‘Inperkings was ’n fout’

Helen Zille. (Foto: Tracey Adams/African News Agency)

Helen Zille, voormalige Wes-Kaapse premier, skryf ’n paar dae gelede op sosiale media dat dokters in die Wes-Kaap 71 sterftes weens Covid-19 ontleed het.

Slegs 6% van die 71 persone het slegs Covid-19 onder lede gehad. Die ander 94% het almal ander ernstige siektes onder lede gehad toe hulle gesterf het.

’n Allemintige 65% van die sterfgevalle in die Wes-Kaap was persone wat twee ander siektes onder lede gehad het. Die meeste mense wat dus weens Covid-19 sterf, was reeds baie ernstig siek.

Soortgelyke studies in Europese lande en die VSA het ook bevind dat die oorgrote meerderheid van mense wat COVID-19 onder lede het en dan sterf, reeds ander siektes, meestal ernstige kwale, gehad het.

In die VSA het die 32-jarige Aaron Ginn, ’n Amerikaner van Chinese afkoms, die afgelope weke opslae gemaak nadat hy op 20 Maart op die aanlynpublikasie, Medium, ’n artikel oor die koronahisterie gepubliseer het. Sy artikel is binne 24 uur 2,6 miljoen keer gelees, maar die aanlynpublikasie het dit ná kritiek verwyder.

Ginn, ’n tegnoloog van Silikon Vallei het in sy artikel deeglike akademiese navorsing en data gebruik om te bewys dat ’n staat van inperking nie die oplossing vir die koronakrisis is nie. Sedert sy artikel verskyn het, werk Ginn saam met mediese navorsers van, onder meer, Stanford-Universiteit om algemene persepsies oor die virus en regeringsmaatreëls wat wêreldwyd ingestel is, verkeerd te bewys. Dit sluit in individue soos Michael Levitt, ‘n bioloog van Stanford-Universiteit en die 2013-Nobelpryswenner vir chemie.

‘n Gereguleerde ingangspunt na ‘n woonarea in Wuhan. Foo: (Chinatopix via AP)

Nadat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) in die middel van Januarie nog ontken het dat die koronavirus tussen mense oordraagbaar is, het dié organisasie einde Januarie ’n pandemie afgekondig wat internasionale paniek veroorsaak het. Ná die drakoniese inperkingsmaatreëls in Wuhan, China het Italië en toe die een land ná die ander dieselfde begin doen.

Elke dag moes mense hoor dat die belangrikste ding wat in elke land moet gebeur, die platmaak van die kromme – dus die verlangsaming van die verspreiding van die virus – was. Die obsessie hiermee was gebaseer op die WGO se aankondiging aan die begin van Maart dat 3,4% van die wêreldbevolking weens die virus kan sterf. ’n Sterftekoers van 3,4% het die alarms orals laat afgaan en binne enkele weke is meer as 40% van die wêreld se bevolking tot hul huise beperk.

Wat ons nou sien, is egter dat die sterftekoers heelwat laer is. In Swede, waar ’n staat van inperking nooit ingestel is nie, het die Universiteit van Stockholm verlede week bepaal dat kudde-immuniteit bereik kan word wanneer 43% van mense in ’n dorp, stad of land, die virus opgedoen het. Terwyl Swede reeds naby aan kudde-immuniteit is, het slegs ‘n klein persentasie van die Sweedse bevolking aan Covid-19 gesterf.

(Foto: Denis Balibouse/Keystone via AP)

In Nederland het twee studies bevind dat persone onder 20 byna geen kans het om weens Covid-19 te sterf nie. Tussen 20 en 29 is die verwagte sterftesyfer 0,0038%. Dit styg dan tot 0,49% vir persone tussen 60 en 69. Dit raak toenemend duidelik dat daar in geen land 3,4% van mense weens Covid-19 gaan sterf nie.

Kinders en jongmense het die kleinste, byna weglaatbare kans om weens Covid-19 te sterf. Tog het die een land ná die ander skole gesluit en is ekonomies-aktiewe jongmense verbied om te werk.

Dit was duidelik ’n fout, gebaseer op verkeerde persepsies en swak data. Dit is tyd dat skole heropen en mense teruggaan werk toe. Die ekonomiese skade wat aangerig is, is reeds verbysterend.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alleen Wolf

Ek sê dit al lankal, die regerings van die wêreld het soos ‘n klomp skape agter ‘n bok aangeloop en nou sit hulle met eier in hulle gesigte as hulle erken dit was die grootste fout van die eeu.
Dan sit S.A. nog boonop met ‘n regring wat na my beskeie mening nie die vermoë het om enige sinvolle besluite te neem nie, hulle bestuurs geskiedenis spreek boekdele.

Therese

Beslis ‘n katastrofiese, verreikende, fatale fout.
Tekenend van oor die algemeen swak wêreldleiers en politici, en sensasiesoekende media wat bevolkings indoktrineer, opsweep en leiers afspeel teen mekaar.
Die grootste dwase is lande soos Suid-Afrika, Australië en Nieu-Seeland wat hul ekonomieë voortydig vernietig het, met minimale sterftesyfers.
Sommige van ons is nie meegesleur deur die malligheid nie … ander kon nie vinnig genoeg aan die belaglike regulasies voldoen nie.

Gert

Hierdie corona-leuen sal in die anale opgeteken staan as die grootste onsin ooit. Van die SA-regering verwag ek nie om die regte dinge te doen nie, want hulle is nie daartoe instaat nie. Hulle sal agterna die “roem” opeis dat hulle miljoene lewens gered het! Maar wragtag, lande soos Duitsland, USA, Australie, en diesulkes, dit verstaan ek nie. Hierdie artikel maak soveel sin. Dankie daarvoor!

marius

Mooi toetslopie om te sien hoe maklik die wereld beheer kan word . Hoeveel keer kan ‘ n virus geneties verander word ? Vra vir Andrew Fauci wat al in 84 met die goed begin peuter het .

Kaasbaas74

Watter studies in Nederland? Hoe kan die skrywer verwys na studies wat nog nie afgehandel is nie. Daar is ook niks op die RIVM (Rijksinstituut voor Volksgezongheid en Milieu) se webwerf. As kinders en jongmense geen gevaar loop nie, waarom is die middelbare skole (dieselfde as hoërskole in SA) en universiteite hier in Nederland dan gesluit. Basisskole (gelyk aan laerskole in SA) het eers 11 Mei vir die eerste keer sedert 12 Maart oopgemaak. Hierdie laerskoolklasse is ook in 2 gedeel en die helfde gaan skool vir 2dae per week en werk tuis vir die nog 2 dae. Die 5de… Lees meer »