In watter land woon ek nou eintlik?

 

vlag suid-afrika

Argieffoto

Die laaste tyd moes ek myself effens knyp: In watter land woon ek nou eintlik?

Ja, die antwoord is wel Nederland (vir die rekord: agter die liefde aan). Maar vir iemand soos ek, wat die Suid-Afrikaanse media elke dag met ʼn passie volg – deesdae kan ek gelukkig – herken ek soms die onderwerpe van bespreking.

In Suid-Afrika staan die koerante, die sosiale media en die eter styf van die debatte oor rassisme. Dit gaan oor Penny Sparrow, Matthew Theunissen en Mabel Jansen – en oor die ewe rassistiese reaksies van oorkant die kleurlyn.

Dit gaan oor die vraag wanneer vooroordeel rassisme word. Of “blackfacing” nou regtig rasissme is. Of rassisme per definisie net by wit mense voorkom en of swartes ook rassiste kan wees.

Nou ja, in ons land met sy geskiedenis van apartheid en opstand daarteen, moet ʼn mens so iets seker te wagte wees. Mense se gevoelens van onreg verdwyn nie sommer net nie; dink maar aan hoe lank die lyding van die Anglo-Boereoorlog en die daaropvolgende diskriminasie teen Afrikaners die onderlinge betrekkinge tussen ons en die Engelse nog beduiwel het.

Maar Nederland het nooit apartheid geken nie. Jy verwag nie daardie soort debat hier nie en tog bars hy elke jaar weer los, elke keer heftiger.

Ter agtergrond: Tot die laat jare sestig en vroeë sewentigs was Nederland ʼn kultureel homogene land. Byna almal was wit; net hier en daar was daar iemand wat nie as Nederlander beskou kon word nie.

Toe begin hulle “gasarbeiders” uit Turkye en Marokko invoer om die laer soorte werk te doen waarin die Nederlanders geen sin had nie. Intussen is daar byna ʼn miljoen Moslems in die land, oftewel 5,75% van die bevolking. Hulle is nie meer tydelik nie; hulle is hier om te bly.

In 1975 het ʼn Nederlandse kolonie aan die noordkus van Suid-Amerika, Suriname, onafhanklik geword. Dié gebied word hoofsaaklik bewoon deur afstammelinge van slawe wat in die 17de en 18de eeu uit Afrika en Indië daarheen geneem is.

Sedert 1975 het sowat 350 000 Surinamers, hoofsaaklik swartes, hulle in Nederland gevestig. Sowat 140 000 mense, veral swartes, uit die Nederlandse Antille, ʼn eilandegroep in die Karibiese See, het ook na Nederland gekom.

Die politieke en maatskaplike konsensus is dat dié mense “geïntegreer” moet word. Hulle moet Nederlands leer en die Nederlandse demokratiese en tolerante waardes respekteer.

Uiteraard werk dit nie altyd ewe goed nie. Volgens die land se Sentrale Statistiekburo is die Antilliane die beste geïntegreer, met die Surinamers, wat meer met die Nederlandse kultuur in aanraking was, kort op hul hakke. Die Turke en veral die Marokkane loop agter.

Dis natuurlik nie met álmal die geval nie. Rotterdam het byvoorbeeld ʼn burgemeester wat as tiener uit Marokko saam met sy ouers hierheen gekom het, Ahmed Aboutaleb. Uiters bekwaam, gewild en gerespekteer. Daar is selfs ʼn kans dat hy leier van die gematig-linkse Partij van de Arbeid kan word.

Hoe ook al, ʼn mens sou dus verwag dat kwessies van rassisme veral rondom die Turke en Marokkane sentreer. Dié debat word egter gekortwiek deur die vraag of vooroordeel en diskriminasie teenoor Turke en Marokkane werklik rassisme is. Is Turke en Marokkane van ʼn ander ras, is die vraag waaraan heelparty bydraes tot die gesprek gewy word.

Maar ondanks die feit dat die aanwesigheid van ʼn paar honderdduisend swartes uit Suriname en die Antille nie werklik as ʼn probleem ervaar word nie (anders as dié van die Moslems), gaan 80% van die debat oor hulle.

Nederland het naamlik ʼn tradisie wat al tot vroeg in die 19de eeu terugdateer. Op die aand van 5 Desember bring Sinterklaas saam met sy helper, Zwarte Piet, persentjies vir alle soet kindertjies.

Zwarte Piet is aanvanklik gesien as Sinterklaas se kneg, iemand wat stout kindertjies pak gee, of in ʼn sak stop en na Spanje neem. Die rol word byna altyd gespeel deur ʼn witte wat swart gesmeer is, ʼn kroeshaar-pruik dra, met ringe in die oor en kleurryke klere.

Sy rol het self al verander. Hy is nie meer die goedige Sinterklaas se dreigende alter ego nie, maar ʼn vrolike figuur wat die kinders met sy kaperjolle vermaak.

Die laaste jaar of drie het sommige aktivistiese swartes egter “ontdek” Piet se rol is ʼn uiting van rassisme (eggo’s van “blackfacing”). Elke jaar weerklink hul eise dat hy afgeskaf moet word, luider. By die breë bevolking stuit dit op verset.

Een van die aktiviste wat beswaar teen Piet maak, is ʼn televisie-aankondiger wat uit Suriname kom, Sylvana Simons. Simons het onlangs bekend gemaak sy sluit aan by ʼn party wat hom vir die belange van die Turkse Nederlanders wil beywer, met die naam Denk.

Wat Simons na Denk aantrek, weet nugter. Sy is nie van Turkse afkoms nie en ook geen Moslem nie. Bowendien word Denk hier gesien as die Nederlandse propaganda-arm van pres. Reçep Tayyip Erdogan van Turkye, ʼn diktatoriale ultra-nasionalis wat besig is om elke vorm van opposisie in sy land plat te trap.

Op die sosiale media (klink dit bekend?) is daarop ʼn stroom rassistiese, platvloerse vloeke, skeldpartye en verwensinge oor Simons se kop uitgestort. ʼn Mens wil hier nie herhaal wat gesê is nie; dis verskriklik. Selfs die konserwatiewe premier, Mark Rutte, het gesê hy vind dit “walglik”, al stem hy nie met haar saam nie.

Deesdae begin van die swart aktiviste ewenwel – nes in Amerika, Brittanje (en Suid-Afrika) – oor “witheid” debatteer. Alle denkbare en ondenkbare misdade, teenswoordig of in die verlede, word aan “witheid” toegeskryf.

Dit demp nie die gevoelens nie. Luidens navorsing van vyf sosioloë aan die Radbout-Universiteit van Nijmegen, het minder as ʼn kwart van die Nederlanders hulle in ʼn opname van 1985 negatief oor etniese minderhede in die land uitgelaat. In 2012 was dit meer as die helfte. En dit nie, soos ʼn mens sou dink, slegs onder armer, laag opgeleide mense nie, maar ook by rykes en geleerdes.

Die gemak waarmee ʼn mens jou woede via die sosiale media kan uitstort, speel natuurlik ʼn groot rol. Wat vroeër oor ʼn bier of langs die braaivleisvuur gesê is, verskyn nou op Facebook of Twitter.

Hoe dit ookal sy, Suid-Afrikaners moenie dink hul probleme is uniek nie. Selfs in die voorheen, o, so polities korrekte Nederland, kom soortgelyke probleme voor.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Simon ·

Goed vehaal.
Jammer dat ons net lees en niks doen nie.
Ek is wit en heb baie respect vir alle kleure mense. Hulle moet net kanse vat om een lewe op te bouw en nie net kla nie.
Wit mense het Suid Afrika groot en rijk gemaak. Die appartheid was een groot fout om te hebben. Ek vra my net af wat van Suid Afrika gewordt had zonder witte mense.
Suid Afrika se politiek het swart geraak , dit zou goed wees als deze nie corrupt was en nie van sy eige swart sou steel nie.
Die kos wat groei op die land wordt net door wit boere verbou, wat als die land nou gesteel gaan wordt door die swart mense? Hoe gaan hulle kos kry? Suid Afrika salty net arm raak en al die mense sal nie kos he nie.
95 % van die wit mense is nie rassities nie, 95 % van die swart mense is nie rassisties nie, mar die politieke partije maak mense rassisties omdat die regering steel en vooroordele het.
Suid Afrika het nog kanse, raak net nie so als Zimbabwe nie, los de corrupte mense en span saam vir een mooi land. Swart en wit werk same aan een mooie maatskappij laat julle nie verneuk nie

johann cb ·

Kom ons konsentreer eerder op die land waarin ons woon. Ons kan nie almal Nederland toe verkas nie. Ons moet met ons eie Geskiedenis deel en daarmee saamleef. Ons kan nie die verlede uitwis nie, maar wel almal saamstaan en daarop verbeter. Daar is darem maar net één mooie Suid-Afrika!

John ·

Wanneer die anderskleuriges meer as die wit Europeers is, gaan dieselfde gebeure/probleme soos in Suid-Afrika, daar uitspeel. Dis ‘n gegewe. Ons kan idealiseer, sake dissekteer, evalueer en in howe tot in die fynste besonderhede beredeneer. Moeilikheid bly moeilikheid. Party mense kom dit net gouer agter as ander. Europeers en Britte het nog altyd geglo hulle is baie slimmer as die Boere en, sou hulle in soortgelyke situasies beland, hulle dit baie beter sal kan hanteer. Ha… ha!

HEVW ·

Die heel logiese of voorspelbare is dat hierdie “vreemdes” wat Europa intrek drasties in getalle sal vermeerder en al meer politieke seggenskap gaan kry. Die simptome van spanning is reeds daar. Europa in sy dienstigheid teenoor hierdie “vreemdes” is self verantwoordelik daarvoor en die probleem het reeds onstuitbaar geword. Steeds is lande so naief om nog massas te akomodeer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.