan Gouws voort om die inval van die kongresgebou te blameer op “binnelandse terreur” (wat dit ook al mag beteken), wat veroorsaak is deur “vals nuus” en “naakte leuens” wat deur Trump en sy volgelinge op sosiale media versprei is. In geval jy dit nie weet nie, Demokrate en hul ondersteuners gebruik nie sosiale media nie. Hul fascistiese gewapende vleuels, Antifa en Black Lives Matter, is, na haar mening, vryheidsvegters en nie “plaaslike terroriste” nie. Maar nou ja, slegs 40 mense is dood tydens hul plundertog oor 100 dae in die somer van 2019/2020 en 1 500 ondernemings is verwoes, aangehits deur Demokratiese leiers in Blou State. En waarom het hulle Trump se aanbod van die National Guard van die hand gewys? “Ontfondsing van die polisie” het die dryfkrag geword agter Demokratiese wetteloosheid, totdat dit die veiligheid van Demokrate begin bedreig het. Teenoor hierdie chaos is slegs vier mense dood in die Capitol Hill-mêlée op 6 Januarie, ʼn situasie wat heeltemal aangedik is en in sy geheel voorkom kon word as dit nie was vir die skokkende vertoon van polisie-onbevoegdheid op daardie dag nie.

Gouws het nie my verslag betwis dat beide die FBI en die Pentagon aangebied het om die gebou voor die tyd te beveilig nie – aanbiedings wat vreemd genoeg van die hand gewys is. Sy is ook nie besorg dat die aanval op die kongresgebou na bewering vooraf beplan is nie. As daar wel so baie Trump-ondersteuners betrokke was by die inval van die kongresgebou, sou die nuus dit ongetwyfeld dae lank uitbasuin het. Ons staan in afwagting vir die ondersoek. Intussen het die FBI, wat vier jaar lank hoofsaaklik in ʼn lomerige toestand verkeer het, skielik onskuldige Trump-ondersteuners aangekeer, as ʼn teken van krag en intimidasie.

Gouws noem my boonop “verregs” omdat ek, met reg, ernstige kommer uitspreek oor die Robespierre-agtige inperkings op vryheid van spraak en mediavryheid. Sy regverdig implisiet die tegnoreuse se sensuur van Trump en blameer hom vir die verspreiding van vals nuus en samesweringsteorieë terwyl hy, trouens, die deursigtigste president in die Amerikaanse geskiedenis was, selfs gemeet aan valsnuusmedia-standaarde. Hy het nooit gehuiwer om aan ʼn onderhoud deel te neem nie, in teenstelling met sy opvolger, wat maande lank in sy kelder weggekruip het en aan onderhoude deelgeneem het deur van ʼn telesouffleur of aanwysingskaartjies gebruik te maak. Vyfhonderd personeellede in die uitgewersbedryf het uitgewers gemaan om te weier om Trump se memoires te publiseer; Parler is gesluit; Google, Facebook, Twitter, YouTube, Spotify en selfs Pinterest het Trump en sy talle volgelinge verban. As dit nie ʼn Afrikaner laat ril wat weet wat die apartheidsregering aan swart mense gedoen het nie, dan kan ek maar net aanneem dat Suid-Afrika se vryheidstryd haar verbygegaan het.

Dit lyk of Gouws vergeet dat die eerste amendement in Amerika heilig is. Vryheid van spraak, opinies en godsdiens beteken selfs die reg om aanstoot te gee. Trump se plasings op Twitter het altyd die media se bloed laat stol, omdat hy hulle leuens en partydigheid uitgewys het. Die groot vraag is hoekom? Professioneel in die kuns van lieg het die meeste mediabronne die ongefiltreerde Trump gehaat omdat hulle nie sy uitsprake kon verdraai soos wat hulle nou met Biden doen nie – ʼn feit wat Gouws sou moes verwelkom as sy regtig vryheid van spraak hoog aangeskryf het. Maar Gouws versuim om die sensuur en wydverspreide suiwering van konserwatiewes uit die openbare domein te veroordeel. Sy is óf onkundig oor Amerika se “cancel culture” wat uiters goed vaar in die politiek van persoonlike verwoesting of sy berus haar by dié tipe totalitêre beleidsrigtings.

Neem kennis, sy trek nie een feit in my rubriek, “Capitol Hill – uit ʼn ander hoek” (18 Januarie 2021), in twyfel nie. Sy vaar eerder uit teen Maroela Media en “Afrikaanse lesers.”

As jy dink Trump-steuringsindroom is erg, dan is die Rhoda Kadalie-steuring onder Suid-Afrika se media-elite nog erger, bevestig deur wat duidelik Gouws se trefreël is: “Dis wel moeilik om te verstaan dat iemand wat haarself vir die bevryding van vroue en spesifiek swart vroue beywer het, Kamala Harris die Demokrate se ‘aanvalshond’ wat bereid is om haar siel te verkoop, noem, of verregse standpunte ondersteun.”

Gouws behoort teen hierdie tyd te weet dat ek, as ʼn feminis, haar verknegting aan identiteitspolitiek en haar oortuiging dat alle swart vroue in wese engele is, verwerp. Ek het ʼn hele rubriek oor Kamala Harris (“Kamala Harris is Demokrate se ‘aanvalshond’”, 25 Augustus 2020) geskryf en verduidelik waarom ek dink sy nie ʼn goeie president sou wees nie, weens haar swak prestasierekord as distriksprokureur en prokureur-generaal van Kalifornië. Selfs die Demokrate het met my saamgestem, gegewe die feit dat sy vroeg in haar veldtog uit die presidentsverkiesing geval het, en slegs 2% van die stem kon werf. Te danke aan my pigment is wit skuld nie my probleem nie. Dit is ʼn siekte wat ongelukkig die politieke liggaam besmet het tot op ʼn pad waar daar geen omkeer is nie. Deur swart mense oor te laat aan ʼn permanente stand van slagofferskap, walg Gouws se rasse-deurdrywing ʼn mens.

Gouws versoek “deeglikheid en balans”. Mag ek vra waar is hare? As ek ʼn professor van politieke wetenskap was, sou ek huiwer om my gedagtes in die publieke domein bekend te maak wanneer dit so kennelik ondeurdag is.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Rhoda Kadalie

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
Adam Adriaan

Rhoda, dit is uitstekend. Lanklaas die waarheid gehoor soos wat jy dit hier onomwonde op wit en swart uitgestippel het. Dankie dat daar nog mense soos jy is, wat nie huiwer om die waarheid te verkondig soos wat jy hier gedoen het nie. Die waarheid maak ‘n mens vry!!!!

Gysbert

Hou in gedagte dat Gouws n staatsamptenaar is (weliswaar een met n “pie in the sky” doktorsgraad, maar tog nog steeds net n staatsamptenaar met Naledi Pandor as haar baas), so sy moet maar saampraat met die regering.

Vlooitjie

Puik artikel!

Andrew

Moet nie iets anders verwag van die “mainstream political professionals” en “annalists ” as n CNN herhaaling nie. Geen redelike standpunte nie net Trump/onderwerp “bashing” en haat vir als wat logies is want hulle sal soos dwase lyk as hulle eendag die logika moet erken. Maar Amanda is giftig in haar skrewes teenoor veral wit konserwatiewe mans , wat maar meetstal familie ge-ooreenteerde manse is , en possop vir enige iemand wat van haar “identity politics” verskil, jy sal soos Rhoda die Amanda treatment kry.

Die Wolf

Ignoreer haar. Jy daal nie na daardie vlak toe nie.