Indien sosialisme ons voorland is, wag daar gróót moeilikheid 

Deur Martin van Staden 

Martin van Staden.

Dit word dikwels gesê dat sosialisme mooi lyk op papier, maar onmoontlik is in die praktyk. Laasgenoemde is waar (sosialisme is onmoontlik in die praktyk), maar ek betwyfel eersgenoemde ook. In teorie word daar gesê dat die samelewing alle produksiemetodes saam moet besit en dus saam moet besluit oor produksie. Ag, nee dankie: Hoekom probeer ons nie eerder vryheid nie? Kapitalisme is die enigste ekonomiese ordening wat vryheid respekteer en tot voorspoed lei.

Rynhard van Zijl het ’n interessante artikel oor sosialisme geskryf. Maar sy vertolking van die ideologie is teksboek, en neem bitter min van die realiteit van sosialisme in ag.

Prakties is sosialisme ’n doodloopstraat. Dit is hoekom wanneer sosialisme op groot skaal geïmplementeer word, gaan groot massas mense dood en word massiewe skade aan beide menslike en natuurlike hulpbronne gedoen.

Hoekom werk sosialisme nie (en kán nie werk) in die praktyk nie? Wel, dis nie net sosialisme nie, maar enige ekonomiese ideologie wat op sentrale beplanning gebaseer is. En die rede waarom sentrale beplanning nie kan werk nie, bestaan uit twee woorde: informasie en kennis.

Almal se huishoudings is voorbeelde van sentrale beplanning, en geen kapitalis het hiermee ’n probleem nie. Die broodwinner besit gewoonlik al die bates en maak al die opmerklike besluite in sy/haar gesin. Die ander lede van die gesin eerbiedig die besluite sonder te veel weerstand. Tog, op groot skaal – soos die ekonomiese beleid van ʼn hele land – word die besluite van die sentrale beplanner nie eerbiedig nie. Rokers het tydens die Covid-19-afsondering aanhou rook, ongeag van Ramaphosa en Dlamini Zuma se voorskrifte. En wanneer die voorskrifte se gevolge te erg raak, vlug mense in massas, soos ons gesien het in Oos-Duitsland en die Sowjetunie, en soos ons vandag sien in Noord-Korea, Zimbabwe, Venezuela en Kuba. Hoekom?

Die broodwinner in die huishouding het al die relevante informasie en kennis wat hy/sy benodig om tot doeltreffende gevolgtrekkings en dus besluite te kom. Die broodwinner weet wanneer die melk en eiers op is en vervang moet word. Die broodwinner weet presies wanneer sy/haar kind medisyne nodig het, en hoe dringend dit is.

Die sentrale beplanner in Pretoria het geen, maar géén, idee van wat in die land aangaan nie, buiten baie breë ekonomiese neigings en problematiese temas. Die persoon of raad het nie naastenby genoeg relevante informasie en kennis wat gevolgtrekkings en besluite moet beïnvloed nie. Dus, soos ons in beide die Sowjetunie en in Rooi China voor die kapitalistiese hervormings gesien is, kom daar voedseltekorte voor, want die regering het probeer voorskryf, uit die hoofstad, hoe kos versprei moet word. Hulle het besluite gemaak op die krag van onpersoonlike data en verslae wat glad nie akkurate prentjies van die realiteit op grondvlak weerspieël het nie.

Kapitalisme benader dit anders. In die vryemark word besluite gelaat by die eienaars van privaat eiendom. Die eienaar – soos die broodwinner – het die mees akkurate en relevante informasie en kennis wat betrekking het tot sy eiendom. Die broodwinner win kennis in weens sy liefde vir sy familie. Die besigheidspersoon se kennis spruit uit die behoefte om baie wins te maak. In Suid-Afrika-verband is laasgenoemde baie relevant vir die landboubedryf en die retoriek betreffende onteiening.

Boere, of hulle nou wit, swart, pienk, of blou is, weet nege uit tien keer presies wat op hulle plase aangaan, en hoe om doeltreffend te boer. Ek sal so ver gaan as om te sê dat dit meer belangrik is vir die boer om die grond privaat te besit as om ’n kenner van landbou te wees. Hoekom? Want indien hy die eienaar van die plaas is, is dit vanselfsprekend dat hy ’n landboukenner wil word – hoe anders sal hy ’n sukses van sy boerdery kan maak? Wanneer die boer slegs ’n huurder op staatsgrond is, is die aansporing nie dieselfde nie en die behoefte om ’n suksesvolle boer te wees, veel kleiner.

Kapitalisme se sogenaamde “krisis van oorvloed” het daartoe gelei dat diegene wat nie in absolute armoede verkeer nie, wêreldwyd tussen 1987 (min of meer die tyd toe internasionale sosialisme ’n ineenstorting gehad het) en 2017 verdubbel het. Die ekonoom Jeremy Horpedahl gebruik China om hierdie wonderbaarlike verskynsel te illustreer. Meer as 88% van China se bevolking het in 1981 in absolute armoede geleef. Dit het gedaal na 61% in 1987, 41% in 1999, 15% in 2008, en net 1,85% in 2013. Weer eens: Hoekom?

Voor die 1980’s was Rooi China werklik kommunisties. Ons kan net dink aan die Groot Chinese Hongersnood wat tydens Mao Zedong se “Groot Sprong Vorentoe” plaasgevind het tussen 1959 en 1961. Tussen 15 en 55 miljoen Chinese is dood weens hongersnood omdat die sentrale regering onder meer besluit het om privaat besit van plase te verbied en landbouwerkers van hul plase af te verwyder en na die fabrieke te stuur. Die nasionale prioriteit was staal en yster, en wat ook al die sentrale beplanners (maak nie saak of hulle demokratiese of andersins gekies word nie) besluit het die prioriteit was, moes gehoorsaam word.

Dít is sosialisme.

Ná 1980 het die Chinese regering privaat eiendomsregte begin erken en die ekonomiese vryheid en besluite van ordinêre Chinese te respekteer. Dit het tot drastiese ekonomiese groei gelei en vandag sit ons moet ’n ekonomiese reus in China. Die Suid-Afrikaanse regering wil al die slegte aspekte van Chinese beleid en geskiedenis na-aap, maar wil nie die een ding doen wat honderde miljoene Chinese laat floreer het nie: Die ekonomie bevry!

China is maar een voorbeeld. 2019 se Economic Freedom of the World (EFW) verslag, gepubliseer deur die Kanadese Fraser Institute, toon dat daar in die wêreld waar ekonomiese vryheid gerespekteer word, armoede verminder (as dit nie reeds min is nie). Kapitalisme en voorspoed gaan hand aan hand. Ekonomiese vryheid word gedefinieer as die individu se reg “om vir homself te besluit en om in vrywillige transaksies deel te neem, so lank hy nie ander persone of hul eiendom beskadig nie”. Waar daar ekonomiese vryheid is, besluit gewone mense en besighede – nie sentrale beplanners nie – wat geproduseer word, in watter hoeveelhede, en tot watter standaarde.

Die EFW-verslag toon dat per kapita BBP in die wêreld se vryste markte om en by ses keer hoër (US$36 770 per jaar) is as die per kapita BBP in die wêreld se mees gereguleerde (of sosialistiese) ekonomieë (US$6 140). Van meer belang is hoe die armste van die armstes in die lande klaarkom. Die laagste 10% van inkomsteverdieners in vrye markte verdien omtrent sewe keer meer (US$10 646 per jaar) as diegene wat in dirigiste samelewings werk en woon (US$1 503 per jaar).

Dit is dus baie beter om arm te wees in ’n kapitalistiese land as in ’n sosialistiese land. Dit word jaar ná jaar bewys – in die verlede en ook tans. Mense het nie per ongeluk uit Oos-Duitsland na Wes-Duitsland gevlug nie. Mense vlug nie vandag per ongeluk uit Noord- na Suid-Korea nie. En ons sien niemand wat van Florida na Kuba vlug nie, of van Colombia na Venezuela nie. Sonder uitsondering vlug mense – veral armes – van meer sosialistiese lande na meer kapitalistiese lande. Dit móét vir ons iets sê.

Daar is beslis ’n Rooi Gevaar wêreldwyd – ons moet op ons hoede wees vir waar sosialisme (of enige ander vorm van sentrale beplanning) sy lelike kop uitsteek. Maar ons moet versigtig wees met die uitdrukking Rooi Gevaar. Die Nasionale Party-regering se Rooi Gevaar-narratief van die vorige eeu het min met werklike sentrale beplanning te doen gehad. Die definisie van kommunisme in die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme van 1950 was so breed dat dit prakties beteken het dat as die minister gedink het jy was ’n kommunis, dan wás jy ’n kommunis.

Waar in die werklikheid sosialisme en kommunisme (altans in daardie jare) veral met die ekonomie te doen gehad het, het die wetlike definisie meer gehandel oor opposisie teen apartheid en die beleid van die regering. Dus was dit moontlik vir kapitalistiese klassieke liberaliste om as kommuniste bestempel te word, slegs omdat hulle (korrek) gedink het dat die regering nie verhoudings tussen vreedsame mense sentraal moet beplan nie.

In 2018 het ek oor onteiening sonder vergoeding só oor Venezuela se sosialistiese tirannie geskryf:

“Meer as 15 persent van Venezolane het hul land verlaat. Mense eet hul troeteldiere en steel diere by dieretuine om aan die lewe te bly. Ses kinders gaan per dag aan hongersnood dood. Nege uit tien Venezolane het nie geld vir kos nie, en ses uit tien het ten minste 11 kg van hul liggaamsgewig verloor.”

Dit was nie altyd so nie. Venezuela was ’n middelklas land tot die sosialis Hugo Chávez tot mag verkies is. Dit was die begin van die einde.

’n Werklike Rooi Gevaar bestaan, en ons moet dit bestry. Nie een van ons wil in Suid-Afrika hê wat die mense van Venezuela vandag ervaar nie.

Ek was self in my jonger dae ’n sosialis. Maar in ’n stadium het ek myself gevra, watse reg het ek om jou lewe vir jou in te rig volgens my voorkeure? Waar kom hierdie reg vandaan? Ek kon nie die vraag beantwoord nie, en kan steeds nie. Mense is nie gebore met ’n reg om vir mekaar te dikteer nie, maar ons is wel gebore met die reg om óf “ja” óf (meer belangrik) “nee” te sê, en sosialiste wil hierdie belangrike reg ondermyn. Ons dink elkeen dat ons van beter weet, maar ons moet liewers mekaar se individuele vryheid (en veral ekonomiese vryheid) respekteer, indien ons voorspoed in Suid-Afrika en elders wil sien.

  • Martin van Staden is hoof van regsbeleid en regsnavorsing by die Vryemarkstigting. Hy het ’n meestersgraad in regte (cum laude) aan die Universiteit van Pretoria. Volg hom op Twitter en Facebook.  

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eltan

Uitstekend gestel die artikel..

Sênet

Ek wens net almal wil die gevare sien voor dit te laat is, maar dit lyk nie of dit gaan gebeur nie. Hoop net dit gebeur voor dit te laat is

Leendert

Die laaste paragraaf beklink jou argument. Die voorafgaande is bewyse wat gelewer word oor hoekom sosialisme nie werk nie of ‘n kans op sukses het nie. Dit gaan egter bitter moeilike wees om die logika van die laaste paragraaf te troef. Baie goed gedoen – die logika is fyn verweefd in jou argument.

Jacques

Sosialisme bepaal nie hoeveel almal het nie, maar hoe min. Sosialisme werk nie, sosialiste ook nie.

Erika

Niemand het kan die reg vir hulle self toe ein om vir jou te beveel hoe jy behoort te leef nie op hulle terme nie.