Internasionale oorsig: Aborsie-uitspraak gaan oor basis van Amerikaanse federalisme

Betogers voor die Amerikaanse hooggeregshof in Washington, D.C. (Foto: Jim WATSON/AFP)

Terwyl inflasie knaend hoog bly en die VSA toenemend betrokke raak by die oorlog in Oekraïne, is dit egter die omstrede vraag oor aborsieregte wat die afgelope twee weke nuus in dié land oorheers.

Eers het ʼn konsepuitspraak van 98 bladsye deur die Amerikaanse federale hooggeregshof aan ʼn aanlyn nuuswebblad uitgelek, en die afgelope week het Demokrate in die Amerikaanse Senaat probeer om ʼn radikale wet oor aborsies deur te voer.

Nadat die konsepuitspraak uitgelek het, het dit tot ʼn groot mediaherrie en geniepsige politieke debat aanleiding gegee. Sou die uitspraak uiteindelik wel in sy huidige vorm, en met sy huidige meerderheidsteun, gelewer word, sal dit beteken dat aborsies nie meer op federale vlak as ʼn grondwetlike reg in die VSA beskou word nie. Volgens die konsepuitspraak steun vyf van die nege regters so ʼn uitspraak.

Verlede naweek het aktiviste na die huise van dié regters opgeruk en regters moet sedertdien streng bewaak word terwyl hulle daagliks doodsdreigemente ontvang. Gewelddadige betogings deur linkse aktiviste het die afgelope paar dae oral in die VSA plaasgevind.

Op 22 Januarie 1973 het ʼn meerderheid van die regters in die federale hooggeregshof beslis dat, ten spyte daarvan dat daar geen verwysing na aborsies in die Amerikaanse grondwet is nie, vroue in die VSA wel ʼn grondwetlike reg het om ʼn aborsie te ondergaan. Op daardie tydstip was die meerderheid van die regters in dié hof ideologies liberaal of links.

Die 1973-saak het gespruit uit ʼn hofsaak in die deelstaat Texas. In 1969 het ʼn vrou, Norma McCorvey, besluit dat sy haar swangerskap wou beëindig. Wetgewing in Texas, soos in nog 29 ander Amerikaanse deelstate, het in daardie stadium aborsies verbied. Haar regsverteenwoordigers het uiteindelik ʼn saak tot in die federale hooggeregshof gevoer. Hierdie saak, wat uiteindelik as Roe vs. Wade bekend sou staan, het oor die afgelope byna vyf dekades een van die grootste politieke strydpunte in die VSA geraak omdat dit ʼn belangrike federale reg van deelstate, naamlik om self oor aborsieregte te beslis, uit die hande van die deelstate geneem het sonder dat die Amerikaanse federale grondwet dit so spesifiseer.

Die groot fout wat talle mense maak, is om te dink dat daar voor die 1973-beslissing geen aborsies in die VSA uitgevoer is nie, of dat ʼn hofbeslissing wat moontlik binnekort gaan bepaal dat daar geen federale grondwetlike reg op aborsies in die VSA bestaan nie, tot gevolg sal hê dat aborsies glad nie meer uitgevoer sal kan word nie.

Voor die 1973-uitspraak het elke Amerikaanse deelstaat deur middel van sy eie wetgewer en howe hieroor beslis. Daar was dus in elke deelstaat ander wette oor aborsies. In 30 state was dit grootliks verbied en in die ander 20 was daar verskillende vlakke van toeganklikheid.

Foto: AP Photo/J. Scott Applewhite

Die 1973-uitspraak het bepaal dat die vraag oor aborsieregte ʼn federale, grondwetlike kwessie is. Die konsepuitspraak wat deur regter Samuel Alito opgestel is, maak dit duidelik dat die vraag oor aborsieregte by die deelstate tuishoort.

Die doelbewuste uitlek van die konsepuitspraak deur iemand wat by die federale hooggeregshof werk, bevestig vrese dat liberale aktiviste alles in hul vermoë sal doen om die uitspraak te probeer beveg. Hul opsies is egter beperk. Die finale uitspraak sal oor ʼn maand of twee gelewer word, en indien dit dieselfde as die konsepuitspraak is, sal dit beteken dat beslissings oor aborsieregte aan die deelstate teruggegee word. In Kalifornië en New York sal aborsieprosedures waarskynlik geredelik beskikbaar wees, terwyl dit in Texas en Mississippi grootliks onwettig sal wees.

Dit is om hierdie rede dat die leier van die Demokrate in die Amerikaanse Senaat, Chuck Schumer, die afgelope week ʼn omstrede wet tot stemming gedwing het. Volgens dié wetsvoorstel sou aborsies tot 23 weke van swangerskap in alle opsigte wettig wees, en sou deelstate geen reëls kon instel om dit te probeer beperk nie. ʼn Vrou sou ingevolge dié wetsvoorstel by enige hospitaal kon instap en sonder enige verklaring op ʼn aborsie kon aandring.

Verder sou aborsies ook ná 23 weke van swangerskap en tot direk voor geboorte toegelaat word indien enige dokter voel dit is nodig en in belang van die vrou se gesondheid, waaronder bloot net haar geestesgesondheid.

Mense en instellings wat om geloofsredes nie aborsies wil uitvoer nie, sou volgens die Demokrate se wetsvoorstel nie meer beskerm word nie en hulle sou dus verplig wees om wel aborsies uit te voer. Dié radikale wetsvoorstel van die Demokrate het ten doel om die federale hooggeregshof se uitspraak, wat nog nie eens gelewer is nie, te omseil.

Uiteindelik het 49 van die 50 Demokrate in die Senaat ten gunste van die wet gestem, met al 50 Republikeine en een Demokraat wat daarteen gestem het. Die wetsvoorstel het dus misluk, maar dit is ʼn duidelike aanduiding van hoe ver na links die Demokratiese Party oor hierdie saak beweeg het. Selfs twee of drie gematigde Demokrate het onder druk van die party en aktiviste geswig en ten gunste van die wetgewing gestem. In die vroeë 1990’s het die Demokraat Bill Clinton, nadat hy Amerikaanse president geword het, gesê dat aborsies veilig, wettig en skaars moet wees. Sedertdien het Demokrate beweeg na ʼn posisie waar aborsies veilig, wettig en algemeen moet wees. Meer as 63 miljoen babas is sedert die 1973-uitspraak in die VSA geaborteer.

ʼn Ernstige morele vraag moet deur ʼn nasie en ʼn politieke party wat die beëindiging van lewe as ʼn grondwetlike reg beskou, beantwoord word. In ʼn federale bedeling sal dit deelstate en hul onderskeie waardes duidelik van mekaar onderskei en sal aborsies nie meer ʼn verdelende en omstrede nasionale politieke vraagstuk wees nie.

Net soos die verkeerde aanname dat die Alito-uitspraak alle aborsies onwettig sal maak, is dit ook ʼn Westerse versinsel dat aborsies deesdae wêreldwyd die norm is. In die meeste lande ter wêreld geld streng aborsiewette wat dit juis tot ʼn minimum beperk.

In afwagting op die finale uitspraak deur die hof kan ʼn mens verwag dat die afgelope paar dae se hewige debat, dreigemente deur aktiviste, politieke truuks in die Amerikaanse Kongres en gewelddadige betogings oor aborsieregte sal voortduur. Die uitspraak sal egter ʼn groot oorwinning wees vir almal wat glo in die regte van ongebore babas en die grondslag van ʼn federale bedeling in die VSA waar deelstate self oor sulke gewigtige sake beslis.

Gebeure in Sri Lanka is waarskuwingsboodskap aan ander ontwikkelende lande

Mahinda Rajapaksa (Foto: Ishara S. KODIKARA/AFP)

In 2009 met die beëindiging van die burgeroorlog in Sri Lanka is Mahinda Rajapaksa as ʼn volksheld bestempel vir sy rol in die stryd teen die Tamil-rebelle en die uiteindelike bereiking van vrede in Sri Lanka. ʼn Paar dae gelede is hy deur woedende antiregeringsbetogers gedwing om uit sy amp as premier te bedank. Hy en sy gesin moes Dinsdagoggend deur die land se veiligheidsmagte uit hul huis gered word. Betogers het daarna die gesin se huis afgebrand.

Tot so onlangs as vyf jaar gelede is Sri Lanka wêreldwyd voorgehou as ʼn land wat uit die as van ʼn burgeroorlog kon opstaan en ʼn groeiende ekonomie kon skep wat armoede bestry en goeie werksgeleenthede skep. Groot infrastruktuurprojekte is onderneem en die indruk is geskep dat die land op die regte pad was.

Die Rajapaksa-familie regeer Sri Lanka reeds vir langer as twee dekades met verskillende broers en hul seuns wat oor die jare posisies in die regering, waaronder dié van president en premier beklee het. Die familie het egter met verloop van tyd ʼn oligargie rondom hulle gevestig en korrupsie het tot swak regeringsdienste en nóg swakker besluite van nasionale belang gelei.

Staatskuld van meer as 50 miljard dollar is oor enkele jare opgebou. Teen April vanjaar kon die regering vir die eerste keer ooit nie sy buitelandse skuldlas diens nie. Inflasie het die afgelope ruk tot meer as 17% gestyg en die land se buitelandse valuta het tot net 50 miljoen dollar gedaal wat beteken dat dit nie meer moontlik is om vir belangrike invoere, waaronder brandstof en kos, te betaal nie.

Namate die ekonomiese krisis verdiep, kom elektrisiteitsonderbrekings die afgelope paar maande byna daagliks voor, terwyl ernstige tekorte aan basiese lewensmiddele soos melk, rys en koring ervaar word.

Buiten dat korrupsie en die magsgreep van die Rajapaksa-familie ʼn groot invloed op Sri Lanka gehad het, is die land ook deur ander krisisse geraak. In 2019 het bomontploffings in kerke tydens die Paasnaweek die wêreld geskok en dit het tot ʼn skerp afname in toerisme gelei.

Voor die bomontploffings het toerisme 10% van Sri Lanka se bruto binnelandse produk uitgemaak. Toerisme was ook die land se hoofbron van buitelandse valuta. Sri Lanka het baie meer produkte ingevoer as wat hy kon uitvoer en die regering het talle beleidsfoute begaan wat tot lae investering deur die privaat sektor en gevolglik min groei in plaaslike produksie gelei het.

In 2019 het die regering uit vrees vir ʼn verlies aan politieke steun besluit om die land se belasting op toegevoegde waarde (BTW) vanaf 15% tot 8% in ʼn uiters kortsigtige, populistiese stap te verlaag. Dit het tot ʼn skerp afname in regeringsinkomste gelei.

Die Covid-19-pandemie het veral op twee gebiede ʼn krisis vir Sri Lanka veroorsaak. Die land se toerismebedryf het byna heeltemal tot stilstand gekom en die land van broodnodige buitelandse valuta ontneem. Derduisende Sri Lankaanse burgers wat in ander lande, veral in die Arabiese Golf gewerk het, moes ook na Sri Lanka terugkeer. Hierdie werkers het weekliks of maandeliks ʼn deel van hul inkomste na hul gesinne in Sri Lanka gestuur wat weer ʼn broodnodige bydrae tot die land se buitelandse valuta-inkomste gemaak het. Met die pandemie het hierdie inkomste grootliks opgedroog.

Met die dubbele verlies aan geld uit die buiteland het Sri Lanka se reserwes begin opdroog. Die regering het toe vroeg verlede jaar nóg ʼn groot beleidsfout begaan toe daar besluit is om die invoer van alle chemiese kunsmis te verbied. Boere was skielik verplig om slegs organiese kunsmis, wat plaaslik verbou is, te gebruik. Dit het tot ʼn algehele misoes aanleiding gegee wat tot groter invoere van rys, koring en mielies gelei het.

Teen die begin van 2022 was dit duidelik dat die land nie meer vir alle invoere sou kon betaal nie. Die land kon ook nie daarin slaag om sy skuld aan instellings soos die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en aan lande soos China (houer van 10% van Sri Lanka se buitelandse skuld), Indië en Japan terug te betaal nie.

Minder gas- en olie-invoere het tot kragonderbrekings en ʼn tekort aan brandstof gelei. Winkelrakke het begin leeg raak. Pryse het skerp gestyg en mense het hul werk begin verloor, kon weens stygende rentekoerse nie meer lenings terugbetaal nie en het in baie gevalle binne enkele maande alles verloor. Die gevolg was teenregeringsopstande wat in Maart uitgebreek het en wat die afgelope weke net feller geraak het.

Die afgelope week is byna 40 politici se huise afgebrand, met agt mense wat dood is en 200 wat weens beserings in hospitale behandel moes word. Die helder lig van ʼn Sri Lanka wat ná ʼn burgeroorlog opgestaan en hervorm het, het heeltemal verdof.

Die enigste oplossing vir Sri Lanka se probleme verg ernstige en pynlike politieke en ekonomiese hervormings. Terwyl die een Rajapaksa-broer as premier bedank het, klou ʼn ander nog vas aan die presidentskap. Vier van die familielede het ook die afgelope paar dae uit die kabinet bedank. Meer politieke hervormings is egter nodig.

Om sy ekonomiese huis in orde te kry sal Sri Lanka ʼn herskikking van sy buitelandse skuld moet onderhandel en dit sal waarskynlik net slaag indien die land hom tot streng voorwaardes verbind. Vertroue moet herstel word om toeriste en buitelandse beleggers te lok. Dit gaan nie maklik wees nie.

Wat in Sri Lanka gebeur het, kan baie maklik in talle ander ontwikkelende lande ook gebeur. Ons sien reeds ernstige probleme in uiteenlopende ontwikkelende lande van Pakistan tot Peru. Lande met hoë buitelandse skuld, swak infrastruktuur, probleme met plaaslike produksie, hoë vlakke van korrupsie en ʼn afhanklikheid van buitelandse inkomste uit bronne soos toerisme bied ʼn teelaarde vir politieke en ekonomiese onstabiliteit, en die pandemie het die situasie in hierdie lande dramaties vererger. Suid-Afrika is nog nie waar Sri Lanka of Pakistan is nie, maar ons kan maklik in dieselfde posisie beland indien uitdagings met infrastruktuur, misdaad, korrupsie en algemene wanbestuur en lae vertroue nie dringend aangepak word nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Andrew

Die vraag wat ek het vir al die jong dames en mans , en die ander indentiteite, wat so tekere gaan hieroor en die kastige beskerm van die vroue se wil om die kind net te kan “abort” hoe en wanneer hulle wil, is ?Hoekom nie net n hysterectomy of vasectomy kry nie, aangesien die gebruik van veilige voorbehoed medikasie en kondome duidelik nie gepas is vir die leefstyl van die mense nie.