Internasionale oorsig: Biden besig om fisiek en polities te kwyn

Pres. Joe Biden. (Foto: Nicholas Kamm/AFP)

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het twee weke gelede tydens ʼn openbare geleentheid wat deur CNN uitgesaai is, uiters verwarrende en onsamehangende antwoorde gegee wat met tye in ʼn volslae verleentheid vir sy administrasie ontaard het. Hy het tydens die geleentheid gereeld deurmekaar begin praat en sinne gesê wat geen sin gemaak het nie, en met tye heeltemal vergeet waaroor hy uitgevra is of waaroor hy besig was om te praat.

Biden ontwyk die media grootliks die afgelope paar weke en dié verskyning op CNN was veronderstel om te bewys dat hy bereid is om direkte vrae van Amerikaners te beantwoord. Terwyl die meeste hoofstroommedia in die VSA Biden met handskoene hanteer en steeds weier om vrae oor sy kognitiewe vermoëns te vra, is dit duidelik dat iets ernstig verkeerd is en dat die feit dat Biden hakkel nie meer genoeg van ʼn verduideliking is nie.

Biden het aanvanklik, nadat hy in Januarie ingehuldig is, ʼn wittebroodtydperk beleef met meer as die helfte van Amerikaners wat positief oor sy presidentskap was. Amerika is veral sedert die verkiesing in 2000 erg verdeeld met Bush, Obama, Trump en nou Biden wat nie daarin kon slaag om ʼn middegrond te vind om die steun van ʼn wyer groep Amerikaners agter hulle te verenig nie.

Hoewel Biden in Januarie onderneem het om na alle Amerikaners uit te reik en die verdeeldheid in die VSA reg te stel, is dit duidelik dat die optrede van sy administrasie die verdeeldheid in die VSA eerder vererger. Biden se voortdurende toegewings aan die meer linkse vleuel van die Demokratiese Party dra by tot die vervreemding van byna alle Republikeine en ʼn groeiende groep gematigde, onafhanklike Amerikaanse kiesers.

Die gerespekteerde Gallup-peilingsagentskap het in die tweede week van Junie bevind dat 56% van Amerikaners positief oor Biden en sy administrasie was. Teen die middel van Julie het dit tot 50% gedaal. Onder onafhanklike kiesers het sy steun binne een maand met 7% tot 48% gedaal. Met Demokrate en Republikeine wat verder en verder van mekaar wegdryf, is die steun van die gematigde middel vir enige president noodsaaklik om sy agenda uit te voer, veral met middeltermynverkiesings wat volgende jaar in die VSA plaasvind.

Joe Biden (Foto: AP Photo/Matt Rourke)

Volgens drie verskillende peilings wat in Julie gedoen is, is meer as 50% van Amerikaners pessimisties oor die rigting waarin die VSA tans beweeg. Dit is ʼn skerp toename in pessimisme van tussen 18% en 25% sedert die periode kort ná Biden se inhuldiging.

Die Biden-administrasie het tydens sy eerste ses maande in die Withuis hoofsaaklik op drie prioriteite gefokus. Die eerste was om soveel as moontlik konserwatiewe beleidsrigtings wat deur Donald Trump ingestel is, om te keer. Daarin het hulle grootliks geslaag.

Tweedens het die Biden-administrasie ʼn enorme poging van stapel gestuur om op die groter wordende links-progressiewe deel van die Demokratiese Party se belangrikste prioriteite, waaronder meer regulasies in die ekonomie, groot nuwe bestedingsprogramme, ʼn sterk fokus op rassekwessies, inkomste- en ander ongelykheid en klimaatsverandering, te fokus. Die uitbreiding van die federale regering se bestedingsprogramme die afgelope ses maande was enorm en peilings wys dat meer en meer Amerikaners bekommerd raak oor die federale regering se groeiende staatskuld.

Terwyl Biden en sy administrasie steeds baie gewild onder Demokrate en baie ongewild onder Republikeine is, is hy egter besig om die gematigde middelgroep vir wie Trump se bombastiese aanslag onaanvaarbaar was, te verloor.

Dit is nie net Biden se skerp swaai na links wat vir hierdie kiesers onaanvaarbaar is nie, maar ook sy administrasie se hantering van ernstige kwelpunte soos die vlakke van onwettige immigrasie, die enorme misdaadprobleem in Amerika se grootste stede, die huidige uitdagings om mense te oortuig om ingeënt te word, frustrasie met aanbevelings oor die hantering van die pandemie wat voortdurend verander word, en wat die buiteland betref, die groeiende spanning tussen die VSA en China en die vinnig verswakkende situasie in Afganistan wat in ʼn groot verleentheid vir die VSA ontaard.

Kamala Harris. (Foto: John Locher/AFP)

Biden is eintlik veronderstel om tans beter steunvlakke te werf met die baie sterk ekonomiese herstel in die VSA, inkomstevlakke wat styg en werkloosheid wat daal. Sy besluit om egter sy administrasie verder na links te posisioneer as wat die verwagting van die meeste Amerikaners was, is baie riskant. Biden was aan die begin van 2020 die gematigde kandidaat van die Demokrate wat verhoed het dat Bernie Sanders die party se presidentskandidaat word en wat die party om die sentrum van die politiek na ʼn oorwinning sou lei.

Hoewel Biden verlede jaar die verkiesing gewen het, slaag hy nie daarin om Amerikaners te verenig nie en kry ʼn mens selfs die indruk dat hy nie eers probeer nie. Biden se fokus is baie sterk daarop ingestel om ʼn rebellie deur die aktivistiese linkse deel van sy party te voorkom. Dit bring egter mee dat hy die kiesers in die middel begin verloor.

Terwyl ernstige vrae oor Biden se kognitiewe agteruitgang gevra moet word, is sy adjunk, Kamala Harris, steeds grootliks op die agtergrond en stel sy baie Demokrate teleur oor haar onvermoë om kiesers aan te gryp. Harris se steunvlakke het ook skerp afgeneem na talle foute wat sy gemaak het en slegs 46% van Amerikaners is tans positief oor haar.

Sou Biden en Harris nie daarin slaag om die huidige ekonomiese herstel in die VSA in ʼn groot pluspunt vir hulle administrasie te omskep nie, kan die Demokrate in volgende jaar se middeltermynverkiesing in die moeilikheid beland. Die twyfel neem toe of daar enigsins ʼn kans is dat Biden in 2024 vir nog ʼn termyn as president kan staan, en met Harris wat nie juis baie charisma toon en sterk na vore tree nie, het die Demokrate rede om bekommerd te raak. Hulle grootste voordeel kan, soos telkemale in die verlede, egter ʼn Republikeinse Party wees wat hom met swak kandidate en interne verdeeldheid in die voet skiet.

Onsekerheid oor VSA se strategie in Midde-Ooste

(Foto: Amerikaanse ambassade in Irak/AFP)

Die afgelope week het president Joe Biden van Amerika aangekondig dat Amerikaanse soldate nie langer by die gewapende stryd in Irak betrokke sal wees nie. Die aankondiging het gekom tydens ʼn besoek van Irak se eerste minister, Mustafa Al-Kadhimi, aan die Withuis.

Die VSA het tans 2 500 soldate in Irak. Volgens die Amerikaanse besluit, wat op versoek van Al-Kadhimi geneem is, sal die Amerikaanse weermag sy rol in Irak wysig en sal daar voortaan slegs op ondersteuning aan Irak se weermag, die opleiding van Irak se soldate en logistieke en ander ondersteuning gefokus word. Dit is onduidelik of die VSA sy huidige kontingent soldate in Irak gaan verklein, maar dit is onwaarskynlik.

Die afgelope tyd was daar ʼn toename in aanvalle op Amerikaanse teikens in Irak. Die meeste van hierdie aanvalle word geloods deur milisie-groepe wat deur Iran ondersteun word, hoewel terreurgroepe soos die Islamitiese Staat steeds ʼn teenwoordigheid in Irak het. Die Amerikaanse weermag is die afgelope sewe jaar met hoofsaaklik een doel in Irak betrokke en dit is om die Islamitiese Staat en ander verwante terreurgroepe te beveg.

Die VSA se teenwoordigheid in Irak is besonder ongewild onder die meeste Irakese en met ʼn verkiesing wat op 10 Oktober gaan plaasvind, was die afgelope week se aankondiging ʼn deurbraak vir Al-Kadhimi, ʼn Westers-opgeleide en bekwame tegnokraat, wat sedert hy verlede jaar in Mei eerste minister geword het, onder groot druk verkeer van Sjiiete-groepe wat Irak se parlement domineer, om die Amerikaanse weermag uit Irak te kry.

Terwyl Biden se besluit op kort termyn kan sin maak, word meer vrae in die VSA, maar ook in Midde-Oosterse lande, gevra oor Amerika se strategie in dié streek. Biden se aankondiging vroeër vanjaar dat die VSA al sy soldate uit Afganistan onttrek, het intussen katastrofiese gevolge vir dié land ingehou. Die Taliban is besig om beheer oor groot dele van Afganistan oor te neem, en die afgelope week het Afgane wat dit kan bekostig om die land te verlaat in lang toue gestaan om vir paspoorte aansoek te doen. Die VN het ook die afgelope week ʼn verslag bekend gemaak wat daarop dui dat daar tydens die eerste ses maande van vanjaar ʼn 47%- toename in burgerlike sterftes in Afganistan was.

amerika-vlag

Argieffoto.

Dit is ook onseker presies wat die VSA in Sirië beoog. Sedert Biden president geword het, was hy grootliks stil oor Sirië. Twee weke gelede het die VSA egter lugaanvalle in die ooste van dié land geloods wat daarop dui dat die Amerikaners steeds bekommerd is oor veral Iran se betrokkenheid in dié land.

Dit maak sin dat die VSA tans sy buitelandse fokus na Asië en spesifiek China verskuif. China hou tans die grootste bedreiging vir die VSA se globale leierskapsrol en vir demokrasie in Asië en elders in.

Die VSA kan en sal egter nie net die Midde-Ooste heeltemal kan uitlos nie. Die VSA se strategie in die Midde-Ooste gedurende die twintigste eeu het sterk verband gehou met toegang tot olie en die stryd teen die Sowjetunie. Met nie een van dié twee punte meer relevant nie, het die fokus onder George W Bush grootliks na die stryd teen internasionale terreur verskuif.

Daarmee saam het die VSA ook ʼn duidelike doelwit om Israel, en spesifiek die veiligheid van die Israeliese staat, te help beskerm. Die VSA wil ook probeer verhoed dat Iran se invloed in die streek uitbrei, juis omdat Iran volgens die Amerikaners ʼn veiligheidsbedreiging vir Israel inhou.

Tog maak die Amerikaanse regering se huidige optrede in die streek nie sin nie. Dit lyk eerder asof die Amerikaners ʼn dag-tot-dag-benadering volg en volgens die eise van lande in die streek, eie kapasiteit en politieke beloftes optree.

Die Midde-Ooste is steeds een van die streke in die wêreld waar die meeste Amerikaanse weermagbasisse geleë is, en die vraag wat nog nie deur die huidige Amerikaanse regering beantwoord is nie, is tot watter mate hierdie militêre betrokkenheid in die toekoms gaan verander. Met die VSA se onttrekking uit Afganistan en sy afskaling die afgelope paar jaar in Irak en Sirië is dit duidelik dat die Amerikaanse aptyt vir militêre betrokkenheid in die Midde-Ooste uiters beperk is.

Dit is egter nodig dat die VSA sy rol in die stabilisering van die streek beter moet verwoord en dat die VSA beter met ander magte in die streek, insluitende Rusland, moet saamwerk om die heropbou van terreurgroepe te verhoed.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Wat ons eerder moet uit-figure is wie Biden et al beheer en wat ‘hulle’ met die poppe-regering se hulp wil bereik. Zoros, Hillary en CNN is bed-tjommies. Die ‘inval’ in die Withuis was ‘n tienderangse maskerade deur ‘n gefrustreerde groep wat Trump en die konserwatiewes die nekslag wou toedien om die bloudruk oop te rol vir ‘n aanval op Rusland. Kamma-kuberaanvalle deur Rusland word deur die pap-geleefde omie onder verdere druk verkondig op aandrang van sy vroutjie wat glo sy is die USA-queen.

Delene

Joe Biden is nou maar eenmaal nie Donald Trump se gelyke nie. Mag Donald Trump met sy sterk persoonlikheid en sterk leierseienskappe blits vinnig weer na vore tree…..

Kenny

Lanklaas so partydige artikel gelees. Maroela Media behoort hulself te skaam!

SomeOne

biden was maar net ‘n marionet in sy mense se insigte, sy mense het baie van hom “gedink”, maar min kom daarvan, vsa kry binnekort dalk’n nuwe president, biden is nie opgewasse vir die groot taak nie

Lood

Dit kom daarvan as kiesers omgepraat word om iemand wat ooglopend seniel is te kies as president.