Internasionale Moedertaaldag

Vandag is dit internasionale moedertaaldag.

Die dag herdenk onder andere die gebeure – vandag presies 60 jaar gelede – toe duisende studente op 21 Februarie 1952 in Pakistan in ’n opstand dood is, nadat hulle geëis het dat hulle taal, Bengaals, as ’n amptelike taal erken word.
Op daardie stadium het Pakistan uit Oos en Wes Pakistan bestaan en het die huidige staat Bangladesh nog nie bestaan nie. Urdu was die enigste amptelike taal van Pakistan. Die taalstryd sou voortduur en uiteindelik sou daar eers in 1971 – na ’n lang en bloedige stryd – ’n nuwe staat Bangladesh tot stand kom, met Bengaals as amptelike taal.

Internasionale Moedertaaldag is in 2000 deur UNESCO ingestel as ‘n dag waarop taalkundige en kulturele diversiteit gevier word. Vir UNESCO is taal die instrument waardeur kulturele erfgoed lewend gehou word. Deur moedertale lewend te hou, word die taalkundige en kulturele tradisies van volke lewend gehou en word begrip vir die verskille tussen verskillende volksgroepe gekweek – aldus UNESCO.

Dit bly egter interessant om daarop te let hoe taalstryde uiteindelik lei tot die vestiging van state.

In Europa is die tale wat die drie laaste eeue oorleef het, die tale wat ook bestendiging kon vind binne ’n nasionale staat. In state waar meer as een taal geld – soos België en Switserland – het ingrypende grondwetlike maatreëls en eweneens geografiese afbakening van kantons, provinsies of deelstate gehelp om die taalregte van die onderskeie taalgroepe in ’n staat te bestendig.

Ongelukkig het Suid-Afrika nie geleer by die geskiedenis van Europa en Asië nie.

Met die grondwetlike bestel van 1994 is daar bitter min aandag gegee aan taal as bepalende faktor by provinsiale afbakening. Alhoewel elf amptelike tale in naam in die grondwet verskans is, het die ANC-bewind taalverskeidenheid eerder verder frustreer en op onsensitiewe wyse byvoorbeeld Xhosa-sprekende staatsamptenare in Afrikaanse provinsies ontplooi sodat Engels gaandeweg as lingua franca regoor Suid-Afrika gestalte kon kry.

Na die suksesvolle hofaansoek van Mnr. Cerneels Lourens, ’n prokureur van Brits, waarin hy die staat gedwing het om sy grondwetlike pligte na te kom en wetgewing deur te voer wat meertaligheid in Suid-Afrika reguleer het die regering uiteindelik gereageer met ’n siniese wetsontwerp wat voorsiening maak vir ’n formule waardeur Afrikaans noodwendig enige amptelike status sal verloor:
• elke provinsie sal die geleentheid kry om drie amptelike tale te kies;
• twee van die tale sal egter uit die kategorie van sogenaamd voorheen benadeelde tale moet kom – wat beteken dat al die provinsies na alle waarskynlikheid Engels saam met twee Afrikatale sal kies.
UNESCO is in die kol deur aan te voer dat deur moedertale lewend te hou, die taalkundige en kulturele tradisies van volke lewend gehou en begrip vir die verskille tussen verskillende volksgroepe gekweek word. Die teenkant is egter ook waar.

Waar moedertale doodgedruk word, word die taalkundige en kulturele tradisies van volke ook doodgedruk en die begrip vir verskille tussen volksgroepe uitgewis. Die resultaat is ’n tirannie van die meerderheid met verskriklike gevolge. Want tale laat hulle nie dooddruk nie.

Die ANC-bewind moet hierdie les nog leer.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Willie Spies

Meer oor die skrywer: Willie Spies

Willie Spies is prokureur by Hurter Spies Ing en betrokke by verskeie regsaksies van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Louis du Plessis ·

Willie ~

HERAFBAKENING?

1 Met die strekking van jou nadruk op die waarde van ‘n moedertaal, gaan ek heelhartig akkoord.

2 Voorts bring jy die verskynsel van “geografiese afbakenking” vir minderheidstale sinvol ter sprake.

3 Vir Suid-Afrika identifiseer jy dan tereg die “tirannie van die meerderheid” wat “verskriklike gevolge” inhou. Stem saam: dis rééds ‘n skrikwekkend ervaring vir werkende stedelike Afrikaanse jongmense.

4 Jou helder argumentering lei outomaties tot kernvrae: Gegee die ANC-meerderheid, en die ANC-staat, se obsessie met Engels, wat is die moontlikhede vir ons geliefde Afrikaans? Is daar enige ander lewensvatbare uitweg as herafbakening van grense?

Gemsbok ·

Die huidige grense van die Wes- en Noord-Kaap, hoewel nie volgens die taalverdelingslyne opgstel nie, sluit wel beide ‘n meerderheid van Afrikaanse moedertaalsprekers as persentasievan die totale bevolking van daardie provinsies in, asook ‘n meerderheid van alle Afrikaanse moedertaalsprekers in Suid-Afrika in. (Anders gestel, die meerderheid inwoners van daardie provinsies se moedertaal is Afrikaans en die meerderheid van alle Afrikaanse moedertaalsprekers in Suid-Afrika woon in daardie provinsies).

Die provinsiale wetgewers van hierdie provinsies is daarom reeds by voorbaat geskik om as gesagsliggame vir die beskerming van Afrikaans op te tree en om Afrikaans as dominante streektaal die status en ondersteuning te gee wat dit daar verdien.

Dit is nou mits die nasionale aspirasies van die politieke partye wat daardie wetgewers beheer nie ‘n konflik van belange vir daardie wetgewer-lede veroorsaak wat hulle dwing om Afrikaans te versaak nie.

Indien laasgenoemde gebeur, sal Afrikaanssprekendes in daardie provinsies hul politieke verteenwoordigers tot verantwoording moet roep, soos wat Jacob Rooi met sy onlangse meningstuk in Rapport gedoen het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.