Internasionale oorsig: Alle oë op federale hooggeregshof in die VSA

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Die fokus van politici in die VSA, insluitende pres. Joe Biden en die Demokrate se leiers in die senaat, het die afgelope week na die federale hooggeregshof verskuif nadat die oudste regter en ʼn betroubare lid van die liberale blok in die hof, Stephen Breyer, sy aftrede aangekondig het. Breyer sal teen die middel van die jaar uittree wat vir Biden en die Demokrate genoeg tyd gee om ʼn nuwe regter voor November se middeltermynverkiesing te benoem en goed te keur.

Die komende benoeming en die hele proses om ʼn nuwe regter in die justisiekomitee en daarna deur die hele senaat te laat goedkeur, bied aan Biden en die Demokrate ʼn geleentheid om te herfokus ná talle politieke nederlae wat hulle die afgelope weke gely het en ʼn skerp afname in Biden se gewildheid. Peilings toon tans dat die Republikeine in November beheer oor albei huise van die Amerikaanse kongres kan kry.

Terwyl Breyer na alle waarskynlikheid deur iemand wat sy liberale ideologiese posisie deel vervang sal word, wil Biden wel met dié aanstelling geskiedenis maak deur die eerste swart vroueregter in die hof aan te stel. Biden wil daardeur entoesiasme onder minderhede in die VSA vir homself en die Demokrate probeer aanwakker in die hoop dat hulle, en in die besonder swart Amerikaners, in groot getalle in November sal stem.

Biden se aanstelling sal egter niks aan die huidige ideologiese samestelling van die hof verander nie. Daar is tans ses konserwatiewe regters en drie liberale regters. Hoofregter John Roberts, een van die konserwatiewes, is tans die enkele regter wat die mees pragmatiese rigting inslaan en soms saam met die drie liberale regters stem.

Terwyl alle oë op die benoeming- en goedkeuringsproses gerig gaan wees en die hele proses dreig om die hof verder te verpolitiseer, is daar egter talle belangrike sake wat oor die volgende weke en maande in die hof aangehoor gaan word. Die huidige konserwatiewe meerderheid in die hof beskik oor die vermoë om talle uitsprake wat in die 1960’s en 1970’s, toe die hof deur liberale regters gedomineer is, om te swaai. Dit sluit in sake oor aborsieregte, regstellende aksie en wapenbeheer.

Foto: AP Photo/J. Scott Applewhite

Die hof gaan binnekort beslis in ʼn saak teen Harvard Universiteit en die Universiteit van Noord-Carolina oor die gebruik van ras in hul toelatingsbeleid. Die kanse is baie goed dat die hof die gebruik van ras ongrondwetlik sal verklaar. Die afgelope paar jaar het heelwat navorsing bewys dat die gebruik van ras in universiteite se toelatingsbeleid tot nadeel van alle studente strek. ʼn Meerderheid van Amerikaners, ook ʼn meerderheid van swart Amerikaners, is teen ras as kriterium in universiteite se toegangsbeleid gekant.

Verder is daar ook talle sake wat oor die volgende paar maande deur die hof aangehoor sal word wat spesifiek handel oor die federale regering, en sy agentskappe se mandaat om individuele regte te beperk. Een saak wat van deurslaggewende belang kan wees, handel oor die federale omgewingsbewaringsagentskap (EPA) se mandaat. Dié agentskap het 15 jaar gelede ʼn egpaar van Idaho opdrag gegee om hul nuut geboude huis af te breek omdat dit na bewering op ʼn vleiland gebou is. Daar is egter geen vleiland nie en geen waterbron wat bedreig word nie, maar ten spyte daarvan dat dit al herhaaldelik bewys is, het die EPA voortgegaan om teen die egpaar op te tree. Nog soortgelyke sake kan oor die volgende paar maande die federale regering in die VSA en sy agentskappe en hul mandaat wesenlik inperk.

Terwyl die openbare fokus op die vervanging van regter Breyer gaan val, kan belangrike sake wat deur die hof aangehoor word, gerus gevolg word. Die federale hooggeregshof kan moontlik in 2022 die mees transformerende uitsprake in dekades lewer wat in die besonder groter klem op persoonlike vryheid sal plaas en beleid wat die afgelope vyf tot ses dekades tot groot verdeeldheid in die VSA gelei het, omkeer.

Erdogan slaan nuwe rigting in met buitelandse verhoudinge

Pres. Recep Erdogan. (Foto: Turkse presidensie via AP)

Die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, se gewildheid het die afgelope paar maande skerp afgeneem en met die volgende verkiesing wat in die eerste helfte van 2023 moet plaasvind, lyk dit toenemend of daar ʼn goeie kans is dat Erdogan se houvas op die Turkse politiek verbreek kan word. Uiteindelik is dit die swak Turkse ekonomie en Turkye se internasionale isolasie wat vir baie kiesers te veel geraak het. Die Turkse lira het die afgelope maande van die een swakste posisie na ʼn nóg swakker een teruggesak en die land het begin om ernstige tekorte aan buitelandse valuta te ontwikkel.

Volgens peilings staan die gerespekteerde opposisieleier, Kemal Kilicdaroglu, ʼn goeie kans om Erdogan volgende jaar uit die kussings te lig. Kilicdaroglu is ʼn Turkse ekonoom, voormalige staatsamptenaar en sosiaal-demokratiese politikus wat sedert 2010 die leier van Turkye se hoofopposisieparty, die Republikeinse Volksparty, is.

Met groot ongelukkigheid oor inflasie, swak ekonomiese groei en die verswakking van die lira het Erdogan die afgelope week probeer om sy aansien as staatshoof deur ʼn nuwe buitelandse beleid te verbeter. Turkye het die afgelope week aangebied om as bemiddelaar tussen Oekraïne en Rusland op te tree, terwyl Erdogan ook na Armenië uitgereik het in ʼn poging om die dekades lange diplomatieke probleme tussen dié twee buurlande op te los.

Erdogan het ook die president van Israel genooi om Turkye te besoek, iets wat 15 jaar laas gebeur het. Erdogan is die afgelope paar jaar een van Israel se sterkste kritici en word gereeld van anti-Semitisme beskuldig.

Turkye het die afgelope paar jaar ook ʼn swak verhouding met talle lande in die Midde-Ooste, veral die Golflande soos die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) en Saoedi-Arabië. Erdogan het die afgelope ruk na albei lande uitgereik in ʼn poging om diplomatieke geskille met albei by te lê.

ʼn Valuta-ruiltransaksie van 4,9 miljard Amerikaanse dollar is verlede week tussen die VAE en Turkye gesluit wat Turkye se huidige tekort aan buitelandse valuta ten minste tydelik sal oplos. Erdogan sal ook in Februarie Abu Dhabi besoek met die doel om nog ekonomiese ooreenkomste met die VAE aan te gaan.

Turkye se president Recep Tayyip Erdogan. (Foto: Turkish Presidency via AP, Pool)

Erdogan het die afgelope week oor die verhouding tussen Turkye en Armenië gesê dat ’n verhouding van vrede nagestreef moet word. Armenië beskuldig Turkye steeds van ʼn volksmoord meer as ʼn eeu gelede toe 1,5 miljoen Armeniërs deur die Ottomane om die lewe gebring is. Turkye ontken die volksmoord en steun ook Azerbeidjan in sy stryd teen Armenië in Nagorno-Karabach, ʼn streek met ʼn etniese Armeense bevolking wat tussen dié twee lande val en waaroor getwis word.

Afvaardigings van Armenië en Turkye het verlede Vrydag in Ankara vergader om die normalisering van verhoudinge en die moontlike herstel van diplomatieke verhoudinge te bespreek. Die heropening van die grens tussen die twee lande is vir albei ʼn handelsprioriteit. Die grens is reeds vir bykans drie dekades gesluit.

ʼn Ooreenkoms tussen Turkye en Armenië sal Erdogan as ʼn vredemaker in die streek herposisioneer, terwyl dit groot ekonomiese voordeel vir Armenië sal inhou. Ook Erdogan se uitreik na die Golflande en Israel is ʼn poging om sy beeld in die streek te versag en om, ten spyte van die land se ekonomiese probleme, die persepsie in Turkye te skep dat hy ʼn hoogs gerespekteerde leier in die streek is wat vrede bewerkstellig en die leiding in konfliksituasies neem. Erdogan sal waarskynlik oor die volgende paar maande nog heelwat soortgelyke skuiwe probeer maak in ʼn poging om genoeg Turkse kiesers te oortuig om volgende jaar weer vir hom te stem.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Biden kan sommer in SA kom leer van politieke aanstellings en aanstellings suiwer op grond van die “regte” ras. Eks seker daarvan dat die ANC-regering van SA die top “experts” ter wêreld is met die toepassing van sulke rasgebaseerde beleid.

Hendrik ·

Die gevaartekens hiervan vir SA is dat Regstellende Aksie NOOIT verby sal gaan nie. Ons moet soos Flip Buys sê, streef na gelyke geleenthede, nie gelyke uitomste nie. Maar solank ons nêrens in SA ‘n geografiese meerdeheid het nie, sal ons dit nooit geïmplimenteer kry nie. Dus is die beleid van Konsentrasie net so belangrik, saam met die afwenteling van mag na plaaslike gemeenskappe.

Maar moenie vir Biden blameer nie – dis ‘n oer-oue verskynsel om die regbank met simpatieke regters te laai, soos ons ook uit die ANC se notules sien. Trump het presies dieselfde gedoen.

annie ·

‘n Hele paar regters en leiers in die wêreld behoort volgens Bybelse standaarde by afgronde afgegooi te word. Die toring van Babel begin goed vorm kry terwyl Soros, ‘n woeste ongelowige Jood, die finansies verskaf. Hy is die ANC se vriend sedert destyds en het sy kloue vroeg reeds hier ingeslaan. Hy befonds ook die Demokrate en is ook bevriend met die VN, die wêreld se welsynsliggaam, se baas. Enigeen wat met Erdogan selfs net samesprekinge voer, mors sy asem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.