Inligting in die 2020’s: ’n Era van alternatiewe

Deur Ernst van Zyl

Foto: Pixabay

Ons leef in ’n tyd waarin nuwe terme en konsepte die diskoers blitsvinnig binnedring. Een van dié terme wat die afgelope paar jaar al hoe algemener geword het, is “alternatiewe media”. As jy enigsins na podsendings of YouTube-video’s van ’n politieke of nuusverwante aard luister, het jy heel waarskynlik al die begrip “alternatiewe media” teëgekom. As verbruiker van dié tipes moderne media is jy inderdaad besig om die alternatiewe medialandskap te trotseer en te verken – sonder dat jy dit dalk self besef.

Alternatiewe media verskil van die gevestigde, hoofstroom of dominante soorte media ten opsigte van die inhoud, produksie en/of verspreiding daarvan. Alternatiewe media neem baie vorms aan: Dit sluit gedrukte, klank-, video- en ander internetgebaseerde mediums in. Enkele voorbeelde hiervan is politieke kommentators op YouTube, podsendings, onafhanklike joernalistieke webtuistes en burgerlike vryskutverslaggewers.

Oor die algemeen verteenwoordig hoofstroommassamedia regerings- of korporatiewe belange, terwyl alternatiewe media meer geneig is om die belange te bepleit van niekommersiële projekte, belange en organisasies wat van die hoofstroom uitgesluit is. Voorbeelde van dié randeiers van die samelewing is kulturele en etniese minderhede, onafhanklike denkers wat deur die hoofstroommedia as omstrede geag word, politieke andersdenkendes wat van die heersende tydgees verskil, asook diegene wat gemoeid is met kwessies wat deur die hoofstroommedia en politici geïgnoreer word. Alternatiewe media is in die algemeen geneig om die heersende oortuigings en sienings (narratief) van ’n samelewing uit te daag en dien dikwels as ’n teenwig vir die meerderheidsgevoel in die medialandskap.

Alternatiewe media is ook redelik uniek in die wyse waarop hierdie mediaplatforms en persoonlikhede met hul luisteraars of lesers kommunikeer en interaksie bedryf. Terwyl die hoofstroomnuusleser ver van die gehoor verwyder is, is die alternatiewe mediapersoonlikheid aktief deel van die gehoor in kommentaarafdelings of op sosialemediaplatforms. ’n Baie meer persoonlike en menslike verhouding ontwikkel dus tussen alternatiewe mediafigure en hul gehore. Dié intieme interaksie stel hulle in staat om waardevolle terugvoering in ag te neem om hul platforms of programme te verbeter, te slyp of aan te pas. Alternatiewe mediapersoonlikhede het dus algemeen gesproke hul vingers veel fyner op die pols van die gehoor as hul hoofstroomeweknieë.

Daar is ook ’n sielkundige invalshoek tot hierdie moderne mediaverskynsel. Ek reken dat baie verbruikers die beeld van die gepoetste nuusleser stadig maar seker in hul onderbewussyn begin assosieer met misleidende inligting of fopnuus wat boonop ’n politieke of korporatiewe agenda bevorder. Dié skeptisisme is natuurlik grootliks te wyte aan die internet wat mense in staat gestel het om die hoofstroomnuusmedia se feite meer deeglik as ooit te vore te ondersoek en te verifieer. Die talle stories wat deur selfondersoek as vals nuus ontbloot is, het ’n wantroue in hoofstroommedia onder lesers en luisteraars begin kweek. Dié ontnugterdes, wat nog steeds honger is vir nuusontleding en verslaggewing, het gevolglik op meer onortodokse plekke vir betroubare inligting gaan soek. Baie van hulle het tydens hierdie soeke alternatiewe mediabronne ontdek.

Die algemene YouTuber wat politieke of nuusontledings doen, is gewoonlik die visuele inversie van die hoofstroomnuusaanbieder. Waar laasgenoemde tradisioneel duur klere dra en in blink ateljees die nuus van elektroniese draaiboeke aflees, sit nuus-YouTubers in hul T-hemde en jeans en gesels informeel en spontaan met hul gehore deur goedkoop mikrofone en kameras. Ontnugterde luisteraars of lesers vind hierdie laasgenoemde beeld juis verfrissend; dit skep selfs vir hulle ’n beeld van geloofwaardigheid, aangesien die persoon op die skerm baie meer lyk soos iemand wat hulle ken, vergeleke met die deftige nuusleser.

In die verlede het baie kenners geglo dat Jan Alleman nie oor die aandagspan beskik om na langformaatgesprekke of -debatte te luister nie. Die internet-era het hulle egter lelik verkeerd bewys. Baie wêreldlande spog vandag met ten minste ’n derde van hul bevolking wat na langformaatgesprekke in die vorm van podsendings of YouTube-video’s luister. Die rede hiervoor is dat mens in die verlede gedwing was om na jou gunstelingradio- of TV-program in die gegewe tydgleuf te luister. Vandag kan enigiemand met internettoegang slegs hul oorfone in- of opsit om na vermaaklike of intelligensie-stimulerende gesprekke te luister – boonop oor die onderwerp van hul keuse – terwyl hulle gras sny, skottelgoed was of in verkeer sit. Die internet en alternatiewe media het die wêreld ten opsigte van selfopvoeding en die beskikbaarheid van inligting verander. Elke persoon met internettoegang het vandag die biblioteek van Alexandria binne sy bereik en hoef nie duisende rande te betaal vir pitkos van universiteitgehalte nie.

Nog ’n revolusionêre verandering wat deur die internet meegebring is, is die verskaffing van ’n relatief goedkoop, toeganklike platform vir enigiemand wat bereid is om die moeite te doen om van hierdie geleentheid gebruik te maak. Nog nooit in menseheugenis was dit so maklik vir gewone mense om hul menings en stemme te laat hoor deur wêreldwyd met dosyne, honderde of selfs duisende luisteraars daaroor te gesels of te debatteer nie.

Maar soos enige paradigmaskuiwende inligtingsrewolusie, het die internet-era ook negatiewe en omstrede gevolge. In die verlede was dit moeilik vir mense met radikale idees om meer as een of twee ander in hul gemeenskap te vind wat met hulle saamstem. Vandag is dit egter ’n ander storie. Selfs die radikaalste persone van oor die hele politieke spektrum kan vandag gemeenskappe van honderde of selfs duisende mense in die kuberruim vind wat hul radikale opinies deel. Hierdie kan maklik die wanindruk by sommige mense skep dat dié radikale idees eintlik deur die meerderheid gedeel word. Ons kan slegs spekuleer oor die langtermyngevolge van hierdie verskynsel. Waaroor ons wel seker is, is dat dit ’n verskynsel is wat dringend en deeglik bestudeer moet word sodat ons die onvermydelike en onvoorsiene politieke gevolge daarvan beter kan begryp en hanteer.

Ek hoop meer mense word bewus van die interessante tye waarin ons leef. Ook die wonder van nuwe kommunikasietegnologieë wat tot ons beskikking is en waardeur mense kan deelneem aan en bydra tot verskeie noodsaaklike debatte van ons tyd. Hierdie gewaarwording het ’n nuwe wêreld vir my oopgemaak en het beslis my lewe vir altyd verander. Ek het byvoorbeeld in 2020 in samewerking met AfriForum die “In alle Ernst”-podsending van stapel gestuur, waar ek juis politieke of filosofiese konsepte soos “alternatiewe media” in Afrikaans bespreek. Dié podsending is op al jou gunstelingpodsendingplatforms en YouTube beskikbaar.

Ek beskou die 2020’s as ’n dekade van moue oprol om dinge self te doen. Dit is my wens dat meer mense die alternatiewe medialandskap sal betree, sodat ons die gesprekke daar met jul deelname kan uitbrei en verryk. Saam kan ons ’n groter verskil maak. Sien julle daar!

  • Ernst van Zyl is die veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum. Hy is ’n mede-aanbieder op die Podlitiek-podsending en bied die Stream of Consciousness-onderhoudkanaal op YouTube aan. Ernst gebruik gewoonlik die skuilnaam Conscious Caracal op Twitter en YouTube (volg hom by https://twitter.com/ConCaracal).

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Marius

Hoofstroommedia het soos die Staat geword. Hul wil vir ons voorskryf hoe ons moet dink en wat ons mag sê. Raak so onafhanklik daarvan as wat jy kan om jou onafhanklikheid van denke te behou.Alternatiewe media het ontstaan omdat daar ‘n behoefte daarvoor was. Ondersteun dit totdat dit jou teleurstel.