Ingeperkte Suid-Afrika: ’n Karakterkrisis

ernst-van-zyl

Ernst van Zyl. Foto: Verskaf.

John F. Kennedy het eenkeer opgemerk, “Die Chinese gebruik twee kwashale om die woord “krisis” te skryf. Een kwashaal beteken gevaar; die ander een geleentheid. In ’n krisis, wees bewus van die gevaar – maar besef die geleentheid.”

Afgesien van die ironie van die Chinees in hierdie aanhaling, ek is ook sterk oortuig dat krisistye tot ’n magdom nuwe geleenthede lei. Een so ’n seldsame geleentheid, reken ek, is om te let op die ware karakter van die mense na aan jou, van diegene wat gedurig die aandag trek en van diegene in magsposisies.

Een so ’n geleentheid is om te kyk wie deelneem aan die skielik gewilde nasionale aktiwiteit van klikbek speel. Party van ons landgenote se ware karakter word ooglopend onthul deur hul klaarblyklike gretigheid om diegene wat hulle sien die inperkingsreëls verbreek, luidkeels en openlik te noem en te verdoem. Om voor die owerhede in die stof te kruip, is blykbaar ’n noodsaaklike diens in Suid-Afrika, hoe onbenullig die misdryf ook al is. Hierdie spiedende oë en ore van die staat wissel van gewone burgers tot wyksraadslede en selfs joernaliste. As die toepassing van die inperkingsreëls hul enigste dryfveer was, sou sulke aanmeldings heel waarskynlik anoniem gedoen gewees het, maar dit blyk dat daar ’n dieper sielkundige element ter sprake is.

Om die “oortreders” luid en trots in die aanlyn openbare ruimte te onthul, is blykbaar die inperkingsvariant van’n deugsein stuur – ’n verskynsel waar ’n individu ’n plasing op sosiale media doen met die primêre doel om sy deugdelike aard aan sy gemeenskap of die wêreld uit te basuin. Namate die inperking al hoe intenser word, het hierdie praktyk gegroei tot ’n behoefte om jou gehoorsaamheid en toegewydheid aan die inperking te kenne te gee deur nienakoming heldhaftig te onthul tot “almal se beswil”.

In 1971 is daar by die Stanford Universiteit ’n beroemde sosialesielkunde-eksperiment uitgevoer om die sielkundige invloede van vermeende mag op menslike gedrag te ondersoek. In die studie is studentevrywilligers (deur ’n muntstuk in die lug te gooi) aangewys om óf wagte óf gevangenes te wees in ’n skyngevangenis. Die studentevrywilligers het hul toegewese rolle gou aanvaar. Party “wagte” het so meegevoer geraak deur hul magsposisies dat hulle outoritêre maatreëls genadeloos opgedwing het en sommige van hul “gevangene”-klasmaats later selfs aan sielkundige marteling onderwerp het. Baie “gevangenes” het hierdie sielkundige mishandeling passief aanvaar en later, op versoek van die “wagte”, ander “gevangenes” wat die mishandeling wou beëindig, daadwerklik geteister. Verskeie “gevangenes” het egter halfpad deur die eksperiment botweg geweier om voort te gaan, en die eksperiment is ná net ses dae laat vaar.

In 2020 het die Nieu-Seelandse polisie ’n webwerf geskep waar burgers diegene wat die inperkingsreëls oortree, kon aanmeld. Nieu-Seelanders was so gretig om hul oortredende bure aan te meld, dat hierdie webwerf ná ’n kort rukkie gevries het. Die Stanford-gevangeniseksperiment en die Nieu-Seelandse geval gee vir ons insae in ’n donker hoekie van ons psige. Die gedrag van die klikbekke of impimpi’s wat tydens die inperking merkbaar word, toon ’n onheilspellende ooreenstemming met eersgenoemde geval.

In ’n land soos Suid-Afrika, met ’n ontstellend lae vlak van samelewingsvertrouekapitaal, kan hierdie nare klikbekkultuur wat tydens die inperking sy kop uitgesteek het, die land se reeds brose maatskaplike weefsel net verder beskadig.

“Moenie jou naaste vertrou nie,” pas immers nie so mooi by die ANC se populêre nasiebou-slagspreuk nie, of hoe?

In nog ’n geval van karakteronthulling beskou talle ideologies besete individue die Covid-19-krisis as ’n ideale geleentheid om ’n klasoorlognarratief te bevorder deur die rykes die skuld te gee dat hulle die virus na Suid-Afrika gebring het. Een so ’n meningstuk het die volgende giftige inleiding: “Die koronavirus, wat Suid-Afrika binnegekom het deur ryk mense wat van skivakansies in Europa terugkeer, begin nou deursypel na [arm] gemeenskappe van waar dit waarskynlik vinnig sal versprei.”

Dit lyk my hulle deel die sentiment van Winston Churchill toe hy gesê het, “Moet nooit ’n goeie krisis verspil nie.”

Ook minister Bheki Cele se opmerking dat hy sal wil hê dat die verbod op die verkoop van alkohol ook ná die inperking toegepas word, is onthullend. Dis ’n baie kortsigtige en skadelike stelling. Net ’n herstellende alkoholis sal moontlik sulke moreel geregverdigde verontwaardiging teenoor selfs matige en verantwoordelike alkoholverbruik toon. Ongelukkig is dit net een van talle voorbeelde waar die ANC sy gesagshand oorspeel in die naam van krisisbeheer. Deur dit gereeld te doen, onthul hulle onwetend hul verskuilde outoritêre benadering sodat almal dit kan sien.

Soos ek aan die begin gesê het, kom mense se ware aard tydens ’n krisis na vore. Toe AfriForum die rasgebaseerde kriteria van die voorgestelde Toerismenoodfonds bevraagteken, het die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, sonder ’n sweem van selfbewustheid opgemerk dat die noodfonds deur SEB-wette gelei sal word, nie deur velkleur nie. Dit is ontstellend dat die ANC-regering steeds ’n rasgebaseerde ideologiese agenda nastreef, 26 jaar nadat hulle hul verbintenis tot ’n nierassige samelewing verklaar het. Die onversetlike aandrang daarop in ’n krisistyd, soos ons nou sien, is niks anders as skandalig en immoreel nie. Dit blyk dat selfs ’n internasionale krisis nie genoeg is om ’n party wat dronk is van rasgebaseerde ideologie, tot nugterheid te dwing nie.

Toe AfriForum sy ware aard toon deur duisende bottels handreiniger aan polisiestasies te oorhandig, is hierdie gebaar begroet met nog ’n karakteronthulling, maar van ’n ander soort – genl.-maj. Patricia Rampota van die Gautengse provinsiale polisiekantoor, het polisiestasies gelas om hierdie gegewe perd in die bek te kyk en AfriForum se skenking van handreiniger van die hand te wys.

Gelukkig is nie alle karakteronthullings in hierdie tyd negatief of kwaadwillig van aard nie. Die Solidariteit Beweging (moenie dit met die regering se Solidarity Fund verwar nie) het ’n noodfonds gestig om soveel behoeftiges as moontlik tydens en ná die Covid-19-krisis te ondersteun. Hierdie noodfonds het tot dusver al meer as R6 miljoen uit skenkings van die publiek ingesamel.

Onthou die karaktereienskappe van diegene rondom ons tydens hierdie krisis, en onthou ook hoe gretig en kragdadig die regering en/of individue die geleenthede wat oor hul pad kom vir mag aangryp. Let ook op watter van die krisisse en knellende vraagstukke van voor Covid-19, waarvan Suid-Afrikaanse sosiale media en koerante voorheen oorgeloop het, nou wonderbaarlik verdwyn het soos oggendmis ná ’n nuwe daeraad. Hopelik sal dit lei tot nugtere nadenke onder Suid-Afrikaners oor die ware aard en omvang van enige toekomstige krisis, en ook om te onderskei tussen kwessies wat werklik van belang is en dié wat bloot politieke speletjies is – vol geraas en geblaas, maar dit beteken niks en stel niks reg nie.

Dit is besonder bemoedigend om te sien dat baie Suid-Afrikaners die afsonderingstydperk produktief gebruik om hulself te verbeter, byvoorbeeld deur basiese kosmaakvaardighede aan te leer, te lees, te skryf, musiek te maak, te oefen, en dies meer. Aangesien hierdie krisis reeds die ware karakter van baie van ons landgenote onthul het, moedig ek almal aan om die moue op te rol en seker te maak hul beste eienskappe kom na vore tydens hierdie uitdagende, maar tog interessante tyd. Per slot van rekening, as jou optrede dalk in ’n geskiedenisboek aangeteken gaan word, hoekom dan die risiko loop om jou swakste kant te verewig?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

david ·

Goed geskryf Ernst.! Maar dit wil vir my lyk dat die “klikbekke” maar net ‘n reinkarnasie van die Tweede vyheidsoorlog se Joiners is.

Jacobus ·

Lekker om iets nugter te sien sonder die “fake” insette. Dit stuasie toets ook mý katakter. Die swak hantering van die hele saak irriteer my só dat ek ook buite my geaardheid reageer op alles. Die ANC en Covid19 is ‘n fatale mengsel en vir die eerste keer raak ek vreesbevange.

Marius ·

Dankie Ernst vir hierdie kleurvolle beskouiing van die grendelgreep vanuit ‘n ander invalshoek. Die selfsugtigheid en valsheid van die mens lei meestal tot rykdom en vooruitgang maar ook tot verkoop van siel en weggooi van goeie naam. Dankie vir jou bydrae tot die grendelgreepdebat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.