In stryd om Taiwan, Oekraïne en globale mag sit China die Weste ore aan

(Foto: pixabay)

Twee belangrike gebeure het onlangs weer beklemtoon tot watter mate China tans op ʼn selfgeldende wyse homself as die belangrikste magspeler in Asië, maar selfs die hele wêreld, probeer vestig. Onder leiding van president Xi Jinping en sy nuwe Chinese nasionalisme word China se ekonomiese mag toenemend gebruik om van China ook ʼn geopolitieke en militêre mag te maak.

Die besoek van die Franse president, Emmanuel Macron, en die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, aan Beijing was vir president Xi ʼn gulde geleentheid om vir die wêreld te wys tot watter mate China se invloed die afgelope paar jaar toegeneem het. Macron het Xi bykans gesmeek om Rusland te probeer oortuig om die oorlog in Oekraïne te beëindig. Twee dekades gelede was Rusland nog die senior-vennoot in die Russies-Chinese-vriendskap, maar deesdae is dit China wat ʼn posisie van mag en invloed oor Rusland kan uitoefen.

Macron en Von der Leyen is met leë hande uit China weg, maar hulle het voor Xi ook as swak voorgekom. Macron het tydens sy terugkeer na Parys aangekondig dat hy aan China wou wys dat Frankryk nie maar net ʼn navolger van die VSA is nie. Daardeur het Macron in die hande van Xi gespeel wat graag wil sien dat die Weste verdeeld moet optree.

Die tweede belangrike kwessie wat verlede week die aandag op China gevestig het, was die ontmoeting Woensdag tussen die president van Taiwan, Tsai Ing-wen, en die speaker van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers, Kevin McCarthy, by die Ronald Reagan Presidensiële Biblioteek in Kalifornië. Die ontmoeting volg op die vorige speaker, Nancy Pelosi, se besoek aan Taiwan verlede Augustus.

Sedert die VSA in 1979 begin het om sy verhouding met China te normaliseer, was daar nog altyd ernstige vrae oor hoe China sou optree wanneer dié land ʼn globale ekonomiese mag word. Die afgelope tien jaar, onder leiding van Xi Jinping, is hierdie vraag toenemend beantwoord.

China bly ʼn kommunistiese eenpartydiktatuur. Onder Xi is binnelandse en buitelandse spioenasie, sowel as die propagandaveldtog om Chinese by Xi se droom van China as magtigste land ter wêreld te laat inkoop, wesenlik verskerp. Van al die hoop en beloftes op hervorming het niks gekom nie. China is vandag meer onderdrukkend, met strenger media-sensuur en groter onderdrukking van minderhede, burgerlike organisasies en kritici as wat die geval die afgelope veertig jaar was.

In reaksie op die ontmoeting in Kalifornië het China vir die tweede keer in agt maande die eiland van Taiwan byna heeltemal met oorlogskepe en vegvliegtuie omsingel. Net soos wat China sy ooreenkoms oor vryhede in Hongkong toenemend verbreek, en China neutraliteit oor die Oekraïne-oorlog predik maar inderwaarheid sy bande met Rusland verder versterk, kan China se motiewe in Asië, en in die besonder met Taiwan, nie vertrou word nie.

Terwyl president Xi tans met geduld, ʼn slim strategie en volledige beheer oor die hefbome van mag in China sy land se globale rol voortdurend kan uitbrei en versterk, sit die Weste met ondergemiddelde leiers soos Macron, Von der Leyen en Joe Biden in die VSA. Hierdie leierskap gaan oor die volgende maande en jare deeglik deur China getoets word.

Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hendrik ·

Wie in Suid-Afrika gaan omgee indien Sjina (Afrikaans vir China) of Rusland die Suid-Afrikaanse energie krisis kan oplos. Sonder korrupsie natuurlik. Suid-Afrika is baie promenent met die Suez-kanaal, wat maklik gesluit kan word in enige oorlog en dit ishoekom VSA, Rusland en Sjina met Suid-Afrika bande wil smee. Ek dink dat ons krag krisis waarskynlik opgelos gaan word deur Sjina wat oor die 700 steenkoolkragstasie het. Miskien sal die Sjinese sommer ‘n heel nuwe steenkool kragstasie bou (sonder korrupsie) hoop ons.

Republikein in die Wes Kaap ·

Rusland was eintlik die Weste se beste brug na China. Maar daai brug is nou opgeblaas. Wanneer gaan die VSA en sy bondgenote besef hul gloriedae is verby?

Groen Ghoen ·

Indien al meer olieprodusente hul produkte ontkoppel van die VSA Dollar sal die aanvraag van Dollars daal, wat die Amerikaners se reusagtige begrotingstekort van blykbaar $31 triljoen al moeiliker gaan maak om te finansier deur bloot papiergeld te druk. Biden se sinnelose oorlog met Rusland en die skuld wat hy met COVID aangegaan het, word slegs oortref deur sy besluit om Rusland se Dollar reserwes te konfiskeer. Verwag dus ‘n vlug weg van die Dollar. China speel hierdie spel meesterlik met ‘n wen hand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.