Internasionale druk by gebrek aan aanspreeklikheid

alana-bailey-afriforum-featured

Alana Bailey, AfriForum se adjunk-uitvoerende hoof van internasionale skakeling. Foto: Reint Dykema.

Die afgelope tyd is AfriForum in die spervuur as gevolg van sommige kommentators en ANC-ondersteuners omdat verteenwoordigers van dié organisasie bewusmaking in die buiteland oor brandpunte in die land skep. Net so word buitelandse meningsvormers wat kritiek jeens die Suid-Afrikaanse regering uitspreek, summier veroordeel.

Die partyondersteuners het duidelik eie ideologiese motiewe. Oor die ander kommentators kan ’n mens net wonder. Kan dit wees dat hulle dink die kwessies waaroor AfriForum bewusmaking probeer skep, “normaal” is?  Weet ons in Suid-Afrika nog wat “normaal” is?

Vroeër vanjaar sterf ’n vriendin se pa aan sy hart op ’n plaas. Ek simpatiseer. Haar antwoord is: “Dit klink seker verskriklik, maar ek is só dankbaar my pa is só oorlede en nie in ’n aanval nie.”  ’n Maand later sterf die ouma van ’n kollega ná ’n lang siekbed. Weer simpatiseer ek en weer is haar eerste woorde: “Dankie, maar ek kon nie help om bly te wees dat Ouma só dood is, en nie as gevolg van misdaad nie.”

Is daar enigeen wat hier lees wat eerlik kan sê hulle het nie ook al gevrees dat hul geliefdes in Suid-Afrika die slagoffer van een of ander misdaadinsident gaan word nie? Hoe kan ’n mens dan verstaan dat mense statistiektoertjies, definisiespeletjies en sakrekenaaroefeninge doen om te probeer bewys dat plaasmoorde “nie so erg is nie” en dat bewusmaking daarvoor in die buiteland, by versuim van ons regering om prioriteitsaandag hieraan te wy, nie moet geskied nie?

Dieselfde kan gesê word van alle ander kategorieë geweldsmisdaad in die land. AfriForum fokus veral op plaasaanvalle en -moorde, maar nie net daarop nie. Ons kla ook nie net nie, maar bemagtig gemeenskappe om hulself deur deelname aan, byvoorbeeld, buurtwagte te beskerm. Dié aksies vind in samewerking met die polisie plaas, dus is dit ook nie ’n poging om “laer te trek”, soos die negatiewe kommentators tog so graag skryf nie.

Die Australiese minister van binnelandse sake, Peter Dutton, het vroeër vanjaar verklaar dat Suid-Afrikaners hulp van ’n “beskaafde land” soos Australië verdien. Meer lande begin gebeure in ons land as onbeskaafd tipeer. So berig ’n Nigeriese nuusblad byvoorbeeld in Maart vanjaar oor die groot hoeveelheid slagoffers van xenofobie in Suid-Afrika en voeg by “… this is the time for concrete actions to stop the barbarism that is fast becoming a norm in South Africa”.

Hierdie kommentaar het niks met AfriForum te doen nie. Dit is die gevolg van buitelandse regerings en mediakanale se kennisname van die abnormaliteit van misdaadgebeure in die land. Die redes waarom hulle dit noem, mag dalk uit eiebelang spruit, maar dit beteken nie dat hul waarnemings verkeerd is nie. In plaas daarvan om gedeelde kommer uit te spreek, spring Suid-Afrika se minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Lindiwe Sisulu, egter op haar perdjie en eis verskonings van die buitelanders, terwyl AfriForum van leuens en oordrywing beskuldig word.

Vir ’n lang tyd het die Suid-Afrikaanse en ander Afrika-regerings op die rug van Westerse skuldgevoelens oor kolonialisme gery om hul eie foute te probeer verdoesel. Hierdie morele hoë grond wat hulle hulself toeëien, begin egter stadig maar seker wegkalwe weens die gebrek aan aanspreeklikheid vir eietydse probleme.

By ’n byeenkoms op 5 November 2016, aangebied deur Stigting Max van der Stoel en die Stigting vir Europese Progressiewe Studies, het ’n linkse parlementslid van die Europese Unie (EU) en die Rwandese ambassadeur in Nederland mekaar in die hare gevlieg oor verhoudinge tussen Europa en Afrika. Die parlementslid het genoem dat sy die afgelope dekade ervaar dat dit moeiliker raak om verhoudings met Afrika in stand te hou omdat Afrika-vennote in eindelose retoriek met verwyte oor kolonialisme en neokolonialisme verval, en aandring op vergoeding vir gebeure van die verlede. Boonop maak Afrikalande se minagting vir die beginsels van ’n regstaat dit moeilik om bande met die kontinent te hou. Sy het hier spesifiek na Suid-Afrika se poging om aan die internasionale strafhof te onttrek, verwys. Die ambassadeur het hierop reageer deur Europa van paternalisme en wanbegrip vir swart pyn te beskuldig. Sprekers uit die gehoor het egter die EU-parlementslid se standpunte ondersteun. ’n Jong swart besigheidsman uit Botswana het gesê hy probeer nie eens meer deelneem aan amptelike handelsafvaardigings nie, want hy weet dit gaan ’n oprakeling oor kolonialisme word en sy professionele besigheidsplan gaan óf nie voorgelê word nie óf gediskrediteer word daardeur.  Hy wil nie verskonings hê nie, hy wil net soos enige ander sakeman in Europa besigheid doen, maar ideoloë van Afrika ontneem hom van die kans om ernstig opgeneem te word.  Ongelukkig gaan stemme van rede soos syne in die geraas van die ideoloë verlore.

Hierdie kriewelrigheid waarvan die EU-parlementslid gepraat het, het verlede week ook weer sigbaar geword tydens ’n konferensie oor migrasiestrome tussen Europa en Afrika, aangebied deur die Konrad Adenauer Stigting in die Pan-Afrika Parlement. Terwyl verteenwoordigers van Afrikalande gekla het oor die behandeling van migrante in Europa, was verskeie EU-parlementariërs se boodskap deurgaans dat indien Afrikalande goeie, verantwoordelike bestuur sou toepas, hul burgers nie op groot skaal sou wou emigreer nie en dat dit is waar die oplossing vir die probleem begin. Toe verwyte oor die omstrede Europese verlede in Afrika opklink, het die Franse EU-parlementslid Nadine Morano summier verklaar: “Ek sal luister na argumente oor kolonialisme en slawerny, maar onthou, ons is in 2018.”

Dus, ongeag van AfriForum en ander nieregeringsorganisasies se bewusmaking al dan nie, is regerings soos dié van Suid-Afrika se onvermoë om goeie bestuurspraktyke toe te pas en die oppergesag van die reg te handhaaf, asook hul versuim om aanspreeklikheid vir die gevolge daarvan te aanvaar, al meer sigbaar. Solank hierdie houding gehandhaaf word, gaan migrasie van veral broodnodige hooggeskooldes uit Afrika voortduur, sal kritiek van ander regerings gehoor word en is dit die plig van organisasies soos AfriForum om bewusmaking hieroor te skep.

Ons kan nie met gevoude hande wag om te sien hoe ver omstandighede kan verswak nie, maar moet aktief bou aan ’n beter toekoms – onder meer ook met die aktivering van internasionale druk.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eish

Moet asb nie ophou om die ware toedrag van sake aan die buitelandse klok te hang nie, ongeag binnelandse teenstand.
Doen net wat jul doen met dieselfde passie vir die waarheid.

Theresa

Dankie Alana,
En hope dank vir al die harde werk om verder as ons grense gehoor te word na ‘n pleidooi van regverdigheid, eerbaarheid en ‘n normale lewe vir alle wettige landsburgers!
Die dag as misdaad in alle vorme beter beheer word en respek na alle kante toe deurdring, vraatsug, hebsug en onnatuurlike jaloesie verwerk en beheer word, mag die son dalk vir ‘n iedere en ‘n elk in hierdie land weer skyn.

JC

Uitstekende en baie informatiewe artikel, niks kan hieraan bygevoeg word nie-dit is PERFEK.

Ook ‘n akademikus

Akademici soos Elmien du Plessis en Adam Habib het skerp kritiek gelewer op onder andere die onlangse besoek van Kallie Kriel en Ernst Roets aan die VSA waar hulle plaasmoorde en die dreigende onteieningsplanne van die ANC aan die groot klok gehang het. Dit mag die indruk laat dat alle akademici hulle met hierdie kritiek vereenselwig. Ek is ‘n senior regsakademikus aan een van Suid-Afrika se voorste regsfakulteite en ek wil MM-lesers verseker dat daar inderdaad heelwat steun vir AfriForum-inisiatiewe vanuit akademiese geledere is. Ek is veral bekommerd oor die klaarblyklike verval van die regstaat in Suid-Afrika asook hoe hierdie… Lees meer »

Oom Kalahari

Ook ‘n akademikus, dankie vir jou positiewe sieninge , waarnemings en insette. Vir jou kan mens waarlik respek kry en nie net die witmense met die linkse liberale hammer aan te val nie. Alana Bailey, daar is menige mense as lede en nie lede (armes wat nie kan bekostig) wat opreg trots is en waardeer wat jul vir ons doen met jul buitelandse veltog. Dankie en mag jul en uitkoms geseend wees. Vir jare probeer ons om in te skakel, hand van vriendskap uitsteek met respek en omgee, maar dit word weggeklap en bly die raskaart en Apartheid speletjie te… Lees meer »