Internasionale oorsig: Biden-Jinping-beraad oorwinning vir China

Pres. Joe Biden en pres. Xi Jinping (Foto MANDEL NGAN/AFP)

Op versoek van die Amerikaanse regering het die presidente van die VSA en China Maandagaand vir meer as drie ure aan ʼn virtuele beraad deelgeneem om die gespanne verhouding tussen dié twee wêreldmoondhede te probeer bylê. Hoewel min konkrete besluite of beoogde optrede uit die beraad voortgevloei het, was dit egter die Chinese president Xi Jinping wat duidelik in beheer van die gesprek was en wat verskeie toegewings uit Biden gekry het.

In ʼn era waar beelde baie keer meer simboliek as woorde inhou, was die foto’s van die beraad sprekend van ʼn China wat homself as die leidinggewende globale moondheid beskou. Terwyl president Biden van agter ʼn klein ronde tafel in sy kantoor in die Withuis met Jinping gepraat het, het die Chinese leier van agter ʼn lang tafel met ʼn groot aantal raadgewers in ʼn indrukwekkende banketsaal, vol groot skerms en blommerangskikkings, deelgeneem. Die Chinese wou daarmee ʼn duidelike beeld die wêreld instuur.

Hoewel albei leiers hulle verbind het tot dialoog wat konflik sal vermy, was die belangrikste gevolge egter Biden se erkenning dat die VSA nie onafhanklikheid vir Taiwan nastreef nie en dat die VSA nie China se regeringsmodel wil probeer verander nie. Hoewel dit bevestiging van bestaande Amerikaanse standpunte is, het dit egter ook oorgekom as ʼn poging deur Biden om Jinping te paai nadat die Chinese president ʼn harde waarskuwing oor Amerika se beweerde inmenging in Taiwan gelewer het.

Die probleem met die beraad was dat Jinping voor die beraad reeds as die sterker leier oorgekom het. Terwyl Biden toenemend in ʼn verswakte politieke posisie in die VSA verkeer, het Jinping die afgelope tyd sy politieke magsgreep op China versterk.

Pres. Xi Jinping. (Foto: AP Photo/Andy Wong)

Wat albei lande se buitelandse beleid betref, is dit die VSA wat afskaal en China wat opskaal en toenemend aggressief in Asië optree. Verlede jaar in Junie het die Chinese weermag die sogenaamde Linie van Werklike Beheer tussen gebiede wat in die Himalajas deur China en Indië beheer word, oorgesteek. Dit het tot skermutselings en die dood van twintig Indiese soldate gelei.

Sedertdien oortree China ook sy grens met Nepal en Bhoetan, en die Chinese weier om die grensgeskil met Indië vreedsaam by te lê. Terwyl die Chinese weermag, deur die bou van eilande in die Suid-Chinese See, die gebied toenemend militêr domineer, het China se oortreding van grense met Japan ook begin toeneem.

Die afgelope maande het Chinese vegvliegtuie en oorlogskepe gereeld Japan se lugruim en waters binnegekom. Dit was veral die geval by die Senkaku-eilande in die Oos-Chinese See wat ook deur China opgeëis word.

Die VSA en Japan het ʼn ooreenkoms om mekaar in geval van ʼn aanval te verdedig, en juis daarom is hierdie gebeure van groot belang. Tog het Biden tydens Maandag se beraad nie duidelike eise aan Jinping gestel nie en hy het daardeur Jinping toegelaat om die agenda van die beraad te bepaal.

Hoewel die VSA nie noodwendig vir Taiwan hoef by te staan indien die eilandnasie deur China aangeval sou word nie, behoort die Biden-administrasie met groter fermheid op te tree oor China se uitlokkende gedrag jeens Taiwan. Dit was egter Jinping wat tydens die beraad oor Taiwan op die aanval was en Biden wat eerder ʼn tree of twee terug gegee het.

Pres. Joe Biden. (Foto: JIM WATSON/AFP)

China se uitlokkende gedrag is nie net tot Asië beperk nie. Verskeie verslae het die afgelope tyd voor die Amerikaanse Kongres gedien wat bewys dat die Chinese regering in Amerika se binnelandse sake probeer inmeng.

Chinese fentaniel, ʼn baie gevaarlike en verslawende pynmedikasie, word volgens berigte via Mexiko na die VSA gesmokkel. Die VSA het een van die ergste fentaniel-verslawings ter wêreld met duisende mense in die VSA wat maandeliks weens ʼn fentaniel-oordosis sterf.

China se diefstal van Amerikaanse maatskappye se intellektuele eiendom, die manipulasie van internasionale handel, en Chinese sosialemediaveldtogte wat geweld in die VSA aanmoedig, is enkele sake wat die afgelope maande in die Amerikaanse Kongres bespreek is.

Dit lyk egter nie of die Biden-administrasie antwoorde het op China se doelgerigte pogings om die VSA binnelands en buitelands te verswak nie. Biden se idee van ʼn beraad tussen hom en Jinping was ʼn goeie idee, maar dit sou slegs geslaagd gewees het indien hy toegewings by Jinping kon afdwing. Jinping het egter nie ʼn enkele erkenning of toegewing gemaak nie. Die gevolgtrekking kan dus net gemaak word dat die beraad ʼn oorwinning vir die Chinese oor ʼn verswakte Amerikaanse regering was.

Oorlogswolke begin weer oor die Oekraïne hang

(Argieffoto: Jason Lee/Reuters)

Duisende Russiese soldate is die afgelope tyd weer tot naby die grens tussen Rusland en die Oekraïne ontplooi. Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken, het intussen vir Rusland gewaarsku om nie by die konflik in die Oekraïne betrokke te raak nie, terwyl Poetin Donderdag harde woorde vir Westerse lande gehad het.

Poetin het Donderdag in ʼn beleidstoespraak in Moskou gesê dat Westerse lande daarteen moet waak om sekere “rooi lyne” oor te steek. Poetin se waarskuwing kom ná verskeie militêre oefeninge deur Navo die afgelope tyd in die Baltiese See, die Swart See en in ander dele van Oos-Europa, wat deur die Russe as uitlokkend beskou word.

Die Russe is egter die meeste bekommerd oor Westerse lande se toenemende militêre bystand aan die regering van die Oekraïne. Terwyl Navo Maandag gesê het dat hulle die ontplooiing van Russiese soldate naby die grens met die Oekraïne monitor, het die Franse president, Emmanuel Macron, gesê dat Frankryk wapens aan die Oekraïne sal verskaf. Die VSA doen dit ook reeds.

Die Britse minister van verdediging, Ben Wallace, het die Oekraïne die afgelope week besoek en het ook aangekondig dat Brittanje gereed is om die Oekraïne te help bewapen. Die weermag van die Oekraïne het reeds sedert Rusland se besetting van die Krim-skiereiland in 2014 sy vermoë drasties uitgebrei met die hulp van Westerse lande.

Die Russe hou egter vol dat hulle geen aanval op die Oekraïne beplan nie. Tans is dit ook nie duidelik watter motief die Russe kan hê om die Oekraïne aan te val nie, veral aangesien dit ʼn duur en moeilike oorlog kan veroorsaak waarby baie ander lande ook betrek kan word.

Tot dusver lyk dit eerder of die versameling van Russiese soldate naby die grens met die Oekraïne daarop gemik is om ʼn boodskap aan die Weste te stuur om uit die streek te bly. Die probleem bly egter dat die huidige militêre opbou in die Oekraïne, die konflik met Belarus, Rusland se ontplooiing van soldate en die toenemende militêre oefeninge in die streek ʼn plofbare situasie skep wat wel die kanse op oorlog verhoog. Hoewel voorspellings van ʼn volskaalse oorlog voortydig is, begin die oorlogswolke wel stadig maar seker in die streek saampak.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vrijburger ·

Ai tog, gaan Amerika die Brandon Administrasie era oorleef?!

En die Weste dink steed die Russe en nie die Sjinese is die vyand nie?

Jacobus ·

Dis baie steurend. Jammer maar vir die VSA moet dit duidelik wees dat die ruggraatlose Biden ‘n ramp is en dat hulle nog duur gaan betaal vir die gekookte verkiesing.

Groen Ghoen ·

Uiters insiggewend! Dit blyk asof China met die fabrieke en produksiemiddele (danksy globalisering?) tot sy beskikking, besig is om al hoe vinniger vir Amerika die loef af te steek. Vir hoe lank gaan die Dollar nog vir Amerika help om sy leefstyl te finansier? Biden se roekelose spandering jaag alreeds inflasie op. Indien Amerika se eksperiment met “Modern Monetary Theory” faal en die Dollar waardeloos word, gaan lande soos China en Rusland met hul groot goud reserwes dalk die laaste lag?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.