Inenting is nie debatteerbaar

hond-troeteldiere-dieregesondheid

Mediese versorging van jou troeteldier (wanneer nodig), sterilisasie en inentings is ʼn moet as jy ʼn goeie troeteldiereienaar wil wees. Foto: Pixabay/Pexels.com

Deur dr. Elizna Boag van Afrivet

Die teeninentingsbeweging is veel meer as ʼn gesondheidsrisiko vir mense. Dit spoel oor na dieregesondheid en die skadelike gevolge geld vir sowel diere (veral troeteldiere) as mense.

Daar is min dinge wat so opwindend is as die aanskaf van ʼn nuwe katjie of hondjie. Maar hiermee saam kom ʼn groot verantwoordelikheid wat meer behels as kos, ʼn warm slaapplek en baie drukkies. Mediese versorging van jou troeteldier (wanneer nodig), sterilisasie en inentings is ʼn moet as jy ʼn goeie troeteldiereienaar wil wees.

Inenting by mense het reeds die gevreesde pokke en polio uitgewis – albei dodelike siektes wat in die verlede duisende sterftes en gestremdhede veroorsaak het. Masels het wel noemenswaardig afgeneem, maar begin nou weer kop uitsteek weens die teeninentingsbeweging. Verskeie ander potensieel dodelike siektes, soos meningokokkale meningitis (bakteriese infeksie van die breinvlies) kan heeltemal deur inenting voorkom word – waarom dan nog huiwer?

Beskerm jou troeteldier

Nes die mens is ons troeteldiere vatbaar vir verskeie ernstige en selfs dodelike siektes, soos rabies (hondsdolheid), distemper (hondesiekte) en die parvovirus (katgriep).

In teenstelling met wat negatiewe publisiteit wil voorgee, bly inenting steeds die enkel en mees effektiewe metode om gesonde diere teen sulke siektes te beskerm, veral met betrekking tot bogenoemde virussiektes waarvoor geen effektiewe behandeling bestaan nie. Dit is werklik ʼn geval van voorsorg is beter as nasorg.

Inenting gee jou troeteldier se immuunstelsel die kans om teenliggame te ontwikkel, wat noodsaaklik is om die regte virus af te weer indien die liggaam daarmee in aanraking kom. Om die ontwikkeling van teenliggame te optimaliseer, is dit verkieslik dat diere gesond is en reeds ʼn sterk immuunstelsel het wanneer hulle ingeënt word.

Vir optimale beskerming het babahondjies drie aanvanklike inentings nodig en katjies twee. Sekere inentings gaan gepaard met skraagdosisse of opvolginentings. Babahondjies behoort ingeënt te word op ses, nege en twaalf weke oud en klein katjies op nege en twaalf weke.

Inenting teen rabies word op 12 weke gedoen met ʼn skraagdosis een maand later en daarna jaarliks. Dit is verkieslik dat slegs ʼn dierearts of diereverpleegster die inentings toedien.

Dit neem ongeveer 14 dae ná die inenting voordat jou toeterdier ten volle beskerm is. Gedurende hierdie tydgleuf is jou troeteldier baie vatbaar vir virusse en moet jy ekstra versigtig wees dat jou troeteldier nie met vreemde diere in aanraking kom nie.

Onthou dat inenting nie ʼn dier wat reeds siek is, kan gesond maak nie – die hele doel met inenting is om die siekte(s) te voorkom.

Is daar enige risiko’s?

Die meeste troeteldiere ondervind geen newe-effekte ná inentings nie. Slegs ʼn klein aantal diere mag dalk koorsig word en hul aptyt verloor, maar hierdie reaksies is gering en verdwyn gou.

In uitsonderlike gevalle kan dit gebeur dat ʼn dier ʼn hewige, selfs lewensgevaarlike, allergiese reaksie ondervind, maar gelukkig kan dit behandel word indien onmiddellik opgetree word. Onthou, die moontlikheid van ʼn allergiese reaksie is nie genoeg rede om jou troeteldiere nie te laat inent nie en sal hulle vatbaar maak vir siektes waarvan hulle waarskynlik sal doodgaan. Só ʼn allergiese reaksie gebeur gewoonlik bitter gou ná die inenting en kan onmiddellik behandel word sonder enige blywende nagevolge.

Teen watter siektes word daar in Suid-Afrika ingeënt?

Diere-inentings word in twee groepe verdeel, naamlik noodsaaklike en nie-noodsaaklike inentings.

Alle diere in alle streke behoort eersgenoemde inentings te kry aangesien dit beskerming bied teen siektes wat wydverspreid voorkom en ernstige nagevolge het. Nie-noodsaaklike inentings word slegs toegedien wanneer ʼn spesifieke siekte in ʼn sekere gebied uitbreek of wanneer daar verwag word dat dit sal uitbreek.

Noodsaaklike inentings vir honde:

  • parvovirale buikloop
  • rabies
  • distemper by honde (hondesiekte)
  • die adenovirus by honde (infeksie van die boonste lugweë).

Nie-noodsaaklike inentings vir honde:

  • leptospirose (aansteeklike bakteriese infeksie wat niere en ander organe aantas)
  • adenovirus‑infeksie, ook bekend as hondehokhoes (kennel cough)
  • die koronavirus by honde (dermkanaalontsteking)
  • hondeherpesvirus (virusinfeksie soortgelyk aan die menslike virus wat koorsblare veroorsaak)

Noodsaaklike inentings vir katte:

  • panleukopenia (katteversteuring)
  • katteherpesvirus(virusinfeksie soortgelyk aan die menslike virus wat koorsblare veroorsaak)
  • calici-virusinfeksie (minder ernstige vorm van katgriep)
  • rabies

Nie-noodsaaklike inentings vir katte

  • katte-leukemie
  • immuniteitsgebreksvirus by katte

Rabies is ʼn soönotiese siekte, met ander woorde mense kan by diere aansteek. Dit is ook fataal en veroorsaak ʼn verskriklike dood. Die oomblik wanneer die simptome begin wys, is daar geen genesing nie en sowel diere as mense sterf daaraan. Dit is dus nie vreemd dat jy in Suid-Afrika verplig word om jou troeteldiere teen rabies (hondsdolheid) te laat inent nie aangesien dit die enigste manier is om dit te voorkom en die rabies-epidemie waaraan 18 Suid-Afrikaners oor die afgelope 12 maande onnodig gesterf het, te beheer.

Parvo tas die spysverteringstelsel van honde aan deur die selle wat die dermwand voer, te vernietig. Akute en bloedige diarree, gepaardgaande met naarheid en ander simptome, verskyn. Om parvo te behandel, is ʼn uitgerekte en duur proses wat geïsoleerde hospitalisasie en intensiewe sorg behels, sonder dat dit die troeteldier se oorlewing kan waarborg.

Distemper (hondesiekte) is ʼn neurologiese siekte met ʼn oorlewingsyfer van slegs 20% by babahondjies.

Neem jou diere vir hul inentings – nie slegs vir jou eie beswil nie, maar ook vir hulle sʼn. Wees eerder proaktief as reaktief!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

7 Kommentare

Lizl ·

Ek ent self my honde, koop die entsof by die vearts en spuit hulle by die huis. Baie goedkoper en ook geen risiko van blootstelling aan siektes by vearts se ontvangs nie, en wat baie min mense weet is dat as jy ent, moet jy nie op dieselfde dag ontwurm nie, wag ten minste vir `n week. Anders beteken daardie entstof niks.

koos ·

Kruvet in Pta. 5 in 1 met spuit vir sowat R70.00. Neem net asb ‘n koelsakkie of box saam, die een moet koud bly. Onthou ook asb dat om self te spuit vervang nie jou dier se jaarlikse besoek nie.
En nee ek is ‘n veearts of werknemer van een nie.

benaYaHU ·

Wel dr. Boag, gaan gerus voort met diere-inenting; as dit egter kom by menslike inenting, staan ek VERSEKER aan die kant van die ‘teeninentingsbeweging!’
Ek het oor ‘n geruime tyd my eie huiswerk gedoen, en raai ieder & elk aan om vir hulself navorsing te doen en nie enige propaganda te glo & s.g. ‘professionele’ menings bloot te aanvaar nie. Al ooit nagedink waarom diegene wat hulself laat inent deurlopend sieker is dan die wat daarteen standpunt inneem, of waarom diegene wat pro-inenting is, skynbaar ‘n ‘probleem’ (byna ‘n vrees/woede) het met diegene wat inenting teenstaan.. is hulle dan nie diegene wat veronderstel is om reeds ‘n ‘teenmiddel’ te ontvang het nie?
Sien die agenda vir wat dit is..

Mog-het-troffe ·

Ons familie het voorheen voor die winter voorkomende griepinspuitings geneem maar almal was daarna baie siek met griep, Die afgelope twee winters neem ons geen griepinspuitings meer nie en nie een van ons was daarna siek met griep nie. Geen griepinspuitings meer vir ons nie.

Cherokee ·

Ek het ‘n griepinspuiting gehad en eergister het die griep my getroffe. Ek dink egter dat dit ‘n baie ligter graad is as wat vele ander mense ervaar.

Jacques ·

Die “Groot Pharma” industrie kan nie vertrou word nie. Wetenskaplikes het reeds bewys dat griepinspuitings juis gebruik word om die virusse onder die populasies te versprei. Hoe meer mense griepinspuitings kry, hoe meer mense word siek. As ek reg onthou stel iemand wat die inspuiting gehad het iets soos 630% meer virusse in die lug vry as iemand wat nie die inspuiting gehad het nie. Griepinspuitings werk nie, omdat dit nie veronderstel is om te werk nie, dis verondertel om baie, baie shekels in te bring vir Groot Parma.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.