Indië begin stem

‘n Senior burger bring haar stem uit deur middel van ‘n posstembrief vir die Lok Sabha-verkiesing by haar woning in Nagaon-distrik, Assam, Indië, op 21 April 2024. (Foto: Anuwar Hazarika/NurPhoto)

Indië, die land met die grootste bevolking ter wêreld, is tans besig met sy landswye verkiesing wat op 19 April begin het. Die verkiesing sal ook verskeie weke strek.

Dit is geen geringe taak nie vir ʼn land met bykans een miljard stemgeregtiges en wat sterk federaal gestruktureer is. Die finale uitslag word eers aan die begin van Junie verwag.

Die huidige eerste minister, Narendra Modi, regeer nou al vir 10 jaar en staan ʼn goeie kans om vir ʼn derde termyn verkies te word. Modi se sukses is gebou op sterk ekonomiese groei en modernisering, aan die een kant, en die uitbou van Hindoe-nasionalisme en van Indië se internasionale status aan die ander kant.

Hy staan vir die Hindoe-nasionalistiese Bharathiya Janata Party (BJP) en het tydens sy bewind die delikate balans tussen die verskillende godsdienste versteur deur talle diskriminerende wette teen die nie-Hindoes in te stel, maar hom steeds as sterk leier wat Indië verenig, voorgehou. Veral die internasionale status van Indië wat toenemend waargeneem word as gelyke sowel teenoor China asook teenoor die Weste, dra tot mnr. Modi se gewildheid by.

Die verhoudinge en dikwelse konflik tussen die meerderheidsgodsdiens van die Hindoes met sowat 80% en die minderheidsgodsdiens van die Moslems met sowat 15% van die bevolking is een van die deurlopende en bepalende temas van Indië se geskiedenis en politiek. Indië bly seker die godsdienstig mees heterogene land op aarde. Dat die land, ten spyte van alle probleme, verdeeldheid, afskeidingsbewegings en konflikte, steeds ʼn eenheid is, bly ʼn klein wonderwerk.

Die grootste opposisieparty is die Kongresparty wat teruggaan op Mohandas (“Mahatma”) Gandhi en waar die Gandhi-familie (wat egter nie nakomelinge van Mohandas Gandhi is nie) steeds ʼn belangrike rol speel. Die Kongresparty se rigting is sekulêr en sosialisties, maar veral is dit ʼn dinastiese party of “familiebesigheid”.

Die huidige leier, Rahul Gandhi, is die seun van Rajif Gandhi, eerste minister van 1984 tot 1989, die kleinseun van Indira Gandhi, eerste minister van 1966 tot 1984, en die agterkleinseun van Jawarharlal Nehru, eerste minister van 1949 tot 1964. Mnr. Gandhi se lang dinastiese lyn is sy enigste aanspraak op roem. Hy beskik oor geen uitvoerende politieke ondervinding nie, terwyl mnr. Modi voor sy tyd as eerste minister reeds ʼn suksesvolle premier van die deelstaat Gujarat was.

Die Kongresparty toon parallelle met die ANC in Suid-Afrika. Dit is die bevrydingsparty wat die onafhanklikheid bereik het en danksy daardie status een verkiesing na die ander wen. Eers in 2014 het die gety duidelik gedraai, met mnr. Modi en die BJP wat sedertdien by die Kongresparty oorgeneem het as die natuurlike party van regering. Dis is nou al Rahul Gandhi se derde poging om eerste minister te word. Daar is al hoe meer stemme wat meen die Kongresparty moet nou met die Gandhi-familie breek en ʼn nuwe koers inslaan.

Mnr. Modi het sy houvas op die mag gebruik om die opposisie op allerhande maniere aan bande te lê. Die Kongresparty poog om teen mnr. Modi se sukses met die boodskap van groter gelykheid, staatlike werkskeppingsprogramme en ʼn welsynstaat aan te gaan, die geykte sosialistiese resep. Die BJP het egter danksy die sterk ekonomiese groei ook die armes se lewensomstandighede verbeter en het boonop ook allerhande maatskaplike skemas.

Verder kan talle kiesers nog die eerder chaotiese jare van die Kongresparty se regering onthou. Interne verdeeldheid en talle weersprekende boodskappe help ook nie. Laastens is mnr. Gandhi ʼn produk van die elite en nie ʼn oortuigende pleitbesorger vir die armes en verontregtes nie, terwyl mnr. Modi hom uit eenvoudige omstandighede opgewerk het.

Behalwe vir die twee groot partye is daar nog ʼn magdom streekspartye en partye vir spesifieke etniese en godsdiensgroepe.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.