Internasionale oorsig: Azerbeidjan, Turkye is aggressors in jongste oorlog

ʼn Armeense soldaat skiet ʼn artilleriestuk af tydens botsings met Azerbeidjanse magte in die selfverklaarde Republiek van Nagorno-Karabach. (Foto: Armenian Defense Ministry/PAN, AP)

Die afgelope twee weke se bloedige stryd tussen die weermagte van die Republiek van Artsakh (Nagorno-Karabach) en Armenië aan die een kant en Azerbeidjan met die steun van Turkye aan die ander kant, is ʼn direkte gevolg van aanvalle wat op 27 September deur die weermag van Azerbeidjan geloods is.

Die Republiek van Artsakh het in Januarie 1992 van Azerbeidjan afgestig. Die gebied, wat internasionaal bekend is as Nagorno-Karabach, het ʼn etniese Armeense bevolking en vind geen aansluiting by Azerbeidjan nie. Sedert die afstigting in 1992 en ʼn oorlog wat tot 1994 voortgeduur het, is die vraagstuk oor die onafhanklikheid van die Republiek van Artsakh ʼn onopgeloste kwessie wat al deur verskeie lande en groepe, onder meer die Minsk-werkgroep en die Verenigde Nasies, getakel is, maar sonder sukses.

Tydens die oorlog in die vroeë 1990’s het Armenië daarin geslaag om die weermag van Azerbeidjan uit die gebied te verdryf. Sedertdien kon die Republiek van Artsakh met sy 150 000 inwoners met die hulp van Armenië onafhanklik van Azerbeidjan funksioneer. Azerbeidjan het dit nooit aanvaar nie en was nie bereid om daaroor te onderhandel nie.

Mense verwyder puin uit verwoeste geboue in Ganja. (Foto: DHA, AP)

Azerbaidjan het sy weermag oor die afgelope twee dekades met die hulp van Turkye drasties uitgebrei met een van die hoofdoelwitte om een of ander tyd met geweld weer beheer oor Nagorno-Karabach te kry. Dit was dan ook presies wat die doel was toe die weermag van Azerbeidjan op 27 September verskeie teikens in dié gebied aangeval het.

Anders as in die vroeë 1990’s is Azerbeidjan se weermag vandag danksy die steun van Turkye in ʼn beter posisie as die weermagte van Artsakh en Armenië. Anders as Azerbeidjan het die Armeniërs egter, ʼn bietjie soos die Boere in 1899, ʼn diepe roepingsbesef om hul grondgebied, ʼn gebied waar die Christen Armeniërs reeds vir eeue woon, ten alle koste te beskerm. Vir die Armeniërs, wat in 1915 reeds ʼn volksmoord deurgemaak het waarin 1,5 miljoen Armeniërs deur die Turke vermoor is, is die beskerming van hul grondgebied ʼn oorlewingstryd.

Die huidige oorlog is ʼn direkte gevolg van Turkye, en die huidige Turkse regering, se haat jeens die Armeniërs. Turkye was die afgelope paar jaar direk betrokke by die tegnologiese ontwikkeling van Azerbeidjan se weermag en die bevordering van ʼn sterk openbare mening ten gunste van oorlog teen Armenië onder die bevolking van Azerbeidjan.

Groot skade is die afgelope twee weke aan infrastruktuur in Azerbeidjan, Armenië en Nagorno-Karabach aangerig. Die weermagte van albei strydende groepe het ook reeds heelwat toerusting, lugverdedigingstelsels, hommeltuie, voertuie, tenks en natuurlik ook lewens verloor. Azerbeidjan het die afgelope week verskeie aanvalle met hommeltuie wat uit Turkye en Israel afkomstig is, geloods.

Hoe lank voor Westerse lande teen Turkye begin optree?

Pres. Recep Tayyip Erdoğan (middel). (Foto: Turkish Presidency via AP, Pool)

Michael Rubin, ʼn kenner van Midde-Oosterse politiek en ʼn senior navorsingsgenoot by die American Enterprise Institute, het die afgelope week die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, met Saddam Hoessein vergelyk en Turkye se optrede die afgelope paar maande aan die aggressie van Saddam se Irak van die vroeë 1990’s gelykgestel. Die enorme uitdaging wat Turkye tans vir vrede in die oostelike Middellandse See-gebied en groot dele van die Midde-Ooste en die suidelike Kaukasusstreek inhou, raak ʼn groter kopseer by Westerse regerings en supranasionale instellings soos Navo en die Europese Unie.

Dit het die afgelope week duidelik geword dat Turkye nie net gevorderde wapentuig en ammunisie aan die weermag van Azerbeidjan in sy konflik met Armenië beskikbaar gestel het nie, maar dat Turkye ook vegters uit Sirië, heelwat van hulle voormalige vegters van die Islamitiese Staat, na Azerbeidjan gestuur het om in die voorste linies teen Armenië en die soldate van Nagorno-Karabach te veg.

Anders as tydens vorige skermutselings en oorloë tussen Azerbeidjan en Armenië het Erdogan die afgelope week sy minister van buitelandse sake na Azerbeidjan gestuur om Turkye se steun aan te bied en olie op die vuur van die huidige konflik te gooi. Daardeur het Turkye direk by die konflik betrokke geraak, iets wat Rusland en president Wladimir Poetin onrustig stem omdat die Russe die Suid-Kaukasusstreek as sy invloedsfeer beskou.

Turkye het ook sy retoriek die afgelope tyd teen Ciprus en Griekeland opgeskerp. Terwyl Turkye onwettige gaseksplorasiewerk in die oostelike Middellandse See (in ʼn gebied waarop Griekeland aanspraak maak) begin doen het, dreig hy ook om die betwiste buffergebied wat in 1974 tussen Noord- en Suid-Ciprus ingestel is, te annekseer.

Turkye se betrokkenheid in die konflik in Libië en Sirië maak Westerse regerings reeds vir jare bekommerd, juis omdat Turkye hom keer op keer by die Islamitiese Soenniete se militante groepe skaar. In albei gevalle het Rusland hom reg teenoor Turkye geposisioneer sonder om direk in konflik met die Turke betrokke te raak.

Die probleem is egter dat Erdogan nie met sy intervensionistiese optrede gaan ophou nie. Turkye verkeer in diep ekonomiese moeilikheid en Erdogan gebruik nasionalistiese retoriek en die uitwys van sondebokke in omliggende lande om sy regime se gewildheid onder Turke te behou. Dit kan uiteindelik tot die ernstige benadeling van Westerse belange in die streek, die verdere onderdrukking en selfs uitwissing van Christen-gemeenskappe, asook die volgehoue radikalisering van Turkse gemeenskappe in Westerse lande aanleiding gee.

Westerse lande het heelwat opsies. Die eerste kan wees om Turkye uit Navo te skop. Tweedens kan geteikende sanksies ernstige druk op Erdogan se regering plaas in ʼn tyd waar die Turkse ekonomie en geldeenheid reeds onder druk verkeer en ʼn tekort aan buitelandse valuta besig is om te ontwikkel terwyl hoë inflasie ʼn krisis raak.

Klein verskille skep groot struikelblok in onderhandelinge tussen VK en EU

vissersboot

Foto: Megane Delhaie/Unsplash.com

Die onderhandelaars van die Verenigde Koninkryk (VK) en die Europese Unie (EU) het die afgelope week weer vergader om ʼn oplossing te vind vir die uitstaande kwessies wat tans verhoed dat ʼn ooreenkoms tussen die twee partye bereik word. Reëls oor die mededinging tussen maatskappye, meganismes om toekomstige geskille te besleg, die posisie van Noord-Ierland en visseryregte is tans die laaste uitstaande sake tussen die twee partye. Dit lyk egter onwaarskynlik of die twee partye tot ʼn vergelyk sal kan kom oor hierdie kwessies.

Onder die uitstaande kwessies is visseryregte tans die moeilikste een om op te los. Hoewel dit na ʼn klein en byna onbenullige aangeleentheid klink, veral in ʼn era waar visserye ʼn baie klein persentasie van die Britse ekonomie en van die meeste lande in Europa uitmaak, is dit ʼn belangrike politieke strydpunt. Lande soos Nederland, België en Frankryk dring daarop aan dat die huidige Common Fisheries Policy (CFP) steeds van 1 Januarie 2021 moet voortduur. Daarvolgens het Europese vissermanne die reg om in die Engelse kanaal te werk. Die Britte is egter sterk gekant daarteen en argumenteer dat dié reëling die afgelope jare ʼn baie negatiewe invloed op visserygemeenskappe in die ooste en suide van Engeland gehad het en dat tot soveel as 70% van vissermanne hul inkomste verloor het.

Die EU dreig selfs met ekonomiese sanksies teen die Britte sou hulle Europese vissermanne van volgende jaar af in Britse waters verbied. Terwyl dit lyk asof die twee partye tot ʼn vergelyk sal kan kom wat die meeste van die uitstaande sake betref, word geen vordering met die visserysaak gemaak nie.

Groot visserymaatskappye uit Europa oes jaarliks 700 000 metrieke ton vis uit Britse waters. Daarteenoor oes Britse vissermanne slegs 100 000 metrieke ton jaarliks uit Europese waters. Dit is dus verstaanbaar dat die Britte voel dat Europese visserymaatskappye die Britse vissermanne benadeel. Visserygemeenskappe in Brittanje het die afgelope paar jaar toenemende ekonomiese agteruitgang beleef met ʼn toename in armoede. Johnson was vir hierdie gemeenskappe die antwoord op al hul probleme. Indien sy onderhandelaars nou groot toegewings maak, sal die Konserwatiewe Party ʼn duur prys daarvoor by die stembus betaal.

Die enigste manier waarop hierdie kwessie opgelos kan word, sal vir albei partye wees om toegewings te maak. Indien nie, kan ʼn redelike minderwaardige kwessie soos visseryregte ʼn ooreenkoms tussen die VK en die EU verhoed en sal daar vanaf 1 Januarie geen ooreenkoms wees wat handel en die beweging van mense en goedere tussen dié partye reguleer nie. Invoertariewe tussen die VK en die EU sal dan ook in werking tree wat tot ʼn skerp styging in pryse kan aanleiding gee. Interessant genoeg, voer Brittanje 80% van die vis wat Britse vissermanne vang na Europese lande uit. Sonder ʼn ooreenkoms sal Europeërs vanaf Januarie heelwat meer vir seekos uit Brittanje betaal.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

In ander nuus het ek ook verneem dat Israel ook teen die Christelike Armenië veg deur akkurate gewapende hommeltuie en so die Moslem Azerbaijan steun.

Vriendelike Frikkie

Al die baklei, gestamp en gestoot, een waarheid bly staan soos ‘n paal bo water; ‘n doodskleed het nie sakke nie. Die dag wat jy jou hoof neerlê beteken al die baklei niks. Jy gaan alleen daar staan en verduidelik. Ek wil graag die verduideliking hoor hoekom ons soveel lewens geneem het vir ‘n stuk grond wat jy nie kan saamneem nie.