Inklusiewe onderwys in Suid-Afrika: Is daar hoop?

doof-dowe-seun-gehoorapparaat

Foto: Netmums.com

Deur dr. Marinda Uys, die hoof van Eduplex se opleidingsinstituut

Ben is 6 maande oud. Sy mamma het agtergekom dat hy nie op klanke reageer nie. Sy het Ben vir ’n gehoortoets geneem en haar bekommernis is bevestig – Ben het ’n ernstige gehoorverlies in albei sy ore. Sal Ben ooit kan hoor? Sal hy kan praat? Sal hy na ’n gewone skool toe kan gaan?**

Die laaste vraag is seker een van die vrae waarmee meeste mediese persone deur ouers van kinders met spesiale behoeftes gekonfronteer word. Die antwoord op hierdie vraag is egter nie so eenvoudig nie. Alhoewel ’n kind se vermoë om in ’n hoofstroomskool te funksioneer van verskeie faktore afhang, maak die Suid-Afrikaanse Departement van Onderwys wel voorsiening vir die insluiting van kinders met spesiale behoeftes in hoofstroomskole deur inklusie. Maar vind inklusiewe onderwys in Suid-Afrika werklik plaas?

Wanneer daar van inklusiewe onderwys gepraat word, is dit belangrik dat die term reg verstaan word. Kortom, inklusiewe onderwys is om ’n leeromgewing te skep waarin alle leerders kan leer. Dit beteken dat alle kinders met hulle sterk- of swakpunte en gestremdhede, in gewone klasse in hul plaaslike skole opgeneem moet word.

Inklusiewe onderwys word baie algemeen met integrasie verwar. Baie skole is van mening dat hulle ’n inklusiewe onderwysbenadering volg, maar eintlik is dit net integrasie wat plaasvind. Met integrasie word ’n leerder met spesiale behoeftes in ’n skool geplaas en daar word van die leerder verwag om aan te pas by die vereistes van die skool. Hoewel daar gefokus word op die spesiale behoeftes van die leerder, word daar gepoog om die leerder te verander sodat hy/sy inpas by die bestaande skolestelsel. Inklusie, aan die ander kant, poog om die onderwysstelsel aan te pas sodat dit aan die spesiale behoeftes van die leerder voldoen. Dit fokus verder daarop om kennis, gedrag en vaardighede te verander en ondersteuning van onderwysers, ouers en die skoolgemeenskap as geheel te verkry.

In 2001 het Suid-Afrika se Witskrif 6 verskyn, wat fokus op spesiale opleidingsbehoeftes en hoe om ’n inklusiewe opleidingstelsel daar te stel. Hierdie Witskrif dui aan dat die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel teen 2021 getransformeer sal wees in een geïntegreerde stelsel wat gelykheid en kwaliteit sal bevorder en nie meer sal bestaan uit sogenaamde spesiale en hoofstroomskole nie. Hierdie beleid impliseer egter daadwerklike veranderinge, professionele langtermynontwikkeling asook die opleiding van onderwysers – dis hier waar die uitdagings in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel inkom.

Die Suid-Afrikaanse Departement van Onderwys het die afgelope 20 jaar baie gefokus op die verandering van die onderwyskurrikulum en daar is dus nie werklik aanpassings gemaak om inklusiewe onderwys te bevorder nie. Meeste skole in Suid-Afrika is nie gerat vir inklusiewe onderrig nie. Redes hiervoor sluit in: onvoldoende fasiliteite en infrastruktuur, onvoldoende kennis en vaardighede van onderwysers, te veel leerlinge in ’n klas, ’n gebrek aan deelname en besluitneming in skole en ’n gebrek aan ondersteuning van onderwysers.

Hoewel dit duidelik is dat alle Suid-Afrikaanse skole nie teen 2021 ’n inklusiewe onderwysbeleid gaan toepas nie, is dit belangrik om dit steeds na te streef aangesien inklusiewe onderwys kan verseker dat leerders met spesiale behoeftes kennis en vaardighede kan leer sodat hulle sosiaal en ekonomies onafhanklik kan wees.

Hoewel baie meer dus gedoen sal moet word om inklusiewe onderwys in alle skole ’n werklikheid te maak, is daar wel hoop vir ouers met kinders met spesiale behoeftes. Daar bestaan wetgewing vir kinders met spesiale behoeftes om by hoofstroomskole in te skakel. Verder het die Departement van Onderwys toegewyde spesialis-ondersteuningspersoneel aangestel om inklusie te bevorder, fondse is nou beskikbaar vir opleiding van onderwysers en in sommige gevalle word tegnologiese hulpmiddels aan skole beskikbaar gestel. Al hoe meer privaat instansies fokus ook op opleiding van onderwysers en die verskaffing van tegnologiese hulpmiddels. Een so ’n voorbeeld is die Eduplex-skool in Pretoria.

Eduplex is ’n internasionale model vir inklusiewe onderrig van leerders met gehoorverlies, waar hierdie kinders inskakel in ’n hoofstroomskool tussen ander normaal horende kinders. Eduplex se insluitingsmodel is ontwikkel en verfyn oor ’n periode van 17 jaar en hulle lewer tans praktiese, raadgewende dienste aan ander hoofstroomskole oor inklusie.

By Eduplex word verskeie aanpassings gemaak vir kinders met gehoorverlies. Dit verg baie toewyding van leerders, ouers, onderwysers en terapeute. Die resultaat is egter suksesverhale van kinders met gehoorverlies wat met die hulp van die regte tegnologie kan hoor, leer om te praat, suksesvol in ’n hoofstroomskool funksioneer en selfs matriek met universiteitsvrystelling slaag sodat hulle as sosiaal en ekonomies onafhanklike volwassenes kan funksioneer.

** Fiktiewe geval. Inklusiewe onderwys is op enige gestremdheid of spesiale behoefte van toepassing en daar is bloot in hierdie stuk gefokus op gehoorverlies aangesien dit die spesifieke gestemdheid is waarmee die skrywer bekend is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Nita ·

Inklusiewe onderrig grootste nonsens ooit veral as jy sit met 40tot70 kinders in n klas. Spesiale klasse is ook weggeneem uit skole. Nog n onding. Daar is leerders wat spesiale onderrig nodig het.

Leonard van der Dussen ·

Inklusiewe onderwys het sy plek, maar mits dit met nugterheid toegepas word. Daar is kinders wat pragtig ontwikkel en baat by gespesialiseerde onderwys.

Oor die algemeen is die verdwyning van spesiale klasse uit die openbare skole ‘n hartseer saak, want dit ontneem die kinders wat ‘n tydjie se oorbrugging en aandag nodig het, van geleenthede. En hier moet ongelukkig ‘n vraag ook aan die christelik-Afrikaanse skole, soos hier in Centurion, met die stringe prestasies en goeie onderwys (en dis regtig so!) gevra word of daar nog plek oorbly en gemaak word vir daardie kinders wat ‘n rukkie se spesiale aandag nodig het en ook deel is van ons. Want dit wil lyk of daardie rol van opvang en regmaak maar aan die klein privaatskole oorgelaat word, wat dit dikwels doen, maar bo-op die finansiële las van nie staatsfasiliteite te hê nie, nie die getalle te hê om die rekeninge te betaal nie, moet doen. Dalk is van die christelik-Afrikaanse skole bereid om so bietjie selfondersoek te doen of die prestasies en “pragtige skool” nie dalk net te ver gaan en die liefde nie meer daar is nie?

Disselboom ·

Onderwys vir diegene wat dit moeiliker het, is belangrike saak. Dink nie juis mens kan hiervoor op die regering staatmaak nie, en een van vele sake waar dit tog wil lyk of dit nodiger en nodiger word om laer te trek en vir jou eie mense te begin voorsiening maak.

Melanie ·

Inklusiewe onderrig is nie die oplossing vir gehoorgestremdes nie. My seun dra apparate en die destydse laerskool se hoof was baie ontsteld toe ons seun uit die skool gehaal en na ‘n spesiale skool geneem is. My seun het dadelik daar aangepas. Ongelukkig ontferm baie van die ouers hulle glad nie, of baie min oor sulke kinders.

Catherine ·

Was a teacher of learners with special needs for years. It works!!! Children in main stream education get ostracized,they feel insecure etc etc. Was a very sad day when they took away special classes

klip in die bos ·

Inklusiewe onderwys soos wat die regering dit wil toe gepas is polities korrek, maar opvoekundig totaal onverantwoordelik.

1+1 ·

Inklusiewe onderwys ontneem leerlinge van gespesialiseerde onderwys. As ouers met kinders wat gespesialiseerde onderwys nodig het deur die Dept in hoofstroom geplaas word, moet Hof toe. U kind se regte word geskend. Dit is ook opvoedkundig onverantwoordbaar.

Anel ·

Jare terug was daar ook ‘n seun wat gehoor gestrem was saam met my kinders op skool. Hy het aparaat gedra en onserwysers het in mikrofoon gepraat. Hy het homself ook leer liplees. Hy is ook universiteit toe en het gekwalifiseer. Vandag is hy ‘n goed aan gepaste man in die samelewing. As jy nie weet hy het ‘n gehoorprobleem nie sal jy dit nie agterkom nie.
So ook kinders wat op ‘n manier liggaamlik gestrem is. Daar is niks fout met hulle verstand nie maar noy moet hulle na spesiale skole gaan. Maak voorsiening vir sulke jongmense. Hulle het ook kans in die lewe nodig en styg baie keer uit. Ons jongmense is belangrik. So ook die beste opvoeding. Dis ons eerste prioriteit.

DC ·

Min mense besef die realiteit van gestremde kind in die huis. Die daaglikse kommer oor die pad vorentoe. Gebrekkige fasiliteite en hoe mens finansieel uitgebyt word. Jy doen jou kind en die stelsel n onreg aan want amper niks werk deesdae nie. Ons volg die benadering dat die gesin n primer verantwoordelikheid het tot ondersteuning en werkers n addisionele verpligtinge het tot hulp. Maar aan die end vd dag is moeder die een wat alles by mekaar hou. Ek salueer my vrou en die talle mammas wat met soveel liefde na hul gestremde kinders omsien in n wereld waar min ander werklik omgee.

Annette ·

Hoekom word gehoor gestremdheid meer as enige gestremdheid veroordeel en op gepik? Hoekom moet juis hulle so geboelie word op skool en baie nog later in hul lewe ook?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.