Internasionale oorsig: Biden-administrasie sukkel toenemend

Pres. Joe Biden. (Foto: JIM WATSON/AFP)

President Joe Biden van die VSA het Woensdagaand op ABC News in ʼn onderhoud met die bekende joernalis George Stephanopoulos gelyk soos ʼn staatshoof wat beheer oor ʼn ernstige krisis verloor het.

Op die vraag oor wat Biden gedink het van die dramatiese videobeelde van desperate Afghane wat aan ʼn Amerikaanse lugmagvliegtuig vasklou terwyl die vliegtuig op die aanloopbaan in Kaboel begin beweeg, het Biden hom vir Stephanopoulos vervies en dit as gebeure van “vier of vyf dae gelede” afgemaak.

Peilings die afgelope week in die VSA wys dat ʼn meerderheid van Amerikaners ontevrede is met Biden se hantering van die Amerikaanse onttrekking aan Afghanistan. Biden se gewildheid onder Amerikaners daal steeds met ʼn meerderheid van Amerikaners wat nou in sommige peilings aandui dat hulle ontevrede is met sy leierskap.

Een van Biden se groot beloftes nadat hy tot president verkies is, was dat hy Amerika se geloofwaardigheid in die buiteland “in ere sou herstel”. Die afgelope week se chaos in Afghanistan het eerder Amerika se geloofwaardigheid verder benadeel en ernstige vrae word gestel oor die VSA se vermoë om as supermoondheid steeds ʼn opbouende globale rol te speel.

In die Britse regering was daar die afgelope week heelwat ongelukkigheid met Biden se hantering van die gebeure in Afghanistan. Brittanje was ʼn sterk ondersteuner van die Amerikaanse oorlog in Afghanistan en het naas die VSA die meeste troepe in dié land gehad.

Biden se buitelandse beleid sedert hy in Januarie ingehuldig is, is tot dusver gekenmerk deur die uitvoer van populistiese verkiesingsbeloftes soos die onttrekking uit Afghanistan, die heronderhandeling van ʼn kernooreenkoms met Iran en die heraansluiting by die Parys-klimaatsooreenkoms. Dit word egter ook gekenmerk deur die skep van heelwat onsekerheid in die verhouding met bondgenote soos die Verenigde Koninkryk, Pole, Israel, Indië en ander lande in Asië.

Terwyl ʼn handelsooreenkoms tussen die VSA en die Verenigde Koninkryk nog vir die Trump-administrasie ʼn topprioriteit was, hou Biden aan om dit uit te stel. Sy verwysing na die demokraties-verkose konserwatiewe leiers van Pole en Hongarye as “outoritêre boewe” het kommer in Sentraal- en Oos-Europa laat ontstaan oor die verhouding en samewerking met die VSA.

In Asië heers daar kommer in lande soos Taiwan, Suid-Korea en Japan oor of die VSA as verdedigingsvennoot vertrou kan word. Die gebeure in Afghanistan het heelwat vrae laat ontstaan oor of die VSA hierdie en ander bondgenote sal bystaan indien hulle deur byvoorbeeld China aangeval sou word.

Dit is egter nie net in die buiteland waar die Biden-administrasie misluk nie. Die Biden-administrasie is vinnig besig om die mees radikaal-linkse regering in die geskiedenis van die VSA te word, met biljoene dollars se bestedingspakkette wat die federale regering se skuldlas tot $28 biljoen (“trillion”) laat toeneem het. Dit is meer as 100% van die VSA se Bruto Binnelandse Produk en is $86 000 per Amerikaanse burger. Die begrotingstekort gaan vanjaar meer as $3 biljoen beloop.

Kommer neem steeds toe oor langdurige inflasieprobleme in die VSA en dat die oorverhitting van die Amerikaanse ekonomie uiteindelik tot ʼn resessie aanleiding kan gee. Biden se toegewings aan die bestedingseise van die mees linkse deel van die Demokratiese Party is besig om ernstige skade aan die Amerikaanse ekonomie aan te rig.

Intussen het Biden se minister van binnelandse veiligheid, Alejandro Mayorkas, tydens ʼn besoek aan die grens tussen die VSA en Mexiko erken dat die probleme met onwettige immigrasie krisisafmetings bereik het. Sowat 200 000 onwettige immigrante is in Julie op die grens aangekeer, met baie meer wat die grens onwettig maar suksesvol oorgesteek het. Sedert Januarie het minstens 1,5 miljoen onwettige immigrante reeds die grens oorgesteek.

Kamala Harris. (Foto: John Locher/AFP)

Adjunk-president Kamala Harris is maande gelede deur Biden aangesê om die krisis op die grens te hanteer, maar sy het grootliks hierin misluk. Dit is veral Latyns-Amerikaanse gemeenskappe in Texas naby aan die grens wat skerp kritiek teen die Biden-administrasie se hantering van die grenskrisis uitspreek. Pete Saenz, die burgemeester van Laredo in Texas, ʼn oorwegend Latyns-Amerikaanse dorp, het verlede week gesê dat die Biden-administrasie dringend moet optree omdat Laredo en ander dorpe onder enorme druk geplaas word weens al die onwettige immigrante wat daar arriveer.

Intussen neem skietvoorvalle in Amerika se grootste stede steeds toe en het die Biden-administrasie geen plan hoe om dit te hanteer nie. Die afgelope week het meer as 140 000 Amerikaners in die VSA daagliks positief vir Covid-19 getoets, terwyl inentings steeds afneem. Die Biden-administrasie se ambisieuse inentingsdoelwitte is nie bereik nie en kommentators vra die vraag oor waarom Biden mense wat oortuig moet word om ingeënt te word, eerder met sy boodskap vervreem.

CNN se politieke kommentator en skerp kritikus van die Republikeinse Party, Chris Cillizza, het die afgelope week op CNN gesê dat Biden sy veldtog in 2020 gebou het op die narratief dat hy oor dekades heen in die staatsdiens die bevoegdheid ontwikkel het om ʼn betroubare president en leier te wees. Cillizza sê dat baie Amerikaners nou in Biden se vermoë begin twyfel. Hy gaan selfs sover om te sê dat volgende jaar se middeltermynverkiesing toenemend rooskleurig vir die Republikeine begin lyk.

In ʼn tyd waarin ʼn toename van internasionale terreur weer gevrees word, waar die Covid-19-pandemie steeds wêreldwyd chaos veroorsaak en vrese toeneem dat China ʼn meer ontwrigtende globale rol kan speel, is ʼn standvastige, betroubare VSA nou baie nodig. Daarvoor het die land ʼn bekwame leier nodig. Biden slaag nie daarin om daardie leier wees nie.

Belangrike hofsaak kan ʼn einde maak aan regstellende aksie in VSA

Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts (Julie 2020) (Foto: Maddie Meyer/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Die Amerikaanse hooggeregshof oorweeg dit tans om ʼn deurslaggewende saak oor die toekoms van regstellende aksie in die VSA aan te hoor. Die saak tussen ʼn groep meestal Asiatiese studente (Students for Fair Admission) en Harvard-universiteit handel oor dié universiteit se toelatingsbeleid en die gebruik van rassekwotas.

Hierdie organisasie het ook onlangs hofsake teen twee universiteite in Texas en teen ʼn universiteit in Noord-Carolina oor dié universiteite se toelatingsbeleid aanhangig gemaak. In die meeste gevalle het die organisasie se sake tot dusver in die federale howe misluk. Daarom is besluit om in die geval van die Harvard-saak na die hooggeregshof te appelleer.

Harrison Chen is ʼn 21-jarige student wat in die VSA gebore is en grootgeword het. Sy ouers het uit China na die VSA geïmmigreer. Op hoërskool was Chen die beste in sy klas en hy het ʼn bykans perfekte telling in die Amerikaanse SAT-toetsing behaal. Ten spyte van Chen se briljante akademiese prestasie is sy aansoek om studie by Harvard afgekeur – na bewering weens die oorverteenwoordiging van Asiatiese studente op die kampus. Harvard, soos talle ander Amerikaanse universiteite, gebruik verskillende maatstawwe vir verskillende rassegroepe in sy keuring van studente.

Prof. Nicholas Lemann van die Columbia-universiteit se nagraadse joernalistiekskool skryf onlangs in die New Yorker-tydskrif dat die vraagstuk wat beantwoord moet word, die vraag is of meritokrasie of diversiteit die belangrikste maatstaf vir universiteitstoelating moet wees. Lemann sê dat dit noodsaaklik is dat die huidige hooggeregshof die Harvard-saak moet aanhoor ten einde klarigheid oor hierdie kwessie te kry.

Harvard se beleid maak dit veral moeilik vir studente van Asiatiese afkoms om keuring te kry. Peter Arcidiacono, ʼn deskundige op die gebied van toelating by universiteite, het ʼn model ontwikkel wat die impak van diskriminerende toelatingsbeleid by universiteite ontleed. Volgens hom sal ʼn student van Asiatiese afkoms wat tans ʼn 25%-kans het om gekeur te word, se kans om toelating te kry tot 32% styg sou hy wit gewees het. Sou hy van Latyns-Amerikaanse afkoms wees, sou sy kans om keuring te kry 77% gewees het en 95% indien hy swart is. Dit is dus dramaties makliker vir swart studente as vir Asiatiese en wit studente om by Harvard gekeur te word. Harvard, soos ander universiteite, se beleid is veral daarop gemik om meer Latyns-Amerikaanse en swart studente toe te laat, al beteken dit dat hul akademiese prestasies heelwat swakker is.

Stappe om veral meer swart studente by Amerikaanse universiteite toe te laat, het veral sy oorsprong in die burgerregtebeweging van die 1960’s. Die gestandaardiseerde SAT-toetsing waarvolgens studente by universiteite toegelaat is, was ʼn uitdaging omdat daar toe, soos nou, ʼn groot verskil tussen die SAT-telling van studente van verskillende rassegroepe is.

Universiteite het veral sedert die vroeë 1970’s SAT-tellings in kombinasie met spesifieke rasseteikens begin gebruik wat meegebring het dat studente van sommige rasse met laer SAT-tellings by universiteite toegelaat is, terwyl studente met hoër tellings nie toelating kon kry nie.

Die afgelope 50 jaar was daar gereeld hofsake hieroor in die VSA. Die eerste een was in 1974 toe ʼn wit student, Marco DeFunis, ʼn saak teen die Universiteit van Washington se regskool aanhangig gemaak het omdat sy aansoek om toelating weens dié universiteit se regstellendeaksiebeleid afgekeur is.

In 2003 het die hooggeregshof die Universiteit van Michigan se streng rassekwotas vir keuring in ʼn stemming van ses teen drie verwerp. Die hof het egter in ʼn stemming van vyf teen vier ten gunste van ʼn beleid beslis waarin ras wel deel van ʼn breër toelatingsbeleid is.

Die debat hieroor het sedertdien heelwat ontwikkel in die VSA met al hoe meer leiers wat die vraag vra of dit nog enigsins korrek is om ras as deel van ʼn toelatingsbeleid, 50 jaar ná die goedkeuring van burgerregtewetgewing, te gebruik. Universiteite is ook versigtiger om data oor die gebruik van regstellendeaksiebeleid in hul keuring bekend te maak wat dit moeilik maak vir ʼn student wat afgekeur is om te weet of sy ras ʼn rol in die afkeuring van sy aansoek gespeel het. Tweedens het die samestelling van die hooggeregshof ook verander met ses konserwatiewe en slegs drie liberale regters wat tans op die hof se regbank sit.

In die Harvard-saak het die laerhowe in die guns van Harvard beslis. Die vraag is egter eerstens of die hooggeregshof die saak sal opneem en tweedens of die nuwe ideologiese balans op die regbank tot ʼn omkeer van die beslissings van die laerhowe kan lei.

Hoofregter John Roberts, hoewel breedweg gematig-konserwatief, het die afgelope paar jaar gereeld saam met liberale regters in die hof gestem. Roberts het egter in die verlede al subtiele simpatie getoon teenoor studente wat weens regstellende aksie nie by universiteite toegelaat is nie. In ʼn 2006-saak het hy gesê: “Die manier om diskriminasie op grond van ras te stop, is om op te hou om op grond van ras te diskrimineer.”

Sou die hooggeregshof die Harvard-saak opneem, sal Roberts waarskynlik die beslissende stem kan wees. Sou hy teen Harvard beslis, kan dit deurslaggewend wees en sal die ses teen drie beslissing van 2003 grootliks omgekeer word.

Hoewel die saak oor die gebruik van ras in toelatingsbeleid handel, sal die uitspraak van so ʼn saak ʼn invloed op alle regstellende aksie in die VSA hê en kan verskeie regeringsprogramme uiteindelik daardeur geraak word. Dit kan selfs die begin van die einde van regstellende aksie in die VSA beteken. Die hof sal egter moet instem om wel die saak aan te hoor.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Harley Davidson ·

Met alle respek is Biden en Ramaposa omtrent in dieselfde kategorie wanneer dit by die beheer van ‘n land kom .Die media het President Trump gesink die enigste leier wat sy land eerste gestel het soos sy verkiesing belofte ” make America great again.

Vrijburger ·

Maar selfs meer as dit, dink aan die Demokrate as die ANC van die VSA. Dieselfde vernietigende beleide en geneigdheid. (American Marxism: Mark Levin.)

Vrijburger ·

‘n Goeie ontleding.

“Beiden-administrasie sukkel toenemend” is ‘n ernstige ‘understatement’. As CNN hom begin aanspreek – eish, dan is die keiser kaal.

En ja, daar is sistematiese rasisme in Amerika soos die (s)linkes beweer – dit is egter swart bevoorregting. (Regstellende aksie, ‘get-out-of-jail-free cards’, maatskaplike toelae ens.)

Martie Smartie ·

Ja nee die liberales se oupa vang al klaar stres. Hy moes lankal op die stoep sit en tee drink en stories vertel het v sy kleinkinders. En van sy 2de in bevel praat ek nie eens nie. Lekker man kry v julle. Die deursnee wit libtard in die VSA het gedog as hulle saamspan met anderskleuriges, is alles honkie dorie. Hulle gaan nog verlang na Trump. So jammer sy kop was ook nie aldag lekker reg nie …

Marthinus W ·

Jaco, wat bedoel jy met China se “ontwrigtende globale rol”? Amerika as stabiliserende rol? Vra die lande wat deur Amerika in `n woestyn omskep is, en dit dan vrede noem. Hoe kan China vir Taiwan inval? Taiwan is deel van China, en volgens Amerikaanse Kongreslede is daar tans iets soos 30 000 Amerikaanse troepe op die klein eiland – dit is ontwrigting van die vrede en stabiliteit.

piet ·

Hy spandeer baie geld maar dis alles om Trump se gemors reg te maak. VSA is nou in BAIE beter hande.

petro ·

Ai, lag ek nou lekker vir jou, Piet. Ek neem aan dat jy ‘n grap maak, ne?

piet ·

Trump was die ongewildste VSA president ooit. Nooit 50% populariteit gehaal nie en was op 34% toe hy die Withuis verlaat het. Biden is hier by die 50% rond.

Anton ·

Hang seker af van wie jy vra en wie tel. Terloops, jou naam is verkeerd gespel :-)

groenboer ·

Die snaakse ding omtrent die toelatingsvereiste-ding is dat waar jy studeer eintlik min invloed gaan hê op enigiets. Die universiteite is dalk nie meer heeltemal meritokraties nie, maar die werklike lewe daar buite is wel. ‘n Briljante ingenieur, wetenskaplike of sakeman gaan nie teruggehou word bloot omdat hy sy graad gekry het by die universiteit van Kansas eerder as by Harvard nie.

Om by ‘n elite universiteit graad te kry sal aanvaklik wel ‘n paar deure vir jou oopmaak, maar nie eintlik veel nie, in elk geval nie in vakgebiede wat saak maak, soos medisyne of ingenieurswese nie. Veral nie in ‘n samelewing so genadeloos meritokraties as Amerika s’n nie.

Die universiteite wat so hamer op diversiteit is dus bloot besig om hulself in die voet te skiet, want wat jou ‘n elite universiteit maak is, onder andere, of jy elite studente kan aanlok. As die beste studente nou besluit of verplig word om eerder in Kansas te gaan studeer, eindig Harvard se elite status baie vinnig.

Anton ·

Ek het in 2004 voorspel dat die VSA voor 2050 nie meer as ‘n entiteit gaan bestaan nie. Ek dink nou ek was oor optimisties

Jaco ·

Ek het nog steeds hoop vir Biden, want hy en sy hoogheilige Demokrate het so ‘n mooi mooi oop “human rights” georiënteerde oop immigrasiebeleid. Ek wonder net, dít kan mos ook tot SA se onderdrukte wit mense se voordeel wees: ramaphosa kan al SA se “rassistiese” wit mense wat so “erg ongelykheid” in SA skep, mos na die “oop” Amerika deporteer. En Biden sal dan so min of meer verplig wees om ons in te vat. Dit sal mos nou mooi wys hoe sy “non-racial, non-discriminating human rights” werk.

Vrijburger ·

LMGA. “The Walking Dead” verwysende na die zombie TV reeks.

petro ·

Trump het die ekonomie laat styg, werkloosheid het skerp gedaal,……. so kan ons aangaan. Hy het Amerika eerste gestel. Biden weet nie eers op watter planeet hy is nie. Hy maak soveel foute. Dit is ‘n skande dat al Trump se harde werp nou in die drein is!

piet ·

Die waarheid is dat werkloosheid skerp gedaal het onder Obama se beheer. Obama moet eintlik die krediet kry want dis hy wat dinge omgekeer het. Trump het met die tendens voortgegaan in ‘n mindere mate totdat Covid toegeslaan het toe gaan dit weer vrot. Trump sal onthou word vir die halwe muur wat hy tussen die VSA en Mexiko gebou het, dat hy die res van die wereld se leiers die harnas ingejaag het, dat hy mense opgesweep het om die US Capitol in te val, dat hy die gevare van Covid ontken het en laks was met die uitrol van inentings terwyl duisende Amerikaners besig is om dood te gaan, dat hy valse bewerings gemaak het oor die verkiesing, sy onbeskofte gedrag, ensovoorts. Swakste VSA president ooit en die meningspeilings wys dit.

Andre ·

Dalk moet jy iets anders as CNN begin kyk. Nie een van sy voorgangers kon hond haaraf maak met ander staatshoofde soos N Korea en China nie. En staak maar die gesanik en drama oor 6/1, selfs die FBI erken nou dat daar GEEN bewyse gevind kon word nie. Nice try……….

piet ·

Laat ons nie vergeet dat Trump 2-maal gedurende sy termyn “impeachment” verhore moes deurgaan nie. Swak, eerste president wat dit mee gebeur. Baie ongewild gewees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.