Inperking van vuurwapenlisensies – soos ’n lam ter (ver)slagting

Deur Marnus Kamfer

Marnus Kamfer.

Lande wat nie toelaat dat hul burgers wettig in besit kan wees van vuurwapens nie, se geweldsmisdaad is minder. Meer mense word deur wettige vuurwapeneienaars met die vuurwapens in hul wettige besit beseer en doodgemaak as deur vuurwapens wat in onwettige besit is. In die meeste gevalle waar vroue beseer word, is dit as gevolg van die houers van vuurwapens in wettige besit. Indien vuurwapens verminder word, sal geweldsmisdaad teen medeburgers verminder.

Bogenoemde is bewerings wat Bheki Cele, minister van polisie, as redes voorlê waarom die bestaande vuurwapenwetgewing nóg strenger daar moet uitsien. Waarop die minister se afleidings en uitlatings in dié verband geskoei is, sal net ’n kind kan raai. Sy bronne word om een of ander rede nie gedurende sy argumente geopenbaar nie.

Ironies genoeg is die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in besit van ’n verdoemende verslag wat die teendeel bewys van die opinies wat die minister huldig, en daar is met ’n groot geswoeg uiteindelik toegang tot dié verslag bekom.

Die “Analysis of the Effect of the Firearms Control Act on Crime 2000-2014”, oftewel die Wits-verslag soos dit bekend staan, is in 2015 in opdrag van die Burgerlike Sekretariaat vir die SAPD onderneem. Die verslag is met behulp van die SAPD en ander rolspelers afgehandel, waarna dit deur die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) saamgestel is.

In teenstelling met wat die minister graag aanvoer, het die verslag onder meer die volgende bevind (my beklemtoning):

  • ’n Vlak van sterk en volgehoue polisiëring eerder as inperkende vuurwapenwetgewing, soos die Wet op Beheer van Vuurwapens (WBV), is nodig om vuurwapenverwante misdade te verlaag.
  • Sterk polisiëring word beskryf as ’n volhoubare, hulpbron-intensiewe benadering met hoë vlakke van voldoening aan protokol en ondersteuning van die strafprosesregstelsel in geheel.
  • The WBV is slegs van toepassing op minder as 5% van alle misdade wat aan die SAPD gerapporteer word.
  • By moorde word vuurwapens slegs in ’n derde van die gevalle gebruik – geweldsmisdaad moet dus nie met die besit van vuurwapens vereenselwig word nie.
  • Vuurwapen-opsionele misdade (misdade waar daar ’n keuse uitgeoefen kan word rondom die gebruik van ’n vuurwapen of byvoorbeeld ’n skerp voorwerp) is geneig om sensitief te wees (in ’n positiewe opsig) vir sterk polisiëring en die WBV. Ander voorwerpe, en tot ’n mindere mate vuurwapens, sal vir die bogenoemde doel aangewend word.
  • Vuurwapen-afhanklike misdade aan die ander kant (misdade waar ’n vuurwapen nodig is om die misdryf te pleeg, byvoorbeeld transitorooftogte en kapings van voertuie), blyk immuun te wees teen die WBV en sterk vuurwapenpolisiëring.
  • Die ouderdom en geslag van eienaars van vuurwapens in wettige besit verskil wesenlik van dié van persone wat vir misdade aangekla word.

Indien die verslag vergelyk word met die minister van polisie se uitlatings, kry ’n mens die gevoel dat die minister vir lief neem met die feit dat ons hoegenaamd nie aan die verslag se definisie van “sterk polisiëring” voldoen nie. Dit is ou nuus dat die SAPD in verval is en voorbeelde daarvan is legio:

  • Die polisiekommissaris se erkenning dat die SAPD nie oor die vermoë beskik om die burgers van Suid-Afrika en hul eiendom te beskerm nie.
  • Die besnoeiing van die SAPD se begroting met etlike miljarde rande.
  • Die tekort aan mannekrag en kundigheid.
  • Die agterstand met ondersoeke.
  • Interne bewysstuk- en vuurwapenstelsels wat nie funksioneer nie.
  • Die wanaanwending en vermorsing van hulpbronne.
  • Die misbruik van bates en die gebrek aan onderhoud daarvan.
  • Vuurwapens en ammunisie wat gereeld wegraak en die SAPD se administrasie wat in chaos gedompel is.
  • Spesiale behandeling van sekere politici blyk aan die orde van die dag te wees asook senior bestuur in die SAPD wat net na hulle en hul kaders se belange omsien.

Minister Bheki Cele. (Foto: GCIS)

Kan dit dan wees dat die minister nie weet waar om te begin om aan die verslag se voorstelle te voldoen nie? Dat hy nie oor antwoorde en oplossings beskik om die huidige toedrag van sake aan te spreek nie? Dat sy ego nie toelaat dat hy instem dat hy totale beheer oor die SAPD en misdaad verloor het nie?

Suid-Afrika se misdaadruit is aan skerwe en Cele weier om te erken dat dit hy was wat die bal geslaan het en die gevolge moet dra. Dit is baie makliker om die vinger na die onskuldige, wettige vuurwapeneienaar te wys in ’n poging om die skuld te verplaas.

Die minister se argumente om die bestaande vuurwapenwetgewing verder in te perk – en daarmee saam die vermoë om vuurwapens wettig te besit – is finaal van alle waarheid ontbloot deur onder meer ’n verslag uit sy eie geledere. Suid-Afrikaanse burgers het reeds as gevolg van die staat se onbeholpenheid begin om verantwoordelikheid vir hulself, hul families en gemeenskappe se veiligheid te neem. In plaas daarvan dat die staat sy burgers help om veiliger te leef, wil hy dit eerder bemoeilik.

Die tydperk waarin mense kommentaar kan lewer teen die beoogde, drakoniese konsepwetgewing is verleng en eindig op 2 Augustus 2021. AfriForum het jou ondersteuning nodig. Help ons om toe te sien dat Bheki Cele (met sy hoed in sy hand) die aftog blaas. Besoek www.myvuurwapen.co.za.

  • Marnus Kamfer is die regs- en risikobestuurder by AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kobus ·

Cele,hoeveel vuurwapens het die SAPD tot dusver verloor en hoeveel rondtes ammunisie is weg? Gee vir ons die feite dan praat jy verder nonsens

Barend ·

En geen privaat persoon mag wettig ‘n AK-47 hê nie. Waar kom kom dit vandaan?

Adam Adriaan ·

Dit is maar ook een van die maniere van kommuniste om beheer oor die bevolking te verkry sodat hulle kan maak soos hulle smaak en die bevolking te onderdruk. So wil hulle beheer oor die opvoeding van kinders, mediese dienste en alle groot maatskappye verkry en behou. Hulle slaan die gitaar en die volk doen die ramba, met die elite wat kan maak soos hulle smaak.

Persheks Adri ·

Jy sal dit uit my dooie hande kom haal, maar voor dan……………

Anel ·

Dit lyk of hulle in elje geval na hul leader luister. My man sy handwapen se lisensie het Junie verval en ek dink sy jaggeweer verval hierdie maand. Hy het vroeg in Februarie al aansoek gedoen. Tot vandag toe is dit nog nie eers by die stasie in gevoer nie. Hy het al paar keer gaan navraag doen dan trek die perd net sy skouers op. Hy vir hom gesê hy moet dit ook maar op sy tafel soek. Eenkeer ook gesê dat as dit weg is moet hy maar weer deur die proses gaan. Geluk het ons ‘n kwitansie. Maar dis wat hulle doen. Hulle wil hê jy moet moed opgee. Maar duidelik ken hulle nie die mense van hierdie land nie. Ons vuurwapens sal jy nie kry, hoedman!!!

Marius ·

Kan Squirrel nie sien die man is die pad byster en hom met hoed en al in die pad steek nie ?

Harley Davidson ·

Dit is mos n duidelik bewys dat die leierskap in die polisie nie bevoegd is om die land en sy mense te beskerm nie ,nou moet siviele burgers polisie arresteer wat saam loot en die nar wil wapens afvat sodat mense nie hulself kan verdedig nie .Ek hoop die besighede wat skade gelei het dagvaar die rook uit hulle uit.

Stefaan ·

Hierdie man het geen geloofwaardigheid nie. Hoe weet jy wanneer hy jok—–as hy sy mond oopmaak

annie ·

Cele hou skynbaar van duisere motiewe en onder-die-toonbank-deur-besighede. En veral rus en vrede vir polisielede. Verbied alle moontlike middels waarmee mense ons polisiemag kan uitput, dan is daar tyd vir ander plesierighede. Hoeveel handewasseep is in Cele se huis. Dit moet baie wees. Is hy ‘n voorstander van dagga-olietjies? Vandag is Cele se hoedband swart nà gister se pers een. Die rooiveer pronk weer saam. Hy spandeer beslis tyd voor die spieèl. Net jammer hy gly soms op ‘n piesangskil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.