Internasionale nuushoogtepunte van 2017

Daar was talle internasionale nuusgebeure wat vanjaar die wêreld laat regop sit het.

Hier word enkele groot gebeure per maand uitgelig:

Januarie

Donald Trump

Donald Trump. Foto: AP Photo/Pablo Martinez Monsivais

Donald Trump word president van die VSA

Donald Trump, wat die presidentsverkiesing einde 2016 as kandidaat van die Republikeine teen sy teenstander, Hillary Clinton van die Demokrate gewen het, word ingehuldig as 45ste president van die VSA. Nog meer as ander Republikeinse kandidate word hy deur die media en die elite verguis en kan blykbaar niks reg doen nie. Gemeet aan die hoeveelheid artikels oor Trump (meestal negatief) is hy seker verreweg die grootste nuusmaker van die jaar, al is baie daarvan oor onbenullighede.

Hy spring met groot stoom weg, maar sy eerste jaar lewer gemengde resultate op, met talle van sy projekte wat uitgestel word of skipbreuk ly weens teenstand van die howe, talle belangegroepe en ook invloedryke persone in sy eie party. Die afskaffing van Obamacare word eers uitgestel, maar ʼn drastiese belastingverlaging word wel deurgevoer.

Februarie

missiel

Die foto is deur die regering van Noord-Korea uitgereik. (Foto: Korea News service via AP)

Noord-Korea bedreig die wêreld

Noord-Korea probeer al geruime tyd om kernwapens en langafstandmissiele te ontwikkel en kry dit reg om ʼn ballistiese missiel oor die Japanse See te vuur. Deur die jaar doen Noord-Korea verskeie verdere missieletoetse en vorder elke keer en wys sy tande vir die wêreld.

Noord-Korea is intussen in staat om ʼn missiel na enige plek in die streek en selfs na die VSA af te vuur. Veral die VSA reageer met dreigemente van totale vernietiging van Noord-Korea, maar niks daadwerkliks gebeur om die land se opmars na kernwapens te stuit nie.

Maart

brexit

Foto: Pixabay.com

Die Brexit-proses begin

Die onderhandelinge oor Groot-Brittanje se uittrede uit die Europese Unie (Brexit) begin met die inwerkingstelling van artikel 50 van die verdrag van Lissabon. Daar is nou twee jaar tyd om oor al die fyner besonderhede van Brittanje se uittrede te onderhandel, met twee hoofonderhandelaars namens Brittanje en namens die EU.

Van die vraagstukke wat opgelos moet word, is onder meer die status van EU-burgers in Brittanje, of tolvrye handel tussen die EU en Brittanje voortgaan, of daar weer grensbeheer tussen Noord- Ierland en die Republiek van Ierland sal wees en tot watter mate Brittanje beheer oor toegang van immigrante het. Teen die einde van 2017 kon al ooreenkoms oor ʼn paar belangrike vraagstukke bereik word, maar ander vraagstukke moet nog uitgestryk word.

April

Emmanuel Macron. Foto: Lionel Bonaventure/Pool Photo via AP

Verkiesing in Frankryk

In 2017 is sowel presidents- as parlementsverkiesings in Frankryk gehou, wat al twee uit twee rondtes bestaan, sodat daar vier verkiesings in die land was, in April, Mei, Junie en Julie. Groot opskudding is veroorsaak deurdat twee buiteperde, Marine le Pen van die nasionalistiese Front National, en Emanuel Macron met sy eie links-liberale kitsparty En Marche na die uitkloprondte kon deurdring en vir die twee tradisionele hoofstroompartye, Sosialiste en Republikeine, ʼn loesing gegee het.

Macron het die uitkloprondte tot groot verligting van die gevestigde orde, die media en talle gewone mense gewen en op die golf van sy sukses het sy party ook die parlementsverkiesing oorweldigend gewen. Frankryk se posisie aan een van die drywers van Europese vereniging is daarmee bevestig en die media sug van verligting daaroor dat die “regse gevaar” eers afgeweer is.

Mei

Gewapende polisiebeamptes buite die Manchester Arena kort nadat ʼn ontploffing die arena geruk het waar Arianda Grande opgetree het (22 Mei 2017). Foto: Peter Byrne/PA via AP

Terreuraanval by Ariana Grande-konsert

Altesaam 22 mense, meestal tieners, sterf en meer as 500 word beseer deur ʼn Islamities gemotiveerde bomaanval op ʼn konsert van die sangeres Ariana Grande in Manchester, Engeland.

Nog talle terreuraanvalle met honderde sterftes vind deur die jaar plaas, hoofsaaklik in Moslem-lande self (Somalië, Pakistan Egipte, Sirië, Iran, Irak en ander). Daar is ook later in die jaar (Oktober) ʼn nuwe laagtepunt toe ʼn versteurde man, sonder duidelike motief, uit ʼn hotelvenster meer as 50 mense by ʼn musiekkonsert in Las Vegas, VSA, doodskiet.

Junie

Verkiesing in Brittanje

Die Britse eerste minister, Theresa May, verlaat 10 Downing Street vir haar weeklikse vraagsessie in die parlement in Londen. (Foto: Kirsty Wigglesworth, AP)

Eerste minister Theresa May het aan die begin van die jaar op ʼn golf van sukses en gewildheid geswem en op vervroegde verkiesings besluit om haar mandaat vir die Brexit-onderhandelinge nog sterker te maak, en omdat sy die legitimiteit van ʼn verkiesing wou gehad het (sy het as opvolger van David Cameron, wat bedank het, aan bewind gekom).

Pleks van ʼn groter meerderheid het sy egter haar party se klein meerderheid verloor en moet ʼn koalisie vorm met die Demokratiese Unioniste Party van Noord-Ierland.

Julie

Mosoel word bevry van Isis

Aanvalle deur Isis-militante in die ou gedeelte van Mosul, die laaste Isis-vesting in dié Irakse stad, het volgens die Irakse weermag Dinsdag die pogings van Irakse magte om die ou stad in te neem gefnuik. Foto: Felipe Dana, AP

Aan die begin van die jaar het die offensief van Irakse troepe en Koerdiese Pesj Merga-militia, met steun deur die VSA, teen Mosul, tweede grootste stad van Irak, begin. Mosoel is meer as twee jaar gelede deur die terreurgroep Islamitiese Staat (Isis) verower en van daar af ʼn groot grondgebied in Noord-Irak en Noord- en Oos-Sirië verower.

Na lange en taai gevegte kon Mosoel, die belangrikste stad onder Isis-beheer, uiteindelik bevry word. Die weerstand van Isis begin daarna geleidelik verkrummel en teen die einde van die jaar is feitlik alle grondgebied van Isis afgeneem.

Augustus

Etniese suiwering in Mianmar

‘n Rohingya-Moslemin ‘n vlugtelingkamp in Bangladesj,. Foto: AP Photo/A.M. Ahad

ʼn Veldtog van etniese suiwering teen die Moslem-minderheid van die Rohingyas in die Boeddhistiese Mianmar (Birma), uitgevoer deur die weermag, het in Augustus ʼn nuwe hoogtepunt bereik en gaan sedertdien voort. Afbrand van huise, moord, verkragting en intimidasie word gepleeg om die Rohingyas, wat as vreemdelinge beskou word, uit die land te dryf.

Die Verenigde Nasies het die dade as ʼn handboekvoorbeeld vir etniese suiwering en misdaad teen die mensdom beskryf. Mianmar was die afgelope jare een van die lieflinge van die wêreld weens sy hervormings en demokratiese verkiesing na dekade lange diktatorskap, met die leier van die demokrasiebeweging, Suu Kyi, aan die voorpunt. Die beeld van die land asook dié van Suu Kyi, nou minister van buitelandse sake en effektiewelik staatsleier, het deur dié gebeure groot skade gely.

September

Mense wag buite die parlementêre gebou van die Koerdistan-streek van Irak. Foto: (Xinhua/Khalil Dawood)

Irakse Koerde stem vir onafhanklikheid

In ʼn nie-amptelike referendum stem die inwoners van die outonome streek Koerdistan in Noord-Irak oorweldigend vir afskeiding van Irak. Dit volg kort nadat die Koerde saam met die Irakse weermag Isis uit Irak verdryf het. Die Irakse regering verwerp egter die referendum en verdryf die Koerdiese militia uit sekere stede. Internasionaal is daar ook min steun vir ʼn onafhanklike staat Koerdistan.

Verkiesing in Duitsland krap die kaarte deurmekaar. Die Duitse politiek het skielik interessant geword nadat die twee hoofstroompartye CDU (Christen-Demokrate) met kansellier Angela Merkel, en haar koalisievennoot SPD (Sosiaal-Demokrate) al twee ʼn gevoelige hou met die verkiesing gekry het. Die grootste sensasie was egter die intog van die regse Alternatiewe vir Duitsland (AFD) as derde grootste party, iets wat nog nooit in die na-oorlogse Duitsland gebeur het nie. Koalisievorming is nou baie bemoeilik omdat die SPD nie langer deel van die regering wil wees nie, niemand met die AFD wil saamwerk nie, en die oorblywende partye mekaar nie kan vind nie. Tot op hede het Duitsland nog geen nuwe regering nie.

Oktober

Foto: AP Photo/Emilio Morenatti

Katalonië: Grondwetlike krisis na eensydige onafhanklikheidsverklaring

Carles Puigdemont, premier van die outonome streek Katalonië, verklaar twee weke ná ʼn nie-amptelike referendum oor onafhanklikheid van Spanje, eensydig onafhanklikheid, hoewel dit dadelik uitgestel word om oor die proses met Spanje te onderhandel. Die Spaanse regering betwis Katalonië se reg op afskeiding, verklaar die stap ongeldig en onthef die streeksregering en neem die verantwoordelike leiers in hegtenis. Puigdemont vlug na Brussel. Internasionaal staan Katalonië alleen.

Vanjaar se Nobelprys vir vrede, altyd die hoogtepunt van die jaarlikse toekenning van die Nobelpryse, gaan na die internasionale veldtog vir die afskaffing van kernwapens (ICAN in sy Engelse afkorting). Die besluit is beïnvloed deur die groot prominensie van Noord-Korea se kernwapenontwikkeling, hoewel ICAN niks kan doen teen onwettige kernwapenvervaardiging nie, maar eerder lande soos die vyf amptelike kernwapenmoondhede probeer oortuig om kernwapens prys te gee.

November

Robert Mugabe ontsetel

Robert Mugabe. Foto: ANA

Een van die diktators wat wêreldwyd die langste aan bewind was, Zimbabwe se Robert Mugabe, word na meer as 37 jaar deur ʼn staatsgreep ontsetel. Die staatsgreep word veroorsaak deur Mugabe se afdanking van sy adjunk, Emerson Mnangagwa, om die pad vir sy vrou Grace om hom op te volg voor te berei.

Nadat die weermag, ʼn bondgenoot van Mnangagwa, beheer oorgeneem het en Mugabe en sy vrou onder huisarres geplaas is en Mugabe se vertrouelinge binne die regerende ZANU-PF in hegtenis geneem is, keer Mnangagwa terug en word as president ingehuldig. Die blydskap oor die uiteindelike einde van die brutale Mugabe-bewind word egter getemper deur die feit dat Mnangawa Mugabe en sy misdade steeds ondersteun en uitgevoer het en ewe brutaal en gewetenloos is.

Desember

Cyril Ramaphosa

Die nuwe president van die ANC, Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Nuwe ANC-leier bring hoop en ontnugtering

In Suid-Afrika is die verkiesing van ʼn nuwe ANC-leier tydens die party se kongres, en die opbou van hoop en verwagtinge, die jaar se nuusmaker. Die keuse word gesien as een tussen ʼn voortsetting van die verlammende en korrupte Zuma-bewind deur middel van sy eksvrou Nkosazana Dlamini-Zuma, en ʼn vermeende nuwe wind in die vorm van sy adjunkpresident Cyril Ramaphosa.

Ramaphosa wen die verkiesing naelskraap, maar talle van die ANC se topbestuur is Zuma-lojaliste en Ramaphosa demp dadelik die hoop van ʼn meer sakevriendelike beleid deur hom te verbind tot grondonteiening sonder vergoeding.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.