Internasionale oorsig: Belarus wil nie swig onder druk van Weste

Die vliegtuig van Ryanair wat na Minsk herlei is. (Foto: AFP)

Die omstrede besluit deur die regering van Belarus om verlede Sondag ’n vlug van Ryanair van Griekeland na Litoue te verplig om in Minsk, Belarus te land sodat ’n 26-jarige amateur joernalis en internetaktivis in hegtenis geneem kan word, is die afgelope paar dae wyd veroordeel. Die Europese Unie het ’n vlugverbod tussen die 27 EU-lidlande en Belarus ingestel en het Europese lugdienste versoek om nie oor die lugruim van Belarus te vlieg nie.

Ten spyte hiervan weier pres. Alexander Lukashenko om Roman Protasevich vry te laat. Die lugmag van Belarus het op ’n dramatiese wyse ’n vegvliegtuig gestuur om die Ryanair-vliegtuig te vergesel en te verplig om in Minsk te land. Rusland se regering het intussen Lukashenko se besluit verdedig terwyl Westerse leiers dit as ’n kaping en selfs ’n daad van internasionale terreur beskryf het.

Sedert ’n omstrede verkiesing in Augustus verlede jaar het groot betogings regoor Belarus teen die outoritêre regering van Lukashenko plaasgevind. Duisende aktiviste is in hegtenis geneem en geen onafhanklike joernaliste word toegelaat om oor gebeure in dié land te berig nie. Lukashenko se regering het onlangs ook nuwe wetgewing voorgestel wat betogings byna onmoontlik sal maak en wat tot die vervolging van enigiemand wat betogings aanmoedig, kan lei.

Protasevich woon reeds vir meer as twee jaar in die buiteland vanwaar hy, saam met ander jong aktiviste afkomstig uit Belarus, oor die korrupsie en outoritêre optrede van Lukashenko en sy regering berig. Ná verlede jaar se verkiesing was Protasevich saam met ander joernaliste betrokke by die mobilisering van betogers deur ’n platform met meer as een miljoen volgelinge op Telegram.

Pres. Alexander Lukashenko. (Foto: Maxim GUCHEK/BELTA/AFP)

Lukashenko se dramatiese besluit om, met ernstige gevolge, soos nuwe sanksies en verdere isolasie van sy land, Protasevich in hegtenis te neem gaan dus nie net oor Protasevich se optrede nie, maar stuur ook ’n boodskap aan ander aktiviste om nie die regering van Lukashenko uit te daag nie.

Belarus is reeds een van die armste lande in Europa en is die mees ondemokratiese land op die vasteland. Die land het egter ’n sterk bondgenootskap met Rusland, China, Iran en Sirië en solank veral Rusland Lukashenko ondersteun sal geen sanksies of vlugbeperkings waarskynlik tot sy val aanleiding gee nie.

Intussen is ’n video, waarin Protasevich erken dat hy verantwoordelik was vir die organisering van ’n massa-oproer in Minsk, deur die regering van Belarus, beskikbaar gestel. Daar word algemeen aanvaar dat hy die verklaring onder dwang gemaak het. Westerse lande het egter min verdere opsies tot hulle beskikking om druk op Lukashenko te plaas.

Verdere radikalisering in Tsjetsjnië skep uitdagings vir Moskou

Volgens ’n verslag deur die Russiese politieke analis, Mairbek Vatchagaev, was daar die afgelope 18 maande ’n skerp toename in geweld in die outonome deelgebied, Tsjetsjnië, in die Noord-Kaukasus. Dit word veral veroorsaak deur ’n voortdurende radikalisering van jeugdiges in dié gebied.

Die Tsjetsjniërs veg reeds eeue lank al vir hulle vryheid. Toe Rusland in die 16de eeu in die Kaukasus-streek betrokke geraak het, het Tsjetsjnië ’n verbete stryd teen die Russe begin voer. Dié stryd duur vandag nog voort. Nadat Rusland beheer oor die gebied verkry het, het die Tsjetsjniërs hulle tot Islam gewend uit weerstand teen Russiese beheer.

Na die verbrokkeling van die Sowjet-unie was daar twee oorloë tussen Rusland en Tsjetsjnië. Ná die eerste het Tsjetsjnië ’n onafhanklike land geword, maar na die tweede is dit deur Rusland verower en het dit ’n outonome streek in Rusland geword. Sedertdien is daar gereeld in verskeie plekke in Rusland, veral in Moskou, terreuraanvalle wat deur geradikaliseerde Tsjetsjniërs gepleeg word. Tsjetsjniërs het ook al terreuraanvalle in ander Westerse lande soos die VSA gepleeg.

Die Russiese sekerheidsmagte is aktief in Tsjetsjnië betrokke en neem gereeld geradikaliseerde jeugdiges in hegtenis. ’n Onlangse meningspeiling onder jong Tsjetsjniërs het gewys dat byna 50% ten gunste van die Islamitiese Staat-terreurgroep is. Daar is veral ’n toename in radikalisering onder jong mans in Tsjetsjnië en vrese in Rusland neem toe dat daar ’n toename in aanvalle deur Tsjetsjniërs oor die volgende paar jaar kan plaasvind, wat uiteindelik selfs weer tot ’n volskaalse oorlog kan lei.

Intussen neem die stryd tussen geradikaliseerde Tsjetsjniërs en die Russiese veiligheidsmagte toe. In 2019 is 31 mense in geweld tussen die twee groepe dood en in 2020 het dit tot 45 gestyg. Die afgelope paar maande was daar ’n skerp toename in jong mans jonger as 35 wat by radikale groepe aangesluit het.

Die Kaukasus is steeds een van die mees onstabiele streke in Oos-Europa en Wes-Asië met die konflik tussen Armenië en Azerbeidjan wat ook weer die afgelope tyd dreig om tot groter geweld oor te gaan. Azerbeidjan hou steeds soldate van Armenië uit verlede jaar se oorlog gevange en die afgelope week is ses soldate van Armenië deur Azerbeidjan op die grens tussen die twee lande gevange geneem wat die spanning verder verhoog het. Die Kaukasus verkeer steeds, behalwe vir Georgië, steeds grootliks onder die invloed van Rusland en dié land sal uiteindelik ook ’n groot deel uitmaak van hoe die huidige konfliksituasies in die streek gaan ontvou.

Wêreldwye tekort aan koffie, suiker en lemoensap dreig

koffiebone

Foto: Uroburos/Pixabay.com

Die afgelope reënseisoen in Brasilië was een van die droogste in die geskiedenis van dié land en ernstige vrese bestaan dat Brasilië se landboubedryf, vanjaar weens ’n watertekort wesenlik minder uitvoerprodukte, veral koffie, suiker en lemoene gaan lewer. Brasilië is die wêreld se grootste produsent van koffie, suiker en lemoensap en weens die huidige droogte sal boere in dié land nie naastenby dieselfde opbrengs hierdie somer as die afgelope paar jaar kan lewer nie.

Sou die droogte bly voortduur kan die laer produksie in Brasilië tot ’n globale styging in voedselpryse aanleiding gee wat in lande soos die VSA tot hoër inflasie kan lei. Die VSA voer die meeste van sy koffie, suiker en lemoensap uit Brasilië in. Termynkontrakte vir koffie en suiker het reeds op markte in New York tot ’n vier jaar hoogtepunt gestyg.

Sowat 30% van Brasilië se lemoenboorde en 15% van sy koffie-aanplantings word uit riviere en mere besproei en die watervlakke is tans kritiek laag. Die lae produksie in Brasilië skep wel uitvoergeleenthede vir boere in ander lande soos Suid-Afrika.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dirk Mostert ·

Dalk ‘n drastiese manier om ‘n renegaat in hegtenis te neem. Maande na die militere staatsgreep in Mianmar en honderde beswaarmakers wat in die strate doodgeskiet is, hoor ons nog nie boe of ba van die Europese lande of die Verenigde Nasies nie.

Marthinus W ·

In 2013 is Bolivie se president, Evo Morales, se vliegtuig gedwing om in Oostenryk te land, omdat daar vermoed is dat Edward Snowdon aan boord was. Hy was nie, en die Weste het nie gekla nie. In 2016 is `n Oekrainese vliegtuig gedwing om in Kief te land, sodat die dissident Armen Martirosjan gearresteer kon word. Die Weste het toe ook nie gekla nie.

Net so hipokrities oor Nawalni, terwyl die Oekraine se wettiglik verkose opposisieleier die afgelope maand al onder huisarres is, maar ons praat nie daarooor nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.