Internasionale oorsig: Boris Johnson veg terug

Boris Johnson. (Foto: Matt Dunham/AP)

Die Britse premier, Boris Johnson, moes die afgelope paar dae bontstaan om bewerings wat voormalige raadgewers soos die omstrede Dominic Cummings en selfs lede van sy eie party teen hom gemaak het, te weerlê. Woensdagmiddag tydens vraetyd in die Britse parlement het sir Keir Starmer, die leier van die Arbeidersparty, Johnson as ʼn gewoonteleuenaar probeer uitmaak.

Cummings, ʼn jare lange raadgewer van Johnson en een van die belangrikste rolspelers in die Brexit-veldtog ʼn paar jaar gelede, het Johnson verlede Vrydag in ʼn blog-inskrywing daarvan beskuldig dat hy onbehoorlik opgetree het deur na bewering fondse van die Konserwatiewe Party te gebruik om sy woning in Downingstraat 11, waar hy en sy verloofde woon, op te knap. In die skrywe beskuldig Cummings Johnson van oneerlikheid en gedrag wat nie aan die integriteitstandaarde voldoen wat van ʼn premier verwag word nie.

Johnson was die afgelope ruk gereeld in die nuus oor omstrede uitsprake en die bewering dat hy verlede jaar glo in ʼn woede-uitbarsting in sy kantoor kort nadat hy ʼn tweede nasionale staat van inperking in die Verenigde Koninkryk ingestel het, gesê het dat hy nie ʼn derde inperking sou instel nie, selfs al sou duisende lyke in Brittanje begin ophoop, het die afgelope week steeds tot omstredenheid gelei. Johnson ontken dat hy ooit so iets gesê het.

In ʼn peiling die afgelope week het 60% van Britte gesê dat hulle nie vertroue in Johnson het nie. Tog is meer as 50% van Britte steeds tevrede met Johnson se werksprestasie. Johnson was in sy kleurryke politieke loopbaan die afgelope twee dekades al baie keer in die sop oor sy omstrede uitsprake. Tog was hy nog altyd ʼn hoogs suksesvolle politikus wat tot die Britse parlement verkies is, twee termyne as burgemeester van Londen gedien het, minister van buitelandse sake was en sedert Julie 2019 die premier van die Verenigde Koninkryk is. Een van Johnson se grootste suksesverhale was die Brexit-referendum in 2016 waar hy een van die vernaamste gesigte van die veldtog om uit die Europese Unie te tree, was.

Johnson het nog elke politieke veldtog wat hy aangepak het gewen, ten spyte van voortdurende politieke en persoonlike omstredenheid. Aanstaande week vind belangrike plaaslike verkiesings in Engeland plaas en die Konserwatiewe Party kom ook in streeksverkiesings in Skotland en Wallis te staan. Dit kan ʼn aanduiding gee van die mate waartoe die Konserwatiewe Party en Johnson deur die huidige polemiek geraak word. Die Konserwatiewe Party se steun het die afgelope week in peilings met 5% gedaal, maar die party is steeds ʼn paar persentasiepunte voor die Arbeidersparty.

Die volgende parlementsverkiesing in die VK vind eers op 2 Mei 2024 plaas. Johnson se hantering van die Covid-19-pandemie en sy land se vinnige inwerkingstelling van ʼn entstofprogram geniet tans die steun van ʼn groot meerderheid van Britte. Johnson sal waarskynlik daarop wil voortbou deur volgende op ekonomiese herstel te fokus. Hoewel die onweerswolke oor Downingstraat 11 hang, is dit nog lank nie die einde van Johnson nie.

Biden se eerste 100 dae: meer regering; beweging na links

Pres. Joe Biden. (Foto: JIM WATSON/AFP)

Daar is heelwat simboliek in die feit dat ʼn skildery van Franklin D. Roosevelt, die VSA se 32ste president, deur die Biden-administrasie teen die muur regoor die president se lessenaar opgehang is. Tydens Roosevelt se 13 jaar in die Withuis is die rol van die federale regering en veral die Withuis drasties uitgebrei. Roosevelt se sogenaamde “New Deal” het ʼn verpligte staatspensioen in die VSA daargestel en het die federale regering se rol in mense se lewens drasties verhoog met verskeie maatskaplike en ander programme wat tot stand gekom het.

Roosevelt het die verhouding tussen die Withuis en die Amerikaanse kongres ook wesenlik verander. Voordat Roosevelt president geword het, het die inisiatief vir alle nuwe wetgewing in die kongres ontstaan en was die Withuis se rol meer beperk. Roosevelt het egter die uitvoerende gesag van die Withuis drasties uitgebrei en die president het ʼn direkte rol in die ontwikkeling van wetgewing gespeel, iets wat vandag nog die geval is.

Joe Biden glo, soos Roosevelt, in ʼn sterker uitvoerende presidensie en oor die algemeen in ʼn groter rol vir die federale regering op verskeie terreine, waaronder die ekonomie, gesondheidsorg, maatskaplike sorg, behuising en die VSA se sosiale en kulturele fokus.

Net soos Biden het Roosevelt hom ook as die sentristiese opsie teenoor die meer progressiewe magte in die Demokratiese Party geposisioneer, maar hy het uiteindelik ná sy verkiesing na ʼn meer links-progressiewe beleid beweeg. Biden was verlede jaar die sentrumlinkse Demokrate se antwoord op die harde linkse kandidatuur van senator Bernie Sanders. Tydens sy inhuldiging op 20 Januarie het Biden onderneem om die verdeeldheid in die VSA teen te werk en Amerikaners te verenig.

In die Amerikaanse politiek word ʼn nuwe president gewoonlik ná sy eerste 100 dae in die Withuis beoordeel vir sy vermoë om Amerikaners ná ʼn verkiesing te verenig en vir sy ontwikkeling van ʼn duidelike visie vir sy vierjaartermyn. Pres. Joe Biden is vandeesweek presies eenhonderd dae al die Amerikaanse president en hoewel die linkervleuel van sy party tot dusver uiters tevrede is met sy optrede, is dit ook duidelik dat Biden min gedoen het om die land te verenig en dat sy beleidsveranderinge eerder tot polarisasie bygedra het.

Biden het in sy eerste 100 dae die federale regering se rol in die Amerikaanse ekonomie drasties uitgebrei met ʼn enorme ekonomiese hulppakket en ʼn nog groter infrastruktuurprogram, wat biljoene dollar vir enigiets van onderwys tot subsidies vir hernubare energie insluit. Om dit te befonds sal die VSA se staatskuld skerp styg en wil Biden ook belasting aansienlik verhoog.

Biden het tot dusver egter min gedoen om Amerikaners te verenig en die Demokrate en Republikeine te laat saamwerk om oplossings vir knellende probleme te vind. Biden se benadering jeens onwettige immigrasie, klimaatsverandering, geweldsmisdaad, die samestelling van die hooggeregshof en verskeie ander omstrede kwessies, het tot ʼn groot mate daarmee te make om die linkervleuel van die Demokratiese Party hul sin te gee.

Mediaberiggewing oor die Biden-administrasie was tot dusver minder sensasioneel as tydens Donald Trump se termyn, maar dit beteken glad nie dat Biden sélf, en nog belangriker, sy beleidsveranderinge tot dusver minder omstrede was nie.

Een van die mees linkse aktiviste in die Amerikaanse huis van verteenwoordigers, Alexandria Ocasio-Cortez, het reeds voor Biden se inhuldiging in Januarie belowe dat sy en nog enersdenkende Demokrate in die kongres nie sentristiese beleid vanuit die Biden-Withuis sal duld nie. Verlede week het sy in ʼn media-onderhoud gesê dat sy baie tevrede is met Biden se eerste 100 dae as president.

Daar was groot verwagtinge dat Biden ná sy inhuldiging ʼn meer versoenende weg op die globale verhoog sou inslaan. Afgesien van sy pogings om meer lande te oortuig om die omgewing te bewaar en die vrystelling van kweekhuisgasse te beperk, het Biden tot dusver nie daarin geslaag om die VSA se kwynende rol as magtigste globale rolspeler te versterk nie. Die VSA se verhouding met Rusland en China verswak steeds en die besluit om die laaste Amerikaanse soldate uit Afganistan te onttrek, is reeds verlede jaar deur Trump geneem. Biden se verwysings na Xi Jinping van China as ʼn “boef” en na Wladimir Poetin as ʼn “moordenaar” het verhoudinge met Rusland en China verder versuur.

Dit is egter Biden se binnelandse beleid wat die grootste ideologiese verskuiwing tussen twee Amerikaanse regerings in baie dekades teweeg gebring het. Biden se ekonomiese hulppakket en sy nuwe infrastruktuur-inisiatief beloop gesamentlik meer as $4 biljoen en sal die federale regering se skuldlas drasties verhoog.

Die Biden-administrasie is tans op die agtervoet met die immigrasiekrisis op die grens met Mexiko met 56% van kiesers wat in ʼn peiling aangedui het dat die krisis deur Biden veroorsaak is. Die meerderheid van Amerikaanse kiesers is ook gekant teen Biden se planne om belasting te verhoog. Sy planne om strenger wapenbeheer in te stel, word ook deur die meerderheid van Amerikaners verwerp.

In dieselfde peiling dui 81% van Amerikaners aan dat hulle meen die Covid-19-pandemie in die VSA is nou onder beheer. Dit is tans Biden se een ligpunt. Hoewel 54% van Amerikaners tans tevrede is met Biden se prestasie en dit 9% beter is as waar Trump ná 100 dae gestaan het, is dit wesenlik swakker as Bush se steun van 63% en Obama s’n van 62% ná hul wittebroodtydperk.

Biden het die verkiesing verlede jaar gewen omdat talle gematigde kiesers ʼn afkeer van Trump se styl gehad het en gemeen het dat Biden ʼn sentristiese en minder omstrede president sal wees. Die toenemende toegewings wat hy aan linkse aktiviste maak, kan egter meebring dat miljoene gematigde kiesers die rug op hom gaan keer. Vir Biden is die wittebrood verby en moeilike besluite oor belangrike beleid moet nou geneem word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries ·

Op sy slegste is Boris Johnson 100 keer beter as Ceril Ramaphosa

Stof ·

Ek het simpatie met enkele kennisse wat in VSA woon, sedert Broer Joe oorgeneem het. Elke Amerikaner is beter waardig.
Dit gaan nie oor Joe self nie. Dit gaan oor sy motiewe en onbegrip vir sy burgers, ten bate van eie eer, en die bevordering van ‘n vaag gedefinieërde agenda.
Vir die persoon egter, is daar hoop. Elke medemens is ‘n volbloed-Damaskus-ervaring waardig. Hy het nog die geleentheid. Ek vertrou dat hy dit aangryp terwyl hy nog kan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.