Internasionale oorsig: Belangrike verkiesings lê voor die deur

Foto:. (AP Photo/Brynn Anderson)

Oor die volgende paar dae sal kiesers in verskeie lande na die stembus gaan om nuwe politieke verteenwoordigers te verkies. Van Nederland tot Peru, van Newfoundland en Labrador in Kanada tot Wes-Australië, van die Rynvallei in Duitsland tot Bulgarye in die ooste van Europa, en van Israel tot die Kongo.

In die volgende paar weke sal daar in ʼn groot mate aangetoon word hoe kiesers in uiteenlopende gemeenskappe oral ter wêreld op regerings – nasionaal, plaaslik en regionaal – se hantering van die pandemie, die huidige globale ekonomiese uitdagings en voortslepende internasionale uitdagings met klimaatsverandering, immigrasie, terreur, armoede, gesondheidsorg en onderwys reageer.

In die meeste lande waar verkiesings vanjaar plaasvind, is dit reeds duidelik dat die koronapandemie en veral regerings se hantering van die pandemie die belangrikste enkele kwessie is wat verkiesingsdebatte domineer. Hierdie hantering van die pandemie sluit in meer onlangse pogings om entstowwe te bekom en aan burgers beskikbaar te stel, asook inperkingsmaatreëls en die hantering van ernstige ekonomiese gevolge weens die pandemie. In die meer afgeleë oostelike Kanadese provinsie Newfoundland en Labrador is die verkiesing herhaaldelik uitgestel en uiteindelik volledig na posstemme oorgeskakel nadat verskeie nuwe uitbrekings van die virus in die gebied voorgekom het. Posstemme moet nou teen 25 Maart ingestuur wees in ʼn verkiesing wat ʼn voorloper is van die volgende federale verkiesing wat oor twee jaar in Kanada moet plaasvind. Die Liberale Party, wat tans Newfoundland en Labrador regeer, is in ʼn kop-aan-kop stryd met die Progressiewe-Konserwatiewe Party gewikkel.

Angela Merkel. (Foto: Francois Lenoir, Pool Photo via AP)

In Nederland, waar kiesers eerskomende Woensdag na die stembus gaan, het die pandemie ook die afgelope weke se verkiesingsdebat gedomineer. Dieselfde geld vir verkiesings wat Sondag in Duitsland plaasvind. In Rynland-Palts, ʼn deelstaat in die suidwestelike Rynvallei en ʼn staat wat bekend is vir sy kastele en wynplase, sal kiesers ʼn nuwe regering verkies. Die afgelope week se peilings wys dat die Christen-Demokratiese Unie van bondskanselier Angela Merkel en die sentrumlinkse Sosiaal-Demokrate byna gelykop is. In Baden-Württemberg, een van die welvarendste deelstate in Duitsland, bekend vir sy motorvervaardigingsektor en met Stuttgart as hoofstad, loop die Groen Party egter gemaklik in alle peilings voor teen die CDU, en dit lyk asof kiesers die party weer ʼn mandaat gaan gee om te regeer. Die Groen Party lei tans ʼn koalisieregering nadat dié party in 2016 se verkiesing ʼn kortkop voor die CDU geëindig het. In die deelstaat Hesse, waar die finansiële sentrum van Duitsland, Frankfurt, geleë is, sal kiesers Sondag in plaaslike verkiesings stem.

In beide Nederland en Duitsland is daar aan die een kant kommer oor die stadige uitrol van inentingsprogramme, terwyl daar aan die ander kant weer ʼn wesenlike deel van die onderskeie bevolkings is wat nie bereid is om ingeënt te word nie. Verder is daar ook in beide lande ʼn toenemende frustrasie met streng inperkingsmaatreëls wat negatiewe ekonomiese gevolge het.

Sondag se verkiesing in Duitsland sal ʼn aanduider wees van stempatrone wat moontlik later vanjaar verwag kan word wanneer miljoene kiesers in ander deelstate ook na die stembus gaan om plaaslike en regionale verteenwoordigers te verkies. Die federale verkiesing vind einde September plaas. Die verkiesingsveldtogte in dié deelstate waar Sondag gestem word, het hoofsaaklik op die pandemie, gesondheidsorg (wat in Duitsland gedesentraliseer is), en ekonomiese herstel gefokus.

Benjamin Netanyahu. (Foto: Abir Sultan/Pool Photo via AP)

Nog ʼn verkiesing wat deur die pandemie gedomineer word, is die verkiesing in Israel waar kiesers op 23 Maart vir die vierde keer binne twee jaar na die stembus sal gaan om verteenwoordigers vir die Israeliese parlement, die Knesset, te verkies. Die premier van Israel, Benjamin Netanyahu, voer ʼn verbete stryd om politieke oorlewing met ʼn toenemende fragmentering van regse politieke partye in Israel en sy eie Likud-party wat die afgelope maande heelwat steun verloor het.

Likud is egter steeds voor in die peilings en Netanyahu behoort ná die verkiesing steeds as die gunsteling beskou te word om ʼn nuwe regering te vorm. Lang en baie moeilike koalisie-onderhandelinge sal egter voorlê en dit mag selfs gebeur dat geen koalisie gevorm kan word nie en dat daar weer ʼn nuwe verkiesing sal moet plaasvind.

Netanyahu plaas byna al sy hoop op ʼn verkiesingsoorwinning op Israel se meesterlike vermoë om binne net meer as twee maande byna twee derdes van die land se bevolking teen die koronavirus in te ent. Hy het die afgelope week ook die feit dat Israel se verhouding met, onder meer, die Verenigde Arabiese Emirate en Bahrein onder sy leierskap genormaliseer het, beklemtoon. Netanyahu wil daardeur wys dat hy, ten spyte van ernstige bewerings van bedrog en ʼn hofsaak teen hom, die staatsman is wat Israel tans nodig het. Daar is 120 setels in die Knesset en enige koalisie moet dus die steun van minstens 61 lede hê.

In Wes-Australië het die leier van die opposisie (Liberale Party) reeds twee weke voor die verkiesing erken dat die Arbeidersparty weer die verkiesing gemaklik gaan wen weens hoë steunvlakke oor, onder meer, die ekonomiese sukses van die staat. Op 21 Maart sal kiesers in die Republiek van die Kongo (Kongo-Brazzaville) aan ʼn presidentsverkiesing kan deelneem. Die 77-jarige president van die Republiek van Kongo, Denis Sassou Nguesso, is reeds 36 jaar lank staatshoof van dié land en hy is tans een van die langsdienende presidente in Afrika. Nguesso het twee sterk opponente in die komende verkiesing, maar daar bestaan twyfel oor of die verkiesing werklik vry en regverdig sal plaasvind. Vorige opponente van Nguesso is in 2016 in die tronk gegooi op aanklagte dat hulle die staatsveiligheid ondermyn het deur te beweer dat verkiesingsbedrog plaasgevind het.

(Foto: Carlos MANDUJANO/AFP)

ʼn Belangrike verkiesing wat op 11 April plaasvind, is die algemene verkiesing in Peru waar ʼn nuwe president sowel as parlementslede verkies moet word. Peru het verlede jaar van die een krisis na die ander gestrompel, veral nadat die kongres ʼn sittende president verwyder het en die land toe binne een week drie verskillende presidente gehad het.

Peru is een van die lande ter wêreld met die hoogste per capita-voorkoms van die koronavirus en ʼn hoë sterftekoers, en die land se ekonomie het weens die pandemie enorme skade gely. Die land het ook ʼn immigranteprobleem met baie onwettige immigrante uit Venezuela wat tans in Peru gehuisves word.

Peru is die wêreld se tweede grootste koperprodusent en ʼn belangrike uitvoerder van mynbou- en landbouprodukte. Daar neem ʼn groot getal kandidate aan die presidentsverkiesing deel, maar geen enkele kandidaat slaag tans daarin om veel meer as 10%-steun in die peilings te kry nie. Die uitslag van die verkiesing in Peru is dus nog baie onseker met baie kiesers wat nie weet vir wie hulle gaan stem nie, en kiesers wat oor die algemeen ongelukkig is met die meeste politici en partye.

Peru was tussen 2010 en 2020 een van die vinniggroeiende ekonomieë in die wêreld. Die land het veral ʼn enorme toename in landbou-uitvoere na lande in die noordelike halfrond gehad, wat veral plattelandse gebiede uit armoede gelig het. Belastingverhogings, swak infrastruktuur, korrupsie en politieke onmin het egter die afgelope paar jaar toenemend ʼn demper op hierdie groei begin plaas, en die pandemie was net die kersie op die koek. ‘n Nuwe regering sal groot uitdagings hê om Peru weer op die pad van sterk ekonomiese groei te plaas. Die per capita-inkomste in Peru is die sewende hoogste van 11 Suid-Amerikaanse lande.

In Bulgarye is die pandemie en toegang tot entstowwe ook die belangrikste enkele saak in die veldtogte in aanloop tot die parlementêre verkiesing op 4 April. Bulgarye vaar tans baie swak met die beskikbaarstelling van entstowwe, en tot dusver is slegs 4,2% van Bulgare ingeënt – die laagste persentasie van al 27 Europese Unie-lidlande.

Boyko Borisov. (Foto: Gergana KOSTADINOVA/BGNES NEWS AGENCY/AFP)

Premier Boyko Borisov het onlangs inperkingsmaatreëls verslap, juis weens toenemende frustrasie met die maatreëls onder gewone Bulgare. Restaurante in Bulgarye het op 1 Maart heropen.

Daar was egter die afgelope twee weke, soos in sommige ander Europese lande, weer ʼn styging in nuwe gevalle van die virus met sowat 2 500 nuwe gevalle per dag in Bulgarye. Borisov se populisties-konserwatiewe GERB-party loop voor in die meeste meningspeilings en sal waarskynlik tussen 26% en 30% van die stemme kry. Die Bulgaarse Sosialistiese Party se steun staan op sowat 23%, en nog sowat vyf partye sal waarskynlik tot die parlement verkies word. Moeilike koalisie-onderhandelinge lê egter ná die verkiesing voor.

Die verkiesing in Bulgarye sal reg deur Europa, en veral in die Europese Unie, dopgehou word omdat daar heelwat kommer oor korrupsie in die Bulgaarse regering bestaan en Bulgarye gereeld as die siek kind van die EU beskou word. Heelwat ontwikkelingsfondse van die EU vloei jaarliks na armer lidlande in Oos-Europa, wat veral Bulgarye insluit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.