Internasionale oorsig: Biden steeds die anti-Trump in Europa

Pres. Wladimir Poetin en pres. Joe Biden. (Foto: Brendan Smialowski/AFP)

President Joe Biden van die VSA het die afgelope week na Washington DC teruggekeer na ’n uitgebreide besoek aan Europa wat ’n G7-beraad in Engeland, gesprekke met die Europese Unie, ’n beraad van Navo-lidlande se staatshoofde, ’n beraad met die Russiese president, Wladimir Poetin, en verskeie bilaterale gesprekke ingesluit het.

Biden se boodskap was deurgaans dat die VSA uit isolasie terug is, na vier jaar van die Trump-administrasie se beweerde isolerende internasionale beleid. Inderwaarheid was Biden se Europese toer dun aan uitsette en was die enigste werklike gevolg van sy besoek die feit dat Biden steeds die anti-Trump-president is. In praktyk gaan dit meer oor ingesteldheid, persoonlikheid en diplomatieke aanslag as oor beleid.

Die grootste verwagting wat sekerlik geskep is, was gesetel om Woensdag se ontmoeting tussen Biden en Poetin in Genève, Switserland. Biden se weiering om na die beraad saam met Poetin ’n mediakonferensie toe te spreek was tekenend van die Biden-administrasie se fyn uitgewerkte poging om te verhoed dat Biden enige foute maak. Terwyl die twee leiers na die beraad afsonderlike mediakonferensies gehou het, het Biden erken dat slegs vyf joernaliste, uit meer as 100 wat aanwesig was, vooraf deur sy span gekies is om vrae aan hom te stel. Ten spyte van die fyn uitgewerkte mediaboodskap het Biden aan die einde van sy baie kort mediakonferensie, hom vir ’n joernalis vervies en voorgestel dat sy nie ’n joernalis moes wees indien sy sulke vrae vir hom vra nie. Die vraag het gehandel oor sy beweerde vertroue voor die beraad dat hy Poetin van sekere punte sou kon oortuig.

Biden het tydens sy Europese besoek weereens wanneer die geleentheid hom voorgehou het, gereeld onsamehangend voorgekom en is daarom deur sy span adviseurs grootliks van die media weggehou met slegs twee kort, en fyn beplande, mediakonferensies. Hy het tydens die een mediakonferensie op ’n tydstip verkeerdelik na president Poetin as president Trump verwys en het toe hy oor Sirië gepraat het twee keer Libië gesê, wat tot verdere verwarring aanleiding gegee het.

Ten spyte van president Biden se verskeie flaters, sy duidelike kognitiewe uitdagings, sy beperkte beskikbaarheid aan die media en aanval op ’n joernalis, was die meeste internasionale media steeds positief oor Biden se besoek. Die positiewe reaksie was hoofsaaklik gegrond op die persepsie dat Biden die onsekerheid, omstredenheid en spanning wat tydens die Trump-administrasie geskep is, omgekeer het.

Pres. Wladimir Poetin en pres. Joe Biden. (Foto: Brendan Smialowski/AFP)

Selfs die mees liberale media in die VSA, wat tot dusver sterk ten gunste van Biden se presidentskap was, het erken dat die uitkomste van sy besoek beperk was. Die Washington Post het na die beraad met Poetin verwys as ’n “inkrementele vordering met ’n handjievol kwessies”.

Tydens die beraad met Poetin het dié twee leiers ooreengekom om hulle ambassadeurs weer na die onderskeie lande te stuur nadat albei lande vroeër vanjaar hulle ambassadeurs onttrek het. Verder is ooreengekom om gesprekke wat sal poog om die risiko van onbedoelde konflik te beperk, te hervat. Daar is ook ooreengekom om ’n vergadering van kenners bymekaar te bring om kuberveiligheid verder te bespreek. Hoewel hierdie belangrike sake is, is die uitkomste vaag en is daar inderwaarheid geen groot en belangrike prestasie waarmee enige van die twee leiers kon wegstap nie.

Die belangrikste uitkomste van die G7-beraad was ’n groter poging deur ryk, Westerse lande om meer entstowwe aan armer lande beskikbaar te stel en ’n meer gekoördineerde poging om aanslae deur Rusland en China op demokrasie wêreldwyd teen te werk. Ook tydens die Navo-beraad is grootliks op Rusland en China gefokus. Die uitkomste van die G7- en Navo-berade is egter grootliks ’n voortsetting van beleid wat reeds onder president Trump begin het. Dit was juis Trump wat druk op Europa geplaas het om sterker teen veral China op te tree.

Biden se steun daal tot onder 50% in nuutste peilings

Pres. Joe Biden. (Foto: Nicholas Kamm/AFP)

In twee gerespekteerde peilings wat die afgelope week in die VSA bekend gestel is, het die steun wat president Biden onder Amerikaanse kiesers geniet tot onder 50% gedaal; die laagste sedert hy in Januarie ingehuldig is.

In ’n peiling van die Monmouth Universiteit wat Woensdag bekend gestel is, het Biden se steun tot 49% gedaal, terwyl 43% van kiesers ’n afkeer in hom het. Die res het geen spesifieke opinie nie. In ’n peiling van die Economist-tydskrif het Biden se steun tot 48% gedaal, terwyl 45% van kiesers ’n afkeer in sy werkprestasie het. Kiesers is ook negatief oor die rigting waarin die land beweeg met tussen 37% en 38% van kiesers wat in die twee peilings sê dat die land in die regte rigting beweeg en tussen 50% en 58% wat sê dat die land in die verkeerde rigting beweeg.

Kiesers is nog meer negatief oor die werkprestasie van die Amerikaanse kongres met dié instelling wat tans die steun van slegs 17% tot 21% van kiesers in die onderskeie peilings geniet. Kiesers is veral negatief oor die twee politieke partye se onvermoë om saam te werk om oplossings vir ernstige kwelpunte te vind.

Hoewel Republikeine byna deur die bank negatief oor Biden was sedert sy inhuldiging, is sy steun onder Demokrate ook besig om af te neem. In April het 83% van Demokrate gesê dat hulle voel die land beweeg in die regte rigting. Teen verlede week het dit tot 59% gedaal soos wat meer en meer Demokrate voel dat Biden nie daarin slaag om sy verkiesingsbeloftes na te kom nie.

Steun vir die Amerikaanse kongres het onder Demokrate van 63% in April tot 32% gedaal. Dit voorspel niks goed vir dié party wat volgende jaar sy beheer oor albei huise van die kongres sal moet verdedig nie.

Biden het met groot beloftes die Withuis betree en baie Demokrate het groot verwagtinge wat moeilik bereik kan word. Van Biden se beloftes om die land te verenig het daar tot dusver ook nie veel gekom nie met verdeeldheid wat steeds ’n groot uitdaging bied.

Terwyl Biden deur sy besoek aan Europa probeer sê dat die VSA wil, kan en gaan leiding neem in transatlantiese verhoudinge, maar ook in belangrike ander geopolitieke vraagstukke, soos die uitdagings wat Rusland en China bied, lê sy administrasie se grootste uitdagings steeds op binnelandse vraagstukke en sal dit uiteindelik die sukses, al dan nie, van sy administrasie bepaal.

Kiesers in Switserland verwerp klimaatbeleid

‘n Betoging teen klimaatsverandering in Switserland. (Foto: Fabrice COFFRINI/AFP)

Kiesers in Switserland het verlede Sondag tydens ’n referendum drie voorstelle om klimaatsverandering teen te werk, verwerp, in ’n duidelike boodskap aan die Switserse regering en ander Europese lande dat die prys vir oordrewe klimaatsbeleid vir baie gewone mense eenvoudig te duur is.

Terwyl peilings in aanloop tot die referendum die teenoorgestelde voorspel het, het ’n klein meerderheid van kiesers die Switserse regering se voorgestelde maatreëls om klimaatsverandering teen te werk, waaronder bykomende belastingheffings op brandstof vir motors en ’n spesiale nuwe belasting op vliegkaartjies, verwerp.

Twee verdere voorstelle wat vernietigende gevolge vir die landboubedryf in Switserland sou hê, is deur meer as 60% van kiesers verwerp. Die eerste sou byna alle gifstowwe verban het en die tweede sou streng nuwe maatreëls oor die gebruik van chemiese stowwe op plase daargestel het.

Die Switserse regering het sy voorstelle om klimaatsverandering teen te werk baie sterk op die eerste voorstel gebou en ’n groot veldtog is gevoer om kiesers te oortuig om ten gunste van die maatreëls te stem. Met die uitslag van Sondag se referendum is die regering se planne nou van die tafel.

Kiesers moes Sondag op vyf vrae in die referendum stem. Die ander twee vrae het onderskeidelik oor die regering se hulpskema aan sakeondernemings wat weens die pandemie skade gely het en oor die polisie se magte om terreur teen te werk, gehandel. Die regering se planne om sakeondernemings verder finansieel te ondersteun is goedgekeur en die polisie se magte in die bevegting van terreur is versterk.

Wat Sondag se referendum egter bevestig is dat die vraagstuk oor die hantering van klimaatsverandering uiteindelik deur kiesers by stembusse bepaal gaan word. In Duitsland het die Groenparty se kandidaat vir bondskanselier, Annalena Baerbock, onlangs in ’n onderhoud met die grootste Duitse koerant, Bild, voorgestel dat belasting op brandstof met ’n verdere 16 euro sent (byna drie rand) per liter verhoog moet word ten einde klimaatsverandering te beveg. Haar party wil ook voorstel dat die spoedgrens op Duitse snelweë (daar is op talle snelweë in Duitsland geen spoedbeperking nie) afgebring moet word en dat die meeste motors uit stadskerns verban moet word.

Baerbock se voorstel oor ’n stikstofbelasting is baie sleg deur Duitse kiesers ontvang. Terwyl haar Groenparty ten tye van die onderhoud in Bild nog in peilings voorgeloop het, het die party se steun intussen met sowat 5% gedaal en is die Christen-Demokrate van Angela Merkel weer die voorloper in aanloop tot die Duitse federale verkiesing later vanjaar. Leiers van verskeie ander politieke partye in Duitsland het die voorgestelde belastingverhoging op brandstof as ’n aanslag op gewone Duitsers beskryf.

Ook in ander Europese lande gaan drakoniese klimaatsmaatreëls by die stembus getoets word. Die Franse president, Emmanuel Macron, moet reeds bontstaan om sy voorstelle te verdedig in aanloop tot volgende jaar se presidentsverkiesing.

Terwyl daar in Europa, soos in die meeste Westerse lande, konsensus onder ’n meerderheid van burgers bestaan dat daar meer gedoen moet word om klimaatsverandering teen te werk en die omgewing beter te beskerm, is daar toenemende ongelukkigheid met regerings se drakoniese maatreëls wat veral op groter heffings en hoër belastings neerkom.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anton

Natuurlik is die Europese leiers bly, Trump het hulle gedwing om hulle verpligtinge na te kom. Biden wou ook maar hy het vergeet wat dit was :-)

Vrijburger

LMGA. Die week ‘n spotprent gesien. Puten en Biden wat langs mekaar staan tydens ‘n mediakonferensie. Op Biden se rug is ‘n nota vasgewerk: “If lost, please return to: 1600 Pennsylvania Ave NW, Washington, DC – Dr. Jill Biden.”

Willem

Hulle het hom gekies nou sit hulle met hom. Hulle moet maar sterk wees tot 2024.

CA

Jaco: dit moet lees “…beweerde aanslae deur Rusland en China op demokrasie wêreldwyd…”. Ons het mos nog nie die bewyse gesien nie!

Windhond

Die rykes is positief wanneer dit by klimaats beskerming kom, totdat dit hulle sak raak